Europa is toenemend besig om sy eie vermoë vir oorlogvoering uit te brei.

Watter faktore is besig om hierdie verandering in die hand te werk en watter impak sal hierdie tendens op die wêreld hê?

“Alles dui daarop dat die wêreld besig is om vir oorlog voor te berei”. Hierdie woorde wat op 26 Januarie 2017 in ’n tydskrifartikel gepubliseer is, is deur die voormalige president van die Sowjet-Unie, Mikhail Gorbatchev, geskryf. Die stabiliteit van die wêreld is waarlik wisselvalliger as wat die geval in dekades was. Die wêreld is toenemend ’n gevaarlike en onbestendige plek.

In hierdie toestand, wie sal die res van die 21ste eeu oorheers?

Ons dink nie dikwels aan Europa as ’n kragtige militêre reus nie, maar iets is besig om te gebeur wat ons aandag behoort aan te gryp – iets anders as enige ander ontwikkeling in die meer as 70 jaar sedert die Tweede Wêreldoorlog. Dink aan slegs ’n handjievol opskrifte van die afgelope paar jaar: “Duitsland is stadig besig om ’n Europese leër onder sy bevel op te bou” (ForeignPolicy.com, 22 Mei 2017). “EU openbaar projekte vir militêre ooreenkoms” (Politico.eu, 10 Desember 2017). “Merkel doen ‘n beroep vir ’n ‘ware’ EU-leër” (EUObserver.com, 13 November 2018). Europese leiers neem meer verantwoordelikheid vir hulle eie verdediging. Dit alles vind plaas in ’n tyd wanneer die Bybel die dramatiese totstandkoming van ’n eindtydse supermoondheid voorspel, wat skielik op die wêreldtoneel te voorskyn sal kom.

Wat is besig om vandag in Europa te gebeur en waarheen sal dit lei? Is Europa besig om vir oorlog voor te berei?

Die kontinent is in ’n baie gevaarliker en meer onvoorspelbare situasie as enige ander tyd wat hulle die afgelope dekades in die gesig gestaar het. Verskeie sleutelmagte is besig om die aansien van Europa selfs nou te verander en Europeërs te dwing om hulle eie bepaalde Europese toerusting vir verdediging te skep. Daardie magte is die opkoms van radikale Islamitiese terrorisme, die toename van die Russiese bedreiging en die agteruitgang van die Verenigde State. Dit is die moeite werd om elkeen van hierdie magte in ag te neem indien ons wil verstaan waarheen dit alles op pad is.

Die opkoms van radikale Islamitiese terrorisme

Slegs ’n paar jaar gelede het ’n groot krisis van onbeheerde immigrasie Europa in die gesig gestaar. Grootliks te wyte aan die oorlog in Sirië, het meer as 1,5 miljoen immigrante tussen 2014 en 2017 na Europa gestroom. Wat gevolg het, was ’n styging in terrorisme deur die Islamitiese radikales. Net in 2016 was daar aanvalle in ses verskillende Europese stede – Berlyn, Brussel, Hamburg, Nice, Saint-Étienne-du-Rouvray in Normandië en Parys – wat 150 mense gedood en honderde beseer het (“From Paris to Brussels: Most recent terror attacks in Europa,” USA Today, 7 April 2017). Immigrasie het afgeneem, maar die bedreiging van terrorisme bly ’n groot faktor wat die Europeërs dwing om strenger veiligheidsmaatreëls toe te pas.

Na ’n terroriste-aanval in België in Januarie 2015, het die regering militêre troepe gestuur om teikens regoor die land te bewaak. Dit was “die eerste keer in dertig jaar dat owerhede militêre troepe gebruik het om die polisie in Belgiese stede te versterk”, volgens die Telegraph (“Europeans divided over increased security following terror raids”, 17 Januarie 2015). Die grondwet van Duitsland verbied die ontplooiing van Duitse troepe binne sy eie grense, maar in Julie 2016, na aanleiding van toenemende terrorisme, het die Duitse publikasie Deutsche Welle berig dat die Beierse minister van Binnelandse Sake die wet “as uitgedien” verklaar het (“After Munich, politicians consider deploying soldiers at home,” 25 Julie 2016).

