Wat hou Duitsland se toekoms in? Bybelse profesieë werp lig op die Duitse geskiedenis om belangrike leidrade te verskaf!


Duitsland het verstommende vooruitgang gemaak sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog. In 1945 was die hele nasie – verdeel tussen Oos en Wes – in ’n neerlaag platgeslaan, die drome van wêreldoorheersing gefnuik, sy ekonomie aan flarde en sy stede omskep in puinhope.

Ses dekades later het die Duitse ekonomie weer herstel. Nadat die land weer verenig is in een magtige nasie, is dit nou tussen die wêreld se grootste en sterkste. Duitsland se lone en lewenstandaarde is van die hoogste in die wêreld. Dit wil voorkom asof die land se voormalige militarisme vervang is deur ’n vredeliewende demokrasie – wat 60 jaar gelede ondenkbaar sou wees.

In baie lande sluimer daar egter nog steeds wantroue en selfs vrees teenoor Duitsland, soos wat die Financial Times se rubriekskrywer, Gideon Rachman, vroeër hierdie jaar opgemerk het. Daardie wantroue skyn egter te vervaag. “Dit help dat Angela Merkel, die kanselier, omtrent so ver as moontlik verwyder is van die spotprent van ’n gestewelde Pruis,” het Rachman opgemerk (Financial Times, 16 Julie 2007).

Maar, is dit geregverdig om Duitsland te vrees soos wat die 21ste eeu ontvou? Sal ’n “Vierde Reich” verrys? Sal ons ’n “ver-Europeesde” Duitsland sien saamsmelt in die struktuur van ’n verenigde kontinent, of sal Duitsland weer probeer om Europa te domineer en sy invloed op die wêreld uit te oefen? Terwyl baie mense aanvaar dat dit onmoontlik is om die toekoms te voorspel in die ingewikkelde veld van internasionale verhoudings, is dit eenvoudig nie waar nie! Die Bybel skets die toekomstige koers van wêreldgeskiedenis deur die handelinge van spesifieke nasies te voorspel. Een sleutel om Bybelse profesie te verstaan is om die nasies wat betrokke is, te identifiseer. Geskiedkundige anale voorsien belangrike leidrade aangaande nasionale oorspronge en die nasionale karaktertrekke wat deur die eeue heen konstant gebly het, voorsien ook belangrike leidrade. Soos ons sal sien kan Duitsland geïdentifiseer word in die profesieë van die Bybel, en die toekomstige koers wat dit sal inslaan kan dus bekend wees. Daardie identiteit is verrassend en die toekoms kommerwekkend – op die korte duur altans – maar baie opwindend in die uiteindelike volvoering van God se plan vir die mensdom.

Rede vir kommer

Wat gesoute waarnemers bekommerd maak is dat hierdie merkwaardig begaafde nasie ander unieke en onheilspellende neigings openbaar. Arnulf Baring het Duitsland akkuraat beskryf as ’n “land van belowende beginne, dramatiese veranderings en skielike ineenstortings” en as ’n “land met ’n nimmereindigende reeks van verrassende beginne en ewe verrassende finales”. (Germany’s New Position in Europe, bl. 2). Baie moderne Duitsers is bekommerd dat ’n ontwikkelende krisis hulle nuut-verenigde land “terug in die voortsetting van die Duitse geskiedenis sal dompel” (ibid., bl. 10-11). Daardie geskiedenis, gesien uit die perspektief van eeue, openbaar ’n merkwaardige tendens om periodieke en dramatiese transformasies in die nasionale karakter te ondergaan.

