Dwarsdeur die geskiedenis het die menslike natuur egter oorlog gesien as die finale arbiter van geskille. Die apostel Paulus maak 'n diepsinnige stelling: “En die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie” (Romeine 3:17-18).

Die Midde-Ooste het sedert die vroegste tye tot op hede 'n geskiedenis van oorloë. Meer as een miljoen mense het in die Iran-Irak Oorlog van 1980 tot 1988 gesterf. Etlike duisende meer het gedurende die Persiese Golfoorlog en Operasie Desert Storm van 1990-91 gesterf. In daardie konflik het Irakese troepe meer as 600 olieputte in Koeweit aan die brand gesteek. Die swart rook het beelde van Armageddon opgeroep. Hierdie wydverspreide besoedeling was daardie tyd die “wêreld se ergste mensgemaakte omgewingsramp” genoem (Time Almanac 2000, bl. 605).

Sal daar nog meer oorloë in die Midde-Ooste wees? Ongelukkig is die antwoord “ja”. U Bybel onthul dat daar selfs meer streeksoorloë in die Midde-Ooste sal wees, wat sal lei tot dít wat algemeen bekend staan as “Armageddon”! Jerusalem sal 'n brandpunt van geskille wees.

Arabiere en Israeli's is, sedert die moderne staat van Israel gestig is, keer op keer in oorlog gewikkel [sien insetsel]. Vrede is telkemale in die streek aangekondig, maar het nog nooit gerealiseer nie. Tans is daar min vooruitsig op blywende vrede onder die nasies van die Midde-Ooste.

Hoop het in September 1993 hoog opgevlam toe Israel en die Palestynse Bevrydingsorganisasie (P.L.O.) in Washington D.C. 'n verdrag onderteken het. Twee jaar later het hulle 'n tussentydse ooreenkoms onderteken wat gelei het tot verhoogde Palestynse selfbeskikking in die Wes-Oewer en Gazastreek. Die Wye Rivier Memorandum het in Oktober 1998 stappe daargestel om die tussentydse ooreenkoms van 1995 in werking te stel, met Mei 1999 as teikendatum vir 'n finale oplossing vir die Israel-Palestynse konflik. Geen oplossing kon egter bereik word nie. Die Camp David Beraad van Julie 2000 wat deur die Amerikaanse President Bill Clinton saamgeroep is, het nie geslaag om 'n finale vredesooreenkoms saam te stel nie en het die bittere waarheid beklemtoon, dat beide Israel en die Palestyne Jerusalem as hul uitsluitlike hoofstad beskou en nie die ander een wil toelaat om vrye beheer oor hierdie geskiedkundige stad te bekom nie.

Jerusalem is heilig vir die drie hoof monoteïstiese godsdienste, naamlik Christendom, Judaïsme en Islam. Moslems en Jode is reeds vir meer as 1300 jaar haaks, sedert 'n Arabiese handelaar genaamd Muhammed, die Islamse geloof sowat 1300 kilometer suidoos van Jerusalem gestig het.

Die Tempelberg is 'n fokuspunt vir Moslems en Jode. Islam se Rotskoepel staan waar Salomo se Tempel eens gestaan het. Jode word nie toegelaat om op die Berg self te bid nie, daarom gaan hulle na die Wesmuur of “Klaagmuur” by die voet van die Berg om te bid. Die Jode smag daarna om 'n godsdiensteenwoordigheid op die Tempelberg self te hê.

Toe die Israeliese Eerste Minister, mnr. Ariel Sharon, in September 2000 nog leier van die opposisie was, het hy die Tempelberg besoek. Dit het Palestynse betogers aangehits om 'n nuwe intifada van verskerpte geweld teen Israeli teikens te loods. In Mei 2001 het Israel vir die eerste keer sedert 1967 vegvliegtuie teen Palestina gebruik. Arabiese lande het gereageer deur opskorting van bande met Israel te eis totdat die geweld beëindig word.

