Geskille oor Jerusalem is voortdurend in die nuus. Arabiere en die Israeli’s veg oor die stad se toekoms, maar God het ’n wonderbaarlike plan vir hierdie lank-gekwelde stad. Sal Jerusalem ooit vrede ervaar? Die antwoord mag u verbaas!

Jerusalem staar vandag voortdurende geweld en die bedreiging van volskaalse oorlog in die gesig. U Bybel onthul egter dat hierdie historiese stad binnekort die hoofstad van die wêreld sal wees!


Jerusalem is ’n fokuspunt van konflik in die Midde-Ooste. Regdeur die Arabiese wêreld is miljoene mense gekant teen Israel se houvas op hierdie historiese stad. Wêreldwyd hoop miljoene Moslems dat die dag sal kom dat Jerusalem nie meer onder Israelse beheer sal wees nie.

Sal hulle hoop verwesenlik word? Verlede Maart het Iran se President, Mahmoud Ahmadinejad, met leiers van die Palestynse militante groep, Hamas, vergader en sy steun aan hulle pogings om Jerusalem uit Israelse beheer te wring, toegesê. “Die tyd vir die  vervulling van die goddelike belofte is naby. Die Sionistiese regime [Israel] gaan deur sy ergste fase en is op die rand van uitwissing. Die Palestyne moet waaksaam bly en hulle verkose regering ondersteun om die weg voor te berei vir die bevryding van die heilige Quds [Jerusalem] en verlossing uit bose Sionistiese bande,” sê Ahmadinejad. Hy het Hamas aangemoedig om te volhard in hulle pogings “van voortgesette weerstand en die verwydering van die Sionistiese tiranne van die heilige grond van Palestina. Weerstand moet voortgaan totdat selfs nie ’n duim Palestynse grond nog onder Israelse beheer is nie”, het Ahmadinejad gesê.    

Ander minder strydlustige stemme het ook ’n beroep op Israel gedoen om minstens ’n gedeelte van hulle beheer oor Jerusalem prys te gee. Toe Israel in 1980 Jerusalem as hulle “verenigde en ewige” hoofstad verklaar het, het die Vatikaan sterk beswaar gemaak teen daardie verklaring. Teen 1984 het Pous Johannes Paulus II versoek dat Jerusalem ’n “spesiale internasionaal gewaarborgde status” moet kry. Meer onlangs het Pous Benediktus XVI baie Israeli’s die harnas in gejaag deur te weier om alle Palestynse aanvalle op Israel te verdoem en deur die opmerking te maak dat Israel se reaksie op daardie aanvalle soms internasionale wetgewing geskend het. In sy boodskap op Asdag aan Jerusalem se Rooms-Katolieke verlede Februarie, het die Latynse patriarg, Michel Sabbah, Israel se beleid gekritiseer en gevra dat ’n einde gemaak moet word aan “die boosheid van besetting met die gepaardgaande onderdrukking” en het hy uitgevaar teen “die Israelse soldate wat te eniger tyd ons Palestynse stede binnekom, mense doodmaak, mense gevange neem, bome ontwortel en huise vernietig”.

Om die toekoms van Jerusalem te verstaan, is dit nodig dat ons sy verlede moet verstaan. Na die val van Rome, het Jerusalem onder beheer van die Bisantynse Ryk gekom, totdat Moslem-magte die stad in 638 verower het. In 1099 het die Eerste Kruistog gesien hoe die beheeroor Jerusalem oorgeneem word deur die Europese invallers, wat dit behou het tot 1187, toe die stad ingeneem is deur die Moslem-generaal Saladin, wie se opvolger, al-Khamil, in 1228 die stad aan Keiser Frederik II van die Heilige Romeinse Ryk geskenk het. In 1244 het die Ayyubids van Egipte Jerusalem verower en dit het onder Egiptiese heerskappy gebly tot 1516, toe magte van die Ottomaanse Ryk die stad ingeneem het.

Vier eeue later, tydens die Eerste Wêreldoorlog in 1917, het Generaal Edmund Allenby die Britse magte aangevoer wat die Ottomaanse Turke verslaan en Jerusalem ontset het. Brittanje het in November 1917 die Verklaring van Balfour uitgereik om hul plan om ’n Joodse tuisland in Palestina te vestig, bekend te maak en die Volkebond het die Verklaring in 1922 bekragtig.

