Die soektog na die waarheid

Wat het vierings tydens Paasfees [Easter] met die Bybelse weergawe van Jesus se dood en opstanding te doen? Om die waarheid te sê, baie min of heeltemal niks.

Laat ons begin met die naam. Soos baie wêreldse bronne verduidelik, is die naam Easter [Paasfees] van die Anglo-Saksiese Godin Eostre, afkomstig. Hierdie godheid staan algemeen bekend as die godin van vrugbaarheid en die Koningin van die Hemel en haar naam word verskillend in elke kultuur gespel. Paasfees [Easter] word verbind met Ishtar en Istra – om net ’n paar van die verskillende spellings van haar naam in verskillende tale te gee. Die Melkitiese Griekse Katolieke Kerk sê die volgende in verband met die oorsprong van die naam Paasfees [Easter]: “Ons moderne Engelse woord ‘Easter’ kom van Ou-Engels en het oorspronklik na Istra, die Noorse godin van vrugbaarheid verwys, wat deur ’n konyn gesimboliseer word” (“Great Lent and Holy Week,” Melkite.org).

Die verband tussen die naam en baie Paasgebruike en die heidendom is ’n onbetwisbare geskiedkundige feit waarvan daar rekord gehou is. Dit behoort vrae uit te lok van enige weetgierige persoon. Lyk dit nie vreemd om die naam van ’n heidense godin te gee aan wat beskou word as die heel heiligste vakansiedag van belydende Christendom nie? Waarom sou leiers so iets toelaat of doen wanneer die Skrif ons uitdruklik verbied om heidense praktyke oor te neem? (Sien Deuteronómium 12:29-32; Jeremia 10:2.) Waarom spreek leiers van die hoofstroom Christendom hulle nie hieroor uit nie?

Wat meer is, die blatante heidense gebruike tydens die viering van Paasfees [Easter] hou nie net op by die naam nie. Sou ’n leergierige persoon nie wil weet wat het eiers, hasies, warm paasbolletjes en Belladonnalelies met die opstanding van Christus te doen nie? Die waarheid is dat dit ook van die heidense gebruike oorgedra is. Die gemiddelde persoon kan dit maklik met ’n klein bietjie navorsing uitvind. Is dit nie vreemd nie? Waarom sou die Christendom die gebruike aanhang wat algemeen in die aanbidding van ’n vreemde godheid is?

Min Sondag-kerkgangers is bekend met die geskiedenis van hulle godsdienstige praktyke. Dit is omdat hulle nooit oorgelewerde tradisies bevraagteken nie en op ’n stadium het ek dit ook nie gedoen nie. Waarom behoort ons dit te doen? Ons het vertrou dat ons ouers nooit vir ons leuens sal vertel nie – ten minste nie doelbewus nie. Of sou hulle? Waarom is dit heeltemal reg om vir kinders te jok wanneer dit by godsdiens kom? Dink byvoorbeeld aan Kersvader. Nie alleen vertel ouers vir hulle kinders leuens nie, maar priesters en predikante doen dit ook. Soos ons ouers het ons, ten minste vir ’n tyd lank, godsdienstige figure as betroubare inligtingsbronne beskou. Hulle is veronderstel om die Bybel te ken. Hulle het kollege toe gegaan om die Skrif te bestudeer en elke week hou hulle voet by stuk dat hulle ons vertel wat die Bybel ons leer – ten minste is dit die algemene siening van die rol wat hulle in ons lewens speel. Is hulle egter die kenners? Ongelukkig is dit nie die geval nie. Die leuens wat hulle ons vertel, word nie altyd ontdek in die daaglikse roetine soos die waarheid oor Kersvader en die Paashaas nie. Waar tradisie en waarheid ontmoet, wen tradisie gereeld. Waarheid sal altyd op die ou einde wen, maar die einde kan nog ver weg wees.

Watter verskil maak dit?

Hierdie feite met betrekking tot die oorsprong van Paasfees [Easter] is nie vir almal onbekend nie. Sommige mense is heeltemal vertroud met die twyfelagtige geskiedenis van Paasfees maar vra, “watter verskil maak dit?”

