’n Paar jaar gelede het die futuris, dr. Michio Kaku, voorspel dat die wêreld oor ’n periode van tien jaar sou oorgaan “van ’n internet na ’n brein-netwerk, waarin gedagtes, emosies, gevoelens en herinnerings onmiddellik regoor die planeet gestuur kan word”. Soos baie futuriste, het dr. Kaku ’n rooskleurige prentjie geskilder.

Hy het aan Jacqueline Howard van Huffington Post verduidelik: “Tieners sal versot raak op sosiale media en sal herinneringe en sensasies van hulle matriekafskeid, hulle eerste afspraak ensovoorts, met mekaar kan deel”. Hy gaan voort: “Geskiedkundiges en skrywers sal gebeure nie net digitaal kan opneem nie, maar ook emosioneel”. Die bemoedigendste van alles: “Miskien sal selfs spanning tussen mense afneem namate mense die pyn van ander mense sal kan begin voel en ervaar” (“7 Top Futurists Make Some Pretty Surprising Predictions About What The Next Decade Will Bring,” 26 Mei 2015).

Dit klink opwindend nie waar nie? Daar is egter nou ses van die tien jaar van sy voorspelling verby en ons het lankal geleer dat die toekoms van tegnologie ’n donker kant het. Sommige van die grootste name in die Internet-revolusie – die tegnoloë en entrepreneurs wat sosiale media ontwikkel het – het ontnugter geraak met die monster wat hulle help skep het en hulle waarsku nou daarteen en beskerm selfs hulle eie kinders daarteen (sien ons artikel “Tem die sosiale media monster” in die Maart-April 2019 uitgawe by wvm.co.za).

Sedert Dr. Kaku se voorspellings van 2015 het ons gesien dat die wêreld meer as ooit verdeeld geraak het. Dit is moeilik om te begryp teen watter tempo ons wêreld besig is om te verander en ’n mens kan nouliks sê dat dit ten goede verander. Hoe meer mense op Internet staatmaak vir interaksie tussen mense, hoe meer depressief raak hulle. Hierdie tendens is al vóór COVID-19 opgemerk en het net toegeneem. Intussen voer aanlyn-kenners ’n voortdurende stryd tussen die ideale om “vrye spraak” te bevorder en “haatspraak” te bekamp.

Wanneer tieners van vandag voel dat hulle die sprokies-lewenswyse wat deur hulle eie ouderdomsgroepe op sosiale media uitgebeeld word, misloop, hoeveel seerder sal die 16-jarige meisie voel wat nie na die matriekafskeid uitgevra is nie? Sal sy verplig voel om saam met die stroom van meisies te gaan wat probeer om seuns te word in ’n poging om haar emosionele leegheid te vul? Afknouery was nog altyd ’n probleem vir seuns asook meisies en sosiale media bied nóg ’n kragtige manier om ’n mens se vyande, mededingers of die swakkeres af te knou, bloot vir sadistiese plesier. Wil ons regtig hê dat sosiale media, op emosionele steroïede, te voorskyn kom? Nee dankie!

Futuriste beeld tegnologie dikwels as die oplossing vir ons onbeheerbare menslike probleme uit, maar is dit realisties? Waar en wanneer het tegnologie of wetenskap die probleem van die menslike natuur opgelos? Dit het sekere aspekte van die lewe beslis makliker en geriefliker gemaak – maar as genesing vir die vernietigende kragte van eiewilligheid, hebsug, trots, vooroordeel en haat? Glad nie!

Die bedoeling is nie om dr. Kaku of die talle ander futuriste en dinkskrums te veroordeel wat na die mensdom se pad vorentoe probeer kyk nie. Die toekoms van wetenskap en tegnologie van kunsmatige intelligensie en mediese vooruitgang moet nog ten volle gesien word. Opvallende vordering is duidelik in die vooruitsig, soos selfaangedrewe motors en vragmotors asook hommeltuie wat ’n mens se nuutste aanlyn-aankope aflewer. Selfs om na Mars te gaan is vir die mens nie meer buite die kwessie nie.

Sal enigiets hiervan egter vrede vir ons kommervolle planeet bring? Sal dit egskeiding en die hartseer van kinders wat daarin vasgevang is en nou wonder wat om te doen, voorkóm? Sal tegnologie die probleem van korrupte regeringsleiers wat hulle burgers uitbuit, oplos? Sal dit bende-oorloë en geweld tussen mededingende sindikate beëindig? Ongelukkig hou die geskiedenis nie veel hoop in vir die toekoms nie.

 

Die mens se vooruitgang is voorspel

Ons by die Wêreld van Môre beskik nie oor die tegniese intelligensie wat professor Kaku en sy huidige kollegas besit nie. Ons haal ons hoed af vir sy briljante voorgangers, onder andere Leonardo da Vinci, Jules Verne en George Orwell. Daar is baie ander mense maar nie een van hulle het die toekoms voorspel van die belangrikste Bron van alles nie – ’n Bron wat feitlik geïgnoreer word deur die wêreld se futuriste. Daardie Bron is die Bybel. Neem die volgende in ag voordat u ophou lees.

