In ons moderne wêreld word dit dikwels as ’n mode gesien om “cool” te wees. Jong mense voel soms trots daarop wanneer dit lyk of hulle nie “te hard probeer nie”. Dit is egter presies die teenoorgestelde wat ons God wil hê wat ons moet doen en wees! In werklikheid moet die meeste van ons in God se Kerk dit nodig vind om “harder te probeer” as diegene wat met meer natuurlike bekwaamhede toebedeel is en die wat miskien meer geleenthede gehad het vir hoër onderwys en om die sosiale lewenskunsies aan te leer.

Hoekom?

God stel dit duidelik op verskillende wyses in Sy Woord: ”Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam” (1 Kor. 1:26-27). Ons, in God se Kerk, moet mekaar opreg liefhê en waardeer asook die verskillende gawes wat ons het - selfs al weet ons dat baie min van ons werklik welgesteld of bedeel is met baie natuurlike bekwaamhede. Daarinteen, omdat ons meer soos “meeste mense” is, mag ons meer nederig wees en nie dieselfde versoekings tot ydelheid en weerstand teen die Waarheid ondervind as diegene met soveel meer bekwaamhede nie. Daar is nie tans en was nog nooit baie Winston Churchills, Albert Einsteins, Margaret Thatchers of Teddy Roosevelts in God se Kerk nie. Hierdie besonder begaafde mense sal hulle geleentheid kry in die Groot Wit Troon Oordeel.

Vandag word ons geroep om ten volle seuns van God te word. Ons word geroep om Jesus Christus na te streef en ons word onderrig: “Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet. 1:15-16). Om hierdie ontsagwekkende doel te bereik, word ons deur ons Saligmaker beveel: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matt. 6:33).

Niks moet toegelaat word om tussen ons en ons uitstekende doel te kom nie. Dit moet altyd eerste kom. Soveel te meer, omdat ons nie die “uitblinkers” in die wêreld met natuurlike vermoëns, sosiale stand of materiële rykdom is nie, sal ons dus vind dat dit nodig is om ’n groter poging aan te wend en om meer geesdrif en toeweiding te beoefen in ons strewe om God se doel met ons lewens te vervul. Dit is egter niks buitengewoon nie! Amper elke groot atleet, groot koöperatiewe bestuurder of groot wêreldleier was gewillig om daardie “ekstra poging” aan te wend om hulle doel te bereik. U, die jong mense in die Kerk in besonder, moet dit verstaan en daardeur geïnspireer word om groot dinge te doen - u kan dit doen met God se hulp en ’n ernstige ekstra poging van u kant!

In sy baie inspirerende biografie van Winston Churchill, beskryf Robert Lewis Taylor die dryfkrag en die onophoudelike energie wat Churchill gestort het, in sy poging om sy volk te lei in die kritieke dae van die Tweede Wêreldoorlog. Taylor skryf: “Die verantwoordelikheid van leierskap het ’n onberekenbare tol geëis gedurende die verloop van ses oorlogsjare, maar dit het gelyk of Churchill nooit moeg word nie. Hy het duisende myle gereis, hy het elke nag gewerk nadat almal reeds geslaap het. In die oggende het hy verfris opgestaan en mondelingse donderslae laat opklink, wat sy mense bemoedig het uit wanhoop en nederlaag” (Winston Churchill: The Biography of a Great Man, bl. 363).

Hier was ’n man wat nog nie eers met sy loopbaan as Eerste Minister begin het teen die tyd wanneer meeste ander mans al daaraan begin dink om af te tree. Sy belangrikste doel was egter om sy volk in staat te stel om Hitler se aanslag te oorleef en die oorlog te wen. Mnr. Churchill het homself gedryf om ’n agenda te volbring wat meeste mans, die helfte sy ouderdom, sou laat steier!

Elkeen van ons moet die voorbeeld van Sir Winston Churchill en andere toepas op ons geestelike groei en prestasie. Ons God verwag van ons om Hom “voluit” te dien en Sy werk te doen! Gedurende hierdie Laodicean era waarsku God ons almal in die besonder: “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug” (Openbaring 3:15-16). Dan sê God vir ons:”Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou” (vers 19).

God waardeer diegene wat Hom voluit dien. Die apostel Paulus was geïnspireer om aan die Kolossense te skryf: “En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang, want julle dien die Here Christus” (Kolossense 3:23-24). Salomo was geïnspireer om aan ons te sê: “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie” (Prediker 9:10).