Baie skrywers het al hierdie kommerwekkende verskynsel van “die wispelturige Duitsers” beskryf. Toe Luigi Barzini Berlyn in die vroeëre 1930's as oorlogskorrespondent besoek het, het hy ’n stad gesien wat die “artistieke hoofstad van Europa” was, “gevul met avant-garde kunsuitstallings, baanbreker rolprente en allerhande soorte eksperimente” (The Europeans, bl. 75). ’n Paar jaar later, nadat die Nazi’s aan bewind gekom het, het hy ’n heel ander Berlyn gesien, oorvol “stywe mans in silwerskoon uniforms”, stemmige besigheidslui, elegante dames en families (ibid., bl. 78). Barzini merk op: “Ek het ’n vreemde, smeebare land gesien wat ’n nuwe voorkoms deur die Nazi's gegee is” (ibid., bl. 78). Hy vervolg: “Die vreesaanjaendste van alles was die jong, gesonde, skoongewaste gesigte van die soldate, hulle oë glinsterend van fanatieke geloof as hulle verby marsjeer, terwyl hulle krygsliedere sing”.

Dit is hierdie tendens tot militaristiese transformasie wat die grootste kopseer is rakende die Duitse volk. Talle kere in die geskiedenis het Duitse soldate vanuit Duitsland oor die hele Europa gemarsjeer as ’n “meedoënlose, onstuitbare oorlogsmasjien”. Die Tweede Wêreldoorlog het in 1939 begin toe Hitler openlik ooreenkomste met sy buurlande verbreek het. Keur Panzer tenkeenhede het die Duitse blitzkrieg (weerlig-oorlog) gelei. U-bote het soos troppe wolwe in die Atlantiese Oseaan jag gemaak op skepe en nuut ontwikkelde U-2 vuurpyle op Engeland laat reën en dood en verwoesting gesaai. Miljoene Jode, Tsjegge en Pole is gedeporteer om slawearbeid in Duitse fabrieke te verrig en het grootskaalse volksmoord in die konsentrasiekampe in die gesig gestaar!

Die Duitse oorlogsmasjien van die Tweede Wêreldoorlog staan ongeëwenaard in die moderne Westerse beskawing vir hul doeltreffendheid, vernielsugtigheid en brutaliteit. Maar, waarom het Duitsland in tirannie verval? Waar kom daardie neigings vandaan? Kan dit weer gebeur?

Verbloeming van Duitse afkoms

Die geskiedenis voorsien merkwaardige insigte in die oorsprong en nasionale karaktertrekke van die Duitsers. Gekoppel aan Bybelse profesieë, gee hierdie insigte aan ons ’n godsdienstig-geopende venster op Duitsland se toekoms. Historiese bronne dui aan dat die Duitse stamme afstam van Indo-Europeane wat migreer het vanuit die landstreke rondom die Swart- en die Kaspiese See, waar hulle “bure van die Hebreërs was” (Natural History, Pliny, Bk. 4, 12). Julius Caeser(60 v.C.) en die Romeinse historikus, Tacitus (98 v.C.), verwys na die stamme wat langs die Rynrivier gewoon het as Germanii. Tacitus skryf dat die Germaanse mans “geen sin vir vrede” gehad het nie en hulle tyd spandeer het in oorlogsugtige vervolgings. Volgens die vroegste verslae, was die Germaanse gemeenskap ingestel om oorlog te voer – en hulle het ’n ernstige bedreiging ingehou vir die Romeinse leër.

Die geskiedenis openbaar duidelik dat die Germaanse stamme Romeinse gebruike geabsorbeer het (imperialisme, totalitarisme en die godsdiens van ’n “verchristelike” ryk). Hulle het die “erfgename van Rome” geword met die totstandkoming van die “Heilige” Romeinse Ryk onder Karel die Grote en die Duitse konings (Germany: 2000 Years,Reinhardt, bl. xxiii, 43). Om te vind dat Duitsland vandag ’n leidende rol speel in die pogings om Europa te verenig, is geen verrassing nie. Hierdie idee was deel van die Duitse kulturele erfenis vir meer as ’n duisend jaar!