Die Volkebond het uitmekaar gespat. In November 1947 het ’n ander internasionale liggaam – die pasgestigte Verenigde Volke – ’n Algemene Vergaderingsbesluit 181 uitgereik, wat ’n plan ingesluit het om die gebied rondom Jerusalem onder internasionale beheer te plaas. ’n Jaar later het oorlog tussen die Arabiere en Israel uitgebreek en die Verenigde Volke se hoop op vrede in die streek, is daardeur verydel. Van 1947 tot 1967 het Wes-Jerusalem onder Israelse beheer gebly terwyl Jordanië die gebied van Oos-Jerusalem administreer het.

In die “Sesdaagse Oorlog” van 1967, het Israelse magte die Arabiese aanvalle afgeweer, beheer oorgeneem oor Oos-Jerusalem en die hele stad vir die eerste keer in byna 1,900 jaar, onder Joodse heerskappy verenig. Sedert die Romeinse Generaal, Titus, en sy leër die stad in 70 n.C. vernietig het, was Jerusalem nie onder Joodse bestuur nie.

Vanaf 1967 het Jerusalem onder Israelse administrasie gebly. Spanning bly egter voortbestaan in hierdie digbevolkte stad met ’n beraamde bevolking van meer as 700,000 mense. Ongeveer 32 persent van die stad se bevolking is Arabiese Moslems wat hulleself dikwels in konflik bevind met die 65 persent van die Joodse bevolking.

Een stad, drie gelowe

Kan Israel en die Arabiese state vrede vind terwyl Jerusalem ’n bron van konflik bly? Sal die stad ooit die hoofstad wees van ’n Palestynse staat? Sal dit onder internasionale beheer kom? U Bybel toon dat die konflik oor Jerusalem ’n sentrale fokuspunt in eindtydse gebeure sal wees.

Jerusalem is vandag ’n stad van vele gelowe; een opname in 2006 het 1,200 sinagoges, 150 kerke en 70 moskees binne sy grense geïdentifiseer.

Jode beskou Jerusalem as die stad van die groot profete en as die hoofstad van die Koninkryk van Israel en Juda onder Koning Dawid en sy seun Koning Salomo. Antieke Israel se eerste en tweede tempels in Jerusalem was die middelpunt van Joodse aanbidding totdat die Romeine die stad in 70 n.C. vernietig het. Vandag aanbid Jode by die Westerse Muur of Klaagmuur, wat, soos hulle glo, die enigste oorblywende element is van die Tweede Tempel en wat tans toeganklik is vir Joodse aanbidders.

Jerusalem is ook die derde heiligste Islamse stad naas Mekka en Medina. Die Moskee van Omar, ook genoem die Rotskoepel, oorheers tans die Tempelberg. Die Arabiese term vir die Tempelberg is al-Haram as-Sharif, wat “Die Edele Heiligdom” beteken. Moslems glo dat Mohammed vandaar na die hemel opgevaar het.

Christene onthou Jerusalem as die plek waar die Verlosser gekruisig is, en waar Hy in die Tempel onderrig gegee het – en as die plek waarheen Hy sal terugkeer om Sy koninkryk te vestig, met Jerusalem as die wêreldhoofstad.

Militêre gebeure voorspel

Wat onthul Bybelprofesie sal met Jerusalem gebeur? Uiteindelik sal hierdie ou stad die hoofstad van die hele wêreld wees. Voor daardie tyd sal dramatiese militêre gebeure Israel egter affekteer. Daar sal ’n tyd kom, naby die einde van hierdie tydperk, dat vyandige weermagte die Heilige Land binne sal val en die stad Jerusalem sal omsingel. Soos Jesus Christus self gewaarsku het: “En wanneer julle Jerusalem deur leёrs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is” (Lukas 21:20).

Dit sal nie sommer net enige leёrs van die Midde-Ooste wees nie; Christus se profesie toon dat hierdie die leërs van die Heidene sal wees. Hy gaan voort: “Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word. Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog in daardie dae; want daar sal ’n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk. En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (verse 22-24).

Maak seker dat u ook die ooreenstemmende weergawes in Mattheüs 24 en Markus 13 lees. Terwyl u dit lees, wees bedag daarop dat die vernietiging van Jerusalem in 70 n.C. ’n profetiese voorafskaduwing is van die eindtydse verwoesting wat in hierdie profesieë beskryf word.

Nadat Jerusalem weer onder Heidense beheer geval het, vir hoe lank sal die Heidene aan bewind bly? Die antwoord vind ons in die boek Openbaring, wat bevestig dat Israel weer beheer oor Jerusalem sal verloor aan die einde van hierdie era. Die apostel Johannes skryf: “En ’n riet soos ’n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid. Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap” (Openbaring 11:1-2).