Ons lees van Olimpiese kampioenswemmers wat voor dagbreek opstaan om veeleisende swemoefeninge te doen, dan na hulle daaglikse werk ry en die hele dag hul werk doen. In die aand keer hulle terug huis toe vir nog méér veeleisende swemoefeninge in die swembad. Ons kan die feit waardeer dat hulle gewillig is om baie opofferings te maak om hulle doel te bereik. As dit ons ware doel is om die ywer van Jesus Christus te weerspieël en “’n verskil te maak” deur ons lewens vandag te gee as ’n “lewende offergawe” (Rom. 12:1), dan is dit lewensbelangrik dat ons dieselfde ywer toon wat Jesus Christus Homself getoon het, asook die apostel Paulus en meeste van die ander groot bybelse leiers, in hulle diens aan God.

Die meeste van ons het groot geword in “gemiddelde” families en die kanse is goed dat ons nie die voorbeelde van uitstaande dryfkrag en geesdrif gesien het nie, wat die wêreld se groot leiers kenmerk nie. Ons is egter geroep om werklik groot leiers te wees - as ons werklik “oorwin” (Openbaring 2:26-27). Ons het nodig om die werklikheid van die situasie te verstaan en te begin om te bou volgens die wysheid, die beproefde gewoontes en die toewyding van die heel beste leiers. “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (1 Kor. 6:2-3).

Onthou, ’n belanglike deel van die vierde gebod sê vir ons: “Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen” (Eksodus 20:9). Jesus het vir die Jode gesê: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook” (Joh. 5:17). Selfs in hierdie opsig van Sy menslike lewe het Jesus aan ons ’n voorbeeld van geesdrif en ’n wil om te presteer gestel.

In sy baie interessante boek, Sam Walton - The Inside Story of America’s Richest Man, beskryf die skrywer, Vance Trimble, hoe Walton fabelagtig ryk geword het, alhoewel sy ouers “gemiddeld” was en hy ’n groot deel van sy lewe in die staat Arkansas gewoon het. Oor en oor haal Trimble opmerkings aan van Walton se vriende en genote wat beskryf hoe hard hy gewerk het. Hoewel sy vader nie ryk was nie, het hy vir Sam ’n wonderlike werk etiek geleer wat Sam later in staat gestel het om Amerika se rykste man te word. Trimble vertel: “Alhoewel hy nie persoonlik die slegste gevolge van die Depressie gevoel het nie, het ‘Sammy’ voldoen aan sy pa se ‘werk, werk, werk’ etiek by Hickman High School. Bykomend, tot sy moordende gedissiplineerde lewenswyse akademies en in atletiek, het hy tyd gevind vir los werkies en het hy meer en meer selfonderhoudend geword. Met dagbreek het hy opgestaan en aflewerings van die Columbia Missourian koerant vir M.U. joernalistieke studente gedoen. Veelbetekenend het hy ook ’n deeltydse helper in ’n vyf-en-tien-sent winkel in Columbia (soortgelyk aan Suid-Afrika se R5 winkels), geword” (bl. 33). Sam Walton moes baie hard gewerk het om te kon slaag op dié manier, wat hy gedoen het.

Ons almal bewonder die apostel Paulus se hartstog vir Jesus Christus. Paulus het egter ook ’n passie vir werk en die bereiking van sy doel gehad. Paulus sê: “Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is” (1 Kor. 15:10). Omdat hy Christus liefgehad het en hy “nie bang was” vir harde werk nie, het die apostel Paulus klaarblyklik meer evangelisasie gedoen, meer kerke gestig en meer boeke in die Nuwe Testament geskryf as enige ander man! Wat ’n pragtige beloning gaan Paulus ontvang wanneer Christus terugkeer as Koning van konings.

As ons selfs maar net matiglik suksesvol wil wees in hierdie lewe, sal ons moet leer om ons tyd en talente wys te gebruik. Ons sal bereid moet wees om “die ekstra myl” in baie gevalle te loop. Bo en behalwe dit alles, sal ons moet leer om “voluit” te werk, te dien en om alles wat ons doen met ywer te doen in voorbereiding vir die Koninkryk van God, want Christus Homself sê: “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Openbaring 22:12).