Dit is ’n algemene gesegde om te sê dat wanneer mens ’n padda in ’n pot water sit en die water stadig verhit, kan mens hom kook voordat hy besef hy moet uit die pot spring. Omdat ek dit nie self probeer het nie, kan ek nie bevestig hoe waar dit is nie, maar ek vermoed dat dit niks meer as ’n “ouvrou storie” is nie. Waarom ons ouer vrouens vir elke denkbeeldige storie blameer, weet ek nie. Dit tersyde gestel, kom ons keer terug na die padda.

Die les van die storie is nie hoe om ’n padda te kook nie, maar om te verduidelik dat wanneer verandering stadig plaasvind, ons gerus bly, salig onbewus van die onheil wat rondom ons plaasvind. Dit lyk asof dit deesdae die denkwyse van die meeste mense is. Verandering vind plaas – dit weet ons. Baie mense pas egter aan by die verandering met gevoelens van lui, genoeglike warmte.

In The Jungle Grows Back, herinner die geskiedskrywer, Robert Kagan, ons aan ’n gedeelte uit Ernest Hemingway se The Sun Also Rises, waarin die groot drinker en veteraan Bill Gorton, vir die temperamentele dronkaard Mike Campbell vra hoe dit gebeur het dat hy bankrot geraak het. Campbell se welbekende antwoord is: “Geleidelik, toe skielik” (Kagan, bl. 143). Dit herinner ons aan die padda wat die verandering in sy pot te laat agterkom.

Kagan beweer dat die afgelope 75 jaar ’n afwyking van die geskiedenis was: “Die verhaal van menslike vooruitgang is egter ’n mite. Indien die vorige eeu ons enigiets geleer het, is dit dat wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang en die uitbreiding van kennis – terwyl dit ons lewens wesenlik materialisties verbeter, geen blywende verbetering in menslike gedrag tot gevolg gehad het nie” (bl. 5). Terwyl tegnologie tot by die maan en verder gevorder het, het menslike gedrag na Stalin, Hitler en Pol Pot “gevorder”.

Wanneer hy opmerk dat daar geen volkome vrede was nie, skryf Kagan die relatiewe vrede wat die wêreld sedert die Tweede Wêreldoorlog beleef het, toe aan die ongewone omstandighede van die Verenigde State wat as ’n betreklik welwillende “wêreldpolisieman” opgetree het. Ten spyte van al die ooglopende foute glo Kagan dat die V.S. die groot magte van Europa en Asië in toom gehou het en hy gee krediet aan die nasie se vermoë om sodanige invloed in die unieke geografiese, politieke en ekonomiese omstandighede uit te oefen.

Kagan toon groot insig, maar hy sien nie in dat daar ook geestelike invloede aan die werk in ons wêreld is nie – goed sowel as sleg. Terwyl Kagan die mensdom se slegte neigings insien, erken hy nie dat God in die hemel die V.S. tot sy status van supermoondheid opgehef het nie – nie as gevolg van enige soort nasionale “geregtigheid” nie, maar vir Sy oorheersende doel. U kan ’n vollediger verduideliking hiervan vind in ons hulpbron, Wat Lê Voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? U kan ’n gratis eksemplaar van ons literatuur aanlyn of vanaf die streekkantoor die naaste aan u (op bladsy 2 van hierdie tydskrif) aanvra of u kan dit aanlyn lees by tomorrowsworld.org of wvm.co.za.

Hou die oerwoud in toom

Die voormalige V.S. president, Franklin Roosevelt, het reeds in 1943, terwyl die Tweede Wêreldoorlog nog gewoed het, ingesien dat, indien Amerika weer na sy afsonderingsbeleid van 1930 sou terugkeer, die geskiedenis homself sal herhaal: “[As] die Verenigde State ‘nie die slagtande van die roofdiere van hierdie wêreld uittrek nie,’ sal hulle ‘vermenigvuldig en hulle mag sal toeneem’ en ‘sal ons weereens aan die keel beetkry binne ’n kort tydjie’” (Kagan, bl. 29).

Geskiedenis is ’n uitstekende leermeester. Roosevelt het voorsien wat versuim kan meebring en die geskiedskrywer Kagan herken hierdie versuim om te leer wat reg voor ons oë plaasvind. Hierdie verskynsel is reeds vooruit verduidelik deur ’n ander Bron. Die Bybel voorspel die opkoms van nasies wat die aard van wilde diere vertoon eerder as van mak lammers (Daniël 2 en 7, Openbaring 13 en 17). Roosevelt het die gevaar daarvan voorsien en Kagan het ingesien dat ons, op enige gegewe tydstip, net ’n paar tree weg van ’n ander Hitler is. Al wat nodig is, is dat die geleentheid hom voordoen, aangesien daar nooit ’n tekort aan aspirant-diktators in die wêreld is nie. Slegs omstandighede verhoed dat hulle beheer oorneem. Wanneer toestande in die wêreld verval, sal een of meer van hulle weer wêreldwye verwoesting veroorsaak.

