Lees ons wat die Bybel sê of wat ons dink dit sê?

Mense lees voortdurend dinge verkeerd. Die aanwysings sê: “Doen dit”, maar mense lees, “doen dat”, omdat hulle ingedagte is, hulle aan iets anders dink of hulle lees eenvoudig die instruksies soos wat hulle dink dit sê in plaas van wat dit regtig sê.

’n Vriend van my het eenmaal gedink dat hy ’n prys van duisende dollars gewen het. Hy het ’n lotery kennisgewing in die pos gekry en was opgewonde oor die moontlikheid dat hy gewen het maar ek het my skeptisisme uitgespreek – ek het soortgelyke kompetisie-kennisgewings gesien wat ’n mens laat dink hy het gewen terwyl dit nie die geval is nie. Hy het gevra dat ek dit self moet kom lees. Ek het vinnig die kennisgewing gelees en dit daarna hardop vir my vriend gelees en die sleutelsinne noukeurig beklemtoon. Hy het toe verstaan dat hy dit verkeerd gelees het. Ter verdediging van my vriend moet ek sê dat dit swak geskryf was – miskien doelbewus om die leser te mislei.

Mense lees ook die Bybel verkeerd. Die diepgewortelde oortuigings vertroebel ’n mens se vermoë om te lees wat ’n Skrifgedeelte werklik sê. So baie vooropgestelde idees kan ’n persoon se gedagtes vertroebel. Ons kan ons eie idees in die Woord van God “inlees” maar die Skrif moet sorgvuldig en objektief gelees word om uit te vind wat God werklik sê.

Die Bybel sê byvoorbeeld doodeenvoudig dat die dooies uit die dood opgewek sal word (byvoorbeeld Lukas 20:35). Min mense sal stry oor die idee van ’n opstanding van die regverdiges, maar sommige van hulle sal redekawel oor wanneer dit sal plaasvind. Die meeste mense wat hulleself Christene noem, glo dat mense onmiddellik hemel of hel toe gaan wanneer hulle sterf. Die Bybel maak dit egter baie duidelik dat geen opstanding uit die dood vóór Christus se Wederkoms plaasvind nie.

Paulus stel dit baie duidelik in sy eerste brief aan die Thessalonicense: “Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan” (1 Thessalonicense 4:15-16).

Jesus het gesê: “En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Johannes 6:39-40). “Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (vers 54).

Johannes 11 sê aan ons dat toe Lasarus gesterf het, Jesus gekom het om hom weer na ’n fisiese lewe op te wek. Jesus het aan Martha gesê: “Jou broer sal opstaan. Martha antwoord Hom: Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag” (verse 23-24). Martha het geweet wanneer die opstanding sal plaasvind.

Christus het ook gesê: “En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle” (Johannes 14:3-4). Wanneer? Wanneer Hy weer kom! “Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word” (1 Korinthiërs 15:51-52).

 

Wees ontvanklik om iets nuuts te leer

Om God se Woord te lees deur die lens van ons vooropgestelde opvattings, is werklik ’n hindernis om selfs agter te kom dat ons verkeerd is. Dit is immers moeilik om iets nuuts te leer wanneer ons ten volle oortuig is dat ons reeds die antwoord ken!

Indien ons egter dit wat ons dínk ons weet opsy kan sit, sal ons verbaas wees oor die waarhede wat al die tyd voor die hand liggend was maar wat ons net nie raakgesien het nie.

Dit is waarlik verstommend wat ons kan leer as ons die Bybel eenvoudig lees soos wat dit sê. Om meer te wete te kom oor wat dit regtig sê, vra vir ’n gratis eksemplaar van, Wat Gebeur Wanneer U Sterf (What Happens When You Die?), of laai dit af van TomorrowsWorld.org.