Dit is verstommend om te besef hoe versigtig die meeste mense is wanneer hulle ’n huis koop, in teenstelling met die besluit aan watter kerk hulle wil behoort. Die huis mag net vir ’n aantal jare aan hulle behoefte voorsien. Om egter betrokke te wees met die ware godsdiens van God het egter te doen met waar hulle alle ewigheid gaan deurbring.

Waar het u dus aan u godsdiens gekom? Hoe het dit gekom dat u die dinge glo wat u glo? Het u u godsdienstige oortuigings uit die Bybel gekry? Of het u u godsdienstige oortuigings van familie en vriende verkry?

Om eerlik te wees, die meeste van u het nie u godsdiens uit die Bybel gekry nie. Dit mag seer maak om dit te erken. Dit kan egter maklik bewys word in die oorgrote meerderheid van gevalle.

Dit is vir die meeste mense baie moeilik om te erken dat hulle verkeerd was. Menslike trots wil dit net nie doen nie. Volgens die geïnspireerde Woord van God is dit egter die beginpunt van ware Christelikheid. Toe Jesus Christus met Sy bediening begin het, het Hy oor en oor aan Sy aanhoorders gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mattheüs 4:17). Die Evangelie van Markus sê ook aan ons: “En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondigen gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15). Jesus sê ook weer later: “Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom” (Lukas 13:5).

Die woord “bekeer” beteken om te verander. Die meeste mense is nogtans nie gewillig om te erken dat hulle verkeerd was nie en hulle wil verseker nie verander nie! Is ons soos die man wat Sir Winston Churchill beskryf het wat “toevallig oor die waarheid gestruikel het, maar haastig opgestaan en voort gehaas het asof niks gebeur het nie”?

Indien u ewige lewe egter daarvan afhang, sal u baie wys wees om dit te oorweeg of u – hoe opreg ook al – in die verkeerde godsdiens groot geword het!

Kla ek “Christelikheid” aan as die “verkeerde godsdiens”? Natuurlik nie! Ek wil u egter van die feit bewus maak dat daar beide vals Christelikheid asook ware Christelikheid is. Baie mense besef dit nie. Die Bybel self maak dit egter baie duidelik dat die valse vorm van Christelikheid sal oorheers tot Christus se Wederkoms. Die geliefde apostel Johannes beskryf hierdie einste tyd waarin ons leef: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9). Satan die Duiwel het ’n valse Christelikheid aan hierdie misleide wêreld afgesmeer!

Die hoog geagte hedendaagse filosoof, Soren Kierkegaard, in sy Attack Upon Christendom, skryf: “Die Christelikheid van die Nuwe Testament bestaan eenvoudig nie. Miljoene mense het deur die eeue heen God stukkie vir stukkie uit Christelikheid gekul, en het daarin geslaag om Christelikheid presies die teenoorgestelde te maak van wat dit in die Nuwe Testament is”.

Dit is dus nodig dat elkeen van ons werklik, deur die Bybel te bestudeer, bewys wat ons glo. Dit is nodig dat ons uit die Bybel drink wat dit sê, eerder as om ons vooraf- gevormde idees in die Bybel in te lees.

Dink vir ’n oomblik. Waarom is die belydende Christendom verdeel in honderde denominasies en sektes wat met mekaar meeding? Hoekom het kerke wat hulself Christelik noem so baie verskillende oortuigings en gebruike? Is dit moontlik dat God die outeur van wanorde is? Of is daar ’n ander verduideliking?

Bedink die waarskuwing wat Christus Self gee: “Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Mattheüs 24:5). Jesus sê nie hier dat maar net ’n paar in Sy naam sal kom nie, maar eerder dat “baie sal onder my Naam kom”! Hulle kom as “Christen” predikers, wat Jesus as die Christus verkondig – maar mislei nogtans baie mense! Met ander woorde, daar sou ’n massale misleiding wees gebaseer op vals leringe van die baie wat sal verkondig dat hulle “in Jesus se naam” kom.

