Behoort ’n “krygsman van Jesus Christus” (2 Timoteus 2:3) te veg in die oorloë van hierdie wêreld?

VRAAG: U tydskrif skryf dikwels oor Amerika se militêre betrokkenhede en wys hoe Bybelprofesieë oorlog voorspel. Die Ou Testament is vol verhale van die Israeliete se gevegte. Is dit vir ’n Christen geoorloof om sy land as ’n soldaat in tye van oorlog te dien? 

ANTWOORD: Jesus Christus het ’n duidelike riglyn vir Sy volgelinge gestel: “Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet jul vyande liefhê en goed doen aan die wat vir julle haat. Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig” (Lukas 6:27-28). Hy het ons ook geleer dat ons behoort te leef volgens “elke woord van God”, om ons lewens te laat lei deur elke woord van die Bybel.

Christene het sekerlik ’n verantwoordelikheid om wettige regeringsgesag te gehoorsaam (Romeine 13:1-7). Christus het Self verduidelik dat Sy volgelinge belasting aan burgerlike regerings behoort te betaal (Mattheüs 22:21). Ons sien dus dat Christene nie hulle pligte wat wetlik deur die burgerlike samelewing opgelê word, behoort te verontagsaam nie.

Wanneer die wette van die burgerlike regering egter met God se Wet bots, behoort Christene te besluit aan wie hulle hulle hoogste trou wil gee (Handelinge 4:19; 5:29, 32; Romeine 6:16). Wanneer die Israeliete oorlog gevoer het, het hulle dit gedoen in direkte opdrag van God Self, hulle het geveg vir die menslike koninkryk wat God in daardie tyd gehad het, die nasie van Israel, onder die voorwaardes van die Ou Verbond. Israel het egter God se heerskappy verwerp, dus het Hy hulle verstoot en simbolies van hulle “geskei” (Jeremia 3:8). Later het Jesus Christus natuurlik gekom en die Heilige Gees beskikbaar gestel aan almal wat gedoop is en Hom gehoorsaam het. Christene verstaan vandag dat Christus se Koninkryk nog nie in hierdie wêreld regeer nie. Jesus sê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie” (Johannes 18:36). Christus het beloof dat Hy Sy Koninkryk op die aarde sal vestig wanneer Hy weer kom. Tot dan het Christene ’n “burgerskap” wat nie van hierdie wêreld is nie (Filippense 3:20). Vandag se Christene is “vreemdelinge en bywoners op aarde” (Hebreërs 11:13) en afwagtend op Sy Koninkryk.

Wat behoort Christene te doen wanneer hulle opgeroep word vir verpligte militêre diens? Op die oomblik word daar niemand in die VS opgeroep nie; maar die wet vereis wel dat manlike burgers binne 30 dae na hulle 18de verjaardag by die Selektiewe Diensstelsel moet registreer – ’n vereiste wat nie in stryd is met die Bybelse beginsels soos uiteengesit in Mattheüs 22:21 of Romeine 13:1-7 nie. Registrasie by die Selektiewe Diensstelsel beteken nie dat ’n persoon toestem om aan oorlog deel te neem nie en eintlik voorsien hierdie registrasie ’n geleentheid om formeel gewetensbeswaar teen militêre diens aan te teken. Organisasies soos die Center on Conscience and War(nie geaffilieer by die Tomorrow’s World nie; hulle Webadres is www.centeronconscience.org) kan hulp verskaf ten opsigte van wyses waarop ’n mens se gewetensbesware gedokumenteer kan word. Dit maak nie saak watter stappe ’n gewetensbeswaarder mag neem nie, die vernaamste punt is dat mens nou jou geloofsoortuigings moetuitleef, sodat wanneer troepe wel opgeroep word, dit nie sal lyk of die weiering om te veg ’n saak van lafhartigheid of gerief is nie, maar eerder as ’n lankgehandhaafde, diepe godsdienstige oortuiging.

Baie lande maak voorsiening om toe te laat dat eerlike gewetensbeswaarders teen verpligte militêre diens uitgesluit word, of om in nie-militêre rolle van ’n openbare diens geplaas te word om sodoende ’n nasionale diensverbintenis na te kom. Die VS het in die verlede hierdie toegewings gemaak gedurende die tye toe soldate opgeroep is, sodat Christene hulle land kon dien sonder om God se Wet te oortree.

Christene wat in lande woon waar militêre diens verpligtend is, moet ’n besluit neem wat ernstige gevolge kan hê. Deur hulle Verlosser te gehoorsaam, loop hulle die risiko van tronkstraf (of iets ergers) vir die weiering om in die weermag te dien. Christus het ’n belangrike beginsel gegee toe Hy verduidelik het “...waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees” (Mattheüs 6:21). Diegene wat hulle hart op die Koninkryk van God gesit het sal daardie Koninkryk hulle prioriteit maak en sal nie hulle plek in daardie Koninkryk in gevaar stel deur te veg en ander mense te dood te maak in die oorloë van mense nie.