Waarom het God die COVID-19 pandemie toegelaat? Volgens profesie sal daar pessiektes kom – is hierdie een daarvan? Waarom laat God lyding toe soos oorlog, hongersnood en siektes – veroorsaak Hy dit doelbewus in sommige gevalle? Maak dit alles sin?

Daar is wel antwoorde op hierdie vrae, maar om dit te begryp, moet ons eers twee lewensbelangrike waarhede verstaan.

Twee lewensbelangrike waarhede

Die eerste is dat God ons innig liefhet. Soos Johannes 3:16 verduidelik, het God die Vader elke mens so lief dat Hy Sy Seun gegee het om vir ons te sterf, sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan hê! Ons behoort egter te verstaan dat Sy gawe van die ewige lewe voorwaardelik is. Lees ons boekie Johannes 3:16 – Verborge waarhede van die goue vers, vir ’n deeglike uitleg van hierdie groot belofte en die reaksie wat God van ons verwag. Soos die hoofredakteur Gerald Weston in daardie boekie skryf: “Om verlore te gaan is die natuurlike resultaat van ’n sondige lewe, maar hierdie vers gee ons hoop aan die anderkant van die graf”. God se liefde is so groot dat ons nie vir ewig verlore hoef te gaan nie. Alhoewel ons nie ’n inherente onsterflike siel het nie – soos wat die vervalste Christendom en baie heidense godsdienste verkeerdelik verkondig – wil God aan ons die gawe van onsterflikheid gee.

Die tweede lewensbelangrike waarheid is dat God nie verander nie. Sy doel bly onveranderlik. Dit is belangrik omdat sommige mense glo dat die “God van die Ou Testament” hard en wraaksugtig is deur plae, peste en dies meer te stuur, terwyl die “God van die Nuwe Testament” gaaf, liefdevol en vergewensgesind is.

Hierdie karakterisering is nie net vals nie, maar dit toon ook onkunde oor ’n baie belangrike feit. Johannes 1:1 openbaar aan ons: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.” Die Een wat Jesus Christus geword het, die Woord of die Woordvoerder, het van ewigheid af bestaan saam met die Een wat die Vader sou word. In werklikheid openbaar die Bybel dat dit die Woord is – weereens die Een wat Jesus geword het – wat die heelal geskep het (Johannes 1:3; Kolossense 1:16). Hy was die Een wat met Abraham gekommunikeer het en Abraham het Hom gesien (Johannes 8:56-58). Tydens al die plae van Egipte, die uittog deur die Rooi See en toe die Tien Gebooie gegee is, was Hy die God van die Ou Testament wat Hom oor Israel ontferm het (1 Korinthiërs 10:1-4). Daar word aan ons vertel dat Moses en die ouderlinge op ’n stadium tydens die uittog “die God van Israel” gesien het (Exodus 24:9-11) maar dit was nie God die Vader wat hulle gesien het nie (Johannes 1:18; 1 Johannes 4:12). Die “God van Israel” was die Een wat Jesus Christus sou word.

In plaas van ’n wraaksugtige God in die Ou Testament en ’n vergewensgesinde God in die Nuwe Testament, sien ons dat Jesus Sy Vader van die begin af verteenwoordig het. Dit is waarom dít wat vroeër van God gesê is, net so waar van Christus is – Hy verander nie. Soos Hebreërs 13:8 sê: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.”

Met hierdie waarhede in plek, kan ons die plae soos dit geprofeteer is in die regte konteks plaas.

Wat verlang God?

Dink na: Waarom het die Een wat Jesus Christus geword het, Israel uit Egipte gebring? Wat het Hy probeer bereik?

Hy het Israel uit slawerny bevry op grond van Sy verbondsbeloftes aan Abraham, Isak, Jakob en Josef (Génesis 12:2; 48:11-22) – maar ook sodat Sy volk Hom sou kon dien en in geregtigheid kon aanbid (Exodus 7:16; 8:1; 34:14). God het selfs beloof dat indien hulle Hom gehoorsaam, Hy “geeneen van die siektes” oor hulle sal bring wat Hy oor die Egiptenaars gebring het nie, “want Ek is die HERE wat jou gesond maak” (Exodus 15:26).