Die Mag van idees

Wat kan egter die rede wees vir Duitsland se neiging om telkens dramatiese transformasies in hul nasionale karakter te ondergaan? Waarom het so baie Duitsers geval vir die “heersersras” idee en die vernietigende beleidsrigting van Hitler se Derde Reich? Die antwoord is gedeeltelik te vind in die kulturele geskiedenis van Duitsland. Dit word beweer dat die karakter van individue en nasies hulle lotsbestemming bepaal. Die karakter van ’n nasie word gevorm deur die godsdienstige en filosofiese idees van sy mense (ibid., bl. xxiv-xxvii). Idees en ideologieë het die kulturele en politiese gebeurlikhede in Duitsland “miskien meer beïnvloed as in enige ander land in Europa” (ibid., bl. xxvi).

Die hoofgode van die Duitse mitologie – Thor en Odin/Wodin – vertoon opvallend uiteenlopende karaktertrekke. Thor is ’n vreedsame god van seisoene en weiding, maar is ook ’n god van oorlog. Thor kombineer in homself twee teenstrydige persoonlikhede – die “kontrasterende elemente van vriendelike voogdyskap en donker, gevaarlike irrasionaliteit” (ibid., bl. 15). Odin is ’n god van dood, storm en die slagveld, maar ook van wysheid en towerkuns. Odin openbaar “onberekenbare en onpeilbare irrasionaliteit. Hy vernietig helde, beskerm lafaards, saai tweedrag tussen vriende ... Hy verander sy geneenthede en verbintenisse en laat vriende in die steek wanneer hulle hom die nodigste het” ( ibid., bl. 15).

Deur die eeue heen het Duitsland dieselfde neiging tot dramatiese veranderings in die nasionale koers getoon. Gevorm deur ’n mitologie wat geen werklike doel of betekenis vir die lewe bied nie, laat dit die Duitsers soekend na ’n doel (ibid., bl. 15). Daardie leemte was eens gevul deur die Heilige Romeinse Ryk en in die vorige eeu deur Hitler se Nasionale Sosialistiese Beweging. Deesdae is die eenwording van Europa vir baie Duitsers hulle doel om te bestaan.

Antieke Duitse filosofie spoor die Duitsers aan tot ’n “drang na avontuur en ’n liefde vir oorlogvoering” wat hulle dikwels onbewus gemaak het van menslike oorwegings en inhibisies. Hulle martel misdadigers ... verbreek plegtige, geswore ooreenkomste sonder gewetensbesware” (ibid., bl. 10). Histories het die Duitse sin vir eer, vergelding opgehemel. In die Duitse tradisie was lojaliteit, eer en heldemoed meer belangrik as nederigheid, medelye en liefde tot die medemens soos deur Christelikheid beklemtoon word. Hierdie fundamentele konflik tussen tradisionele kulturele invloede en die Judees-Christelike waardes begin om die rigting, wat die Pruisies-Teutoniese magte ingeslaan het, te verduidelik.

Leiers maak 'n volk

Hierdie kragtige mengsel van idees, tradisies en geleenthede skyn in die lewens van diegene wat die Duitse geskiedenis gevorm het, ingeweef te wees. Die Duitse grondgebied was deel van gebiede wat Karel die Grote verower het in sy poging om die Romeinse Ryk weer saam te stel. Karel die Grote was ’n magtige krygsman met ’n grootse idee. Hierdie selfde idee om Europa onder die banier van Christendom te verenig, het ook in die harte van die eerste Duitse keisers van die Heilige Romeinse Ryk gebrand: Otto die Grote en Frederick Barbarossa (Frederick 1 van Hohenstauffen – verklaar as die “meester van die wêreld”). Onder hierdie sterk krygsmanne het die Duitsers die magtigste koninkryk in die hele Europa geword (960-1150 n.C.). In die vroeë 1700’s het Frederick Wilhelm 1 van Pruise die militaristiese koers van moderne Duitsland laat herleef. Deur sy Hohenstauffen-familie se tradisie, dat grondgebied en militêre mag die sleutels tot nasionale mag is, te volg, het hy voortgegaan om die sterkste en bes-opgeleide weermag in Europa op te bou. Toe hy oorlede is, was Pruise erken as die deeglikste gemilitariseerde moondheid in Europa, asook die mees selfvoorsienendste en vooruitstrewendste.

