Vertrou u die “wegraping” om u die eindtydse beproewinge te spaar? Of het God moontlik vir u ’n wonderlike plan in die toekoms?

Is die “wegrapingsteorie” Bybels, of openbaar die Skrif dat God se plan vir die eindtydse Christene nie is wat die meeste mense glo nie?
U behoort te weet !


Sal God eendag die Christelike vlieëniers van lugrederye wegraap, terwyl talle “ongeredde” passasiers ’n grusame dood tegemoet gaan? Sal die wêreld se paaie slagysters van die dood word terwyl die motors hulle Christelike bestuurders verloor?

Indien u na ’n tipies Protestantse kerk gaan en ’n honderd mense vra: “Gaan God ware Christene ‘wegraap’ voor Jesus Christus se wederkoms?”, sal die meerderheid “ja” antwoord. ’n Studie van Pew Forum in 2011 het bevind dat 61% van die “evangeliese leiers” verwag dat, net voordat die geprofeteerde eindtydse oordeel op die planeet Aarde uitgestort sal word, gelowiges in die lug opgeraap gaan word om saam met Jesus te wees. Meer as die helfte van die respondente, 52%, het gesê hulle verwag dat die gebeure binne hulle leeftyd sal plaasvind.

Waar kom hierdie idee vandaan? Is dit Bybels? Dit is sekerlik nie die Bybel wat hierdie teorie gewild gemaak het nie. Net soos die moderne idees oor die hel grootliks uit Dante se Inferno kom, so aanvaar baie mense deesdae die gewilde uitbeeldings van die wegraping in boeke soos die Left Behind-reeks deur die skrywer Tim LaHaye, as vanselfsprekend.

Die idee van die “wegraping” is nogtans omstrede onder diegene wat hulleself as “Bybel-gelowige” Christene beskou. Waarom? Aangesien dit nie uit die Skrif bewys kan word nie en dit nie eers aan die Protestantse wêreld bekend was voor tot onlangs nie. Trouens, dit is teenstrydig met ’n aantal duidelike Bybelse leerstellings aangaande Christus se wederkoms!

U het waarskynlik al voorstellings gesien van die Left Behind-scenario. Loodse van Christelike lugrederye word weggeraap terwyl hulle vliegtuie in die see stort. Groot snelweë verander in verskriklike ongeluksgebiede wanneer motors sonder bestuurders teen mekaar bots en beserings en sterftes veroorsaak! U het moontlik al bufferplakkers gesien wat lui: “In die geval van ’n wegraping sal hierdie motor sonder ’n bestuurder wees”! Vir diegene wat in hierdie wegrapingsteorie glo, sal die ongeredde persone nie net agtergelaat word nie, maar baie van hulle sal reguit hel toe gaan en in grusame omstandighede sterf in die afwesigheid van die “gereddes”.

Watter soort wrede en wispelturige God sal so iets doen?
In sy boek, Revelation Unveiled, probeer Tim LaHaye bewys dat die Bybel ’n “wegraping” verkondig. LaHaye begin sy “bewys” deur na Openbaring 4:1-2 te verwys. Hy is nogtans vinnig om te erken (bl. 100): “Die wegraping van die kerk word nie uitdruklik in Openbaring 4 verkondig nie”. Amen!

Kan ons dus in daardie Skrifgedeelte enige aanduiding van ’n “wegraping” vind? Nee! Lees dit vir uself: “Ná hierdie dinge het ek gesien – kyk, ’n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ’n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur. En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan ’n troon in die hemel en Een sit op die troon” (Openbaring 4:1-2).

Dit beskryf uitdruklik dat die apostel Johannes “in die gees” weggeneem is, waarskynlik deur ’n soort kragtige visie, na die troon van God in die derde hemel. LaHaye probeer op een of ander manier redeneer dat die apostel Johannes die Kerk voorstel, hoewel die Bybel nie eers naastenby sinspeel op enige sodanige verteenwoordiging nie! Inteendeel, die Bybel beeld die Kerk altyd uit as ’n vrou – die verloofde bruid van Christus (2 Korinthiërs 11:1-2; Efesiërs 5:22-24).

