Is u mislei
Aan bykans alle belydende Christene is die idee opgedis dat hulle met hul afsterwe reguit hemel toe gaan met absoluut niks om te doen nie – hulle hoef net vir alle ewigheid “in die hemel rond te sweef”.

Hierdie “newelagtige” begrippe laat Christenskap vir baie denkende mense dikwels kinderagtig, onprakties en onwerklik voorkom en die vae idees oor wat in die toekoms met Christene gaan gebeur, inspireer beslis nie eens die meeste kerkgangers om waarlik geesdriftig oor God te wees nie.

Hierdie idees is egter totaal verkeerd!
Onthou asseblief dat die enigste betroubare bron met inligting oor Christene se toekoms, die Heilige Bybel is. God het die Bybel geïnspireer en die profesieë in die Bybel werk beslis uit, selfs vandag! Idees oor “hemel toe sweef” word glad nie in u Bybel onderrig nie! Daardie idees gee ’n vals prentjie van wat Jesus Christus gepreek het en ’n vals prentjie van die ware Christen se “roeping” – en van die ganse doel van Christenskap! Jesus het gekom en die “Evangelie van die Koninkryk van God” verkondig (Markus 1:14). Die evangelie volgens Mattheus noem dit die “Koninkryk van die hemel” – nie die Koninkryk “in” die hemel nie. Die woordjie  “van” dui op wie dit besit of beheer. Die hemel is die plek van God se troon, waarvandaan Hy Sy Koninkryk regeer!

Al die vroeëre Christene het dit baie duidelik verstaan – soos ons aflei uit talle stellings in die evangelies wat handel oor voorbereiding vir die toekomstige Koninkryk van God. Ons sien dit ook in die boek Handelinge en die geskrifte van die apostel Paulus. Hoewel, soos baie geleerdes erken, baie van die eerste Christene verwag het dat Jesus die Romeinse besetters sou uitskop en Sy “Koninkryk,” of regering, daar en dan sou instel, het Jesus getoon dat dit nie op daardie tydstip gedoen sou word nie. Tog het Hy nooitgesê dat Sy Koninkryk nie ’n letterlike Koninkryk, of regering, hier op hierdie aarde sou wees nie.

Let op wat Christus aan Sy dissipels sê net nadat Hy uit die dode opgewek is. Die dissipels vra Hom: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” (Handelinge 1:6). Dit sou die volmaakte geleentheid vir Jesus gewees het om enige idee dat Sy Koninkryk ’n werklike regering is wat hier op aarde ingestel sou word, die nek in te slaan.

Het Hy dit gedoen? 
Nee! Jesus sê eerder: “Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie” (Handelinge 1:7). Dit bevestig beslis die korrekte begrip dat Jesus weer sal kom om ’n wêreldwye regering hier op aarde te kom vestig. Dan, terwyl Jesus na die hemel opvaar, praat ’n engel met die dissipels en sê: “Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het” (vers 11).

In die Evangelie volgens Lukas beskryf Jesus baie van die laaste tekens wat aan die einde van hierdie tyd sal plaasvind, net voor Sy Wederkoms. Nadat Hy ’n aantal verskriklike gebeure beskryf het, sê Jesus: “So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur” (Lukas 21:31). Jesus het nie gesê dat die Koninkryk “reeds” gekom het nie, of dat dit in hul “harte” gevestig was nie – maar eerder dat dit ’n Koninkryk was wat na hierdie aarde sóú “kom”.

Tallose eerlike Bybelgeleerdes weet dit, maar dit word baie selde verkondig! In plaas daarvan word daar gewoonlik oor sentimentele idees  oor “hemel toe sweef”  by die dood van ’n kerklidmaat gepreek, terwyl geen melding gemaak word daarvan dat Christus ’n letterlike regering op hierdie aarde gaan vestig nie!

Edward Gibbon, hoogaangeskrewe sekulêre historikus, beskryf die oortuigings van die vroeëre Christene: “Die antieke en gewilde leerstelling van die Millennium was nou verbind met die Wederkoms van Christus. Soos die werke van die skepping in ses dae voltooi is, sou hul duur in hul huidige staat, volgens ’n tradisie wat aan die profeet Elia toegeskryf is, op ses duisend jaar vasgestel wees. Met dieselfde vergelyking is dan afgelei dat hierdie lang tydperk van arbeid en twis, wat nou bykans verstreke is, gevolg sou word deur ’n vreugdevolle Sabbat van eenduisend jaar; en dat Christus, met die triomfantlike groep heiliges en uitverkorenes wat die dood vrygespring het, of wonderbaarlik opgewek is, op die aarde sou regeer tot die tyd wat vasgestel is vir die laaste en algemene opstanding” (The Decline and Fall of the Roman Empire, Vol. 1, bl. 403).