Die naam Paasfees [Easter], asook die gepaardgaande heidense gebruike, is nie al wat met Paasfees verkeerd is nie. Daar is baie ernstiger probleme en dit is nie so algemeen bekend nie. Spesifiek is die algemeen aanvaarde dae van Jesus se kruisiging en opstanding verkeerd. Hy is nie op ’n Vrydag gekruisig nie en nié Sondagoggend opgewek nie. Dit mag u skok, maar dit kan bewys word. Hoe kan dit wees? Watter verskil maak dit?

Wanneer hierdie waarheid in die Skrif uitgewys word, word besware geopper maar dit laat die feite buite rekening. Die belangrikste gedeelte en die rede waarom hierdie vraag só belangrik is, word in Matthéüs 12:38-40 gevind. “Toe spreek sommige van die skrifgeleerdes en Fariseërs en sê: Meester, ons wil graag ’n teken van U sien. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.”

Let noukeurig op: Hierdie is die enigste teken wat Jesus gesê het sou bewys dat Hy is wie Hy beweer Hy is, die Seun van God. Probeer soos u wil dit is onmoontik om drie dae en drie nagte tussen laat Vrydagmiddag en vroeg Sondagoggend in te pas. Probeer dit self. Selfs indien u ’n paar minute van Vrydagmiddag bytel, toe Hy voor die sonsondergang in die graf geplaas is en ook ’n paar minute van Sondagoggend, het u steeds net drie dae en twee nagte. Dit is ruim bereken indien ons baie klein gedeeltes van die dae aan die begin en einde as volledige dae tel.

Het Jesus ’n fout begaan?

The Abingdon Bible Commentary vertel ons prontuit dat Jesus ’n fout gemaak het: “Die verklaring wat gemaak is, is onakkuraat, want Jesus was slegs in die graf van Vrydagaand tot Sondagoggend met dagbreek”‘. Dit is ’n baie ernstige aantyging! Was Jesus verkeerd toe Hy die enigste teken beskryf het wat sou bewys dat Hy die Messias is?

Die meeste kommentators aanvaar nie dat Sy stelling letterlik is nie, aangesien dit die tradisie weerspreek. In plaas daarvan, beweer hulle dat ’n gekombineerde dag en nag net ’n enkele dag van 24 uur beteken. Hulle beweer ook dat die eerste en die derde dag slegs gedeeltes van ’n dag hoef te wees. Daar is egter ernstige probleme met hierdie berekening. Soos gesien kan word uit die kommentaar hierbo, aanvaar minstens een gesaghebbende nie hierdie argument nie en beweer eenvoudig: “Die verklaring wat gemaak is, is onakkuraat ... ”

Selfs indien ons aanvaar dat die Griekse uitdrukking dele van drie dae beteken (en dit is glad nie seker nie), moet ons onthou dat Matthéüs 12:40 nie net van die Grieks afhanklik is nie. Jesus verwys ons na Jona en daardie verhaal is in Hebreeus geskryf. “Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.” Hoe lank was Jona dus in die buik van die vis? “En Jona was drie dae en drie nagte in die ingewande van die vis” (Jona 1:17).

Die boek Jona is in die Hebreeuse taal geskryf en ons moet ook daardie taal en die algemene gebruik daarvan in gedagte hou om hierdie uitdrukking te verstaan. Bylaag 144 in The Companion Bible ondersoek die betekenis van drie dae en drie nagte, in die Hebreeuse gebruik daarvan. Nadat dit ’n tegniese verduideliking gee, verklaar dit uitdruklik dat “wanneer dit sê ‘Jona was drie dae en drie nagte in die ingewande van die vis’ (Jona 1:17) beteken dit presies wat dit sê” en wys daarop dat “dit die enigste betekenis van die uitdrukking kan wees ... ”

Die Goeie Vrydag/Paassondag-tradisie word ingewikkelder as gevolg van die tydlyn wat in die Evangelie-verhale gevind word. Die Bybelse rekord is die enigste bron wat die tydsberekening van die kruisiging en opstanding weergee. Waarom aanvaar die meeste mense dan dat Jesus op ’n Vrydag gekruisig is? Die waarheid is dat baie van hulle geen idee het nie, maar hou by die tradisie wat hulle geleer is. Diegene wat ’n bietjie meer van die Bybel weet, verstaan dat Jesus gesterf het en begrawe is op die voorbereidingsdag – die dag vóór ’n Sabbat. Met Sy dood het Josef van Arimathéa “... na Pilatus gegaan en die liggaam van Jesus gevra en dit afgehaal en in linne toegedraai en dit neergelê in ’n graf wat uit ’n rots gekap was, waar nog nooit iemand in gelê het nie. En dit was die dag van voorbereiding, en die sabbat wou aanbreek” (Lukas 23:52-54).