LaHaye voer nog ’n argument aan vir die wegrapingsteorie: “Die afwesigheid van enige vermelding van die Kerk in die res van Openbaring dui daarop dat dit nie meer op die aarde is tydens die Verdrukking nie. Daar is sestien verwysings na die Kerk in Openbaring 1-3, terwyl hoofstukke 6-18, wat betrekking het op die Verdrukking, nie een keer melding maak van die Kerk nie” (Revelation Unveiled, bl. 100). Dit is inderdaad ’n verregaande verklaring, aangesien die hele hoofstuk van Openbaring 12 praat van die Kerk en Openbaring 19:7-9 duidelik die Kerk se komende huwelik met Jesus Christus uiteensit, soos ons dit later sal bespreek.

LaHaye kom spoedig by die primêre Bybelse gedeelte waarop al die voorstanders van die twyfelagtige wegrapingsteorie staatmaak. Hy skryf: “Die apostel Paulus was die spesiale skrywer wat God uitgekies het om aan die Kerk die wonderlike besonderhede van die wegraping te openbaar, wanneer al die Christene, die dooies sowel as die lewendes, ‘weggevoer’ (of weggeraap) sal word na die hemel om saam met Christus te wees (1 Thessalonicense 4:16-17)” (bl. 101).

Watter “wonderlike besonderhede” word gegee in hierdie twee verse wat die wegrapingsteorie behoort te bewys? Kom ons bestudeer die hele konteks waarbinne hierdie gedeelte is: “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thessalonicense 4:13-18).

Wat Paulus werklik gesê het!

Die apostel Paulus is hier besig om die broeders in Thessaloníka te troos omdat hulle mede-Christene kort tevore “ontslaap” of gesterf het. Hy het vir hulle gesê God sal saam met Hom (Christus) “die wat in Jesus ontslaap het” bring. Hy sê daarna: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het sal eerste opstaan” (vers 16). Openbaring 8 en 9 beskryf natuurlik die “basuinplae” van God en die ongelooflike verwoesting wat dit oor die hele aarde sal aanrig. Dan sê Openbaring 11:15 aan ons: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.” Christus “sluip” dus nie in die geheim terug na die aarde om Sy heiliges “weg te raap” na die hemel toe nie. Inteendeel, Sy wederkoms geskied aan die einde van die verskriklikste, aardskuddende gebeure in die geskiedenis, gebeure wat deur almal gevoel en gesien sal word!

Weereens, sê die apostel Paulus wat betref Christus se wederkoms aan ons: “Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word” (1 Korinthiërs 15:51-52). Verstaan dus asseblief hierdie een sleutelfeit reg: God se heiliges, lewend of dood, sal nie opgewek of verander word tot ná die geklank van die kragtige “laaste basuin” nie. Hierdie basiese feit alleen wis die hele "wegrapingsteorie” heeltemal uit!

In Mattheüs 24:3-33 beskryf Jesus Christus duidelik die volgorde van die gebeure wat Sy wederkoms vooraf sal gaan. Lees asseblief daardie verse baie aandagtig! Eerstens, beskryf Jesus die valse profete wat sal opstaan en “baie mense mislei” (vers 5). Dan beskryf Hy die oorlog, hongersnood, pessiektes en aardbewings wat sal volg. Sê Jesus dan aan ons dat Sy heiliges al hierdie dinge sal ontvlug? Nee! Inteendeel, Jesus sê aan ons: “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word terwille van my Naam” (vers 9). Baie ware Christene sal gemartel word voor Christus se wederkoms, nie “weggeraap” word na die hemel toe nie!

Dan voorspel Jesus die Groot Verdrukking wat so verskriklik sal wees dat “geen vlees” gered sou word nie, tensy God ingryp (verse 21-22). Daarna sê vers 29 aan ons: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word.” Volgende verskyn die ongelooflike hemelse “tekens” en dan die glorieryke wederkoms van Jesus Christus met die “harde trompetgeluid” (vers 31) wanneer die opgewekte heiliges vir Christus, hulle Bruidegom, versamel sal word om by Hom aan te sluit, om dan saam neer te daal tot op die Olyfberg. “En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg” (Sagaria 14:3-4). Laastens is Sagaria geïnspireer om aan ons te sê: “En die Here sal Koning wees oor die hele aarde: in dié dag sal die Here een wees, en sy Naam een” (vers 9).

Deur onverskillig te aanvaar dat die apostel Johannes die Kerk verteenwoordig en deur versigtig die vanselfsprekende en konsekwente betekenis van die “laaste basuin” saam met ander mistastings te omseil, probeer LaHaye ’n platform bou waarvandaan hy die “wegrapingsteorie” kan lanseer. Sy benadering is egter heeltemal onbybels. Waar het hierdie verwarrende teorie dan ontstaan?

