Die Britse museum in Londen het onlangs ’n wonderlike uitstalling gehad. Waarom is daar egter een van die belangrikste bronne geïgnoneer?

Baie Europese stede bied aan besoekers die geleentheid om versamelings van oorblyfsels van vroeë beskawings te besigtig. Die Britse Museum in Londen is ’n goeie voorbeeld. ’n Uitstalling wat in Februarie 2019 ten einde geloop het, met die titel “Ek is Ashurbanipal: Koning van die Wêreld, Koning van Assirië”, het aan ’n betowerde publiek, ’n indrukwekkende vonds van Assiriese skatte vertoon, wat hoofsaaklik in die negentiende eeu versamel is.

Die materiaal vir die uitstalling is hoofsaaklik verkry van die Britse Museum se groot versameling Assiriese artefakte asook van die Louvre in Parys en selfs ’n paar van so ver as Teheran. Die doel van die uitstalling was om die mag van koning Ashurbanipal en die burokratiese apparaat en militêre masjienwerktuie te beklemtoon wat hom in staat gestel het om oor soveel van die destyds bekende wêreld te heers. Die genadeloosheid van die Assiriese weermag, wat op die uitgebeitelde panele van die koning se paleismure uitgebeeld is, sou skokkend gewees het vir enigiemand wat opgevoed is met die humanistiese benaderings tot oorlogvoering, soos dit onder die Genève-konvensie ingestel is. Die wreedheid van die Assiriërs om teenstanders of vyande te onderwerp, is ’n goed gedokumenteerde rekord van die geskiedenis. Hierdie panele is nie net ’n uitbeelding van Assiriese propaganda nie, maar ’n rekord van wat bedoel was om vrees in te boesem by diegene wat dit gesien het.

Terwyl ek hierdie uitstalling besoek het en in die sale van die Britse Museum rondgedwaal het en na soveel kalksteen reliëf en -snywerk gestaar het, het ek gevoel dat die lewe in die antieke Assiriese ryk ’n taamlik kleurlose visuele ervaring sou wees, met min kleur in die omgewing om te geniet. Die personeel van die museum het egter digitale uitbeeldings gebruik om te wys hoe die reliëfs in hulle oorspronklike kleure moes gelyk het en selfs die klein fragmente van pigment wat op die artefakte agtergebly het, het getuig van hoe kleurvol dit gelyk het voordat tyd en die weer hulle tol geëis het.

Waarom word die Bybel se rekord geïgnoreer?

Drie kwessies het dadelik by my opgekom toe ek na hierdie uitstalling gekyk het. Eerstens het die kurators van die versameling feitlik alle Bybelse verwysings geïgnoreer. Assirië was ’n leidende wêreldmag oor ’n lang tydperk, wat die leeftye van verskeie profete van die Ou Testament ingesluit het en die koninkryk word duidelik in die bladsye van die Skrif beskryf as ’n groot wêreldryk en ook as teenstander van Israel en Juda. Die Bybelse profete Jesaja, Hosea en Nahum het gepraat oor die rol van Assirië se pogings om die wêreld en die menslike lot te beheer. Jesaja noem die meedoënlose krag van die Assiriese oorlogsmasjien (Jesaja 10:5-7; 37:10-13, 18) en die Bybelse rekord is uitstekend in ooreenstemming hiermee. Dit bied uitstekende bevestiging van die afbeeldings van Assirië se militêre mag wat uitgebeitel is op die paleis se muurpanele wat uitgestal is deur die museum. Selfs die verhaal van Jona, die profeet, is gebou rondom die tirannie van die Assiriërs, wie se hoofstad Ninevé was (Jona 1:2). Tog was daar in die museum se kamers en uitstallings slegs ’n terloopse verwysing na die Bybelse rekord en so is die Bybel stilgemaak. Kontrasteer dit met die praktyk van vorige generasies se kuratore van museums en personeel, wat boeke gepubliseer het wat die toepaslikheid van die artefakte met betrekking tot die Bybelse rekord aantoon. Waarom is een van die grootste geskiedkundige dokumente in die geskiedenis so verwaarloos op so ’n onregverdige wyse?