Die weeklikse Bybelse Sabbat begin Vrydag met sononder en eindig met sononder op Saterdag. Sonder om verder ondersoek in te stel, sou dit lyk asof Jesus Vrydagoggend omstreeks 09h00 gekruisig is, omstreeks 15h00 gesterf het en baie laat die Vrydagmiddag in die graf geplaas is. Is dít egter wat die Bybel sê? Baie foute word veroorsaak deur ondeurdagte aannames en hierdie is júis so ’n fout. Daar bestaan geen twyfel dat Jesus op ’n voorbereidingsdag vir ’n Sabbat gekruisig is nie, maar watter Sabbat was dit? Mense aanvaar bloot dat dit die weeklikse Sabbat was. Die jaarlikse Heilige Dae is egter ook Sabbatte van rus en elkeen van hierdie dae het ’n voorbereidingsdag wat dit voorafgaan. Was dit ’n weeklikse Sabbat of ’n jaarlikse Sabbat?

Jesus het aan die begin van die Pasga-dag die Pasga gehou saam met Sy dissipels (kort na sonsondergang op 14 Nisan). Dit word duidelik gemaak deur al drie Sinoptiese Evangelies. Hier is wat Lukas aangeteken het:

“En die dag van die ongesuurde brode het gekom waarop die pasga geslag moes word. Toe stuur Hy Petrus en Johannes en sê: Gaan berei die pasga vir ons, dat ons dit kan eet. En hulle sê vir Hom: Waar wil U hê moet ons dit berei? En Hy antwoord hulle: Kyk, as julle in die stad ingaan, sal ’n man julle ontmoet wat ’n kruik water dra; volg hom na die huis waar hy ingaan. En julle moet vir die eienaar van die huis sê: Die Meester vra u – waar is die kamer waar Ek die pasga met my dissipels kan eet? ... En hulle het gegaan en dit gevind soos Hy vir hulle gesê het, en die pasga berei. En toe die uur kom, het Hy aan tafel gegaan en die twaalf apostels saam met Hom. En Hy sê vir hulle: Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly” (Lukas 22:7-11, 13-15).

Die sogenaamde “laaste avondmaal” was eintlik die Pasga, soos Markus en Lukas ook bevestig.

Dit is belangrik om te onthou dat God elke dag van sononder tot sononder meet en dit was die praktyk van die Jode in Christus se tyd. Daarom, toe Jesus aan die begin van die Pasga-dag saam met Sy dissipels aan tafel gaan sit het, was dit aand, kort na sononder. Meeste Bybelgeleerdes is vertroud met die feit dat Hy later daardie nag in hegtenis geneem is en gedurende die daggedeelte van dieselfde Pasga-dag gekruisig is. Hy het omstreeks 15:00 gesterf en is net voor sononder in die graf geplaas. Dit het alles gedurende die 24 uur van die Pasga-dag gebeur.

Twee Sabbatte daardie week

Min Sondag-kerkgangers besef dat Jesus, Sy Apostels en die Christendom van die Eerste Eeu, dae onderhou het wat baie verskil van dié wat baie mense vandag vier. Indien hulle Christus se voorbeeld gevolg het om die Bybelse Heilige Dae te onderhou, sou hulle besef het dat die dag ná die Pasga ’n jaarlikse Sabbat is – die eerste Dag van Ongesuurde Brood, 15 Nisan (Levítikus 23:5-7).

U mag dalk vra, “wat nou daarvan?” Nogtans verklaar dit ’n feit wat selde verstaan word en wat ’n groot teenstrydigheid tussen die Evangelie-verhale sou wees.

Die apostel Johannes verduidelik dat die voorbereidingsdag nie vir die weeklikse Sabbat was nie, maar vir ’n jaarlikse Sabbatdag – die dag wat op die Pasga volg. “En dat die liggame nie op die sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit die voorbereiding was – want die dag van daardie sabbat was groot – het die Jode Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word” (Johannes 19:31).

