In die bykans 150 jaar sedert dit die eerste keer in 1859 gepubliseer is, is Charles Darwin se Origin of the Species sekerlik bewys as een van die invloedrykste boeke van ons tyd. Dit het nie net die moderne wetenskap gevorm nie; dit het verrykende gevolge op ons samelewing as 'n geheel gehad. Vandag veronderstel miljoene mense dat Darwin se teorieë, en dié van sy opvolgers, evolusie deur natuurlike seleksie gevestig het as 'n gevestigde wetenskaplike feit.

In sy voorbladartikel van November 2004, vra National Geographic-tydskrif hierdie vraag: “Was Darwin verkeerd?” Dit kom as geen verrassing dat die skrywer “Nee!” geantwoord het nie! Tiperend van voorstanders van Darwin se teorie, het die artikel beweer dat die bewyse ten gunste van evolusie “oorweldigend” is. Die debat gaan nietemin voort tussen diegene wat in evolusie glo en diegene wat die veronderstellings gebrekkig vind. Talle voorstanders van evolusie dring daarop aan dat geen geleerde persoon die geldigheid daarvan kan ontken nie, maar al hoe meer wetenskaplikes vind noodlottige gebreke in Darwin se teorie.

Wat is die waarheid? Het diegene wat Darwin se teorieë betwis 'n geldige argument? Kan 'n geleerde persoon die eise van die evolusionêre teorie rasionaal ontken? Wat beteken dit vir die skeppingsverhaal in die Bybel se boek Genesis? Onderrig die vertelling in Genesis letterlike waarheid of kan 'n Christen die Bybel aanvaar as God se Woord en tog glo dat evolusie God se gekose manier van skepping was? Is dit logies om in 'n Skeppergod te glo?

Die antwoorde op hierdie vrae kan u verras. Wanneer u werklik na die feite kyk, sal u vind dat dit die evolusioniste is wat geen argument het nie!

Maak geen fout nie: die konsep van evolusie deur natuurlike seleksie is die basis van 'n spesifieke wêreldsiening wat deur die meeste leiersfigure in beide onderwys en die media gedeel word. Darwin en sy opvolgers het 'n teorie verskaf wat 'n verskeidenheid biologiese feite saamsnoer in 'n samehangende geheel wat deur baie mense logies en aantreklik gevind word—selfs skitterend. In sy voorbladartikel van November 2004, verklaar National Geographic: “Evolusie is beide 'n pragtige en 'n belangrike konsep, nou meer beslissend vir die mens se welvaart, vir die mediese wetenskap en vir ons begrip van die wêreld as ooit tevore. Dis ook totaal en al oortuigend—'n teorie waarop u kan staatmaak” (bl. 8).

O, werklik?
Hierdie “pragtige konsep” het belangrike implikasies wat ons moet verstaan. Dan ook, lank nie “diep oortuigend” nie, vereis evolusie 'n mate van “blinde geloof”, wat die geloof wat verlang word van diegene wat die Bybel se weergawe van die skepping glo, ver oorskry. Let op die National Geographic se merkwaardige bekentenis: “die fossielrekord is soos 'n film oor evolusie waarvan 999 van elke 
1 000 raampies op die redi-geringsvloer beland het.” (ibid., bl. 25). Terwyl hulle beweer dat die fossielbewyse Darwin se teorieë korrek bewys, vra die evolusionêre teorie van sy aan-hangers om 'n veronderstelling te aanvaar waarvan 99,9 persent van die data vermis word!

Vra uself af: as u 'n film probeer kyk wat net een uit elke duisend raampies bevat, sou u die verhaal kon volg of die aksie wat plaasvind kon eien? Hoeveel sou jy weet van wat werklik gebeur het? Omtrent niks! Die “fossielrekord” waarna die evolusioniste verwys bestaan grootliks uit “vermiste skakels”.

Begrip van die evolusionêre wêreldbeskouing

Wat bedoel evolusioniste wanneer hulle sê dat Darwin se teorieë deurslaggewend is vir ons begrip van die wêreld om ons? Eenvoudig gestel, bedoel hulle dat die evolusionêre teorie toon dat ons in 'n wêreld leef wat die gevolg is van blinde toeval, en nie die gevolg van 'n groot plan en doel nie. Met ander woorde, alle lewe—insluitend menselewe—is die newe-produk van natuurlike fisiese prosesse en nie iets wat deur 'n Almagtige Skepper geskenk is nie.