Oorsprong van die wegrapingsteorie

Feitlik al die geleerdes erken dat die wegrapingsteorie basies onbekend was en nie verkondig is nie, totdat ’n man, genaamd John Nelson Darby, sy opwagting gemaak het. Darby was die stigter van die Plymouth Brethren Church. Hy het ’n stelsel van Bybelse vertolking beskryf wat “dispensasionalisme” genoem word. Hierdie ongewone stelsel bespiegel dat God verskillende reëls vir verskillende groepe mense op verskillende tye in die menslike geskiedenis het. Darby het verkondig dat God ’n “wet” vir die Jode gehad het, maar “genade” vir die Kerk.

Later is Darby se idees verfyn en gewild gemaak deur C. I. Scofield, wat die Scofield Reference Bible uitgegee het. Uit hierdie bron is die Protestantse evangelie-gesindes betower deur hierdie leerstelling, selfs al is dit so blatant onskriftuurlik.

In ’n poging om ’n vroeë oorsprong vir die wegrapingsteorie te vind, maak LaHaye melding van ’n aantal twyfelagtige verwysings wat terug gaan na ’n tyd baie eeue voor Darby. LaHaye haal byvoorbeeld uit die geskrifte van ene Pseudo-Ephrem aan, hoewel hy erken dat dit moeilik is om te weet wie hierdie man regtig was of wanneer hy dit geskryf het. Hier is die aanhaling uit “Pseudo-Ephrem” wat in LaHaye se boek, Revelation Unveiled, gebruik word: “Waarom verwerp ons dus nie elke bekommernis van aardse optrede en berei ons voor vir die ontmoeting met die Here Christus, sodat Hy ons uit die verwarring, wat die hele wêreld oorweldig, kan trek nie? ... Al die heiliges en uitverkorenes van God word versamel vóór die verdrukking wat aan die kom is en word na die Here geneem, sodat hulle glad nie die verwarring wat die wêreld oorweldig, as gevolg van ons sondes, sal sien nie” (bl. 110).

Neem asseblief kennis dat hierdie beweerde antieke aanhaling geen Bybelse verwysing noem om hierdie idees te staaf nie en beslis nie die woord “wegraap” gebruik nie. Nog ’n vae en selfs ouer aanhaling wat LaHaye gebruik (bl. 111) kom so vroeg as 270 n.C. van Victorinus, ’n Rooms-Katolieke biskop. In ’n kommentaar oor Openbaring, bespreek Victorinus hoe God se mense gered kan word van die plae wat veroorsaak sal word deur die twee getuies in Openbaring 11. LaHaye sê: “In sy kommentaar oor Openbaring vergelyk hy die plae van daardie tyd met die plae van Levitikus en sê dan: ‘Hierdie sal in die laaste dae wees wanneer die kerk weggeneem sal word’. Dit is duidelik dat Biskop Victorinus van Petau ’n briljante Bybelse geleerde was wat gedurende die derde eeu geleef het en hy het besef dat die kerk sal ontvlug voor die plae tydens die tyd van God se toorn wat hy, volgens sy kommentaar oor Openbaring 11, aangeneem het sewe jaar sal duur. ‘(Hulle) sal weggeneem word’ was sy manier om die wegraping van die Kerk te beskryf”.

Wat sê hierdie aanhaling van ’n antieke skrywer vir ons van die wegrapingsteorie?
Niks nie.

Hierdie aanhaling sê absoluut niks van ’n “wegraping” nie. Dit aanvaar slegs dat God se mense op een of ander manier sou ontvlug uit hierdie gevaarlike situasie. Deur te aanvaar dat hierdie antieke skrywer verwys het na die wegraping, lê LaHaye woorde in die mond van Biskop Victorinus!

Is daar vir God se mense ’n manier om tog uit die komende Groot Verdrukking te ontsnap? Wat sê die Bybel self hieroor?

’n Plek van veiligheid

Die Bybel leer duidelik aan ons dat God ’n plek van veiligheid sal voorsien, “... ’n plek wat deur God gereed gemaak is” (Openbaring 12:6), vir sy mense gedurende die komende Groot Verdrukking. Dit sal egter nie ’n geheime “wegraping” behels nie en die getroue heiliges van God sal nie na die hemel opvaar nie. Inteendeel, God sal hulle bonatuurlik beskerm op ’n plek hier op hierdie aarde.