Die immigrasiekrisis het die meer regsgesinde politieke partye baie versterk. In Oktober 2015, tydens die Europese Volksparty se kongres in Madrid, het die president van die EVP, Joseph Daul, gesê: “Ons gaan baie vinniger op pad na ’n EU-weermag as wat mense glo ...” (“EPP leaders bang drum for European army,” Euractiv.com, 16 Oktober 2015).

Dit is duidelik dat die bedreiging van radikale Islamitiese terrorisme die Europeërs dwing om immigrasie, veiligheid en selfs hulle eie vryhede te heroorweeg. Die International Business Times het op 16 Desember 2015 berig oor die omstrede voorstel van die EU waarin ’n beroep gedoen word vir ’n “Europese Grens- en Kus-wag” met die mag om beheer te neem van ’n land se grense sonder hulle toestemming. Dit is te verstane dat kritici geprotesteer het dat hierdie nuwe program die soewereiniteit van Europese lande potensieel sou ondermyn. Dit het nogtans in 2016 in werking getree. Alhoewel die program na ’n rasionele reaksie teen terrorisme mag lyk, dink aan die mag wat dit moontlik in die hande van ’n militêre diktator kan plaas, sou een na vore tree.

Waarom is dit besig om te gebeur? Sê Bybelprofesie enigsins iets oor die betrekkinge tussen die Midde-Ooste en Europa wat ’n bron van konflik voorsien en moontlik ’n militêre opbou in die toekoms motiveer? Ja dit doen beslis. In Daniël 11:40-42 lees ons: “Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom [die koning van die Noorde] in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei. Hy sal ook kom in die Pragtige Land, en baie sal struikel; maar hierdie volke sal uit sy hand vryraak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van Ammon. En hy sal sy hand uitsteek teen die lande; ook Egipteland sal nie vrykom nie.”

Ander profesieë dui daarop dat die “koning van die Noorde” waarskynlik ’n eindtydse leier sal wees wat sal probeer om die roem van die Romeinse Ryk, wat in die hart van Europa gesentreer is, weer opnuut aanwakker. Die “koning van die Suide” kan geografies suid van Israel en Jerusalem geleë wees en afkomstig wees van die Midde-Ooste of Noord-Afrika. Sal ’n Europese diktator oorlog voer met ’n nuwe Arabies/Islamitiese kalifaat? Gaan die huidige bedreiging van terrorisme, Europa in die rigting van ’n meer gesentraliseerde en ’n meer gemilitariseerde posisie laat vorder? Net die tyd sal leer.

Nog ’n faktor wat Europa motiveer om sy eie vermoëns van verdediging uit te brei: Rusland – sy toenemend aggressiewe buurman na die ooste.

Die toename van die Russiese bedreiging

Die Berlynse muur het in 1989 geval en die Oos-Europese lande het onder die Ystergordyn uitgekom. Die Sowjet-ryk het verkrummel en baie mense was onder die indruk dat Rusland byna onbelangrik geword het en nie meer ’n groot wêreldmoondheid is nie. In die laat herfs van 2003 het die Russiese president Vladimir Putin na Europa verwys as die “natuurlike, belangrikste vennoot van Rusland” (Dov Lynch, “Russia’s Strategic Partnership with Europe,” The Washington Quarterly, Lente 2004).

Sedertdien het Rusland egter ’n meer aggressiewe posisie ingeneem. In 2014 het Rusland dele van die Oekraïne binnegeval en beslag gelê op die Krim-skiereiland aan die kus van die Swart See. Sedertdien beskou die Europeërs Rusland as ’n groter bedreiging. Neem ’n paar voorbeelde van hierdie verskuiwing in ag:

• In Februarie 2015 het Rusland sy militêre basisse naby Noorweë heropen, wat sedert die einde van die Koue Oorlog gesluit was, (“Norway to restructure military in response to Russian ‘aggression’” The Guardian, 25 Februarie 2015).

