Dit is skokkend om te besef dat die meeste belydende Christenkerke in totale onkunde is oor die ware antwoorde op die lewe se belangrikste vrae: Waar het menslike lewe vandaan gekom? Waarom is u gebore? Waarheen gaan u na u dood?

Hierdie tydskrif kan u die regte antwoorde op hierdie vrae gee omdat ons in hierdie Werk van die lewende God opreg probeer om die Christenskap van die Apostels te herstel – die oorspronklike Christenskap van diegene wat in die tyd van Jesus en die Twaalf Apostels geleef het. Ons voel hoewel die meeste hedendaagse kerkgangers opreg is en goed bedoel, hulle absoluut mislei is betreffende die groot kwessies van die lewe, dood en hiernamaals. Hulle is verseker mislei indien hulle vir een oomblik dink dat hulle ware “Bybelse Christenskap” beoefen!

Hoe durf ek dit sê?
Ek sê dit omdat dit waar is! Ek sê dit ook omdat talle hoogaangeskrewe godsdiensskrywers en geskiedkundiges dit sê. Hulle weet dat baie van die idees en praktyke van “algemene” Christendom nie uit die Bybel kom nie, maar van heidense filosofie en menslike redenasie.

Die gemiddelde kerkganger het egter geen idee nie!
Belydende Christendom het die spoor byster geraak kort na die dood van die oorspronklike Apostels. Soos “hoofstroom” skrywer Jesse Lyman Hurlbut reguit erken: “Vir vyftig jaar na Paulus se lewe hang daar ’n sluier oor die kerk waardeur ons tevergeefs probeer kyk; en wanneer dit uiteindelik lig, rondom 120 n.C. met die skrywes van die vroegste kerkvaders, vind ons ’n kerk wat in baie opsigte baie verskil van die kerk in die dae van Petrus en Paulus” (vertaal uit The Story of the Christian Church, bl. 41).

Inderdaad. Die belydende Christenkerk het nie net “baie” verskil nie – maar ons kan objektief sê – “uitermate” verskillend! Soos Hurlbut ’n paar bladsye verder uitbrei: “Ambisieuse, wêreldse, beginsellose mense wou ampte in die kerk bekom vir sosiale en politieke invloed. Die morele stand van die Christendom aan bewind, was baie laer as dit wat dieselfde mense onder vervolging gekenmerk het. Die aanbiddingsdienste het toegeneem in praal, maar was minder geestelik en hartlik as dié vantevore. Die gebruike en seremonies van heidendom het geleidelik in die aanbidding ingekruip. Sommige van die ou heidense feeste het kerkfeeste geword met bloot verandering in naam en aanbidding. Rondom 405 n.C. het beelde van heiliges en martelare in kerke begin verskyn, eers as herdenkings en toe in volgorde vereer, gelief en aanbid. Die aanbidding van die maagd Maria vervang aanbidding van Venus en Diana; die Nagmaal raak ’n offer pleks van ’n herdenking; en die ouderling (opsiener) ontwikkel van prediker na priester. As gevolg daarvan dat die kerk mag besit, sien ons dus nie dat Christendom die wêreld na sy eie ideaal verander nie, maar dat die wêreld die kerk domineer (bl. 79).

Was dit die ware Kerk van God? Kan die Protestante eerlik daarop aanspraak maak dat hulle uit die ware Kerk voortgekom het? Hierdie ontwikkelende Katolieke kerk het die formaliteite en sierade van die ou heidense Saturnalia gehou – ter viering van die winter sonstilstand met groot gefuif en dikwels losbandige swelgpartye. Ten einde hul nuwe soort Christendom meer aanvaarbaar te maak vir die heidene, noem hulle hierdie viering die “Fees van Christus”, of soos ons dit vandag ken, “Kersfees”.

Daarna doen hulle heeltemal weg met die fees van die Pasga wat in die Bybel gebied word en verander die lenteaanbidding (in die Noordelike Halfrond) van die vrugbaarheidsgodin, Isis, na “Paasfees”. Om die atmosfeer van hierdie heidenfees verder te besoedel, begin hulle daarop aanspraak maak dat Christus op ’n Vrydagmiddag gekruisig is en op die oggend van Paassondag uit die dood opgestaan het – wat Hy nie gedoen het nie. Gerieflikheidshalwe kyk hulle die feit oor die hoof dat die hoofteken wat Jesus Christus aan die Jode gegee het, was dat Hy drie dae en drie nagte in die graf sou wees voor Hy sou opstaan! Onthou altyd Jesus se woorde in Mattheus 12:39-40: “’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees”.