Die V.S. het hulleself geïsoleer in die jare tussen die twee wêreldoorloë. Amerikaners het gedink dat wat in ’n ander deel van die wêreld gebeur, nie ’n bedreiging vir ’n volk inhou wat deur twee oseane omring is en twee vreedsame bure het nie. “Laat die gekke in Europa en Asië hulle eie probleme oplos!” Natuurlik het dit alles op ’n Desember-oggend in 1941 verander. Voor die tyd was die skrif al aan die muur vir diegene wat gewillig was om dit raak te sien, maar baie Amerikaners was so gerus soos die spreekwoordelike paddas in warm water en het die naderende gevaar nie ingesien nie – totdat die Japanese weermag Pearl Harbor aangeval het.

Vandag is Amerika weereens besig om hulle af te sonder. “Amerika Eerste” klink goed vir baie mense, gegewe die probleme wat Amerika se internasionale betrokkenheid tuis veroorsaak het. Kagan gaan van die veronderstelling uit dat, in ’n wêreld sonder ’n polisieman, hoe vol gebreke dit ookal mag wees, sal die oerwoud egter terug groei en hy is nie alleen nie. ’n Baie meer betroubare Bron – die Bybel – stem saam. Dit beskryf ’n komende tyd van verdrukking, soos nog nooit tevore gesien is nie. Dit wys op die tekens van daardie tyd en ons sien reeds baie daarvan rondom ons!

Daniël het geskryf dat “die tyd van die einde” deur massavervoer en ’n kennisontploffing gekenmerk sal word (Daniël 12:4). Jesus waarsku ons: “Want daar sal groot verdrukking wees” en sonder God se ingryping “sou geen vlees gered word nie” (Matthéüs 24:21-22). Tot die laaste helfte van die vorige eeu het die mensdom nie wapens van wêreldwye massavernietiging gehad wat sulke verskriklike tye moontlik sou kon maak nie (vgl. Openbaring 9). Sagaría skryf dat in die eindtyd, die Jode in Jerusalem sal wees “tot ’n baie swaar klip vir al die volke” (Sagaría 12:2-3). Hierdie profesie kon eers vervul word ná die stigting van die Joodse staat in 1948 en nadat die Jode in die Sesdaagse Oorlog in 1967 beheer oor die hele Jerusalem verkry het. Ten spyte van lofwaardige pogings om vrede en harmonie na te streef, sal die Joodse volk deur hulle bure gehaat word en Jerusalem sal ’n verdeelde stad wees (Sagaría 14:1-2). Wat die morele toestand van ons wêreld betref, beskryf die Bybel dit as Sodom en Gomorra – stede wat bekend was vanweë hulle oorgawe aan abnormale en vulgêre seksuele praktyke (Jesaja 1:10; Génesis 19).

Geleidelik, toe skielik

Die wêreldorde soos ons dit vir die laaste 75 jaar geken het, is besig om ten gronde te gaan. Dink byvoorbeeld aan die Britse uittrede uit die Europese Unie, ’n liggaam wat reeds ekonomies en polities in ’n krisis is. Daar is ’n opkoms van regse groepe in Hongarye, Pole en Italië. Die V.S. oefen druk uit op Duitsland en Europa om hulle militêre besteding te verhoog – iets wat die laaste twee keer nie baie goed vir die wêreld uitgewerk het nie. Die regse nasionalistiese Alternatief vir Duitsland (AfD) is nou die derde grootste politieke party in Duitsland. Nasies sonder hulle af en hierdie tendens is nie meer die uitsondering nie, maar word toonaangewend. Waarheen lei dit?

Die Bybel voorspel dat ’n herrese “dier”-moondheid in Europa sal opstaan. (Lees meer hieroor in ons boekie, Die Dier van Openbaring: Mite, beeldspraak of werklikheid?) Die einde van hierdie tydperk sal skielik en (vir die meeste mense) onverwags kom, maar diegene wat waaksaam is, sal nie onverhoeds betrap word nie (1 Thessalonicense 5:1-4). Ons wêreld raak “geleidelik” sedelik en finansieel bankrot – die “skielik” sal kort daarna volg. Hoeveel van ons sal die wedervarings van die 1930’s-generasie in herinnering roep? Die geskiedskrywer Kagan, het opgemerk (soos ek in die vorige uitgawe van hierdie tydskrif aangehaal het): “[O]ns het nou vergeet dat wanneer dinge begin verkeerd gaan, hulle baie vinnig baie verkeerd kan gaan, dat ás ’n wêreldorde eers ineenstort, die slegste eienskappe van die mensdom na vore tree en amok maak”.

Jesus het ons gewaarsku om uit die gelykenis van die vyeboom te leer dat die einde naby sal wees wanneer ons sekere gebeurtenisse sien plaasvind (Lukas 21:29-36). Die apostel Paulus waarsku ons almal: “En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het” (Romeine 13:11). Is u wakker en gereed?