Hoe sal Christus se Koninkryk daar uitsien?

Wanneer die toekomstige Koninkryk van God gevestig is – direk onder Jesus Christus, die Seun van God, se beheer – hoe sal werksaamhede in daardie Koninkryk daar uitsien? Wat sal getroue Christene doen nadat hulle uit die dood opgewek is? (1 Korintiërs 15:51-52)? Hoe sal die Koninkryk georganiseer word? Hoe sal die opgewekte heiliges met die onbekeerde mense wat nog hier op aarde oor is, skakel?

Regdeur die Bybel vind ons talle beskrywings van Christus se toekomstige regering. Dit sal in hiërargiese vorm gerangskik word, regering van bo na onder met Jesus Christus as Koning van konings (Openbaring 19:16). Ons lees: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).
Die heiliges sal op daardie tyd ’n geïnspireerde “nuwe lied” sing, wanneer hulle aan Christus vertel: “U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:9-10). Dus, Christus se koninkryk sal beslis nie in die hemel gevestig word nie, maar op hierdie aarde. Soos Gibbon verduidelik, was dit ook wat die vroeëre Christelike kerk – gelei deur God se Gees – geglo en onderrig het. Dit is nie die een of ander nuwe idee nie. Hierdie waarheid is eerder stadigaan “uitgewerk” namate die vroeëre Rooms-Katolieke Kerk geleidelik verskeie nie-Christelike begrippe oor hemel, hel en die aard van die siel, aangeneem het. Soos Gibbon verduidelik: “Maar toe die opbouing van die kerk bykans voltooi was, is die tydelike ondersteuning ter syde gestel. Die leerstelling van Christus se regering op aarde is eers as diepliggende versinnebeelding beskou, dit is later geleidelik as twyfelagtige en nuttelose sienings afgemaak en uiteindelik verwerp as die absurde versinsels van kettery en fanatisisme” (Vol. 1, bl. 404).

Toe die apostel Paulus aan die Christene in Korinthe geskryf het, beskryf hy duidelik die beloning van die ware heiliges: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeelnie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (1 Korintiërs 6:2-3). So sien ons dus dat die heiliges “die wêreld” sal oordeel – nie in die hemel sal rondsit met niks om te doen nie!

Jesus se dissipels het “gedink ... dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn” (Lukas 19:11). Om hulle wanbegrip reg te stel, het Hy die gelykenis van die edelman wat na ’n ver land moes reis, gegee. Jesus beskryf in hierdie gelykenis hoe sommige van Sy dissipels belonings sal ontvang indien hulle hul vermoëns of hul geld wys aangewend het. Toe een kom en sê: “Meneer, u pond het tien ponde wins gemaak,” sê Jesus vir hom: ‘Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede.’ En die tweede kom en sê: ‘Meneer, u pond het vyf ponde verdien.’ En hy sê ook vir hierdie een: ‘En jy moet wees oor vyf stede’” (vers 16-19). Party hedendaagse teoloë probeer natuurlik om hierdie voorbeelde weg te “vergeestelik”, maar keer op keer – van Genesis tot Openbaring – maak die Skrif dit duidelik dat God ’n letterlike koninkryk hier op hierdie aarde sal vestig onder Jesus Christus, die Koning van konings!

Direk onder Jesus Christus, sal koning Dawid – wat saam met al die ander heiliges van God uit die dood opgewek sal word – oor al twaalf nasies van die afstammelinge van Israel regeer! Ter beskrywing van hoe Israel uit sy finale ballingskap sal terugkeer na Jesus se wederkoms, skryf Jeremia: “En op dié dag, spreek die Here van die leërskare, sal Ek sy juk verbreek van jou nek af en jou stroppe stukkend ruk; en vreemdes sal hom nie meer diensbaar maak nie. Maar hulle sal die Here hulle God dien en hulle koningDawid wat Ek vir hulle sal verwek” (Jeremia 30:8-9).