Dit is regtig maklik vir godsdiensleraars om hul die naam van die Seun van God toe te eien as ’n dekmantel vir hulle persoonlike leerstellings, of dit wat hulle sê enigsins verband hou met die ware Jesus se lewe of Sy leringe of nie! Dit is hoekom die apostel Paulus aan ons sê: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21). Elkeen van ons is verantwoordelik om “seker te maak” van die leerstellings wat ons geleer word – uit watter bron ookal. Moet nie agterlosige aannames maak nie! Maak seker dat u weet wat die Bybel werklik sê!

Paulus maan verder: “Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ’n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Korinthiërs 11:4). Met ander woorde Paulus was bevrees dat sommige van die Kerklidmate in sy tyd die prooi sou word van “vals” predikers en ’n valse evangelie aangaande ’n valse Christus sou aanneem!

Wat van u? Is dit moontlik dat u ’n “ander Jesus” aanvaar het? Mag u dalk mislei wees om in ’n valse voorstelling van Christus te glo – saam met ’n valse boodskap wat veronderstel is om van die ware Jesus te kom? Hoe kan ons weet wat waar is en wat nie?

Weereens, dit is nodig dat ons werklik die Bybel bestudeer om ware insig te verkry. Dit is nodig dat ons gewillig moet wees om met ’n oop gemoed te oorweeg of ons die “oorlewering van mense” gevolg het eerder as die gebooie van God (Mattheüs 15:3).

Namate ons die Bybel bestudeer is dit nodig dat ons leer om die Bybel die Bybel te laat verklaar. Met ander woorde, indien iets nie duidelik is nie, dan moet ons die eenvoudige, duidelike verse toelaat om ons te help om dít wat nie so duidelik is nie, te verstaan. Dit is ook nodig dat ons leer om die Bybel regdeur te bestudeer net soos enige ander boek. Baie mense spring eenvoudig hier en daar rond en lees sentimentele verse van bemoediging. Terwyl dit soms help, gee dit nie ware insig in die hele plan en doel van God, soos wat Hy dit openbaar in Sy handleiding vir die mensdom – die Heilige Bybel – nie.

Begin deur die Evangelie van Mattheüs te bestudeer – die eerste boek van die Nuwe Testament. Lees stadig regdeur Mattheüs en merk die verse wat u voel belangrik is. Dan, hersien die volgende dag hierdie verse wat u bestudeer het, en lees stadig – mediteer en merk – ’n verdere paar hoofstukke. Op hierdie manier sal u bekend raak met wat die Bybel in werklikheid sê – nie wat misleide mense u mag vertel wat dit sê nie!

Vra God in innige en persoonlike gebed vir insig. Wees gewillig om die Christelikheid van Christus te volg, ongeag wat ook al. Onthou altyd die apostel Paulus se besielde stelling: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20).

Deur die beloofde Heilige Gees, sal Christus dieselfde soort lewe in u leef as wat Hy meer as 1 900 jaar gelede in die menslike vlees geleef het? Hebreërs 13:8 sê aan ons: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid”. Het Christus die Tien Gebooie onderhou terwyl Hy in die menslike vlees was? Johannes 15:10 sê aan ons, “... soos Ek die gebooie van my Vader bewaar ...”.

Indien u hulp nodig het om die Bybel te bestudeer, skryf of skakel dadelik om in te skryf vir die Wêreld van Môre se Bybelstudiekursus. Hierdie deeglike kursus sal u nie lei deur ’n klomp sentiment nie. Dit sal u eerder help om werklik die groot plan van ons Skepper vir die hele mensdom te verstaan. Dit sal u help om uit u eie Bybel te bewys wat u moet doen om u aandeel in God se plan te vervul. Indien u wil inskryf, skakel of skryf aan ons by die streekskantoor naaste aan u soos gelys op bladsy 2 van hierdie uitgawe, of besoek ons webtuiste by: www.twbiblecourse.org vir die Engelse weergawe daarvan.

Namate die einde van hierdie tydvak nader kom, mag God u help om werklik Sy geïnspireerde Woord te bestudeer en uit die Bybel te bewys wat u glo. Dan sal u op ’n vaste grondslag wees. Dan sal u werklik God begin ken – en Jesus Christus wat uit die dood opgewek is, wat sit aan God se regterhand – op ’n manier wat u nog nooit voorheen ondervind het nie.