Van Vrydagmiddag na Sondagoggend is slegs een dag en twee nagte! Die “Goeie Vrydag/Paasfees” oggendtradisie is dus regstreeks in teenstelling met die spesiale uitkenningsteken wat Jesus Self gegee het om te bewys dat Hy inderdaad die ware Messias was. Die viering van hierdie heidense fees, Paasfees, behels dus twee groot booshede. Eerstens is dit gebruik om die ware Christenpasga te vervang wat die Bybel gebied en waarmee Jesus en die Apostels vir ons ’n voorbeeld gestel het deur dit altyd te onderhou (1 Korintiërs 11:1). Tweedens is dit regstreeks in teenstelling met die spesiale “teken” wat Jesus se Messiasskap bewys!

Verder het die heeltemal verwarde leiers van die belydende Christenkerk verskeie heidense begrippe oor hemel en hel ingestel. Soos ons al herhaaldelik in hierdie tydskrif verduidelik het en wat ten volle verduidelik word in hierdie uitgawe se hoofartikel, is die ware doelwit van die ware Christen in die opstanding, om by die terugkerende Jesus Christus op hierdie aarde aan te sluit en te dien as “konings en priesters” onder Christus se leierskap. Die ware heiliges word getoon waar hulle uitroep: “want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:9-10).

Glo dit of nie, daar is niks in die hele Bybel wat beloof dat die uiteindelike loon van die heiliges is om “hemel toe te gaan” nie. Die Bybel praat van die Koninkryk van die hemel – maar nie in die hemel nie. Die Bybel praat daarvan dat ons opgewekte liggame “van” die hemel kom en nie “in” die hemel bly nie (2 Korintiërs 5:1-2). Daar is verskeie teksverse wat toon dat die ware heiliges ’n “hemelse” beloning sal ontvang, maar dit sê nie dat ons hemel toe sal gaan om dit te ontvang nie. Jesus sê byvoorbeeld: “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Openbaring 22:12). Jesus verduidelik ook in Mattheus 16:27: “Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade”.

U Bybel toon eerder dat Christene op hierdie aarde sal wees (Openbaring 5:10) na die Wederkoms van Christus en hier sal bly gedurende die Millennium om Jesus te help regeer en uiteindelik vrede en vreugde na hierdie gekwelde planeet te bring. Let hierop: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Mattheus 5:5). In 1 Korintiërs 6:2 vra Paulus in retoriek: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake?” Ons vind ook in Sagaria 14:1-19 dat Jesus Christus na Jerusalem sal terugkeer as Koning van konings: “En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ’n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide” (vers 4). Terselfdertyd lees ons: “En die HERE sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die HERE een wees, en sy Naam een” (vers 9). Bestudeer asseblief noukeurig die hoofartikel in hierdie uitgawe – kyk elke vers in u eie Bybel op – wat die ware beloning van die ware heiliges van Christus beskryf!

Genoeg hiervan! Die belydende Christenkerke onderrig letterlik talle basiese leerstellings wat net so min “Christelik” is soos die paashaas en Rudolf die rendier met die rooi neus!

Die Wêreld van Môre-tydskrif is waarlik anders omdat ons die moed en intellektuele eerlikheid het om hierdie grootskaalse afdwaling van egte Bybelse Christenskap uit te wys. Ons toon aan u hoe u duidelik die Waarheid tot u eie tevredenheid kan bewys – nie uit die een of ander “verskuilde” Bybel wat ons geskryf het nie, maar uit u eie Bybel! Ons maak baie spesiale “sleutels” duidelik wat u sal help om Bybelprofesie te verstaan – sleutels wat baie min mense vandag verstaan – sodat u kan besef dat Jesus nie net sal “terugkeer” nie, maar ook die baie spesifieke besonderhede rondom Sy Wederkoms! Ons toon aan u watter groot nasies op watter wyses geraak sal word namate die tyd nader kom, vir watter spesifieke “tekens” u op die uitkyk moet wees en wat u moet doen!

As dienaars van die lewende God, vra ons hoegenaamd geen geld vir enige van ons tydskrifte, boekies, audiokassette of materiaal nie. Jesus sê: “Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee” (Mattheus 10:8). Hoewel die verkondiging van die volle Waarheid niemand nog ooit gewild gemaak het nie, weet ons Wie ons dien. Daarom – om u eie ontwil – moenie vir die Waarheid bang wees nie. Wees gewillig om die geestelike en intellektuele energie en moed aan die dag te lê om die Waarheid te bestudeer, dit te bewys en daarvolgens te leef. Hoewel daar beproewings, toetse en vervolging langs die weg sal wees, sal die God van die hemel u meer beloon as wat u uself nou kan indink.