Frederick Wilhelm 1 se seun, Frederick die Grote, het Pruise in die “paradegrond” van Europa omskep, asook in ’n eersterangse moondheid. (Jackboot, Laffin, bl. 6-7). Frederick was ’n administrateur met visie en het ’n gesentraliseerde regering en ’n professionele staatsdiens ingestel om sy uitbreiende ryk te administreer. Frederick die Grote was ook ’n opportunis wat uit sy foute geleer het. As koning het “hy geen erg gehad aan die formaliteit van internasionale wet nie”, “hy het lande binnegeval sonder om oorlog te verklaar” en dan later voorwendsels bedink om sy gewensde avonture te regverdig (Ibid., bl. 15). Vir Frederick was oorlog ’n ernstige saak – om so vinnig en doeltreffend moontlik gewen te word. Hy het voorkeur gegee aan verrassings-taktieke, geslepenheid en vermetelheid wanneer hy vyande van groter sterkte aangedurf het. Hy het sy teenstanders verstom met sy “vermoë om voortdurend te herstel en weer op te staan” (ibid., bl. 18). Frederick het sy bewind as ’n humanitêre koning begin, slegs om verander te word in ’n meedoënlose “hamer van die wêreld” – en het vroeëre Fredericke nageboots (lees Jeremia 50:23).

Die Pruisiese invloed

Die Pruisiese militaristiese tradisie het by die Hohenzollerns begin en uiteindelik die hele Duitsland deurdring. Na Pruise se nederlaag teen Napoleon is die Pruisiese leër geherorganiseer. Gerhard von Scharnhorst, ’n briljante teoretikus en organiseerder, het militêre akademies gestig, ’n nuwe tipe weermag tot stand gebring en die basis gelê vir wat die groot Duitse Generale Staf geword het. Hierdie groep professionele soldate het vir oorlog beplan selfs in tye van vrede en het toekomstige geslagte van offisiere voorberei. Onder Scharnhorst se bestuur, is die hele bevolking van Pruise met die doelstelling en glorie van oorlog geïndoktrineer.

Scharnhorst se mees-toegewyde leerling, Karl von Clausewitz, het geglo oorlog is maar net ’n voortsetting van staatkunde deur ander middele – ’n standpunt wat weerspieël word in Bismarck se beleid dat “die groot vraagstukke van die dag nie deur resolusies of meerderheidstemme opgelos sal word nie, maar deur bloed en yster” (Barzini, bl. 71). Dit is hierdie Pruisiese tradisie – outoritêr, antidemokraties, militaristies en ekspansionisties – wat die weg gebaan het vir die opkoms van Imperiale Duitsland, die Nazi's, en die militêre avonture, wreedhede en rampe van die Derde Reich.

Hitler se opgang na mag was gedurende die onrus van ’n wêreldwye depressie, maar hy het sy idees geput uit lank-bestaande Duitse waardes en tradisies. Duitsland se oorlogsugtige gedrag en verheerliking van oorlog – wat lank gelede deur die Romeine opgemerk was – duik gereeld in Duitse geskiedenis op. Waar het die Duitsers egter hulle beheptheid met presiesheid en militaristiese gedrag wat hulle nasionale karakter so onderskei, ontwikkel? Wie was die voorsate van die Germaanse stamme wat migreer het vanaf die kusgebiede van die Swart- en die Kaspiese See?

