Baie ateïste en niegelowiges neem aan dat die dood die einde is. Baie gelowiges aanvaar dat diegene wat nog nooit Christus se naam of leerstellings gehoor het nie, hel toe sal gaan wanneer hulle sterf. U Bybel openbaar die bemoedigende waarheid wat ons almal behoort te weet!

Ons treur oor die dood van geliefdes. Duisende jong manne en vroue het hulle lewens tydens militêre diens verloor, sommiges selfs voordat hulle die ouderdom van 20 bereik het. Andere was die slagoffers van ongelukke of siektes. Wanneer ons treur, is een van die lewe se grootste raaisels die vraag: “Wat sal gebeur wanneer ons sterf?”

Gedurende die afgelope jare het ateïste en niegelowiges die Bybel en die werklikheid van God Self aangeval. Een so ’n skrywer noem die lewe na die dood ’n “illusie”. In sy artikel met die titel “Hope, Despair, Dread, and Religion”, beweer die skrywer Ronald A. Lindsay dat “godsdienstige beloftes van onsterflikheid, slegs ’n valse hoop bied” (Free Inquiry, April-Mei 2010, bl. 12).

Lindsay gaan voort om hierdie treurige bekentenis te maak: “Ons kan nie die finaliteit van die dood, of ander onherstelbare verliese wegwens nie. Nog minder kan ons aanvaarbare antwoorde aan diegene verskaf wat wensvervulling vereis. Indien ons verstaan dat die begrippe dat godsdiens en geloof in die onsterflikheid illusies is, kan ons die versoeking om aan wensvervulling toe te gee, in tye van ’n krisis weerstaan. Met ons oë stewig op die feite van die werklikheid gevestig kan ons waardeer wat die lewe kan en nie kan bied nie” (ibid.).

Soos vir Lindsay en baie ander ateïste, is die enigste “hoop”, ’n soort wanhopige aanvaarding van die hartseer en leë toekoms. Is dit dan regtig wat op ons wag, of sal daar ’n tyd van beloning en straf wees, wanneer “goeie mense” na die hemel toe gaan en slegte mense vir ewig in die hel sal brand?

Die goeie nuus is dat die ware Gewer van lewe, die Skepper-God, ’n glorieryke plan vir alle mense het wat die erfenis van die aarde en die heelal insluit. Ons Vader in die hemel het aan ons ongelooflike bewyse gegee dat ons die grootste vyand van alles, naamlik die vyand van die dood, sal kan oorwin. U kan daardie oorwinning verkry!

Is daar hoop vir die afgestorwenes

Oor die afgelope duisende jare, het miljoene der miljoene mense geleef en gesterf. Was hulle lewens van geen waarde nie? Ons het almal geliefdes aan die dood afgestaan, sommige op ’n baie jong ouderdom en ander het lank geleef. Sommiges het as praktiserende sondaars gesterf en vir hulle dade en gedrag geboet. Andere was slagoffers van ongelukke. Miljoene mense het in die honderde oorloë oor die hele wêreld heen oor die afgelope paar duisend jaar gesterf. Miljoene mense het hulle lewens in die slagting van die Jode deur die Nazi’s en in ander volksmoord-gruwels verloor. Is daar hoop vir hierdie miljoene mense van wie baie nog nooit tot Christelikheid bekeer is nie?

Die antwoord is: “Ja!” Daar is hoop in die toekoms vir die miljoene der miljoene mense wat gesterf het sonder enige geleentheid vir redding. God openbaar dat daar ’n opstanding uit die dood sal wees vir diegene wat vir die waarheid verblind was. Daardie opstanding sal ná die Millennium plaasvind en word Die Wit Troon Oordeel genoem soos dit in Openbaring 20 beskryf word. Die Bybel beskryf die dood as ’n “vyand”. God sal egter ’n groot oorwinning oor die dood gee aan al die mense wat al ooit geleef het om hulleself in die toekoms te bekeer en gedoop te word in die Naam van Jesus Christus, soos die apostel Petrus dit in Handelinge 2:38 duidelik maak. Die apostel Paulus beskryf die uiteindelike groot oorwinning oor die dood in 1 Korinthiërs 15:54-57: “En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning. Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet. Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.”

U kan die dood oorwin in die groot opstanding. U Bybel gee die inspirerende hoop vir die toekoms.

Daar is hoop vir die duisende rampslagoffers wie se lewens kortgeknip is. Daar is hoop vir u afgestorwe geliefdes.

Wat gebeur wanneer u sterf? Baie wetenskaplikes, ateïste en niegelowiges glo dat die lewe permanent by die dood eindig. Aan die ander kant, glo baie godsdienstige mense dat wanneer die liggaam sterf, die siel direk na die hemel of die hel gaan. Kan u uself die valse leer voorstel dat miljoene mense wat nog nooit die naam van Jesus Christus gehoor het nie, nou in die hel brand? Is God so onregverdig? Natuurlik nie! Handelinge 4:12 verklaar dat slegs deur middel van die Verlosser, die Messias, Jesus Christus enige iemand gered kan word, “want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.”

