Geweld is die norm, nie die uitsondering nie

Oorloë en gerugte van oorloë. ’n Mens kan nie die geskiedenis van die mens ondersoek sonder om te lees oor eindelose konflikte, stam-massamoorde en nasies wat oorlog voer nie. Eeu na eeu maak nasies en ryke opgang en verdwyn weer van die toneel, dikwels met oorlog wat die oorsprong van hulle totstandkoming sowel as die oorsaak van hulle ondergang is. Die nagevolge duur dekades lank voort: Honderde duisende weeskinders, weduwees wat dakloos gelaat is, verminkte liggame van oorlewendes, verwoeste infrastruktuur en blywende ekonomiese ondergang.

“En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë ... Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander” (Matthéüs 24:6-7). Christus het hierdie woorde bykans 2,000 jaar gelede op die Olyfberg uitgespreek en die geskiedenis het bewys dat Hy reg was. Slegs in die vorige eeu tydens die Eerste Wêreldoorlog, het ongeveer tien miljoen soldate gesneuwel en agt miljoen burgerlikes gesterf, terwyl nog 23 miljoen soldate gewond is. Alhoewel die Eerste Wêreldoorlog as “die oorlog om alle oorloë te beëindig” bestempel is, was die Tweede Wêreldoorlog binne twee dekades verantwoordelik vir nog meer ongevalle. Hoewel dit moeilik is om presiese syfers te bepaal, word daar beraam dat tussen 75 en 80 miljoen mense tydens die konflik gesterf het. Die Tweede Wêreldoorlog is kort daarna gevolg deur die Koreaanse Oorlog en die Viëtnamese Oorlog. Miljoene meer mense het sedertdien deur grootskaalse en kleiner konflikte hulle lewens verloor.

Voortgesette vooruitgang

Daar was die Golfoorlog met Irak, oorloë in Bosnië en Herzegovina, Kosovo, Tajikistan, Joego-Slawië, Sri Lanka, Rwanda, Burundi, Djibouti, die Kongo, Algerië, Slowenië, Kroasië, Abkhazië, Tsjetsjinia, Senegal, Sierra Leone en Darfur – om slegs ’n paar te noem. Daar is voortdurend konflikte in Afghanistan, Pakistan, Somalië, Nigerië, Sirië, die Israeliese Wesoewer en die Gazastrook. Noord-Korea en Iran dreig om spanning tot op die vlak van oorlog te verhoog. Daar is ’n tasbare vrees vir oorlog tussen die Verenigde State en Iran, Israel en Iran, die Verenigde State en Noord-Korea asook Noord-Korea en Suid-Korea.

Sporadiese voorvalle van burgerlike onrus, betogings, onluste en verwante chaos bedreig regerings in Egipte, Jemen, Noord-Afrika, Algerië, Tunisië en die Ivoorkus. Daar is onrus in Burma, Libanon, Jordanië, Iran en China. Die feit dat misdadigers en militante nie vervolg word vir die geweld wat hulle pleeg of opstook nie, sowel as wantroue en toenemende ontevredenheid met swak of ongewilde leiers, vergroot die potensiaal vir konflikte en opstande in Colombia, Zimbabwe, Irak, Venezuela, Soedan, Tajikistan, Haïti en Guatemala. Die Midde-Ooste is altyd ’n kruitvat. Ons leef in ’n tyd van onsekerheid, angs en verwarring.

Oorlog het verander

Oorlog verander nou en word minder alledaags. Dit lei nog steeds tot dood en verwoesting, maar nou word dit “hibridiese oorlog” genoem. Ons ervaar ’n samesmelting van oorlog, terreur en misdaad. Daar is dikwels geen duidelike gevegslinies nie, geen wedywering vir gebied en geen maklik identifiseerbare verskille tussen vegters en nie-vegtendes nie. Die vyand is moontlik ’n staatlose entiteit en woon onder die bevolking in stedelike gebiede. Die vyand kan op openbare snelweë of selfs openbare vervoer-stelsels rondbeweeg. Teikens kan onskuldige burgers op openbare plekke wees. Wêreldmagte kan voortdurend onrus en burgerlike onluste gebruik om “gevolmagtigde oorloë” uit te voer in ’n poging om hulle belange na te jaag op plekke waar ’n openlike oorlog strategies onverstandig sou wees.

Soos Romeine 3:10-17 ons leer, is niemand regverdig nie. Niemand “is verstandig nie” en soek nie na God nie. “Haastig is hulle voete om bloed te vergiet” en oorlog te voer. Die les uit die geskiedenis is net soos die apostel Paulus geskryf het: Die mensdom ken nie die “weg van vrede” nie.

Gaan die langverwagte “Slag van Armageddon” binnekort plaasvind? Sal die aarde vernietig word? Wat sal met u, u gesin en u vriende gebeur? Die Bybel openbaar dat afskuwelike en angswekkende gebeure vlak voor die deur lê. Dit openbaar ook ’n bemoedigende hoop. Bestel vandag u gratis eksemplaar van Armageddon en daarna.