Dit is moeilik om te glo dat ISIS (soms ook “Islamitiese Staat” genoem) wat nou so ’n prominente mag in wêreldgebeure is, minder as twee jaar gelede op die voorgrond getree het, toe hulle hulleself in Junie 2014 ná die verowering van die noordelike Irakse stad Mosul, as ’n Islamitiese Kalifaat verklaar het.

In daardie kort tydperk het nogtans ’n geskatte 20,000 buitelandse vegters van regoor die wêreld na die Midde-Ooste gestroom ter ondersteuning van ISIS se kruistog om ’n Kalifaat in Sirië en Irak te vestig. Daardie gevegsmag sluit 700 in van die Verenigde Koninkryk, 600 van Duitsland, 1,200 van Frankryk, 250 van Australië en 100 elk van die VSA en Kanada.

Hier in Brittanje beskryf nuusberigte die skokkende aantal tieners en jong volwassenes wat – sonder enige oënskynlike waarskuwings of tekens van ontevredenheid – uit Brittanje verdwyn het en in die geheim na Sirië of Irak gereis het om by ISIS aan te sluit. Honderde geskokte en hartseer families is agtergelaat terwyl hulle wonder hoe dit met hulle kon gebeur het en waarom.

Wat kommerwekkend is, is ISIS se godsdienstige voorwendsels; die organisasie verkondig ’n kragtige apokaliptiese relaas wat handel oor die naderende einde van die wêreld en die opgang van ’n nuwe orde – dit word op ’n manier wat skokkend vir baie Christelike gelowiges is gedoen. Waarom lok ISIS dus selfs sommige jong Britte vir hulle doel en wat beteken dit vir die wêreld?

Wat is die aantrekkingskrag?

Baie eevoudig gestel – ISIS doen homself as die regmatige erfgenaam voor van Mohammed se oorspronklike leerstellings. Sy sterk verklarings mag aanvanklik vir baie mense na ’n betroubare en geloofwaardige openbaring klink van waaroor Islam regtig alles moet gaan.

ISIS streef daarna om die leerstellings en voorbeeld van Mohammed tot in die fynste detail te volg; gevolglik beskou hulle hulleself as die eerste ware Islamitiese regering in ’n duisend jaar. Alhoewel hulle tans binne Sirië en Irak oor ’n gebied so groot soos die Verenigde Koninkryk, met 'n bevolking van sowat 10 miljoen mense regeer, beweer ISIS dat hulle godsdienstige, politieke en militêre mag oor alle Moslems wêreldwyd het en daarna streef om die res van die wêreld onder hulle absolute beheer en gesag te bring.

Om die organisasie se doelwitte verder te bevorder, het ISIS-ondersteuners deskundiges geword in die gebruik van propaganda via die uitsaaimedia – radio, televisie en die Internet – om hulle boodskap aanloklik en professioneel aan te bied en nuwe volgelinge te lok. Hulle is merkwaardig suksesvol in die gebruik van Internet sosiale media en bedrewe om talle pogings te omseil wat aangewend word om hulle te stuit.

Dit is dan geen wonder dat kwesbare en onskuldige jong mense (hoofsaaklik Moslems) die prooi van ISIS se propaganda word nie. Duisende jong mense is hervorm tot ’n eng, uiters gewelddadige wêreldbeskouing en het, nadat hulle mislei is, na Sirië of Irak verhuis om in die kalifaat te leef en by die saak aan te sluit.

Die ISIS-ideologie stel ’n deurlopende “aanvallende jihad” (heilige oorlog) voor – die kragdadige uitbreiding in lande wat deur nie-Moslems regeer word. Hulle metodes is uiters gewelddadig intimiderend en vernederend, indoktrinerend en terroristies; afgryslike en bloedige openbare teregstellings word op die Internet opgehemel asook die slawerny van vroue en kinders. Vroue onder ISIS-beheer mag wettig as byvroue en seks-slawe gebruik word terwyl veral die verkragting van nie-gelowiges toegelaat word – selfs aangemoedig word in sommige gevalle.

ISIS het ’n welverdiende reputasie vir barbaarse, onbeskaafde gedrag en bloeddorstige geweld verwerf teenoor enigiemand wat in die pad staan van jihad (die heilige oorlog). Sy menseregte rekord is betreurenswaardig; waarnemers het ISIS tot verantwoording geroep vir die menigte gruweldade en oorlogsmisdade, gedwonge bekerings en etniese en godsdienstige suiwering op ’n byna industriële skaal.