Indien Jesus op die 14de dag van Nisan gekruisig was, met ander woorde op die Bybelse Pasga, soos wat ons in die Skrif gesien het, is dit voor die hand liggend dat die volgende dag ’n jaarlikse Sabbat sou wees. Trouens, die 15de dag van Nisan is altyd ’n Heilige Dag. Met hierdie feit in gedagte, laat ons op twee gedeeltes let wat daarop dui dat daar twee weeklikse Sabbatdae was – die jaarlikse Sabbatdag en die weeklikse sewendedag Sabbat, met ’n dag tussenin: “En toe die sabbat verby was, het Maria Magdalena en Maria, die moeder van Jakobus, en Salome speserye gekoop, om Hom te gaan salf” (Markus 16:1). Lukas vertel ons egter dat hulle die speserye voorberei het voordat hulle op die Sabbat gerus het. “En dit was die dag van voorbereiding, en die sabbat wou aanbreek. En die vroue wat saam met Hom van Galiléa gekom het, het ook gevolg en die graf gesien en hoe sy liggaam neergelê was. Daarop het hulle teruggegaan en speserye en salf berei en op die sabbat gerus volgens die gebod” (Lukas 23:54-56).

’n Mens kan nie speserye voorberei voordat dit gekoop is nie! Markus vertel ons dat hulle nie die speserye gekoop het voordat die jaarlikse Sabbat verby was nie. Lukas vertel dat hulle die speserye voorberei het en daarna op die weeklikse Sabbat gerus het. Hierdie twee verse lewer onweerlegbare bewys dat die vroue op die Heilige Dag (die jaarlikse Sabbat) gerus het, waarna hulle die speserye op ’n gewone dag gekoop en voorberei het voordat hulle op die weeklikse Sabbat gerus het. Dit is die enigste manier waarop hierdie verse met mekaar kan ooreenstem. Daar was dus twee Sabbatte met ’n gewone dag tussenin, óf die Bybel weerspreek homself.

Ons kan nou die tydlyn wat in die Skrif gegee word, soos volg bereken: Jesus het Dinsdag na sononder die Pasga gehou. Hy is gekruisig, het op die Woensdag gesterf en is net voor sononder in die graf geplaas. Teen sononder daardie aand het die jaarlikse Heilige Dag Sabbat begin, wat deur die daglig gedeelte van Donderdag geduur het. Vrydag was ’n gewone dag nét voor die sewende-dag Sabbat op Saterdag. Dus gee Woensdag-, Donderdag- en Vrydagnag ons drie nagte. Die daggedeelte van Donderdag, Vrydag en Saterdag gee ons dus drie dae – drie dae en drie nagte, net soos Jesus gesê het. Hy is laat op die Saterdagmiddag net voor sononder opgewek en toe die vroue Sondagoggend by die graf gekom het, was hy weg.

Daar is egter nog onbeantwoorde vrae, soos waarom skep Markus 16:9 die indruk – oppervlakkig beskou – dat Jesus op die eerste dag van die week (Sondag) opgestaan het. Dit is maklik verklaarbaar as gevolg van die feit dat daar geen leestekens in die oorspronklike Grieks was nie. Vertalers verskaf álle leestekens – somtyds volgens hulle vooropgestelde leerstellige vooroordele. Die meeste van die tyd kwyt hulle hul goed van hulle taak om die teks duidelik te maak, maar nie in hierdie geval nie. Die Ou Afrikaanse Vertaling lees: “En nadat Hy opgestaan het, vroeg op die eerste dag van die week, het Hy eers verskyn aan Maria Magdaléna ... ”. ’n Komma is ná “week” ingevoeg. Aangesien daar geen leestekens in die oorspronklike teks is nie, is hierdie ’n arbitrêre besluit en die komma kon net sowel geplaas gewees het soos in die volgende vertalings:

  • After Jesus rose from death, early on the first day of the week, he appeared first to Mary Magdalene” (Good News for Modern Man).
  • “Now after he had risen, early on the first day of the week, He appeared first to Mary of Magdala” (Williams – In the Language of the People).

Soos ons kan sien, verwys die frase “vroeg op die eerste dag van die week” na wanneer hy aan Maria verskyn het, nié na toe Hy opgewek is nie. Die verskyning het plaasgevind “nadat Hy opgestaan het”. Dit stem ooreen met Jesus se eie woorde om drie dae en drie nagte in die graf te wees asook met die Bybelse tydlyn wat aantoon dat daar twee Sabbatte gedurende die week van Sy kruisiging was.