Let ook daarop dat ons Skepper Hosea geïnspireer het om hierdie selfde basiese waarheid oor die organisasie van Christus se toekomstige regering te beskryf: “Daarna sal die kinders van Israel hulle bekeer en die Here hulle God soek en Dawid hulle koning, en met siddering aankom na die Here en na sy goedheid in die laaste van die dae” (Hosea 3:5).

’n Georganiseerde regering

God het Esegiël ook geïnspireer om dieselfde punt te benadruk toe hy die “laaste dae” beskryf het, wanneer al die stamme van Israel weer in een nasie verenig sal wees: “En my kneg Dawid sal koning oor hulle wees, en hulle sal almal een herder hê; en hulle sal in my verordeninge wandel en my insettinge onderhou en daarna handel” (Esegiël 37:24).

Sal Dawid al twaalf die stamme – of nasies – wat van Jakob afstam, regstreeks regeer? Nee. Daar sal ’n hele struktuur op ordelike wyse in plek geplaas wees, wat beheer sal word deur leiers wat gekies sal word deur aanstelling, eerder as deur stemmery of politiekery. Soos Jesus ná aan die einde van Sy menslike lewe aan Sy getroue apostels gesê het: “En Ek beskik vir julle ’n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Lukas 22:29-30).

Dus sal die regering in die Wêreld van Môre gelei word deur Christus as Koning van konings. Onder hom sal koning Dawid oor die hele Israel regeer. Onder Dawid sal die herrese twaalf apostels elk oor een van die stamme, of nasies, van Israel regeer.

Die ware “heiliges” van God – ware Christene wat geglo het wat die Bybel werklik sê en daaraan gehoorsaam was – sal die geleentheid gegun word om oor die individuele stede van hierdie wêreld binne hierdie raamwerk te regeer. En, aangesien die Bybelse patroon is; eerste aan die Jood, dan aan die nie-Jood, kan ons verseker wees datdieselfde soort struktuur oor die Heidense nasies van die wêreld ingestel sal word – ’n letterlike regering gelei deur Jesus Christus, die “Vredevors”, wat uiteindelik warevrede en vreugde na die ganse wêreld sal bring. Elkeen van ons, indien ons getroue Christene is, sal deel mag hê om daardie vrede en vreugde na al die lydende nasies van hierdie wêreld in die Wêreld van Môre, te bring!

Dit is die ontsaglike Goeie Nuus! Dit is die ware Evangelie wat in u Bybel beskryf word. Dit is die rede vir Jesus se gestorte bloed, wat vir ons sondes geoffer is om vir ons versoening met God te bring. Ware Christene wat met God versoen is en die kosbare geskenk van die Heilige Gees ontvang het, berei hul nou voor om hul Verlosser by te staan om die hele wêreld te regeer. Tydens Christus se duisendjarige heerskappy, sal die aarde uit Satan se heerskappy gered word en sal daar ’n luisterryke tyd van vrede, voorspoed en vreugde wees. God se ware Weg van lewe, sal op die aarde herstel word. Die Skrif verduidelik dat God weer “Hom mag stuur wat vooraf aan julle verkondig is, naamlik Jesus Christus, Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete” (Handelinge 3:20-21).

Ons kan dus nou verstaan dat al Sy heilige profete hierdie Goeie Nuus van die “tye van die wederoprigting van alle dinge” – Christus se toekomstige Koninkryk – verkondig het. Die Ou Testament is inderdaad gevul met beskrywings van die Messias se toekomstige regering oor die ganse wêreld!

Wat sal die heiliges in die opstanding doen?

Ons het reeds gesien dat die herrese heiliges in die toekomstige Koninkryk van God op hierdie aarde die “konings en priesters” sal wees (Openbaring 5:10). Ons lees ook dat Satan aan die begin van die Millennium, “gebind” moet word, vir ’n “duisend jaar lank,” “sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie” (Openbaring 20:2-3). Dan word ons daaraan herinner dat diegene in die eerste opstanding “priesters van God en van Christus [sal] wees en ... saam met Hom as konings [sal] regeer duisend jaar lank” (vers 6).

Die een skrifdeel na die ander in die Bybel, herinner ons daaraan dat die priesters in antieke Israel die leermeesters was. Hulle was diegene wat die mense van God se Weten Sy weë geleer het. Die Christene wat “priesters” van God sal wees in die Wêreld van Môre, sal dan vanselfsprekend aan die mense van die ganse aarde die regtelewenswyse leer. Sodra Satan “gebind” is, sal die blindheid wat oor hierdie hele aarde gekom het, weggeneem word. Mense sal dan die Waarheid verstaan en baie meer leergierig word. Gevolglik sal ons taak oneindig makliker wees as wat dit tans is, terwyl Satan nog die “god van hierdie wêreld” is (2 Korintiërs 4:4).