Terwyl miljoene mense deur die geskiedenis heen nog nooit eers die ware Evangelie gehoor het nie, hoe kon hulle dan ’n geleentheid tot redding gehad het? Het God ’n plan vir hulle? Sommige godsdienste onderrig verkeerdelik dat die oorgrote meerderheid van hulle in die hel gemartel word, selfs vandag nog. Is dít wat u Bybel onderrig? Wat is die waarheid?

Hoop en die opstanding

Wat openbaar die Bybel oor die lewe na die dood vir die menslike wese? Die apostel Paulus was per geleentheid deur die Jerusalem Sanhedrin geoordeel en ondersoek. Paulus het die opstanding uit die dood die belangrike kwessie gemaak. Hy het met die vergadering van beide Fariseërs en Sadduseërs gepraat: “En omdat Paulus geweet het dat die een deel uit Sadduseërs en die ander uit Fariseërs bestaan, het hy in die Raad uitgeroep: Broeders, ek is ’n Fariseër, die seun van ’n Fariseër. Oor die hoop en die opstanding van die dode staan ek voor die gereg” (Handelinge 23:6).

Het Paulus gesê dat hy hemel toe gaan wanneer hy sterf? Absoluut nie! Paulus het uitgesien na die opstanding uit die dood met Christus se Wederkoms! Lees dit in u eie Bybel! In die boek Filippense skryf die apostel Paulus van sy geloof in Christus en Sy toekomstige doel met die opstanding. Paulus het sterk begeer “sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik” (Filippense 3:10-11).

U Bybel leer ons dat die afgestorwenes tot met die opstanding dood bly. Die dood is ’n vyand, maar God sal ons ’n groot oorwinning oor die dood gee, indien ons aan Hom getrou is deur Jesus Christus. Baie belydende Christene neem aan dat wanneer ’n persoon te sterwe kom, hulle dadelik na die hemel, die hel, of die vagevuur gaan, maar is dit wat Jesus Self vir ons leer? Onthou die wonderbaarlike opwekking van Jesus se vriend Lasarus? Het Lasarus na die hemel gegaan nadat hy gesterf het? Lasarus was vir vier dae in die graf en Jesus het hom na die lewe teruggebring! Jesus het Lasarus uit die dood opgewek om sy natuurlike, fisiese lewe voort te sit! Ons Verlosser het verkondig: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie” (Johannes 11:25-26).

Glo ons werklik Sy woorde? Lasarus was dood. Het Lasarus na die glorie van die hemel gegaan, net sodat Jesus hom in ’n fisiese liggaam kon terugdwing deur hom op te wek? Natuurlik nie! Lasarus het nie na die hemel of na ’n brandende hel gegaan toe hy gesterf het nie. Lasarus het eenvoudig gesterf en het geen bewussyn gehad nie! Jesus sê baie duidelik: “Lasarus ... slaap ... Lasarus is dood” (Johannes 11:11, 14).

Lasarus was vir vier dae in die graf voordat Jesus hom na ’n natuurlike, fisiese lewe teruggebring het. Die opstanding van die gestorwe getroue Christene sal egter tot ’n ewige, onsterflike lewe wees. Dit sal met Christus se Wederkoms plaasvind: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met die geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.” (1 Thessalonicense 4:16).

Onsterflikheid is ’n geskenk!

Die opstanding is die Christen se hoop. Indien ’n persoon na sy afsterwe reeds na die hemel gaan, sal daar geen nodigheid vir ’n opstanding wees nie. Mense word nie met onsterflikheid of die ewige lewe gebore nie. Glo dit of nie, die Bybel leer ons dat ’n siel kan sterf. Die siel is nie onsterflik nie! Lees dit vir uself: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Eségiël 18:4). Die Hebreeuse woord vir “siel” is nephesh, wat ’n fisiese of natuurlike lewe aandui. Ons leer eerder dat onsterflikheid met die opstanding begin, want “hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word” (1 Korinthiërs 15:53).

Ja, u en ek is nou sterflik, maar getroue Christene sal die gawe van onsterflikheid tydens die opstanding ontvang! Hierdie opstanding van getroue Christene word ook in Openbaring 20:4 vermeld: “... en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.” Let op die volgende vers, wat toon dat daar ’n tweede algemene opstanding sal wees: “En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie” (vers 5).

Wie sal in daardie tweede algemene opstanding wees? Dit kan van u vriende of familie insluit wat u gedink het vir ewig verlore is. Is dit vir u moeilik om te glo? Vra uself net af – wat sal met al daardie miljoene mense gebeur wat nie in die eerste opstanding sal wees nie? Dink aan die geskiedenis van die wêreld. In die afgelope sesduisend jaar het miljoene mense regoor die wêreld heen geleef en gesterf. Die oorgrote meerderheid het nog nooit eers die naam van die Messias, Jesus Christus, gehoor nie. Die apostel Petrus het tog duidelik gesê: “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:12). Wat sal dus met die miljarde mense gebeur wat nog nooit eers Sy naam gehoor het nie?