Wat sal volgens Bybelprofesië uiteindelik in Jerusalem gebeur? Die Skrif is duidelik: “Kyk, daar kom 'n dag vir die Here; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in jou verdeel word, o Jerusalem. Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie” (Sagaria 14:1-2).

“Al die nasies” sal in hierdie konflik veg, tydens die tydperk bekend as die “Dag van die Here”, in die jaar net voor Jesus Christus se geprofeteerde wederkoms. Maar watter hoof profetiese gebeure sal voorafgegaan word in hierdie stryd in Jerusalem? “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mattheus 24:21-22).

Die ganse mensdom sal dan dramatiese en vreesaanjaende aktiwiteite in die hemelruim aanskou. Openbaring 6:12-14 beskryf hierdie “hemelse tekens” as die “sesde seël”. Jesus sê: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word” (Mattheus 24:29).

Ons moet vooraf gewaarsku word van hierdie grootse gebeure. Die Groot Verdrukking is hoofsaaklik 'n tyd van smarte vir Amerika en die afstammelinge van Brittanje, wat Suid Afrikaners en almal wat van die antieke patriarg Josef afstam, insluit. Toe hy op sterwe was, het Jakob twee van sy kleinseuns, Josef se seuns Efraim en Manasse, geseën en gesê: “Die Engel wat my uit elke

 

ISRAEL-ARABIESE OORLOË 
 
14 Mei 1948
Die Joodse Nasionale Raad verklaar die vestiging van Israel. Oorlog breek uit tussen die nuwe staat en die omliggende Arabiese volke. Wanneer die oorlog in 1949 eindig, beheer Jordanië die Wesoewer en Oos- Jerusalem, en Egipte beheer die Gazastrook. Israel word as staat gevestig, maar sonder toegang tot die heilige plekke in Ou Jerusalem! David Ben-Gurion word Israel se eerste Eerste Minister.
 
Julie 1956
In die voetspore van Egipte se nasionalisering van die Suezkanaal sone, val Israel Egipte binne en neem beheer van die Gazastrook en Sinai Skiereiland oor. Nadat die Verenigde Nasies 'n veiligheidsmag in hierdie streke gevestig het, onttrek Israel. 
 
Junie 1967
Israel tree in stryd met die verenigde magte van Egipte, Sirië en Jordanië, in dít wat bekend word as die “Sesdagse Oorlog”. Israel neem die Sinai Skiereiland, Golan Hoogtes, die Wes-Oewer en Oos-Jerusalem oor. Israel het nou toegang tot sy geskiedkundige heilige plekke, insluitende die Wesmuur by die Tempelberg.
 
6 Oktober 1973
In dít wat bekend staan as die “Yom Kippoer-oorlog” omdat dit op die Versoendag geveg is, weerstaan Israel invalle deur Egipte en Sirië. Israel, Egipte en Jordanië kom later ooreen op 'n Verenigde Nasie skietstilstand.
 
6 Junie 1982
Israeli magte val Libanon binne en omsingel Beiroet teen 14 Junie. In Februarie 1985 onttrek Israeli magte eensydig uit Libanon, maar behou 'n “veiligheidsone” in die suide van Libanon, wat hulle behou totdat militêre eenhede in Mei 2000 onttrek.

Bron: Webster's Concise Encyclopedia


teëspoed verlos het – mag Hy die seuns seën, en mag deur hulle my naam genoem word en die naam van my vaders Abraham en Isak, en mag hulle vermeerder in die land in menigte” (Genesis 48:16).

Die eindtyd profesieë wat betrekking het op Jakob, oftewel Israel, verwys oor die algemeen na die afstammelinge van Efraim en Manasse aan wie Jakob se naam gegee is. Die Skrif gee 'n eindtydse waarskuwing oor die Groot Verdrukking. Wie gaan dit toeval? “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is 'n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jeremia 30:7). Dit is 'n unieke tyd in die mens se geskiedenis; 'n tyd “sonder weerga”.