Brittanje se nuwe oorlog

Teen die einde van Julie 2015 het Eerste Minister Cameron, toe hy die stryd teen ISIS beskryf het as “die stryd van ons geslag”, begin om ’n omvattende Teen-ekstremistiese Strategie te onthul (“Extremism: PM Speech”, www.uk.gov, 20 Julie 2015) om in die komende weke en maande gedebatteer en geïmplementeer te word. ’n Nuwe verdedigingsoorsig word in die vooruitsig gestel om die verdedigingsbesnoeiings wat vir baie jare opgelê was om te keer en voorsiening te maak vir die vermeerdering van die aantal spesiale magte, spioenasie vliegtuie, robotvliegtuie en ander toerusting wat die Minister van Verdediging, Michael Fallon, beskryf as ’n “nuwe Slag van Brittanje” teen ’n onverbiddelike en vasbeslote fascistiese vyand.

Cameron is vasbeslote om ’n ambisieuse en besliste verdediging van Britse waardes tuis en in die buiteland van stapel te stuur, ter onderskraging van wat hy as ’n buitengewoon suksesvolle, oop en vry, veelrassige en veelgelowige demokrasie beskryf. Die doel is om ISIS op elke vlak teen te staan in alles waarvoor dit staan. Pogings sal aangewend word om gemeenskappe bymekaar te bring en om die identiteitskrisis te ontlont wat soms deur die jeug ervaar word wat hulle kwesbaar vir ekstremistiese denke, kan laat.

ISIS se onbybelse profetiese verhaal

Een van ISIS se kern, ondersteunende leerstellings is die oortuiging dat die einde van die wêreld op hande is. ISIS ag hulleself as die hoofspeler in hierdie eindtye; trouens, die voorloper vir gebeure wat die apokalips sal laat realiseer.

ISIS se doktrine verwag die naderende koms van die Mahdi – ’n messiaanse figuur wat bestem is om die Moslems na oorwinning te lei voor die einde kom. Hulle glo dat die leërs van “Rome” sal byeenkom om die weermagte van Islam in die noorde van Sirië by Dabiq naby Aleppo te ontmoet, waar Rome se magte verslaan sal word. Dit is nie duidelik wie Rome verteenwoordig nie, maar Turkye of Amerika word as geskikte kandidate voorgehou. Islam se finale konfrontasie met ’n anti-Messiaanse figuur sal in Jerusalem plaasvind. Almal, behalwe 5,000 van die kalifaat se magte sal omkom, maar Jesus, die tweede mees gerespekteerde profeet in Islam, sal terugkeer en die oorblywende Moslems na oorwinning lei (“What ISIS Really Wants”, Graeme Wood, The Atlantic, Maart 2015, bll. 17-18).

Vanuit ’n Bybelse perspektief is die meeste van bogenoemde oortuigings eenvoudig ongegrond, net soos baie van ISIS se ander oortuigings is, selfs al kom dit voor asof daar ’n soort verwronge nabootsing van die Bybelse werklikheid is.

Eeue voor die verskyning van Islam opgeteken is word daardie werklikheid in Sagaria 14 beskryf. Alle nasies sal byeenkom om teen Jerusalem te veg (vers 2), maar die terugkerende Christus verdedig die stad, red dit en maak dit Sy wêreldhoofstad (Jeremia 3:17) en lui só ’n ongekende tydperk van vrede, heropbou en redding in, wanneer die hele wêreld vir die eerste keer die geleentheid sal hê om van Hom te leer en Hom gehoorsaam te wees.

Bloeddorstige jihad, kruisigings, onthoofdings en onstuitbare terrorisme in die naam van ’n Moslem kalifaat – kragtige uitinge van verkeerde en misleide denke wat mense van alle godsdienste, asook die daarsonder, teister – sal iets van die verlede wees; vir altyd verby; vervang deur die volmaakte regering van die ware Messias, Jesus, die Koning van die konings en Here van die here (Jesaja 9:6-7; Openbaring 11:15-18; 19:11-16). Mag God daardie dag bespoedig!