Opvallende ooreenkomste

As u ’n kaart bestudeer wat die Swartsee en die Kaspiese See aantoon en ook verskeie geskiedenisboeke naslaan om vas te stel watter nasies daardie area van die wêreld in die eerste en tweede eeue v.C. bewoon het en wat militaristiese eienskappe soortgelyk aan dié van die Duitsers openbaar het, sal u gou baie interessante feite ontdek. Daardie gedeelte van die wêreld was gedomineer deur Assirië en die buurkoninkryk van die Hetiete. Lees gerus wat historici en argeoloë aangaande hierdie antieke nasies te wete gekom het. Let op hul kenmerkende nasionale karaktereienskappe. Vergelyk dit met daardie eienskappe wat die Duitsers vir byna 2 000 jaar onderskei het. Dit sal u nie lank neem om te besef dat u op iets afgekom het nie! Die mees uitstaande eienskap van Assirië en die Hetiete wat hulle onderskei het van hulle tydgenote, was hulle militarisme wat hulle in staat gestel het om ’n ryk tot stand te bring en te handhaaf. Die Assiriese leër was die magtigste wat die antieke wêreld ooit gesien het.

Die Hetiete se mag het ook op hul militêre vaardigheid berus. Net soos die Pruise en Duitsland, was Assirië ook gesien as ’n nasie van krygers en die Assiriese regering washoofsaaklik ’n instrument van oorlog. Die Assiriërs het ’n sterk gesentraliseerde vorm van regering onder ’n alleenheerser ontwikkel. Aanvanklik het Assirië se verowerings vir hulle belangrike handelsroetes en die beheer daaroor verkry ten einde die ontluikende ekonomiese eenheid van die Nabye Ooste te omskep in ’n politieke eenheid – soos ons dit vandag in Europa vind! Die militêre taktieke van die Assiriërs en Hetiete het, net soos dié van Duitsland en Pruise, klem gelê op vinnige troepe-bewegings en verrassingsaanvalle. Elkeen het ’n reputasie verwerf dat hulle die tegnologie van oorlogvoering bevorder het – strydwaens, ruitery, tenks, duikbote en vuurpyle.

Net soos die Duitsers tydens verskeie tye in hul geskiedenis, was die Assiriërs ook berug vir dade van buitensporige wreedhede – verblinding of verminking van slagoffers, opeenhoping van koppe of lyke – om verowerde volke te intimideer en te beheer. Beide nasies het verowerde volke as ballinge op groot skaal na verskillende streke weggevoerom dwangarbeid te verkry en die moraal te verbreek. Volksmoord was ook deur beide volke beoefen. Die Assiriese kuns en literatuur verheerlik die vernielsugtigheid en brutaliteit van oorlog. Feitlik dieselfde kan gesê word van die geskrifte van Von Clausewitz en ander Pruisiese en Duitse skrywers.

Die omliggende nasies het uiteindelik saamgestaan en Assirië oorwin – net soos die geallieerde nasies Duitsland twee keer in die twintigste eeu verslaan het. Assirië se skielike ineenstorting hou probleme in vir historici. Dit lyk of die Assiriërs in die newels van die geskiedenis verdwyn het in die omstreke van die Swartsee. Interessant genoeg, het die voorsate van die Duitsers uit daardie selfde gebied te voorskyn gekom. Die meeste moderne historici is huiwerig of faal om die verdwyning van die Assiriërs en die ontluiking van die Germaanse stamme met mekaar in verband te bring. Duitsland se kulturele geskiedenis en nasionale karakter stem ooreen met dié van Assirië soos geen ander nasie s’n nie.

Beide Assirië en Duitsland staan uniek in die geskiedenis om presies dieselfde redes: Deeglike gemilitariseerde gemeenskappe, verheerliking van oorlog, brutaal-doeltreffende leërs, opsetlik berekende dade van uiterste wreedheid, grootskaalse ballingskappe, slawe-arbeidkampe en volksmoord – alles met ongelooflike doeltreffendheid sentraal geadministreer. Die geskiedenis van beide hierdie nasies toon periodes van kragtige militêre herlewing na periodes van verval. Hierdie ooreenkomste is opvallend en uniek in die verloop van die menslike beskawing!