• In April 2016 het Russiese oorlogsvliegtuie aanvalle op ’n Amerikaanse vlootskip in die Baltiese See nageboots deur herhaaldelik binne 10 meter van die vaartuig af te vlieg. (“Russian attack aircraft just flew within 30 feet of a U.S. Navy ship,” MilitaryTimes.com, 13 April 2016).

• In September 2018 is die massiewe “Vostok 2018” oorlogspel [militêre oefening] deur Rusland, China en Mongolië uitgevoer en meer as 300,000 troepe, 36,000 tenks en 1,000 vliegtuie was daarby betrokke (“Russia war games: Biggest since Cold War ‘justified’,” BBC.com, 28 Augustus 2018).

In Januarie 2019 is die Russiese S-400-lugafweer-missielstelsel bekendgemaak wat na bewering die Patriot-missielstelsel heeltemal oortref het (“The New Iron Curtain: Russian Missile Defense Challenges U.S. Air Power,” The Wall Street Journal, 23 Januarie 2019). Ondanks direkte uitdaging van Amerikaanse besware, het Rusland in Julie 2019 S-400-stelsels aan die NAVO-lid Turkye verskaf – ’n aggressiewe handeling wat beplan was om Moskou se invloed uit te brei, terwyl dit Amerika se invloed geleidelik laat afneem (“Turkey Gets Shipment of Russian Missile System, Defying U.S.,” The New York Times, 12 Julie 2019).

Geen wonder dat die Europeërs gretig is om hulle verdediging en weermag uit te brei nie: Hulle deel ’n baie belangrike grens met ’n toenemend-selfgeldende Rusland. ’n Aantal Europese lande het militêre diensplig weer ingestel. Duitsland het tenks in Pole gestasioneer. Swede het die eerste keer in 50 jaar oorlogpakkies met voedsel aan elke landsburger uitgedeel. Hongarye wil verpligte militêre opleiding vir die jeug op skool instel en die Europese Unie het gevra vir ’n permanente militêre akademie en die ontwikkeling van ’n EU-weermag hoofkwartier.

Europese leiers raak al hoe gretiger om Rusland te wys dat hulle nie meer op die Verenigde State gaan staatmaak nie. In Maart 2015 is in ’n verslag van die EU Observer opgemerk: “Jean-Claude Juncker, president van die Europese Kommissie, het gesê dat die EU sy eie leër op die been behoort te bring om Rusland te wys dat hulle ernstig is oor die verdediging van Europese waardes”. (“EU commission chief makes case for European army,” EU Observer, 9 Maart 2015).

Soos vroeër gemeld is, sal die koning van die Noorde teen ’n Midde-Oosterse koning van die Suide veg soos dit geprofeteer is. Let daarop dat ander magte ook betrokke kan wees. Ons lees in die boek van die profeet Daniël, waar hy van die koning van die Noorde praat, oor kommer wat sal toeneem terwyl hy in die Midde-Ooste in ’n oorlog gewikkel is: “Maar gerugte uit die ooste en uit die noorde sal hom verskrik; daarom sal hy met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref” (Daniël 11:44).

Hierdie profesie in Daniël voorspel ’n komende, verwoestende stryd tussen ’n Europese leier en ’n Eurasies-Oosterse mag wat ’n Russiese diktator kan insluit. Die geografiese ligging stem hiermee ooreen en Rusland en Europa het ’n bloedbevlekte geskiedenis. Die huidige besorgdheid is wesenlik en ’n massiewe militêre opbou vind in Europa voor ons oë plaas. Dit is nie verbeelding nie. Dit is in die nuus. Soos die EU Observer gemeld het, het “’n merkbare bedreiging van Rusland, ’n sentraal Europese wedloop in die rigting van militêre uitgawes veroorsaak” (“Russia threat triggers European military spending hike,EU Observer, 24 April 2017).