Waak en bid

Wat sê die Bybel moet ons te doen? Jesus vertel ons: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36).

Waarvoor moet 'n mens op die uitkyk wees in die Midde-Ooste? Toe Jesus op die Olyfberg was, het hy 'n raamwerk van eindtydse profesie gegee met gelyke vertellings in Mattheus 24, Lukas 21 en Markus 13. Ons sal hier die volgorde van gebeure wat Jesus in Mattheus beskryf het, hersien. Jesus se dissipels vra hom oor die teken van Sy koms en die einde van die wêreld, of die einde van die era. Hy praat van godsdiensmisleiding, oorloë, hongersnode, siektes en aardbewings. Hierdie tendense onthul in volgorde die betekenis van die vier perderuiters van Openbaring wat nader aan die einde van hierdie tyd, hul gevaarlike galop versnel. Jesus verklaar: “Maar al hierdie dinge is 'n begin van die smarte” (Mattheus 24:8).

Godsdiensvervolging en martelary sal volg. “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word terwille van my Naam. En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei” (Mattheus 24:9-11).

Desondanks sal die Waarheid steeds verkondig word. “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot 'n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheus 24:14). Namate Jesus Christus deure vir die evangelie open om in afsetgebiede en krag toe te neem, sal u weet dat die einde naby is. Moenie onverskillig staan teenoor die wêreldtoestande en profetiese neigings wat voor u oë in intensiteit toeneem nie!

Jesus waarsku dan: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet – dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug” (Mattheus 24:15-16). Wat is hierdie gruwel van die verwoesting?

Die Griekse heerser Antiochus Epiphanes het in 167 v.C. 'n edik uitgereik wat verdere Joodse offerandes in die Jerusalem Tempel verbied het. “En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel” (Daniël 11:31).

Bykomend tot die afskaffing van die daaglikse offerandes, het Antiochus 'n standbeeld van Jupiter Olimpus in die tempel opgerig en almal opdrag gegee om dit te aanbid. Hierdie gruwel, wat ook in Daniël 8 beskryf is, is 'n weerspieëling van 'n eindtydse gebeurtenis – die eindtydse offerandes word 1 290 dae voor Christus se wederkoms afgeskaf. “En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend-twee-honderd-en-negentig dae verloop” (Daniël 12:11). Jesus waarsku ons as Christene om waaksaam te wees vir 'n eindtydse gruwel van die verwoesting. Net soos Antiochus Epiphanes die Tempel in 167 v.C. ontheilig en die offerandes afgeskaf het, sal 'n onheilige gesag die Joodse offers in die toekoms afskaf. Die apostel Paulus waarsku ons trouens van 'n groot valse profeet wat in die heiligdom sal staan: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thessalonicense 2:3-4).

'n Vals profeet sal groot wonderwerke doen en miljoene mense mislei. Hy sal aanbidding van homself aankweek en aanspraak maak daarop dat hy goddelik is. Openbaring 13:13-14 dui aan dat hierdie groot vals profeet verbasende wonders sal doen en selfs vuur uit die hemel sal laat neerdaal wat miljoene mense regoor die wêreld sal mislei! Moenie mislei word deur hierdie tekens en wonders nie! Soos die Skrif ons vermaan: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessaloni- cense 5:21).

Die eindtyd godsdiens-politiese mag wat Jerusalem domineer sal veroorsaak dat die offerandes gestaak word. Onthou dat die Jode sedert 70 n.C. toe die Romeine die tempel in Jerusalem vernietig het, geen diereoffers gebring het nie. Vir die eindtyd offerandes om uiteindelik gestaak te word, moet hulle eers begin! Wanneer diereoffers weereens in Jerusalem begin, sal u weet dat die profesieë waarvan Jesus gepraat het, op 'n hoogtepunt afstuur!