Bepeins die groot morele implikasies van hierdie teorie. Indien ons lewens die direkte gevolg is van 'n skeppingsdaad deur 'n werklike God, het daardie God moontlik iets te sê oor hoe ons daardie lewens lei. Hy kan ons aanspreeklik hou vir ons keuses. Indien ons lewens egter net toeval van biochemiese prosesse is, dan is daar geen Opperste Gesag aan wie die mensdom verantwoording hoef te doen nie, en geen nodigheid om die beperkinge van Bybelse moraliteit te handhaaf nie. Indien mense op stuk van sake bloot diere is, moet ons verwag dat hulle soos diere sal optree. Darwin se biologiese evolusieteorie het natuurlik die konsep van “sosiale Darwinisme” voortgebring—dat die samelewing voordeel trek wanneer sy swak en “onbevoegde” lede nie versorg word nie en selfs uitgewis word—soos die geval was in Nazi Duitsland toe “oorlewing van die geskikste” die regverdiging geword het vir die stelselmatige uitwissing van die Jode, Sigeuners en ander groepe wat as “onbevoeg” beskou was deur die heersende gesag.

Het menselewe 'n groot voortreflike doel, of is ons eenvoudig 'n kolletjie op die skerm van evolusionêre tyd? Is ons geskep na die ewebeeld van ons Skepper, of is ons eenvoudig “ape wat broek dra”? Het ons 'n Skepper wat bepaalde wette onthul het wat goed en kwaad blootlê, of is sulke etiese en morele kodes bloot mensgemaakte kodes wat ontvou het en sal aanhou ontwikkel saam met die mens se samelewing? Sal 'n Skepper Sy skepping oordeel, of sal alle lewe 'n nihilistiese einde tegemoet gaan? Hierdie fundamentele vrae beïnvloed wie en wat ons is, en hoe ons lewe.

Evolusie verskaf een stel antwoorde op hierdie vrae. Die Bybel verskaf 'n totaal verskillende stel antwoorde. Hoe kan ons seker wees watter antwoorde korrek is?

Selfs voor Darwin, het wetenskaplikes die idee dat lewe van die eenvoudige tot die komplekse ontwikkel het, bespreek. Darwin het egter iets nuuts bygevoeg. Deur sy verduideliking van evolusie deur natuurlike seleksie, het Darwin die voorkoms van ontwerp probeer verduidelik sonder om die nodigheid van 'n ontwerper te erken. Die wyle Stephen Jay Gould, 'n bekende professor van Harvard Universiteit, wat vir jare onverpoosd gewerk het om die evolusionêre teorie gewild te maak, betwis hierdie punt in 'n beroemde voorlegging getitel “The Darwinian Revolution in Thought.” 
Gould vertel sy gehoor in Nieu-Seeland se Victoria Universiteit dat Darwin se teorie inherent anti-plan, anti-doel en anti-betekenis is. Gould het dit gesien as 'n deug van die wêreldsiening wat voortspruit uit die aanvaarding van die evolusionêre teorie.

Daarenteen voorsien die Bybel die fondament vir 'n wêreldsiening oneindig verskillend van dié wat deur die evolusionêre teorie voorgestel word. Wanneer mense na ons wêreld kyk, gevul met so baie pyn, verdriet en dood, vra ons natuurlik: “Waarom?” Die evolusionêre teorie sê daar is geen plan, doel of betekenis om hierdie vraag te beantwoord nie. Die Bybel onderrig ons egter dat verdriet en dood die regstreekse gevolge is van sonde—van ongehoorsaamheid aan die Skepper (sien Genesis 3). Inderdaad, soos die apostel Paulus skryf: “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het” (Romeine 5:12). Paulus verduidelik verder dat daar verlossing en redding van dood en verwoesting is: “Want aangesien die dood deur 'n mens is, is die opstanding van die dode ook deur 'n mens. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word” (1 Korintiërs 15:21-22).