Nadat Jesus die traumatiese gebeure beskryf wat sal plaasvind net voor die Groot Verdrukking, sê Hy aan Sy volgelinge: “En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie. Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Mattheüs 24:20-21). Jesus het nooit gepraat van ’n wegraping nie, maar eerder van die “vlug” van Sy mense. Let daarop dat ons moet bid dat hierdie vlug na veiligheid nie op God se Sabbat sal plaasvind nie, want die toekomstige vlug sal heelwat fisiese inspanning sowel as spanning vereis, net soos antieke Israel se vlug uit Egipte. Indien ’n bonatuurlike “wegraping” betrokke sou wees, sou daar geen rede tot kommer oor die Sabbat of oor die gevaar van reis gedurende die winter wees nie. Dit behoort baie duidelik te wees.

Later het Christus die apostel Johannes geïnspireer om in besonderhede te skryf oor die ware Kerk wat na ’n plek van veiligheid hier op aarde geneem sal word. Bestudeer asseblief Openbaring 12 noukeurig sodat niemand u kan verwar aangaande hierdie saak nie! In Openbaring 12 openbaar Jesus ’n visie aan Johannes van ’n “vrou”, Israel, wat die Messias voortbring (verse 1-2). Dan verskyn die Satan soos ’n draak, gereed “sodat hy haar kind sou verslind sodra sy gebaar het” (vers 4). Christus, die “manlike kind wat al die nasies met ’n ystersepter sou regeer” (vers 5) word dan in hierdie kragtige visie weggeruk na God se troon.

Vervolgens (vers 6) moes die “vrou”, nou duidelik die Nuwe-Testamentiese Kerk van God, vlug “na die woestyn ... waar sy ’n plek het wat deur God gereed gemaak is”. U kan dit maklik aan uself bewys, omdat daar nooit na die hemel as ’n “woestyn” verwys word nie! Hierdie gedeelte van die Skrif beskryf eerder die vlug van God se ware Kerk uit die sentrale gebiede van die Romeinse Ryk en van die vervolging deur die groot vals kerk, “na die woestyn”-gebied van die Italiaanse en Switserse Alpe, van 554 n.C. tot 1814 n.C! Indien ons die “dag vir ’n jaar”-begrip van die Bybelse profesieë toepas (sien Esegiël 4:6 en Numeri 14:34), sou dit ’n tydperk van 1,260 jaar behels, wat strek van die begin van die regering van die Romeinse Keiser Justinianus in 554 n.C. tot die afsetting van die laaste Heilige Romeinse Keiser, Napoleon, in 1814. Dit was gedurende hierdie 1,260-jaar periode dat die ware Bybel-gelowige Christene in die grootste fisiese gevaar van hierdie verfoeilike stelsel wat deur God “Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde”, genoem word, verkeer het (Openbaring 17:5).

Die Groot Verdrukking begin

Daar sal teen die heel einde ’n geestelike oorlog tussen Satan en sy demone en die engele van God uitbreek. Hierdie verskriklike geestelike oorlog sal waarskynlik binne die volgende paar jaar plaasvind! Satan sal verslaan en “neergewerp [word] op die aarde ... want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:9-12). Skielik en onverklaarbaar, sal ’n bose gees op die gebied van die diermoondheid in Europa en op die leiers van die valse kerk neerdaal. Hulle sal dadelik in alle erns begin beplan vir die vernietiging van die Verenigde State van Amerika, Kanada en Brittanje! Hulle sal vinnig begin toeslaan op enigiemand wat dit sou waag om die suiwer waarheid van die Bybel te verkondig. So sal die begin van die Groot Verdrukking wees.

Op hierdie tydstip, skryf Johannes, sal Satan “die vrou vervolg”, nou duidelik die getroue Nuwe-Testamentiese Kerk van God (verse 13-16). Soos in die tipiese vervulling wat in vers 6 beskryf word, sal die kerk weer deur God gelei word om na ’n plek van veiligheid hier op aarde te vlug. “En die aarde het die vrou te hulp gekom ... en die rivier opgesluk, wat die draak [Satan, vers 9] uit sy bek uitgegooi het” (vers 16).

Omdat die waarlik ywerige Christene na ’n plek van veiligheid geneem sal word waar hy hulle nie meer kan bereik nie, word Satan “vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou” (vers 17). Daardie swak, louwarm Christene wat “agtergelaat” word, sal op hierdie punt verskriklik vervolg word deur Satan die duiwel en sy trawante.