Meer aanknopingspunte

Die Assiriese Ryk het ontwikkel uit die stadstaat van Assur, (vernoem na Assur, ’n seun van Sem – een van Noag se drie seuns – lees Genesis 10:1, 22). Assur was 'n broer van Arpagsad – 'n voorvader van Abraham, wat weer die voorvader van die Hebreërs was (Genesis 11:10-26). Dus, egte Assiriërs en die afstammelinge van Abraham (die Israeliete) is verwante volke. Die naam Assur beteken “leier” of “suksesvol”. Josephus, wat in die eerste eeu n.C. geskryf het, meld dat die Assiriërs die “voorspoedigste nasie, bo al die ander, geword het” (Antiquities of the Jews, 1:6:6). Gesien in die lig van hulle vermoëns en bydraes tot die Westerse beskawing, geld dit ook vir die Duitsers. Assur was aanbid as die hoofgod van Assirië – die god van oorlog – en was uitgebeeld as ’n songod met ’n gevleuelde skyfBeide die gevleuelde skyf en die swastika was ook deur die Hetiete gebruik. Die swastika is ’n simbool vir die son, mag en energie, Thor se hamer en die god van die weer en storms. ’n Antieke swastika was gevind op ’n leiklipblad voor ’n tempel van Assur (In Search of ... the Origin of Nations, White, bl. 311).

Die Hetiete en die Assiriërs het ook ’n tweekoppige arend gebruik om die gode van die lug – storm, donder en die son – te simboliseer. Hierdie simbole het weer hul verskyning gemaak in die kultuur van Duitsland, Pruise, Oostenryk en veral in die Derde Reich. Die Hetiete (wat deur Assirië oorwin en opgeneem is) toon ook duidelike taalkundige en kulturele verbintenisse met twee van die Germaanse stamme – die Hesse en die Pruise. Selfs nog meer interessant, soos wat historikus Josef Bihl opmerk, is die legende dat Trier, die oudste stad in Duitsland, deur Trebeta, die seun van ’n Assiriese koning met die naam van Ninus, in omtrent 2000 v.C., gestig is (In Deutchen Landen, Bihl, bl. 69). Besoekers kan steeds die inskripsie op ’n historiese huis in Trier se markplein lees, wat aandui dat daardie Assiriese kolonie 1,300 jaar voor Rome gestig is.

Sommige historici het die Assiriërs beskryf as die “Pruise van die Antieke Wêreld” (The Ideal of Destiny, McCulloch, bl. 224), onderhorig aan gesentraliseerde outoriteit, met ’n “diepgewortelde gevoel van meerderwaardigheid” – die idee van ’n “heersersras” te wees (Mass Deportations and Deportees in the Neo-Assirian Empire, Obed, bl. 89). Die Assiriërs was uitermatig nasionalisties met ’n “sterk gevoel van deelname aan ’n gemeenskaplike en eie lewenswyse” (ibid., bl. 66) – soortgelyk aan die Duitse idee van ’n volk. Na die val van die Assiriese Ryk, maak die Romeinse historikus, Pliny, melding van ’n stam van die “Assyriani” wat tussen die Skithiese volke in die Krim, noord van die Swartsee, was (Natural History, Bk IV, XII. 81). Die historikus, Jerome, wat in die vierde eeu n.C. geskryf het, sê dat die afstammelinge van Assur tussen die Keltiese-Skithiese-Hun hordes was wat destyds Europa binnegevaar het (Nicene and Post-Nicene Fathers, Jerome Letter 123, section 16). Navorser Leon Poliakov maak melding van die antieke Bavariese weergawe dat die volk van Bavarië na sentraal Europa gekom het vanaf die gebied van Armenië by die Swartsee (The Aryan Myth, bl. 76). As ons hierdie inligting oorweeg is dit nie verrassend om te vind dat Middeleeuse Arabiese skrywers die Duitsers as “Assiriërs” beskryf het nie (Israelites and Hyksos, Germol, bll. 89-90). Skakels tussen Duitsland en Assirië kan verseker gevind word en is nóg vergesog, nóg verbeeldingsvlugte.