Evolusie stel 'n materialistiese wêreldsiening voor waar dood altyd lewe vergesel het; dood word beskou as net nog 'n eienskap van die natuurlike wêreld. Volgens Darwin was daar geen Adam of Eva nie. Daar was geen slang nie. Daar was geen tuin van Eden nie. Daar was geen eerste sonde nie, maar indien ons nie Genesis 3 kan glo betreffende die eerste sonde en die huidige menslike toestand nie, het ons geen logiese basis om Johannes 3 betreffende God se oplossing vir sonde en die dood deur die gawe van Sy Seun en ons Verlosser, Jesus Christus, te glo nie! Indien ons Genesis 3 beskou as beeldspraak of 'n leuen, dan word Christus se offerande ook per definisie vereenvoudig tot beeldspraak en 'n leuen. Evolusie en die Bybel is eenvoudig nie verenigbaar nie. Enigiemand wat beweer dat hulle in albei glo, wys eenvoudig dat hulle nie een van die twee verstaan nie!

Wat is die bewyse?

Enigiemand kan 'n teorie uitdink, soos Darwin gedoen het. 'n Teorie staan of val egter op grond van die bewyse. Staaf of weerlê die bewyse evolusie? Sien ons evolusie tans plaasvind? Kan dit in die laboratorium herhaal word? Indien die mensdom en ander wesens wat ons wêreld bewoon, geleidelik oor miljoene jare uit eensellige lewensvorme ontwikkel het, moet daar sekerlik fossielbewyse wees van oorgangsspesies. Indien veranderings op stuk van sake stadig voorgekom het en die “natuur” net die doeltreffendste gekies het terwyl die ander uitgesterf het, dan behoort die oorgangsspesies die ander waarmee ons vertroud is, by verre te oorskry.

Die fisiese bewyse vir evolusie is so minimaal (soos bo genoem, 999 uit elke 1 000 vereiste bewysstukke word vermis) dat evolusioniste soms taamlik liggelowig voorkom in hul soeke na bewyse. Let byvoorbeeld op die opwinding in 1999 wat die ontdekking van fossielbewyse wat veronderstel was om 'n sleutelstap in die evolusie van dinosourusse te “bewys,” meegemaak het. In November 1999 het 'n National Geographic tydskrif se opskrif trots die nuus verkondig: “Nuwe voëlagtige fossiele is vermiste skakels in evolusie van dinosourusse.”

Onderaan 'n foto van die fossiele, verkondig 'n byskrif: “Hierdie wese wat in die Liaoning Provinsie in China ontdek is, is 'n ware vermiste skakel in die komplekse ketting wat dinosourusse en voëls verbind.” Die fossiel is 'n oorgangsspesie genoem, en was deur wetenskaplikes die naam Archaeoraptor gegee. Gedurende laat 1999 was dit trots tentoongestel by die hoofkantoor van die National Geographic Vereniging in Washington, D.C. Maar toe kom “die res van die storie”.

Verdere navorsing het laat blyk dat wetenskaplikes per slot van sake tog nie die “vermiste skakel” tussen voëls en dinosourusse gevind het nie. In die 14 Februarie 2000 uitgawe van U.S. News & World Report, kon die redakteurs dit nie weerstaan om hulle verleë ampsgenote by National Geographic uit te tart nie met 'n artikel wat hulle: “The Piltdown Chicken” getitel het. Soos die artikel verduidelik het, “is paleontoloë in die verleentheid. Pleks van 'n ware vermiste skakel” wat dinosourusse en voëls verbind, blyk dit dat die monster 'n samestelling is, waarvan die buitengewone aanhangsel heel moontlik deur 'n Chinese plaasboer aangeheg is, nie deur evolusie nie. Die 'baie slegte nuus', wat op 20 Desember per e-pos van Chinese paleontoloog en mede-navorser Xu Xing gelewer is, het die debat oor die oorsprong van voëls weer laat opvlam” (bl. 53).

'n Onskuldige besoeker aan die museum wat na die tentoonstellings in 'n museum van natuurgeskiedenis kyk, kan maklik oortuig word dat die fossielrekord baie bewyse lewer van die oorgang van een spesie na die ander. Wanneer daar na lewensgetroue afbeeldings van die moderne mens se beweerde aapagtige voorouers gekyk word, sal die gemiddelde mens stomgeslaan wees om uit te vind op grond van hoe min bewyse die gedetailleerde afgewerkte “rekonstruksies” gewoonlik gemaak is. Neem byvoorbeeld die geval van “Lucy,” wat deur sommige mense aangeprys word as die “oudste mens.” 'n Klein stukkie van die bokant van 'n skedel, met 'n tand en 'n stukkie skeenbeen—wat meer as 13 meter van mekaar af in die grond verstrooi gevind is—het gedien as die grondslag vir hierdie “wetenskaplike” rekonstruksie. Sulke uitstallings onthul veel meer van die verbeelding en talent van die kunstenaars as wat hulle onthul van die oorspronklike voorkoms van wat eintlik gevind was.

