Wees gegroet vriende! Ons hoofredakteur, dr. Roderick C. Meredith, het my gevra om te begin om hierdie “Persoonlike” boodskappe ’n paar keer elke jaar te skryf sodat hy meer tyd aan ander dringende projekte kan bestee. Op die ouderdom van 82 jaar bly dr. Meredith meer produktief as baie manne wat heelwat jonger is en sy toewyding aan die werk van God is ’n inspirasie vir ons almal by Die Wêreld van Môre. U kan uitsien daarna om dr. Meredith se volgende “Persoonlike” boodskap in die Januarie-Februarie 2014 uitgawe van hierdie tydskrif te lees.

Sommige van u lesers mag bewus wees daarvan dat ons in Desember 2012 die 60ste herdenking van dr. Meredith se inseëning as Evangelis van Jesus Christus gevier het. Ons hier by Die Wêreld van Môre is dankbaar vir sy voortgesette voorbeeld van leierskap, diens en toewyding om die evangelie van die toekomstige Koninkryk van God te verkondig aan ’n wêreld wat dit desperaat nodig het om die waarheid van God se plan vir die mensdom te hoor.

Ek het 50 jaar gelede, in die herfs van 1962, die voorreg gehad om dr. Meredith te ontmoet toe hy die dosent was van my “Eerstejaar Bybelklas” aan Ambassador College. Deur die jare heen is ek herhaaldelik bemoedig deur sy voorbeeld van toewyding en ywer. Dit is ongetwyfeld dr. Meredith se voortdurende voorbeeld wat toegelaat het dat God hom so kragtig gebruik om standpunt in te neem vir die waarheid. Selfs terwyl so baie ander weggedraai het van daardie waarheid, gekompromitteer het of die boodskap verdraai het vir hulle eie persoonlike gewin. In ’n belangrike sin is dr. Meredith se dienende leierskap ’n grondliggende rede waarom ons hier by Die Wêreld van Môre is en voortgaan om die boodskap van die Kerk van God, die evangelie van die toekomstige Koninkryk van God, te verkondig. Dit is in skerp teenstelling met so baie mense wat hulself “Christene” noem maar wie se daaglikse lewe hulle liefde vir die wêreld demonstreer asook hul onkunde oor God se ge-openbaarde doel vir hul lewens.

Soos u sal sien in my artikel “Ware Christelike sukses” elders in hierdie uitgawe, is daar baie meer in die lewe as die soeke na rykdom, mag, status en plesier. God verbied ons nie om fisiese sukses te behaal nie – inderwaarheid wil Hy hê dat ons meer “lewe en oorvloed kan hê” as diegene wat aan Hom ongehoorsaam is (Johannes 10:10). Om dit egter te kan doen, leer Hy ons om ons fisiese pogings in harmonie te hou met ons geestelike strewes. As Christene behoort ons heel eerste die toekomstige Koninkryk van God en Sy geregtigheid te soek (Mattheüs 6:33). Indien ons God eerste stel en ’n behae het in Sy weë, dan belowe Hy nie slegs om in ons behoeftes te voorsien nie; Hy sal ons ook die begeertes van ons hart gee (Psalm 37:4). Dit sal natuurlik Christelike begeertes wees, nie vleeslike wellus en skandelike hartstogte nie.

Rondom ons sien ons ’n wêreld wat nie weet wat Sy doel is nie en waarin miljarde mense swaar kry. Die wêreldwye finansiële krisis bly Amerika en baie ander Westerse nasies kwel. Amerika, wat alreeds die wêreld se grootste skuldenaar-nasie is, sal spoedig ’n enorme bykomende uitgawe tot sy alreeds massiewe finansiële verpligtinge die hoof moet bied! ’n Artikel in die tydskrif Barron, getiteld “Watch Out!” waarsku dat “die koste verbonde aan bejaardesorg die federale begroting sal dreineer”. Verder: “Vir jare kon politici en pensioentrekkers die krisis wat Amerika se Maatskaplike Sekerheidstelsel bedreig, veilig ignoreer. Die probleme het ver in die wasige toekoms gelê, ver anderkant die volgende verkiesingsdag en die volgende rondte gholf. Dit alles is nou besig om te verander, die grond begin wankel. Die eerste van Amerika se 78 miljoen na-oorlogse babas (baby boomers) word nou 66. Dit beteken dat hulle kwalifiseer vir volle Maatskaplike Sekerheidsvoordele ... In kort, die toekoms het aangebreek en lyk nie goed nie” (18 Junie 2012, bl.23).