Wanneer die gruwel van die verwoesting waarvan Jesus geprofeteer het opgerig word, moet drie profetiese mylpale oor 'n periode van drie en 'n half jaar plaasvind – die Groot Verdrukking en die Hemelse Tekens, wat 'n hoogtepunt bereik in die jaarlange Dag van die Here. Die laaste drie verse van die boek Daniël dui aan dat daar 1 290 dae sal wees van die tyd dat die gruwel van die verwoesting opgerig word, tot en met Christus se wederkoms, wanneer Daniël in die eerste opstanding opgewek sal word.

Hierdie koning van die Noorde (wat in die algemeen noord van Jerusalem beteken), word elders die Dier genoem (Openbaring 13:1-10; 17:12-13), en sal volgens Daniël se profesie die Heilige Land inval. “Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei. Hy sal ook kom in die Pragtige Land, en baie sal struikel; maar hierdie volke sal uit sy hand vryraak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van Ammon. En hy sal sy hand uitsteek teen die lande; ook Egipteland sal nie vrykom nie” (Daniël 11:40-42).

'n Twintigste-eeuse koning van die Noorde het Noord-Afrika gedurende die Tweede Wêreldoorlog binnegeval. In teenstelling hiermee, sal die eindtydse koning van die Noorde deur die koning van die Suide uitgelok word. Ons het reeds oorlog in die Midde-Ooste gesien weens die oliekwessie. Sal daar weer 'n Arabiese verbod op die uitvoer van olie soos die een van 1974 wees? Europa is selfs meer afhanklik van Midde-Oosterse olie as wat Amerika is. Hulle voer ongeveer die helfte van hul olie van Arabiese lande af in, in vergelyking met die ongeveer 20 persent wat Amerika uit daardie streek invoer. Wat ook al die uitlokking gaan wees, die gevolg sal wees dat die koning van die Noorde die Midde-Ooste binneval.

Lukas se weergawe van die Olyfbergprofesie volg dieselfde algemene volgorde as dié van Mattheus, maar hy voeg 'n baie belangrike brokkie inligting by. Nadat godsdiensvervolging toeneem, sê Jesus: “Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry. En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is” (Lukas 21:19-20).

Toenemende geweld lê voor

Waarvoor moet Christene op die uitkyk wees tydens die onrus van die Midde-Ooste? Kyk uit vir voortslepende konflik tussen Israeli's en Palestyne in die Heilige Land. 'n Onlangse New York Times artikel beskryf die skade wat aangerig word deur die toenemende geweld: “Die psigologiese skeiding tussen Israeli Jode en Palestynse Arabiere het 'n mynveld geword …. [Baie het geglo] dat die besetting ál was wat in die pad van versoening gestaan het; dat indien Israel die Joodse vestings afgebreek, uit die gebied onttrek en 'n Palestynse staat toegelaat het, die konflik einde sou kry. Dit mag steeds moontlik wees, maar die ergste gevegte sedert 1967 trek hierdie aanname in twyfel” (Vertaling van uittreksel uit A Conflict's Bedrock, 27 Mei 2001).

As gevolg van hierdie neigings moet u op die uitkyk wees vir toenemende eise na internasionale ingryping en beheer, nie slegs in Gaza en die Wes- Oewer nie, maar ook in Jerusalem self. Die Palestynse leier, Yasser Arafat, het self al steun probeer werf vir 'n Verenigde Nasie vredespan in Gaza en die Wes-Oewer.

Wees op die uitkyk vir toenemende eenheid tussen Arabiese nasies in hul weerstand teen Israel. Een profetiese Psalm lys al die volke wat die Arabiese- en Moslemnasies in die Midde-Ooste sal uitmaak. Hulle word ondersteun deur Europese groepe in hul sterk opposisie teen Israel. “Hulle sê: Kom laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie. Want hulle het van harte saam raad gehou; teen U sluit hulle 'n verbond” (Psalm 83:5-6). Wees op die uitkyk vir 'n eindtydse Moslem-Arabiese unie of federasie wat teen Israel gevorm word.