Soms bereik evolusioniste sulke vergesogte gevolgtrekkings dat 'n mens regtig kan wonder of hulle werklik ernstig is. Neem hierdie verklaring deur National Geographic, aangaande die ontdekking wat deur paleontoloog Philip Gingerich gemaak is, wie jare deurgebring het in die navorsing van die herkoms van walvisse: “In die jaar 2000 het Gingerich 'n nuwe ondersoekterrein in Pakistan gekies, waar een van sy studente 'n enkele stukkie fossiel gevind het wat die heersende insig in paleontologie verander het. Dit was die helfte van 'n katrolvormige enkelbeen, bekend as 'n astragalus... Skielik het hy besef hoe naverwant walvisse en wildsbokke is. Dit is hoe die wetenskap veronderstel is om te werk. Idees kom en gaan, maar die geskikste oorleef. In sy kantoor op die onderste verdieping het Phil Gengerich 'n monsterlaai oopgemaak om vir my party van die werklike fossiele te wys wat gebruik was om die vertoonskelette op die boonste vloer te modelleer. Hy sit 'n klein klontjie versteende been, niks groter as 'n tapmoer nie, in my hand. Dit was die bekende astralagus, afkomstig van die spesie wat hy uiteindelik Artioocetus clavis genoem het” (“Was Darwin Wrong?” November 2004, bl. 31).

Gengerich glo dat hy die verbintenis tussen walvisse en wildsbokke “bewys” het met 'n fossiel die grootte van 'n tapmoer? Hoe vergesog!

Afgesien van die fossielrekord—waar selfs evolusioniste erken dat 999 uit elke 1 000 items wat hulle soek, vermis word—waar is die bewyse om Darwin se teorie te bewys? Evolusionêre wetenskaplikes soek ondersteuning deur te wys na variasies binne 'n enkele spesie. Duiwe verskil byvoorbeeld in grootte en kleur. Op sy reis na die Galápagos eilande het Darwin klein bruinerige voeltjies, wie se bekkies variasies in hul grootte en fatsoen vertoon het, versamel. Darwin het hierdie patroon van ongelyksoortigheid as bewys van evolusie vertolk, en as die wyse waarop verskillende spesies ontstaan het.

Daar is egter 'n ontsaglike verskil tussen die “mikro-evolusie” wat net 'n variasie binne 'n bepaalde soort wese is en die “makro-evolusie” wat sou veroorsaak dat 'n hele nuwe soort wese sal ontwikkel. Honde, byvoorbeeld, vertoon ontsaglike verskeidenheid in grootte, vorm en kleur. Tog is hulle almal honde en in hul verskille is hulle nie besig om in iets anders te verander nie. Die genoegsame bewys van verskeidenheid en aanpasbaarheid binne spesies wys eenvoudig die wonderbaarlike ingenieurswese wat God gebruik het in die ontwerp van Sy Skepping.

Bewys vir intelligente ontwerp

Evolusioniste sê dat alle lewe ontwikkel het uit “eenvoudige” eensel organismes. Maar hoe “eenvoudig” is die eenvoudige sel? In onlangse jare, het die ontwikkeling van kragtige elektron-mikroskope onthul dat die “eenvoudige” sel tog nie werklik so eenvoudig is nie!

Jonathan Sarfati is 'n navorsingswetenskaplike in Australië. Hy het 'n doktorsgraad in natuurkundige skeikunde van Victoria Universiteit in Wellington, Nieu-Seeland, en het geskryf oor die ingewikkeldheid van “eenvoudige” lewensvorme. Sy navorsing het bevestig dat selfs die eenvoudigste selfvoortplantende organismes veelomvattende hoeveelhede komplekse inligting bevat. Die mikoplasma genitalium, wat die kleinste bekende genoom het, bevat 482 gene bestaande uit 580 000 basiese pare.

