In hierdie uitgawe se hoofartikel bewys ek uit die Skrif dat God die Amerikaners en nasies van Britse afkoms gaan tugtig. Baie sal egter vra: “Straf die ware God werklik individue en selfs nasies?” Dit is iets wat baie min mense regtig verstaan. Nogtans is u Bybel gevul met die antwoorde!

Baie sentimentele mense sê dat aangesien “God liefde is”, dit verkeerd is om te dink dat Hy mense en nasies mag straf.

Wat is egter die Waarheid?
Soos met byna alle godsdienstige onderwerpe, hang dit af van hierdie sleutelpunt: “Glo u werklik die Bybel?” Baie mense beweer dat hulle die Bybel glo, maar hulle oortuigings en woorde verskil oor en oor van die Skrif, alhoewel die Bybel beskryf wie God is en hoe Hy optree.

Dus, wat is die Waarheid? Jesus Christus sê: “... u woord is die waarheid” (Johannes 17:17).

Let op wat die Skrif werklik sê: “En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem” (Hebreërs 12:5-6). Die Almagtige God “tugtig” ofstraf dus verseker elke indiwidu waarmee Hy deel, vir daardie persoon se eie beswil. Wat dan van nasies?

God sê aan die antieke Israeliete: “Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ’n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek – dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet” (Levitikus 26:14-16).

Ons lees dan: “En as julle dan nog nie na My luister nie, sal Ek voortgaan om julle sewevoudig weens julle sondes te tugtig. En Ek sal julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper. En julle krag sal tevergeefs verbruik word, want julle land sal sy opbrings nie gee nie, en die bome van die land sal hulle vrugte nie gee nie” (verse 18-20).

Hier gebruik u Bybel ondubbelsinnig die woord “tugtig” in die beskrywing van hoe die Skepper gaan handel met nasies en indiwidue. Wanneer mense wat beter behoort te weet hulle heeltemal distansieer van die Skepper – en Sy wette en insettinge “verag” deur hulle woorde en handelinge – sal die Almagtige God verseker ingryp en hulle tugtig vir hulle eie beswil.

Elders lees ons ook: “Maar as jy nie luister na die stem van die Here jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal. Vervloek sal jy wees in die stad, en vervloek sal jy wees in die veld. Vervloek sal wees jou mandjie en jou bakskottel. Vervloek sal wees die vrug van jou liggaam en die vrugte van jou land, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee. Vervloek sal jy wees by jou ingang, en vervloek sal jy wees by jou uitgang. Die Here sal teen jou stuur die vervloeking, die verwarring en die bedreiging in alles waar jy jou hand aan slaan, wat jy moet doen; totdat jy verdelg is en totdat jy gou tot niet gaan vanweë die boosheid van jou handelinge, dat jy My verlaat het” (Deuteronomium 28:15-20).

Waarom gaan daar dus skynbaar so baie dinge verkeerd met ons Westerse nasies? Waarom het ons afwisselend droogte en oorstromings (Amos 4:7-8), die verskriklikeskuldkrisis wat Amerika en ander Westerse nasies trotseer, asook ander soortgelyke krisisse? Dit gaan alles terug na die feit dat ons die God van die hemel “verag” – die Een wat ons werklik die seëninge gegee het wat ons as vanselfsprekend begin aanvaar het! Ons in Amerika en die nasies van Britse afkoms het meer Bybels versprei, meer sendelinge en meer kos en mediese voorrade uitgestuur na lande wat dit nodig gehad het as al die ander nasies van die wêreld saam. Nou draai ons weg van die God wat aan ons hierdie seëninge in die eerste plek gegee het! Met verwysing na die hedendaagse afstammelinge van die antieke “Huis van Israel”, beskryf God die komende “Dag van die Here” – die “tyd van benoudheid vir Jakob” wat sal plaasvind net voor Christus se wederkoms en koning Dawid se opwekking om weer koning oor al twaalf stamme van Israel te wees (Jeremia 30:4-9).

In daardie profesie beskryf God waarom Hy Sy mense sal moet straf net voor Christus se wederkoms: “Al jou minnaars het jou vergeet, hulle vra nie na jou nie; want Ek het jou geslaan soos ’n vyand slaan, met ’n wrede tugtiging, omdat jou ongeregtigheid groot is, geweldig jou sondes. Wat skreeu jy vanweë jou verbreking, jou smart wat ongeneeslik is? Omdat jou ongeregtigheid groot is, geweldig jou sondes, het Ek jou hierdie dinge aangedoen” (verse 14-15).

God gaan ons tugtig omrede, soos Hy sê, ons “ongeregtigheid groot is”. Ontken enigeen dat ons sondes geweldig groot is na mate ons onsself toenemend distansieer van die God van die Bybel?

Waarom het ons onsself gedistansieer van die ware God? Waarom het ons in verwarring en alle soorte vreemde filosofieë en begrippe verval, in direkte teenstelling met die Bybel en sy leringe? Weereens, die Bybel is baie duidelik aangaande die rede agter ons navolging van valse godsdiens en verwarde idees! Slaan ag op hierdie profesie: “Want die herders het dom geword en die Here nie gesoek nie; daarom was hulle nie voorspoedig nie, en hulle hele kudde is verstrooi”. Byna alle skrifgeleerdes erken dat, deur die hele Bybel, die woord “herders”, dikwels dienaars beteken. Hierdie besondere verse beskryf sekerlik valse dienaars of predikers wat “nie gesoek” het na die ware God van die Bybel nie (Jeremia 10:21).

God beskryf die hedendaagse, Bybel-verwerpende predikante van ons mense: “WEE die herders wat die skape van my weide laat omkom en hulle verstrooi, spreek die Here. Daarom, so sê die Here, die God van Israel, aangaande die herders wat my volk oppas: Júlle het my skape verstrooi en hulle verdrywe en hulle nie opgesoek nie. Kyk, Ek besoek oor julle die boosheid van julle handelinge, spreek die Here” (Jeremia 23:1-2).

Weereens verwys God na hierdie vals “profete” of predikante wat uit hulle eie verbeelding profeteer: “So sê die Here van die leërskare: Luister nie na die woorde van die profete wat vir julle profeteer nie; hulle vervul julle met ydele verwagtinge; gesigte uit hul eie hart verkondig hulle, nie uit die mond van die Here nie. Hulle sê gedurig aan my veragters: Die Here het gespreek: Julle sal vrede hê; en aan elkeen wat wandel in die verharding van sy hart, sê hulle: Geen onheil sal oor julle kom nie” (verse 16-17). Hierdie gesindheid is besig om regdeur Brittanje, Kanada en Amerika te versprei. Dit sal voortduur.

Die tyd gaan spoedig aanbreek wanneer honderde miljoene misleide mense – die meeste van hulle belydende “Christene” – letterlik Christus gaan beveg met Sy wederkoms na hierdie aarde as Koning van die konings! Wanneer beskryf word hoe “tien konings” van die herleefde Romeinse Ryk “hulle krag en mag oorgee aan die dier”, openbaar God se geïnspireerde woord: “En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier. Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings – en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (Openbaring 17:12-14).

Ek bid dat u almal, geliefde intekenaars, deur God geïnspireer mag word om “wakker te word” om só die voorspelde straf vry te spring, voordat dit te laat is! Nadat God hierdie hele vals godsdienstig-politieke stelsel genaamd “Babilon”, beskryf het, beveel Hy: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openbaring 18:4)! Die tyd van hierdie profesieë kom inderdaad baie vinnig nader. Jesus Christus beveel ons almal wat Sy woord en die geprofeteerde gebeure wat onderweg is, verstaan: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36).