Maak dit vir God saak?

Ons vra dus weer: “Watter verskil maak dit alles?” Dit is eenvoudig. Die Goeie Vrydag/Sondagoggend opstanding se tradisie ontken die enigste teken wat Jesus gesê het Hy sou gee om te bewys dat Hy ons Verlosser is. Die implikasies is van uiterste belang! Is Jesus ons Verlosser of nie? Was Hy verkeerd oor die enigste teken wat Hy gegee het, soos die Abingdon Bible Commentary te kenne gee? Of is die Paasverhaal met al sy heidense gebruike geheel en al ’n vervalsing van die waarheid?

God het antieke Israel daarteen gewaarsku om nie gebruike van heidene van die volke rondom hulle oor te neem nie en dit sal goed wees om ag te slaan op hierdie waarskuwing: “... neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle (die nasies) aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die HERE jou God nie ... Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie” (Deuteronómium 12:30-32). Het God dan nou van plan verander? Dit is immers die Ou Testament waarmee, soos baie mense dink, “weggedoen” is. Hierdie redenasie is deel van die probleem.

Paulus het toe aan Timótheüs geskryf en hom herinner: “… en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus” (2 Timótheüs 3:15). Die enigste Skrif wat Timótheüs geken het terwyl hy grootgeword het, was daardie boeke van die sogenaamde Ou Testament. Onthou ook “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8). Die apostel Paulus vertel ons dat Jesus die Een was wat voor Sy menslike geboorte die waarskuwing gerig het in Deuteronómium 12. “... want hulle het gedrink uit ’n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus” (1 Korinthiërs 10:4). Dalk is dít waarom Paulus die jong evangelis, Timótheüs, geleer het dat die Heilige Skrif hom wys kan maak tot saligheid en dat “[d]ie hele Skrif deur God ingegee [is] en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Timótheüs 3:16).

Kies waarheid bo dwaling

In plaas daarvan om ’n bedrieglike vals Pasga te onderhou, het Jesus Sy dissipels in die nag waarin Hy verraai is, beveel om voort te gaan met die onderhouding van die Pasga, maar met ander simbole. Ons eet nie meer ’n fisiese lam met bitter kruie nie maar ongesuurde brood met ’n klein bietjie wyn. Nadat Hy hierdie nuwe simbole ingestel het, sê Jesus: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis” (Lukas 22:19). Hierdie is die ware onderhouding wat vervang is deur ’n vervalste seremonie.

Ons leef vandag in die inligtingstydperk en ly dikwels aan “inligtingoorlading”‘. Tog het God van hierdie selfde tyd gesê: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet” (Hoséa 4:6). Die kennis waarna die profeet verwys, is nie tegnologies nie, maar geestelik, moreel en Bybels van aard. Mense weet nie wat God se plan met hulle is nie. Hulle ken nie Sy doel vir die mens en hoe om daardie doel te verwesenlik nie.

Feite is nie die probleem hier nie. Die geskiedenis vertel ons dat Paasfees deurdrenk is met heidense tradisies. Die Bybel openbaar ’n ander tydlyn van die Goeie Vrydag/Sondagoggend-tradisie. Die probleem is dat mense nie die oorsprong van hulle godsdienstige herdenkings ernstig opneem nie. Sommige mense mag vra: “Watter verskil maak dit? Kom ons raak nie fanaties oor hierdie dinge nie”‘. Sommige mense wat hierdie artikel lees mag dalk aanstoot neem oor die waarheid. Ander mag onaangeraak bly omdat hulle reeds weet dat die vierings rondom die sogenaamde Paasfeesverhaal aan heidense gebruike ontleen is. Die meeste mense wat dit lees, blaai net na ’n ander artikel of doen iets anders en is heeltemal onaangeraak. Baie min mense sal ernstig bevraagteken waarom hulle die dinge doen wat hulle doen. Slegs ’n paar van die mense sal die moed hê om gebruike wat deur die Bybel veroordeel word te laat vaar. Slegs hierdie paar mense sal in staat wees om God se doel en plan vir die mensdom ten volle te verstaan. Sal u voortgaan met mensgemaakte tradisies of het u die moed om God eerste te stel?