Namate ons Westerse nasies al hoe meer onbeskaamd die Tien Gebooie en God se weë verwerp, sal ons die boete betaal vir gierigheid, selfsug en sonde. God waarsku ons: “Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër oor jou opklim; en jý sal laer en laer afsak. Hý sal aan jou leen, maar jý sal aan hom nie leen nie; hy sal die kop en jy die stert wees” (Deuteronomium 28:43-44). Inderdaad, die twee nasies aan wie Amerika die meeste geld skuld, is China met $1.3 triljoen en Japan met $1.0 triljoen (VSA).

Barron berig verder: “Teen die tempo waarteen dit groei, sal die gesamentlike koste verbonde aan Social Security en Medicare alleen, uiteindelik die grootste deel van die Federale begroting geleidelik oorneem. Voeg ander programme hierby wat Medicaid, en ander voorregte insluit en dit sal die hele begroting oorneem” (ibid., bl. 24).

Ek het die voorreg gehad om verskeie “Presentations” van Tomorrow’s World te gee, waar sommige van u my dit mag hoor benadruk het dat daar wel ’n oplossing is vir al hierdie probleme – ’n oplossing wat net enkele mense gewillig is om toe te pas. God gee ’n kragtige waarskuwing wat nie slegs toepaslik is op individue nie, maar ook op ons nasies as geheel: “Mag ’n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe” (Maleagi 3:8). ’n Tiende is ’n tiende van ons inkomste. Die Skepper God besit die aarde en die ganse heelal. Hy gee aan ons elke asemteug van ons lewens. Kyk na die nasionale straf vir ongehoorsaamheid: “Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie! Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die Here van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uitstort nie” (Maleagi 3:9-10).

Indien die mense van ons Westerse nasies hul sou bekeer, hul heelhartig na God sou wend en begin om tiendes te betaal, dan sal hul finansiële vloeke omgekeer word. God se weg is die weg van liefde – die weg van “gee”. Roof is ’n sonde, om God te beroof bring ’n vloek mee. Onthou, God kyk na die hart, nie na die bankbalans van diegene wat offergawes gee nie. Jesus het die weduwee wat net twee geldstukkies bygedra het tot die tempel se skatkis, geprys as iemand wat meer milddadig gegee het as die ryk manne wat ’n groot vertoon gemaak het van hulle weldadigheid (Markus 12:41-44).

Soos mense wat lankal Die Wêreld van Môre lees weet, God roep nie in hierdie tydvak die meerderheid van die mensdom tot bekering nie. Die meeste mense wat hierdie tydskrif se waarskuwings lees, neem dit nie ter harte nie. Vir die oorgrote meerderheid mense vandag, is die boodskap van die toekomstige Koninkryk van God ’n ernstigewaarskuwing. Indien u egter van die min mense is wie se denke tans deur God oopgemaak word, vir wie Hy insig gee in die waarheid wat u vind in Die Wêreld van Môre-tydskrif – asook in ons beeldsendings en www.wvm.co.za webwerf – dan het u nou die geleentheid om baie van die seëninge wat God na die hele aarde gaan bring in die toekomstige Millennium en Groot Wit Troon Oordeel in u eie lewe te ervaar.

Die grootste deel van die mensdom is vandag hier om die les te leer dat ’n lewe van ongehoorsaamheid aan God ydelheid en nutteloos is. Die mensdom se beste finansiële stelsels, maatskaplike programme, intellektuele ondernemings en dapper ontdekkings beteken alles niks as ons nie gehoorsaam is aan God nie. God roep egter selfs vandag relatief min mense as “eerste vrugte” – diegene wat in hierdie tydvak Sy boodskap sal hoor en Hom gehoorsaam sal wees. Deur dit te doen sal hulle “alles wat in die wêreld is – die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe” – oorwin (1 Johannes 2:16). Ja, God roep Sy getroue volk om “oorwinnaars” te wees (Openbaring 21:7). Hoe kan ons dit doen? Deur die Verlosser van die wêreld (1 Johannes 4:14)! Dit is deur Hom dat ons kan oorwin. Dink in hierdie verband aan een van dr. Meredith se gunsteling verse: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof [van] die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20).

Deur gedoop te word na bekering “begrawe” ware Christene hulle ou vleeslike natuur. Hulle het Jesus Christus toegelaat om Sy lewe binne-in hul te leef, Sy ware geloof te beoefen terwyl hulle in gehoorsaamheid aan Sy wet en Sy wil, besig is met hul daaglikse bedrywighede. Ware Christene gaan nie net deur die gang van fisiese lewe nie. Hulle is besig om God se eie karakter dag vir dag binne-in hul te bou, namate hul die Heilige Gees gebruik wat hul met die doop ontvang het – om voor te berei vir hul toekomstige geboorte in die Koninkryk van God, met die opstanding, tydens Jesus Christus se wederkoms. Vir ware Christene is dít “waarom ons hier is”.