Wat is Europa se verhouding met die Verenigde State intussen?

’n Kwynende Amerika wat agteruitgaan

Na die Tweede Wêreldoorlog het Amerika die voortou geneem in die heropbou van Europa. Die NAVO-alliansie het beteken dat Amerikaanse troepe permanent op Europese grond gestasioneer sou wees. Gedurende die afgelope jare het Amerika se rol egter verander. Nadat die Koue Oorlog beëindig is, het NAVO gesukkel om sy rol in die nuwe omgewing te verstaan. Met verloop van jare het Amerikaanse presidente hulle Europese eweknieë versoek om meer van die koste vir hulle verdediging te dra. In Junie 2015 het die V.S. se Sekretaris van Verdediging, Ashton Carter, die regering van Duitsland geprys vir sy leierskap in die Oekraïne-krisis. Terselfdertyd het hy Duitsland aangespoor om die besteding aan verdediging te ondersteun “om te verseker dat Duitsland se besteding aan verdediging ooreenstem met hulle rol van leierskap” (“Pentagon chief urges Germany to bolster defenses,” Deutsche Welle, 22 Junie 2015).

President Donald Trump het ook druk op Europese regerings uitgeoefen om ’n groter deel van hulle finansiële steun aan NAVO te betaal. Volgens Jens Stoltenberg, sekretaris-generaal van NAVO, is daardie druk effektief. Stoltenberg het tydens die Amerikaanse kongres in April 2019 gesê dat Amerika se NAVO-bondgenote, wat oorwegend Europees is, na verwagting teen die einde van 2020 ’n addisionele $100 miljard dollars aan verdedigingsbegrotings sal spandeer. “Daardie geld sal ons toelaat om in nuwe bekwaamhede te belê wat die gewapende magte nodig mag hê”, het Stoltenberg gesê, “met inbegrip van gevorderde vegvliegtuie, aanvalshelikopters, missielverdediging- en toesighoudende-hommeltuie” (“Bolton touts NATO allies’ $100B military spending spree after Trump push: ‘Unequaled triumph’,” Fox News, 16 Julie 2019).

President Trump het selfs verder gegaan deurdat hy die waarde daarvan bevraagteken het dat Amerika hoegenaamd in NAVO bly. Hy het in 2017 ’n politieke storm veroorsaak toe hy verkies het om hom nie weer aan artikel 5 van NAVO te verbind nie. Artikel 5 bepaal dat ’n aanval op enige lid van NAVO, van ander lidlande sal vereis om hulle te ondersteun. In antwoord daarop het die Duitse kanselier, Angela Merkel, gesê: “Die tye waarin ons ten volle op ander kan reken, is tot ’n mate verby” en sy het tot die slotsom gekom dat die Europeërs hulle toekoms in hulle eie hande moet neem en dat daar nie op Amerika staatgemaak kan word nie (“Merkel: Europe cannot rely on its allies anymore,” EU Observer, 29 Mei 2017). Ander amptenare in die regering van die V.S. het Amerika se verbintenis met NAVO bevestig en Amerika bly vir nou die ‘spierkrag’ agter NAVO se militêre vermoë ten einde Rusland teen te werk. Hoe lank sal dit egter duur?