Omtrent ’n kwart tot ’n derde van die Bybel is profesie. Baie daarvan is profesieë rakende “die laaste dae” of “die einde van die tyd” – die jare wat nog voorlê. Baie mense is verbaas om te ontdek dat die Bybel, tegnologiese en wetenskaplike vooruitgang, duisende jare vooruit voorspel het, wat ’n baie groter prestasie is as wat ’n mens sou dink.

Dit is moeilik om te begryp hoe staties ons wêreld was gedurende die grootste deel van die geskiedenis van die mens tot en met die tydperk wat nou die Industriële Revolusie genoem word en wat ongeveer van 1760 tot 1840 geduur het. Terwyl die wêreld met “die proses van verandering begin het van ’n landbou- en handearbeid-ekonomie na ’n ekonomie wat oorheers word deur industriële en meganiese vervaardiging” (“Industrial Revolution,Britannica.com), het die grootste deel van die wêreld voortgegaan om te voet, met windkrag of letterlik “perdekrag”, rond te reis. Vandag kan ons egter met kommersiële straalvliegtuie deur die wêreld reis in ’n korter tyd as wat dit 200 jaar gelede geneem het om die 225 kilometer van Washington, DC na Philadelphia te reis. Aan die begin van die 1800’s was daar geen snelweë en geen motors om mee rond te reis nie. Reis soos ons dit vandag ken, moes nog ’n eeu en ’n half wag.

Verbasend genoeg is dit duidelik dat die Bybel sulke tegnologiese vooruitgang voorspel het. Daniël 12:4 beskryf dat “die tyd van die einde” gekenmerk sal word deur ’n vervoer- en kennisontploffing. Openbaring 9 praat van wapens van die toekoms wat baie ooreenstem met aanvalshelikopters, asook chemiese of biologiese wapens wat marteling veroorsaak, maar nie doodmaak nie, op só ’n groot skaal soos wat nog nie voorheen gesien is nie. Openbaring 11 vertel aan ons dat twee profete van God in Jerusalem doodgemaak sal word en dat die hele wêreld hulle dooie liggame oor ’n tydperk van drie en ’n halwe dag sal sien – wat dui op ’n visuele kommunikasie-netwerk wat nie eers gedurende die afgelope dekades bestaan het nie.

 

Daar is voor die tyd gewaarsku oor die mens se korrupsie

Selfs nog belangriker, die Bybel beskryf wat die situasie met betrekking tot die mensdom se morele agteruitgang aan die einde van hierdie era sal wees. Die tyd van Christus se Wederkoms word deur twee katastrofiese omstandighede voorspel. Die Skrif voorspel dat die onsedelike en gewelddadige gedrag van die mense wat die dae van Noag en Lot voorafgegaan het, ook die Wederkoms van Christus sal voorafgaan (Lukas 17:26-30). Gedurende die dae van Noag was “die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was ... Maar die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld” (Génesis 6:5, 11). Groot seksuele verdorwenheid was aan die orde van die dag wat tot die vernietiging van Sodom gelei het (Génesis 19).

Die profeet Jesaja sê vir ons dat morele standaarde voor Christus se Wederkoms onderstebo gekeer sal wees. “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter” (Jesaja 5:20). Hy beskryf ons tydperk verder deur te sê: “So word dan die reg teruggedring en die geregtigheid bly staan van ver; want die waarheid struikel op die mark, en wat reg is, kan nie binnekom nie. Ja, die waarheid word vermis; en wie afwyk van die kwaad, word geplunder” (Jesaja 59:14-15).

Die Bybel waarsku ons ook dat ’n magtige, charismatiese leier in Europa na vore sal kom, tesame met ’n godsdiensleier wat wonderwerke sal doen. Hierdie twee mense mag die wêreld dalk tydelik stabiliteit bied maar hulle heerskappy sal rampspoedig wees. Toestande sal so versleg dat die mensdom slegs deur ingryping van God, totale vernietiging sal vryspring (Matthéüs 24:21-22).

Die Wêreld van Môre voorspel hierdie verwikkelings en dit is nie gebaseer op hoë intelligensie nie, maar eerder op geloof in die Waarheid van die Bybel. ’n Rooskleurige prentjie oor die mensdom se toekoms is nie as gevolg van tegnologie wat ons sal help om die “pyn van ander mense te voel en ervaar” nie, maar deur die Gees van God wat in die harte en gedagtes van alle mense sal woon. Om meer te begryp, bestel gerus ons gratis studiegids Die Wêreld van Môre: Hoe sal dit daar uitsien?