Wees op die uitkyk vir die Europese Unie se groeiende ekonomiese, politiese en militêre eenwording. Soos ons in Daniel se profesie gesien het, sal die koning van die Noorde uiteindelik die Heilige Land beset. In November 2000 het die Europese Unie 'n Duitse generaal gekies om sy Blits Reaksie Mag te lei, waarvan verwag word om teen 2003 Europese mag aan krisissones oor 'n area van ongeveer 4000 kilometer te projekteer. Sal hierdie magte uiteindelik 'n wesenlike rol in die Midde-Oosterse konflik speel? Hou die ontwikkeling van Europa se eie militêre magte dop.

In Israel moet u op die uitkyk wees vir die voorbereiding en uiteindelike implementering van diereoffers deur die Jode in Jerusalem. Baie mense glo dat 'n fisiese tempel ook gebou sal word, maar die geskiedenis en die boek Esra bevestig dat offerandes uitgevoer kan word met slegs 'n altaar by die heilige plek.

Wees op die uitkyk vir die toenemende samesmelting van godsdiensmag in Europa wat lank reeds deur sommiges beplan word. Tydens 'n besoek aan Oostenryk in 1983 het Pous Johannes Paulus II 'n vertoë gerig vir Europese eenheid met dié stelling: “Europeërs moet die dreigende internasionale konfrontasies van state en alliansies oorkom en 'n nuwe verenigde Europa vorm, van die Atlantiese Oseaan tot aan die Oeralgebergte” (The Principality and Power of Europe, Adrian Hilton, bl. 36).

Die ontwikkelende Europese godsdienspolitiese mag sal uiteindelik die beherende invloed uitoefen oor die Heilige Land. Ons het reeds gesien dat die koning van die Noorde Jerusalem en die Midde-Ooste uiteindelik sal domineer. Die boek Openbaring voorspel ook 'n konflik tussen Asiatiese magte en die Europese Diermag, die koning van die Noorde (vergelyk Daniël 11:44; Openbaring 9:13-19). Dit is skokkend dat hierdie leërs met Christus se wederkoms sal saamstaan soos die leërs van die wêreld versamel “om oorlog te voer teen Hom” (Openbaring 19:19)! Die Almagtige God sê: “Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem” (Sagaria 14:2). Dan “sal [die HERE] uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant” (Sagaria 14:3-4). Jesus Christus sal ingryp! Hy sal die Derde Wêreldoorlog stop en blywende vrede na die hele wêreld bring!

Die Kidronvallei, wat ook die Dal van Jósafat heet en geleë is tussen die Olyfberg en Tempelberg, verbreed na die suide. Hier sal God die nasies oordeel. “Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle 'n strafgerig te hou” (Joel 3:1-2).

Die Dag van die HERE sal oordeel oor alle nasies bring. Christus sal al die leërs wat Hom teenstaan oorwin! Hy sal die Millennium van vrede op aarde inhuldig en die weg na vrede aan alle nasies leer. Dan sal die Arabiere en Israeli's versoen raak. “In dié dag sal daar 'n grootpad wees van Egipte na Assirië, en Assiriërs sal in Egipte kom en Egiptenaars in Assirië; en Egipte sal saam met Assirië die HERE dien. In dié dag sal Israel die derde wees naas Egipte en Assirië, 'n seën in die midde van die aarde, omdat die HERE van die leërskare hom geseën het, met die woorde: Geseënd is my volk Egipte en my maaksel Assirië en my erfdeel Israel!” (Jesaja 19:23-25).

Ons sien almal uit na die wêreldvrede en versoening wat slegs deur die Messias, Jesus Christus, na hierdie aarde gebring kan word. Intussen sê Jesus vir ons om altyddeur te waak en te bid. Maak seker dat u dit doen!