Wat die effek van die toenemende kloof tussen Amerika en Europa verder beklemtoon, is dat Amerika se naaste bondgenoot, Brittanje, se invloed ook besig is om te af te neem. Nadat die Britte besluit het om die Europese Unie te verlaat, het sommige lande in die EU, Brexit as ’n geleentheid gesien om hulle militêre agenda ’n hupstoot te gee terwyl hulle geweet het dat die Britte in die algemeen nie ten gunste van ’n Europese leër was nie. Let op wat ’n Duitse Minister van Verdediging gesê het: “Europa benodig ’n gemeenskaplike politieke strewe vir meer sekuriteit in die beleid. Die uitslag van die verkiesing in Amerika [dit wil sê Donald Trump se verkiesing as president] kan ekstra stukrag verleen ... Die Brexit-besluit en die verkiesing in die Verenigde State het die EU ’n nuwe koers laat inslaan” (“Germany: Trump victory to spur EU military union,” EU Observer, 11 November 2016). Dalk word die situasie die beste opgesom deur hierdie aanhaling uit The Independent: “Duitsland en Europa sal waarskynlik ’n baie groter en meer onafhanklike rol speel as gedurende die afgelope 70 jaar” (“Wat beteken Angela Merkel se opmerkings met betrekking tot Trump se Amerika, vir die wêreld se politieke verhoudings?” 29 Mei 2017).

Europa se toekoms

Moontlik sien ons tans nog nie die finale vorm van ’n verenigde Europa in detail nie, maar die huidige gebeure berei die weg voor vir ’n uiteindelike supermoondheid wat die wêreld gaan verras. Daar is bewyse dat Europa besig is om voor te berei vir oorlog. Islamitiese terrorisme, Rusland se aggressie en Amerika se isolasionisme dra alles by tot ’n nuwe Europese begeerte om volle beheer oor sy eie veiligheid te neem. Europese leiers het miskien die beste bedoelings om ’n nuwe orde te skep wat gebaseer is op die gesag van die wet, demokratiese beginsels, persoonlike vryhede en ekonomiese liberale beleid, maar Bybelprofesie voorspel dat dit wat as ’n goedbedoelde Europese eksperiment sal begin, in ’n ramp sal eindig. Waarom sê ons dit?

Openbaring 17:9-10 lui: “Hier kom die verstand wat wysheid het, te pas. Die sewe koppe is sewe berge waar die vrou op sit. En hulle is sewe konings: vyf het geval en een is; die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy ’n kort tydjie bly.” Die Bybel praat van sewe herlewings van hierdie stelsel – die stelsel wat eens die “Heilige Romeinse Ryk” genoem is. Sedert die val van die Romeinse Ryk in 476 n.C., het baie heersers probeer om ’n verenigde Europa onder een regime in stand te hou, waaronder Justinianus, Karel die Grote, Otto die Grote, die Hapsburgse heerser Charles V, Napoleon Bonaparte en meer onlangs, die bondgenootskap van Hitler en Mussolini. Soos in die gedeelte hierbo aangedui, wys die Bybel dat daar nog een herlewing sal kom – die finale herlewing, wat tot die Wederkoms van Christus sal lei.

Daar sal ’n magtige individu kom, aan wie tien nasionale leiers hulle trou vrywillig sal beloof asook met wie hulle gesag sal deel. Ons lees van hierdie individu in Openbaring 17:12-13, wat “die dier” genoem word: “En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier.”

Daar word geprofeteer dat tien konings – of tien leiers – die kern van ’n merkwaardige politieke, ekonomiese en militêre supermoondheid sal vorm onder leiding van hierdie ‘dier’, na wie in Daniël 11 verwys word as die “koning van die Noorde”. Hierdie finale wêreldmoondheid wat in Openbaring 17 beskryf word, stem ooreen met die finale wêreldmoondheid wat beskryf word in die visioen van Daniël 2 en wat gesimboliseer word deur die bene en voete van ’n groot beeld van ’n man, wat saamgestel is uit ’n mengsel van yster en klei (Daniël 2:41-43). Net soos tien konings in Openbaring beskryf word, sou die yster-en-klei-voete van Daniël se beeld tien tone hê en albei profesieë maak melding van hierdie wêreldoorheersende koninkryke wat deur die Wederkoms van Christus vernietig sal word – albei verwys na dieselfde gebeurtenis! Daniël verklaar dat God aan hom in ’n visioen getoon het dat ’n “klip wat sonder hande uitgekap is, wat die beeld op sy voete van yster en klei getref en in stukke gebreek het”, ’n berg of ’n koninkryk geword het wat die hele aarde gevul het (verse 34–35). Daardie klip verteenwoordig die Koninkryk van God, “’n koninkryk wat nooit vernietig sal word nie” en “self sal dit vir ewig bestaan” (vers 44).