Die profeet Eségiël het ’n visioen gehad wat beskryf word as die Vallei van Dor Bene. U kan dit self in Esegiël 37 lees. Dit beskryf wat tydens die tweede opstanding sal plaasvind. Miljoene mense sal tot fisiese lewe opgewek word. Die Boek van die Lewe sal vir hulle oopgemaak word en hulle sal hulle eerste geleentheid hê om die waarheid oor Jesus Christus en Sy offer van verlossing te leer. Dit is nie ’n “tweede kans” soos sommige mense wil glo nie. Inteendeel, dit sal die eerste geleentheid vir miljoene, der miljoene mense wees om hulle sondes in te sien, hulle van daardie sondes te bekeer, Jesus Christus as Verlosser te aanvaar en volgens Sy lewenswyse te leef. Dit is God se doel om aan elkeen wat nog ooit geleef het ’n ware, regverdige geleentheid te gee om vir ewig deel van Sy Godgesin te word. Hy maak daardie doel duidelik: “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Petrus 3:9).

Ons behoort te bestudeer wat die Bybel ons so duidelik leer. Is miljoene mense wat nog nooit die Naam van ons Verlosser gehoor het nie vir ewig verlore? Is God só onregverdig? Regdeur die geskiedenis van die wêreld was daar miljoene mense wat nog nooit die werklike leerstellings van die Messias, Jesus Christus, gehoor het nie. Is God so onregverdig om hulle te veroordeel om vir ewig in die helvuur te ly? Natuurlik nie! Die “ander dode” wat in Openbaring 20:5 gemeld word, sal in die tweede algemene opstanding wees. Hulle sal die oordeel in die gesig staar. Dit sal egter ’n oordeel wees waarin hulle ’n geleentheid sal hê om hulle te bekeer en gedoop te word. Dit mag ’n paar van u vriende en familielede insluit.

Drie opstandings

Daar is drie algemene opstandings. Die eerste algemene opstanding uit die dood is die opstanding waarin Christene van hierdie huidige tydperk die ewige lewe gegee sal word as lede van die Godgesin. Die tweede algemene opstanding uit die dood sal plaasvind ná die Millennium, aan die begin van wat die Wit Troon Oordeel genoem word (Openbaring 20:12), wanneer die miljoene sogenaamde “ongeredde” mense hulle enigste ware geleentheid sal kry om God se weë te leer en geoordeel te word. Soos die Skrif vir ons sê: “En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel” (Hebreërs 9:27).

Ongelukkig sal sommige mense God se genade en verlossing verwerp. Hulle sal weier om hulle van hulle sondes te bekeer en sal die opoffering van Jesus Christus verwerp. God sal hierdie verharde goddelose mense in die poel van vuur vernietig. Die derde algemene opstanding sal uit hierdie opstandige sondaars bestaan wat gestraf sal word deur die ewige dood in die poel van vuur te ontvang. Hoewel God genadig is, is Hy ook regverdig. Ons lees: “My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here” (Hebreërs 10:30). Diegene wat verlossing verwerp sal gefolter word wanneer hulle voor die poel van vuur staan, dan sal hulle en al die ander goddelose siele in die poel van vuur gewerp word en verbrand, soos dit aan ons vertel word in Openbaring 21:8. Hulle sal nie meer lewe nie. Dit is die tweede dood, waarvandaan daar geen opstanding is nie. Soos ons lees: “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23).

Ja, getroue Christene kan oorwinning oor die dood verkry. Maak seker dat u in u Bybel die hoofstukke oor die opstanding lees: 1 Korinthiërs 15 en 1 Thessalonicense 4. Ons behoort almal vir die Wederkoms van die Messias, Jesus Christus voor te berei. Ons behoort uit te sien na die opstanding van getroue Christene met Christus se Wederkoms wanneer die laaste basuin sal weerklink. Soos ons in 1 Korinthiërs 15:52 lees: “... want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.”

Geen illusie!

Nee, die lewe na die dood is nie ’n “illusie” soos ateïste sal sê nie. Toe die ongelowige Thomas sy hand in die spieswond van Christus ná Sy opstanding geplaas het, was dit nie ’n illusie nie (Johannes 20:24-28). Die vyfhonderd getuies wat van Christus se opstanding getuig het was onder geen illusie nie (1 Korinthiërs 15:5-6).

Waarlikwaar, God het ’n ontsagwekkende plan vir die ganse mensdom. Daar is hoop vir die miljoene afgestorwe mense regoor die wêreld wat nog nooit ’n ware geleentheid tot redding gehad het nie. Ja, daar is ’n wonderlike hoop vir die slagoffers van volksmoorde en vir die miljoene, der miljoene geestelik verblinde mense. Daardie hoop is die tweede algemene opstanding in die Wit Troon Oordeel waarvan ons in Openbaring 20:11 lees. Met betrekking tot vandag se Christene, behoort ons te bid soos Jesus ons geleer het: “... laat U koninkryk kom”! Sien uit na die Wederkoms van die Messias, Jesus Christus en ons groot oorwinning oor die dood! Laat ons almal in staat wees om te sê: “God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus” (1 Korinthiërs 15:57).