In baie skrifgedeeltes in die Bybel, sê God aan ons dat in die “laaste dae” – in die Wêreld van Môre –  Christus en Sy heiliges aan die hele wêreld die Wet van die Almagtige God sal leer: “... dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (Miga 4:2). Ook: “... nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (vers 3). Ja, jong manne en vroue sal nie meer “geleer” word om in oorloë te veg nie.

Hierdie wêreld bestee reuse bedrae van sy fondse om te veg en dood te maak, onder Satan. Dit is nie moeilik om mens in te dink hoe asemrowende stede, nasionale parke en pragtige omgewings regoor die wêreld sal floreer wanneer die ganse rykdom van die nasies eers aangewend sal word vir vreedsame doeleindes nie! Ook, in sterk teenstelling met die wêreld van vandag – waar soveel mense absoluut geen persoonlike eiendom of rykdom het nie – toon die Skrif aan ons dat mense in die Wêreld van Môre hul eie eiendom sal besit: “Hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik” (vers 4).

Die profeet Jesaja vertel ons van die “berg” (of Koninkryk) van God wat “aan die einde van die dae” vas sal staan sodat God “ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (Jesaja 2:1-3). Wat is hierdie “Wet”? Is dit net die “verkeerswet” en administratiewe sake? Natuurlik nieAlmal  wat hierdie verse oorspronklik gelees het, het duidelik verstaan dat dit verwys het na God se geestelike Wet – die Tien Gebooie! Ja, ’n ganselewenswyse gegrond op die Tien Gebooie sal die “weg” wees wat almal sal leer leef gedurende Christus se toekomstige regering oor hierdie aarde!

Hoewel baie hedendaagse teoloë slim argumente bied in hul pogings om te probeer bewys dat daar met God se Wet “weggedoen” is, sal daardie groot geestelike Wet in werklikheid oor net ’n paar jaar die einste grondslag wees van die hele wêreld se samelewing! Terloops, indien u meer te wete wil kom oor hoe om daardie wonderlike Wet te verstaan en toe te pas, kontak asseblief die streekkantoor naaste aan u (gelys op bladsy twee van hierdie tydskrif) en skryf of skakel vir u gratis eksemplaar van ons insiggewende boekie, Die Tien Gebooie.

Hoe sal die lewe wees in ’n wêreld waar almal God se Wet ken en dit uitleef? Christus se toekomstige heerskappy sal ’n tyd van soveel vrede wees dat selfs die wilde natuur van diere verander sal word (Jesaja 11:6-8). Dan sal hulle “geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (vers 9).

Die Bybel verduidelik meer van die leiding wat ’n gebroke mensdom sal ontvang nadat die volke uit die verskriklike ballingskap en die folterende lyding van die Groot Verdrukking en die Dag van die Here weer byeen gebring is: “Jou leraars sal hulle nie langer verberg nie – maar jou oë sal jou leraars sien; en jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (Jesaja 30:20-21). Gelei deur God se Wet, sal hierdie ’n tyd van vrede en vreugde wees: “Dáár sal geen leeu wees nie, en geen verskeurende dier sal daarop kom of daar aangetref word nie; maar die verlostes sal daarop wandel; en die losgekooptes van die Here sal teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg” (Jesaja 35:9-10).

Die heiliges sal leermeesters word

Tydens daardie tyd sal die herrese “heiliges” die mense van hierdie aarde in God se hele lewenswyse, gegrond op die Tien Gebooie, onderrig. Dit sal ’n wêreld van vrede enewigdurende vreugde meebring. Omdat Christus die “eerste van die eerstelinge” is, behoort ons na Sy voorbeeld te kyk om te sien hoe herrese Christene sal lyk en met die mense van die Millennium sal omgaan. Jesus Christus bestaan nou in onuitspreeklike glorie. Johannes het Hom in ’n visioen in daardie glorie gesien: “Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ’n vuurvlam, en sy voete soos blink koper wat gloei soos in ’n oond, en sy stem soos die stem van baie waters” (Openbaring 1:14-15).