Sommige predikante probeer vers 17 van toepassing maak op die Joodse volk. Hierdie hele hoofstuk handel egter baie duidelik oor die “Israel van God” (Galasiërs 6:16) – aanvanklik die antieke Israel (Openbaring 12:1-4) en daarna die getroue Nuwe-Testamentiese Kerk van God – wie gedurende die Middeleeue deur God gelei is om tydens baie vervolging, met inbegrip van die Inkwisisie, uit die Heilige Romeinse Ryk te vlug (vers 6). Geliefd soos hulle is, besit die Jode nie die “getuienis” van Jesus Christus nie (vers 17) en volg hulle dit ook nie na nie. Dus is hierdie laaste “vlug” na veiligheid beslis van toepassing op God se ware Kerk!

Teen die einde van Sy bediening het Jesus Christus hierdie belangrike opdrag aan Sy mense gegee: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36). Baie min belydende Christene gehoorsaam hierdie gebod van die Seun van God! Die meeste mense woon kerke by waar Bybelse profesieë selde bespreek word en beslis nie verstaan word nie. Hulle weet nie waarvoor om te “waak” nie en stel ook nie belang om dit te doen nie. Om die waarheid te sê, die meeste hedendaagse kerkgangers weet nie hoe om te bid nie. Hulle is beslis nie besig om “dag en nag tot Hom [te] roep” soos Jesus gesê het “sy uitverkorenes” sal doen nie (Lukas 18:7). Die meeste van God se eie mense sal egter in hierdie finale Laodicéa-era van die Kerk, beïnvloed word om “lou” te wees. Die lewende Jesus Christus spreek hierdie gesindheid kragtig aan: “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm. Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug” (Openbaring 3:15-16). Blykbaar sal lou, belydende Christene midde in die Groot Verdrukking gewerp word (verse 17-19)! Hulle is nie bereid om hulle liggame as ’n lewende offer te stel (Romeine 12:1) en hulle ten volle te onderwerp aan Jesus Christus en Sy gehoorsame lewe in hulle te laat leef nie. Wanneer die Groot Verdrukking dus begin, sal God hulle nie beskerm nie en hulle sal uiteindelik gedwing word om te kies tussen totale onderwerping aan God of die ewige dood in die poel van vuur.

Beskerming vir die getroues

God sal egter Sy getrouste dienaars beskerm! Hy sal dit bonatuurlik doen op ’n plek hier op aarde. Presies wie sal beskerm word? God beskryf die lewenspad van Sy getrouste mense: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar” (Openbaring 14:12). Net soos Sy ware Kerk in Openbaring 12:17 beskryf word as ’n Kerk wat die gebooie gehoorsaam, so gehoorsaam God se individuele heiliges die Tien Gebooie as ’n lewenswyse. Hulle swig nie voor die verleidende boodskap van so baie predikante, dat daar met God se geestelike wet “weggedoen” is of dat dit “aan die kruis gespyker is” nie. Die Bybel is baie duidelik hieroor!

Indien u dus die Goddelike beskerming van die Almagtige God wil geniet in die traumatiese maande en jare wat voorlê, wees verseker dat dit nie gevestig is in ’n skielike “wegraping” na die hemel wat enige oomblik kan plaasvind nie. Inteendeel, soos die Skrif dit baie duidelik maak, ons Skepper sal Sy getrouste mense lei om te weet wanneer en waarheen om te vlug net voor die Groot Verdrukking begin. Hulle sal bonatuurlik hier op aarde beskerm word op ’n plek van God se keuse. Na die Groot Verdrukking sal die “laaste basuin” weerklink “en die dooies sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word” (1 Korinthiërs 15:52; vergelyk ook 1 Thessalonicense 4:13-17).

Daar sal geen “geheime wegraping” van die heiliges wees nie. Die kragtige trompetgeskal van God sal die aarde skud voordat die heiliges van God opgewek word! Mag God u en u geliefdes help om te verstaan en om gewillig te wees om u aan die lewende Jesus Christus te onderwerp sodat Hy Sy gehoorsame lewe in u kan leef deur die kragtige werking van die Heilige Gees. Die apostel Paulus is geïnspireer om aan ons te sê: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20).

Mag u deur Christus in u, waarlik leer om met God te wandel en die ware beskerming te hê wat die Almagtige God so duidelik aan Sy ware heiliges beloof.