Eeue later het Hy vir koning Salomo gesê dat indien die Israeliete hulle verootmoedig en “hulle bekeer van hul verkeerde weë”, dan sal God uit die hemel hoor en “hulle sonde vergewe en hulle land genees” (2 Kronieke 7:13-14). Jare later, toe Juda teen ’n oorweldigende vyandelike leër te staan gekom het en die vooruitsig vir oorlog, siekte en hongersnood gevrees het, het koning Jósafat ’n vas tot bekering uitgeroep en “in die huis van die HERE voor die nuwe voorhof” gegaan om tot God te bid vir verlossing (2 Kronieke 20:1-12). Die hele volk het in gehoorsaamheid voor die HERE gestaan en God het gehoor en hulle gered (verse 13-15).

Wat verwag God dus van ons? Hy verlang bekering van sonde en boosheid. Hy wil hê dat ons Sy Gebooie gehoorsaam sodat ons gesond en gelukkig kan wees en Sy seëninge kan ontvang (Psalm 112:1; Openbaring 22:14) en sodat ons kan leer om soos Jesus Christus te dink (Filippense 2:5). Dan sal ons in Sy liefde bly (Johannes 15:10). “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:3). Ons moenie die fout begaan om te dink dat Jesus Christus, wie nie verander nie, weggedoen het met Sy eie standaarde van moraliteit of met die dag van aanbidding wat Hy beveel het nie, naamlik die sewende-dag Sabbat (Exodus 20:8).

Ware Christene dank God vir Sy genade en barmhartigheid, omdat hulle verstaan “almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). Hulle bid vuriglik dat God die wêreld teen kwaad en lyding sal bewaar en probeer om ander mense in hulle tyd van nood te help (Deuteronómium 15:11; Lukas 14:12-14; Jakobus 1:27). Ware Christene verstaan egter ook waarom God oorlog, hongersnood en siektes toelaat en dit soms selfs stuur. God verander nie. Hy is ontsaglik lief vir ons. Omdat Hy ons liefhet, wil Hy hê dat ons geregtigheid en gehoorsaamheid kies en ons potensiaal as kinders in Sy gesin bereik.

Beskerming teen die finale plae

Daardie tema, naamlik die begeerte van ’n liefdevolle God wat wil hê dat die mensdom geregtigheid kies en sy rug op boosheid keer duur voort – selfs tot vandag en ook in ons geprofeteerde toekoms in.

Die boek Openbaring beskryf hoe Christus die Lam, die beroemde “vier perderuiters” wat valse godsdiens, oorlog, hongersnood en siektes verteenwoordig, aan die einde van hierdie huidige tydperk loslaat (Openbaring 6:1-8). Die eindtydse rit van hierdie ruiters sal ’n vreesaanjaende hoogtepunt bereik in die dae net voor die Wederkoms van Christus.

Daar was plae en ander rampe regdeur die geskiedenis, maar dit word geprofeteer dat veel erger plae nog kom. Die vierde perderuiter wat op ’n sieklike, vaal perd ry word in Openbaring 6:8 die “dood” genoem en hy verteenwoordig die koms van ’n reeks kragtige siektes en plae op die aarde (vergelyk Matthéüs 24:4-7). Die rit van hierdie ruiters sal voortduur tot in die Groot Verdrukking en sal ’n hoogtepunt bereik met die dood van ’n kwart van die aarde se bevolking!

Ongelukkig, selfs nadat sulke plae op die aarde losgelaat is – wat gepaard sal gaan met ander tekens, wat groot rampe in die hemele en op die aarde sal insluit – sal baie van die oorlewendes hulle nog steeds nie van hulle boosheid bekeer nie (bv. Openbaring 9:20-21; 16:9, 11). Vir getroue en gehoorsame Christene word daar egter ’n plek van veiligheid beloof (Openbaring 12:12-14). Gelukkig, voordat die mensdom homself vernietig, sal Jesus Christus weer kom “en daar sal genesing onder sy vleuels wees” (Maleági 4:2).

Opregte Christene bid vuriglik vir Christus se Wederkoms (Matthéüs 6:10), wanneer Hy geregtigheid en vrede regoor die wêreld sal vestig (Jesaja 9:7; Miga 4:2-3). Tot dan behoort ons ons ywerig tot God te wend, sodat ons in Sy liefde kan bly en waardig geag mag word om aan die naderende plae van profesie te ontkom (Johannes 15:10; Lukas 21:36)!