Die apostel Johannes skryf ook: “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is” (1 Johannes 3:2). Ja, ons sal letterlik “soos” Jesus Christus “lyk”! Ons sal in die toekomstige opstanding as volwaardigekinders van God “verheerlik” word – volwaardige broers en susters van Jesus Christus! Want die Bybel verduidelik heel duidelik dat Christus die “eersgeborene ... [sal] wees onder baie broeders” (Romeine 8:29).

Presies hoe het Christus Self die mense onderrig nadat Hy verheerlik was? Na Sy opstanding, het Jesus verskeie kere aan die Apostels en andere verskyn. Tog het hulle Hom nie altyd dadelik herken nie – Hy het effens anders gelyk as wat Hy gedurende Sy menslike leeftyd gelyk het. Nogtans het die herrese Christus amper altyd aan andere verskyn as ’n mens en met die mense op so ’n wyse omgegaan dat hulle kon verstaan wat Hy sê en nie bevrees sou wees nie. Dink aan die vertelling van Maria Magdalena, wat eers nie geweet het dit is die herrese Christus wat sy gesien het nie. ’n Paar minute later, toe Hy in ’n normale stem gepraat en geopenbaar het wie Hy was, het sy dadelik probeer om Hom te omhels, maar Jesus waarsku haar: “Raak My nie aan nie” (Johannes 20:14-17).

Later verskyn Jesus aan Sy dissipels in die gebou waar hulle vergader het en sê: “Vrede vir julle!” Toe beveel Hy vir Thomas: “Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig” (vers 26-27).

Dit is dus duidelik dat almal wat waarlik “oorwin” en in die opstanding heiliges van God sal word, in staat sal wees om die mense op die aarde te onderrig op ’n persoonlike wyse, net soos Jesus Sy dissipels onderrig het. Herrese Christene, wat Jesus in die Millennium dien, sal beslis soms met groot mag kan verskyn en soms, hoewel onsigbaar, met mense kan praat soos genoem in Jesaja 30. Tog sal hulle ook dikwels in menslike vorm verskyn, net soos Jesus toe Hy die Apostels by die see van Galilea gaan sien en later selfs saam met hulle ontbyt genuttig het (Johannes 21:12-15).

Dit ly geen twyfel dat daar geleenthede sal wees waar sterflike mense verootmoedig of verskrik sal wees deur ontmoetings met die herrese heiliges en vir hul vriende sal sê: “Dit was een van hulle!”

Sal u “een van hulle” wees? Namate elkeen van ons God se ware plan begin verstaan, moet ons daardie besluit vir onsself neem. Indien God u roep om onder Sy eerstelinge te tel, word u ’n wonderlike geleentheid gegun. Soos Jesus sê: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ’n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het. En Ek sal hom die môrester gee” (Openbaring 2:26-28).

Christene moet vandag waarlik “alles in hul vermoë doen” om aan God te toon dat  hulle waaragtig altyd Sy koninkryk eerste sal stel. Dit moet die primêre doelwit van ’n Christen se hele lewe wees! Onthou Jesus se opdrag: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheus 6:33). God se Koninkryk is inderdaad baie werklik. Dit kom binnekort. Ons behoort dit al hoe meer te besef en ons denke daarop toe te spits om ons voor te berei om in daardie Koninkryk te wees, waar vandag se Christene die voorreg sal smaak om ’n lydende en oorloggeteisterde wêreld die weg na vrede en vreugde te leer, die weg wat God regdeur die Bybel beskryf het.

Dit is nodig dat elkeen van ons onsself heeltemal moet oorgee om Christus Sy gehoorsame lewe ín ons te laat leef, sodat Hy met ons – as geestelike Israel – die “nuwe verbond” kan sluit wat so duidelik in Sy woord beskryf word: “Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees” (Jeremia 31:33).

Mag God elkeen van ons die insig gee van Sy plan en van die wonderlike doel wat Hy nou uitwerk. Mag Hy ons ook die ywer gee om voor te berei vir ’n tyd wanneer ons ’n lydende mensdom sal kan help, dien en leer wat die weë en Wette van die grote God is, die God wat aan ons lewe en asem gee. Dit behoort waarlik die allesoorheersendedoelwit van elke Christen se lewe te wees om ’n geestelike gebore kind van God te word en deel te hê in die baie “werklike” Koninkryk of Regering van God wat Jesus Christus binnekort op hierdie aarde gaan vestig!