Soos Melanie McDonagh in haar oorsig van die uitstalling in die Evening Standard geskryf het:

Vir enigiemand wat vertroud is met die Ou Testament is die name van die Elamiete, die Babiloniërs en die Kussiete bekend. Min kinders leer dit nou, dus is die effek van hierdie groot artefakte minder oorweldigend as vir die Victoriane wat hulle die eerste keer in die 1840’s teëgekom het (“I am Ashurbanipal reveiw: Legacy of Assyria’s ‘king of the world’ gets extraordinary show at British Museum,” 6 November 2018).

Die Ou Testament gaan eintlik verder as om net die name wat mev. McDonagh genoem het, op te teken. Die boek Génesis beskryf die oorsprong van die Assiriese Ryk asook die stede wat deur hulle gestig is (Génesis 10:10-12). Hierdie rekords was ’n integrale deel van die argeologiese soektogte wat in die negentiende eeu begin het. Trouens, as dit nie vir die Bybelse rekord van Assirië was nie, sou die onverskrokke en avontuurlustige soekers van die negentiende eeu nie na hierdie vergete ryk gesoek het nie en hierdie artefakte wat so effektief vertoon word, sou waarskynlik nie deel gewees het van die Britse Museum se erfenis nie.

Deur die Skrif bevestig

Tweedens, is dit die moeite werd om te noem dat onder die 26,000 gedenkplate wat in Ashurbanipal se biblioteek gevind is, daar ’n aantal is wat die geskiedenis bevestig soos dit deur hierdie Bybelse verhale aangeteken is. Trouens, soos Josh McDowell in sy boek, The New Evidence That Demands a Verdict, opmerk: “Elke verwysing wat in die Ou Testament na ’n Assiriese koning verwys is korrek bewys” (1999-uitgawe, bl. 111). Natuurlik mag ons in ag neem dat die Assiriërs skynbaar slegs hulle suksesse aangeteken het en min of geen melding gemaak het van hulle mislukkings nie. Dus, toe die Assiriërs Jerusalem aangeval en hulle hele leër verloor het, soos dit in 2 Konings 18 en 19 beskryf word, het die Assiriese gedenkplate slegs gemeld: “Homself [met verwysing na koning Hiskía] het ek ’n gevangene in Jerusalem gemaak in sy koninklike woning soos ’n voël in ’n hok” (Pritchard James ed., Ancient Near Eastern Texts Relating to the Old Testament, 3de uitgawe, 1969, bl. 287). Dit was ’n merkwaardige verklaring omdat die Assiriërs gewoonlik sou seker maak dat hulle die vyandige stad in totaliteit sou binnegaan en sy koning sou gevange neem. Die gedenkplaat se rekord toon dat die Assiriërs in hierdie poging misluk het en

Dit bevestig die kern van die Bybelse weergawe.

Derdens fokus museums uit die aard van die saak op die verlede. Dit is versamelings wat gebaseer is op en gevorm is deur die opkoms van antropologiese studies wat deur die Bewusmaking verhaas word. Vervloë geslagte het ’n onversadigbare begeerte gehad om die oorsprong en identiteite van volke, antiek sowel as modern, te verstaan.

Wat baie mense in vorige en in die huidige geslagte nie verstaan het nie, is dat Assirië ook ’n toekoms het wat nog onthul sal word!

Geskiedenis vooraf geskryf

Die grootheid van die Assiriese verlede, wat deur die kurators van die Britse Museum uitgebeeld word, was ’n onbewuste voorloper van wat voorlê en het ’n heilsame les gebied aan almal wat hierdie uitstalling besigtig het. In vorige uitgawes van die Wêreld van Môre-tydskrif en op ons Tomorrow’s World televisieprogram, het ons Assirië se rol in die eindtydse scenario bespreek soos wat dit in die Bybel uiteengesit word – ’n scenario wat besig is om gestalte aan te neem reg voor ons oë en dit word in ons daaglikse nuus vertoon. Vir meer inligting oor hierdie toekomstige rol, besoek ons webwerf by TomorrowsWorld.org en kyk na die video “The Lost Empire of Assyria” of lees artikels soos “Herrysende Duitsland: ’n Vierde Reich?” [verkrygbaar as ’n herdrukte artikel] en “Deutschland Über Alles!” deur Douglas Winnail onderskeidelik in die September-Oktober 2008 en November-Desember 2015 tydskrifte onderskeidelik. U kan ook skryf om afskrifte aan te vra by een van ons streekkantore wat op bladsy 2 van hierdie tydskrif gelys word.

Gedetailleerde resensies van die Britse Museum se uitstalling is aanlyn beskikbaar.