Maar dis nie al nie. Die ontdekking van DNS (deoksiribonukleïensuur) en die genetiese kode van die lewe was een van die 20ste eeu se belangrikste wetenskaplike ontdekkings. Wetenskaplikes het bevind dat elke lewende organisme DNS besit, 'n gespesialiseerde molekule wat die “kode” bevat wat metabolisme, herstel, herhaling en gespesialiseerde funksies beheer. Hoe werk DNS? Navorsers het 'n vierletter genetiese “alfabet” geïdenti-fiseer wat gevorm is in drieletter volgreekse genaamd kodonne. Dit voorsien die “aanwysing” vir DNS. Selfs die eenvoudigste bakterium het 'n genoom van omtrent een miljoen kodonne. Soos dr. John Baumgardner, 'n geofisikus by die Los Alamos Nasionale Laboratorium, vra: “Verrys gekodeerde algoritmes wat 'n miljoen woorde lank is, spontaan deur middel van enige bekende natuurproses? Is daar enigiets in die wette van fisika wat te kenne gee hoe sulke strukture op 'n spontane wyse kan verrys?”

Baumgardner antwoord sy eie vraag met 'n eerlike beraming: “Die eerlike antwoord is eenvoudig. Wat ons tans van termodinamika en gege-wensteorie verstaan, betwis oortuigend dat hulle nie so verrys nie en ook nie kan nie”.

Indien die teorie van evolusie nie selle met miljoen kodonne kan verduidelik nie, wat is dan die verduideliking? Is daar bewyse van intelligente ontwerp agter die wêreld wat ons om ons sien? Al hoe meer wetenskaplikes begin erken dat dit inderdaad die geval is. Een van die bekendste voorstanders van intelligente ontwerp is dr. Michael Behe, 'n professor in biochemie aan Lehigh Universiteit en die skrywer van Darwin's Black Box. Dr. Behe sien “onherleibare kompleksiteit” in die mikroskopiese werkinge van die sweephaartjies en die oog. Sweephaartjies—klein sweepagtige aanhangsels op mikrobe—het 'n molekulêre motor so ingewikkeld dat selfs baie wetenskaplikes toegee dat dit voorkom asof dit ontwerp is. Party mense redeneer dat die sweephaartjies op sigself “onherleibaar kompleks” is; ander stel voor dat dit twee onherleibare substelsels bevat wie se koördinasie nie deur evolusie verduidelik kan word nie. In die geval van die oog, daag dr. Behe die evolusioniste uit om die 11-cis-retina molekule te verduidelik, wat met lig reageer om die biochemiese proses wat visie bewerkstellig, te aktiveer. Let ook op die ingewikkelde sellulêre argitektuur van die retina—indien selfs 'n enkele komponent verwyder word, faal die hele stelsel.

Ons kan aangaan en aangaan om gespesialiseerde skeppings van bombardeerkewers tot houtkappers te bespreek. Ons kan die lewenssiklus en migrasie patrone van koningvlinders ondersoek of selfs die sonar van vlermuise. Hoe meer ons na die skepping kyk, hoe meer bewyse vind ons van ontwerp en van onherleibare kompleksiteit. Ons lewe in 'n heelal van onderling verwante kom-pleksiteit, nie een van blote toeval nie.

Met al die natuurkundige getuienis wat op intelligente ontwerp dui, waarom is daar so baie geleerde mense wat hardnekkig klou aan 'n onbewysde teorie wat nie eens 'n teorie in die strengste wetenskaplike gebruik van die woord is nie, maar eerder 'n noodlottig gebrekkige veronderstelling is? Byna twee millennia gelede, het die apostel Petrus die teenstrydigheid van oorspronge voorspel en die rede daaragter verduidelik: “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af. Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en 'n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God” (2 Petrus 3:3-5). Met verontagsaming van die getuienis van rampe van eeue gelede wat die ingryping van God in oordeel aandui, klou hulle aan 'n leerstelling van eenvormigheid. Indien alles eenvoudig voortgaan met baie stadige veranderings, dan hoef ons nie bekommerd te wees dat God skielik tot die geskiedenis sal toetree en Sy Skepping tot verantwoording roep nie.

Moenie 'n fout maak nie: Die bewyse van die skepping vereis 'n Skepper! Daardie Skepper onthul in Sy woord dat Hy eersdaags tussenbeide gaan tree om Sy Skepping te oordeel. 'n Tyd van afrekening kom—en kom gou, binne die leeftyd van meeste mense wat hierdie artikel lees. Is u gereed?