Duitsland in profesieë

Presies wat is die betekenis van hierdie opvallende ooreenkomste tussen antieke Assirië en Duitsland? Talle Bybelse profesieë toon duidelik aan dat Assirië weereens ’n beslissende rol in wêreldgebeure sal speel teen die einde van hierdie tydvak, net voor Jesus Christus se Wederkoms (lees Jesaja 10 en 11). Tog, toe die Mede, Babiloniërs en Skithiërs Assirië oorwin het in 612 v.C., is die regerende klas versprei na die noorde, ooste en weste, en het die oorwonne volke wat die Assiriërs as slawearbeiders ingevoer het, agtergebly. Sommige van hierdie mengelmoes van volke kan vandag gevind word in Irak, Sirië en die Koukasus. Die Assiriese nasie het opgehou om te bestaan, maar geskiedenis en profesieë bevestig dat sy kulturele erfenis nagespoor kan word tot by die moderne nasie van Duitsland. Wanneer die Bybel van Assirië in die eindtyd praat, word daar van Duitsland gepraat. Hierdie beskrywing pas geen ander moderne nasie so volledig nie.

Duitsland se herstel tot ’n magtige moondheid in die jare na die Tweede Wêreldoorlog is geen toevalligheid nie. Meer as 2 500 jaar gelede het God voorspel dat Hy sekere gebeurtenisse sal laat plaasvind om Sy doel te bereik (Jesaja 46:9-10; Openbaring 17:17). Duitsland is weereens die leidende mag in die pogings om die nasies van Europa te verenig. Hierdie gebeure wat nou besig is om plaas te vind, sal lei tot die tien-nasie moondheid van die Dier wat weer sal herrys uit die asse van die Romeinse Ryk (Openbaring 17:9-14).

Die Bybel toon dat Duitsland weer ’n keer godsdiens sal gebruik as hulpmiddel om ’n verenigde Europese moondheid saam te snoer (Openbaring 13; 17:1-7), soortgelyk as dít wat onder Karel die Grote vermag is. Hierdie ontluikende struktuur sal in ’n globale ekonomiese mag ontwikkel (Openbaring 18:2-3, 9-14) en sal daardie mag vir politieke doeleindes aanwend. Dit sal in die begin lyk asof dit ’n vreedsame mag is, maar sal verander word in ’n gulsige, oorlogvoerende dier (Daniël 11:21; Openbaring 13:2-3; Openbaring 17:12-14). Daniël beskryf hierdie koninkryk van die eindtyd as ’n sterk, wreedaardige dier met “tande van yster” wat deur Christus met Sy Wederkoms oorwin en gestraf sal word (Daniël 2:40-45; 7:7, 19-23).

Tog, so verbasend as wat dit mag voorkom, voorspel die Bybel ook dat God uiteindelik Assirië – die merkwaardige Duitse volk – sal gebruik as ’n leidende nasie vir vrede in die komende koninkryk van God (Jesaja 19:23-25). God sal die uitstaande intellektuele en kulturele sterk punte van die Duitse volk gebruik om die wêreld te verryk gedurende die komende duisendjarige heerskappy van Jesus Christus. Soortgelyk aan al die ander volke van die wêreld, het die Duitsers ook in hul nasionale karakter sterk punte sowel as swakhede. Net soos wat God die moderne afstammelinge van Assirië sal gebruik om eindtydse profesieë in die jare wat nou vlak voor ons lê te vervul, sal Hy in die Wêreld van Môre die merkwaardige sterk punte van die Duitsers benut om hul medemens te dien!