Vraag: Ek het in my Bybel vir bewyse van “Goeie Vrydag” gesoek wat my kerk volgende maand gaan vier, maar ek kon dit nie vind nie. Wat sien ek nie raak nie?

 

Antwoord: Jesus het vir ons ’n baie spesifieke aantal dae gegee wat Hy in die graf sou deurbring: “’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Matthéüs 12:39-40).

Sommige mense beweer dat Jesus ’n Joodse uitdrukking (idioom) gebruik het waarmee Hy nie drie letterlike dae en nagte bedoel het nie en dat enige gedeelte van ’n dag as ’n volle dag tel, hetsy dag of nag. Jesus het egter gesê dat Hy in die hart van die aarde sou wees soos Jona in die maag van die groot vis was. In die Ou Testamentiese boek Jona, laat die Hebreeus nie gedeeltelike dae van minder as 24 uur toe wanneer albei dae en nagte genoem word nie. Dit beteken duidelik drie letterlike dae en drie letterlike nagte: ’n volle 72 uur.

Hierdie feit alléén bewys dat die algemeen aanvaarbare “Goeie Vrydag tot Paassondag”-chronologie van slegs een volle dag en twee volle nagte nie korrek kan wees nie.

 

“... die dag van daardie sabbat was groot” – ’n Heilige Dag!

Wanneer is Christus opgewek? “En op die eerste dag van die week kom Maria Magdaléna vroeg, terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was. Sy hardloop toe en kom by Simon Petrus en by die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het, en sê vir hulle: Hulle het die Here uit die graf weggeneem, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie” (Johannes 20:1-2). Die graf was dus reeds leeg “terwyl dit nog donker was” op “die eerste dag van die week”. Wanneer ’n mens 72 uur terugtel, is daar geen manier hoe Jesus Vrydag gekruisig kon wees nie!

Die Skrif openbaar dat Jesus omstreeks 15:00 gesterf het, (Matthéüs 27:46-50) en dat Hy net voor sononder op ’n Sabbat se voorbereidingsdag in die graf neergelê is (Markus 15:42-47). Die meeste mense neem aan dat dit laat Vrydagmiddag beteken aangesien die Sabbat op daardie dag met sononder begin het. Johannes maak egter melding van ’n belangrike feit oor wat onmiddellik ná Sy dood gebeur het: “die liggame nie op die sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit die voorbereiding was – want die dag van daardie sabbat was groot – het die Jode Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word” (Johannes 19:31).

Jesus het die vorige aand die Pasga saam met Sy dissipels gehou. Hy is gekruisig op die daglig-gedeelte van die Pasgadag en toe die son daardie dag ondergegaan het, was dit die begin van die jaarlikse Heilige Sabbatdag wat bekend is as die Fees van Ongesuurde Brode (Levítikus 23:4-7).

Dit is noodsaaklik om Johannes se stelling dat dit ’n groot Sabbatdag was te begryp om die chronologiese volgorde wat in die Nuwe Testament gegee word, te verstaan. Ons lees dat Jesus daardie jaar, die Dinsdagaand, die Pasga saam met Sy dissipels gehou het. Hy is gekruisig op die daglig-gedeelte van die Pasga-dag en in die graf geplaas net voor sononder voor daardie groot Sabbatdag, wat geduur het van sononder Woensdagaand tot sononder Donderdagaand. Die vroue het daardie jaarlikse Sabbat onderhou en toe dit verby is, het hulle die Vrydag uitgegaan om speserye te koop (Markus16:1). Ons lees dan dat hulle die speserye op daardie Vrydag voorberei het en daarna op die weeklikse Sabbat gerus het (Lukas 23:56). Dit behoort duidelik te wees dat ’n mens nie speserye kan voorberei voordat dit gekoop is nie!

Wanneer ons al die toepaslike geskrifte in hulle chronologiese volgorde plaas, is dit vanselfsprekend dat Jesus kort voor sononder op Woensdag in die graf neergelê is nét voor die Eerste Dag van Ongesuurde Brode begin het. Ons weet – gegrond op wat in die Skrif opgeteken is – dat Hy 72 uur later opgestaan het, voordat die eerste dag van die week [Sondag] begin het.

Kerke wat die Goeie Vrydag- en Paas-Sondag-tradisies hou, ontken die eenvoudige woorde van die Skrif en die ware teken wat Jesus van Sy Messíasskap gegee het (Matthéüs 12:38-40).

’n Vollediger verduideliking en om meer te wete te kom oor valse leerstellings wat aan Jesus se opstanding gekoppel is, bestel gerus u gratis kopieë van Paasfees: Die storie wat nie vertel word nie of lees dit aanlyn by wvm.co.za asook, Satan se Vervalste Christendom wat u ook aanlyn kan lees by wvm.co.za.