Goeie voornemens, slegte gevolge

Sal hierdie eindtydse supermoondheid wat bestem is om vernietig te word en deur die Koninkryk van God vervang gaan word, begin met die doel om die hele wêreld tot op die rand van vernietiging te bring? Waarskynlik nie. Heel waarskynlik sal dit uit goeie bedoelings voortspruit. Die Franse Minister van Finansies, Bruno Le Maire, het in ’n onderhoud met die Duitse koerant Handelsblatt gesê dat Europa ’n “vreedsame ryk” behoort te word. Hy het gesê: “Ek gebruik hierdie frase, want in die wêreld van môre sal dit alles oor mag gaan … tegnologiese mag, ekonomiese, finansiële, monetêre en kulturele mag – alles sal deurslaggewend wees. Europa kan nie langer wegskram van die gebruik van sy mag nie” (“French finance minister: ‘We need a European empire,’” 12 November 2018).

Dus, waarheen lei al hierdie dinge? Indien ons hierdie Skrifte verstaan in die lig van Jesus se profesieë in Matthéüs 24, sien ons dat hierdie diktator die planeet grootliks in ’n toestand van wêreldoorlog en verwoesting sal dompel. Dit sal ’n tyd van vernietiging wees, wat so afskuwelik sal wees dat, tensy dramatiese wêreldwye ingryping iewers vandaan kom, geen vlees dit sou oorleef nie. Christus sal egter ingryp en Hy sal veg teen die magte van hierdie individu wat “die dier” genoem word asook diegene wat hom volg en die finale herlewing van die Romeinse Ryk sal verpletter word. Soos Openbaring van die magte van die dier sê: “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings – en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (Openbaring 17:14).

Sal Europa in die toekoms in oorlog gedompel word? Ongelukkig is die antwoord ja. Die Bybel toon dat hierdie Europese moondheid boos sal wees en die wêreld tot op die randjie van totale vernietiging sal neem, maar die God van die hemel sal ingryp en die komende kranksinnigheid beëindig. Ons lees van die direkte ingryping van God: “Kyk, daar kom ’n dag vir die HERE; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in jou verdeel word, o Jerusalem! Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word ... En die HERE sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ’n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide” (Sagaría 14:1-4).

Jesus Christus sal met Sy Wederkoms die nasies verpletter wat probeer om teen hom te veg. Die mees gevorderde wapenstelsels sal nie opweeg teen die verblindende krag van die terugkerende Seun van God wat na die aarde neerdaal nie. Hy sal alle opstand onderdruk en Openbaring 11:15 sal vervul word: “Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.”

Europa is besig om voor te berei vir oorlog of sy nasionale leiers dit besef of nie. Onsigbare en onherkenbare kragte beur vorentoe in die rigting van ’n donker en onheilspellende toekoms. Wanneer Jesus Christus egter terugkeer en Sy koninkryk op aarde vestig, sal Hy oorlog afskaf. Na die bloedige geskiedenis van Europa sal hulle uiteindelik permanent rus vind. Jesaja het oor daardie tyd geprofeteer: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom ... En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:2, 4). Jesus Christus sal sy Wette wêreldwyd vestig as standaard vir die hele mensdom. Hy sal wêreldwye vrede afdwing wat orde en ware harmonie sal bring in die chaos en geweld wat die mensdom al eeue lank teister. Dan, in plaas van om hulle voor te berei vir oorlog, sal die volke van Europa en die volke van die hele wêreld, hulle voorberei om die weg van vrede te leer, terwyl hulle ’n nuwe beskawing onder Christus se liefdevolle leiding opbou. Mag God daardie dag bespoedig!