Ja, aan die einde van hierdie era sal Jerusalem vir 42 maande onder beheer van die Heidene wees. Soos wat u deur die boek Openbaring lees, sal u sien dat hierdie periode van drie-en-’n-half jaar die koms van Christus vooraf gaan. Twee profete van God sal  tydens hierdie selfde drie-en-’n-half jaar periode, kragtig getuig (Openbaring 11:3-15). Hierdie twee getuies sal in ’n stryd gewikkel wees teen die Heidense magte wat die Midde-Ooste daardie tyd sal oorheers.

Daniël se visioen word verduidelik

Die profeet Daniël het van ’n engel ’n visioen ontvang wat vir ons ’n verdere perspektief gee oor Jerusalem se toekoms. Toe hy die betekenis van die visioen vra, het die engel gesê: “Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe” (Daniël 12:9). Meer as 2,500 jaar later kan ons daardie profesie nou verstaan – hierdie is die tyd van die einde! Dan lees ons verder: “En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend-tweehonderd-en-negentig dae verloop” (vers 11). God onthul dat teen die tyd van die einde, kort voor Christus se Wederkoms, die daaglikse offers sal ophou, of “weggeneem word”. Dit impliseer uiteraard dat die offers eers ingestel moet word voordat dit afgeskaf kan word! Daar is inderdaad Ortodokse Jode wat reeds beplan om diereoffers weer in te stel sodra dit vir hulle moontlik is om dit te doen. Tans word die Jode egter nie toegelaat om in die openbaar op die Tempelberg te aanbid nie en ons sal nog moet sien waar en wanneer die Jode weer sal begin offer. Dit sal waarskynlik ’n nasionale krisis verg om dit teweeg te bring.

Gee ook aandag aan die ander sleutel-item waarvan Daniël melding maak: “Die gruwel van verwoesting”. Wat is dit? Geskiedkundig het die Griekse heerser, Antiochus Epiphanes, in 167 v.C. ’n dekreet uitgevaardig waarvolgens offerandes in die Jerusalem-tempel verbied is. Die Joodse geskiedkundige, Josephus, het Antiochus se dade beskryf: “Hy [Antiochus] het ook die tempel beroof en vir drie jaar en ses maande ’n einde gemaak aan die voortdurende gebruik om ’n daaglikse offerande te bring as boetedoening”. Josephus verduidelik ook hoe Antiochus die altaar ontheilig het. “Antiochus was nie tevrede met sy onverwagte inname van die stad of met die plundering daarvan, of met die groot slagting wat hy daar aangerig het nie ... hy het die Jode verplig om hulle landswette te ontbind en om hulle babas onbesnede te hou en om varkvleis op die altaar te offer” (War of the Jews, Boek 1, Hoofstuk 1, Dele 1-2).

Antiochus het die tempel verder ontheilig. Hy het ’n standbeeld van Jupiter Olimpus in die tempel opgerig en almal gebied om dit te aanbid. Hierdie gruwel waarna in hoofstukke 8 en 11 van Daniël se profesie verwys word, was ’n voorafskaduwing van ’n eindtydse gebeurtenis. Hiervan sê Jesus: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet – dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug”  (Mattheüs 24:15-16).

Jesus waarsku ons om bedag te wees op ’n eindtydse gruwel van verwoesting. Net soos Antiochus Epiphanes die Tempel in 167 v.C. ontheilig en offerandes verbied het, so sal ’n toekomstige goddelose owerheid offerandes verbied. Wie of wat sal hierdie eindtydse Gruwel van Verwoesting wees? Neem kennis: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thessalonicense 2:3-4).

Ja, ’n groot vals profeet sal in die tempel van God sit. U behoort wakker te wees. U moet die toekoms verstaan. Moet uself nie laat mislei nie.

Hierdie vals profeet sal verstommende tekens doen. Kyk na hierdie beskrywing: “En uit die aarde het ek ’n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ’n lam en het gepraat soos ’n draak. En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is. Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ’n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het” (Openbaring 13:11-14).

Terwyl die Dier-moondheid Jerusalem beheer, sal God se twee getuies profeteer en die weg voorberei vir die Messias, die Koning van die konings, om Jerusalem en die hele wêreld oor te neem. Die boek Openbaring beskryf die werk van die twee eindtydse profete. “En Ek sal aan My twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank sal profeteer” (Openbaring 11:3).

Die boek Openbaring beskryf voorts dat aan die einde van hulle getuienis, die Dier-moondheid hierdie twee profete sal oorwin en doodmaak, maar dat God hulle na drie dae sal opwek, tot die verbasing van hulle vyande. God sal dan begin om Sy oordeel te voltrek deur ’n groot aardbewing in die stad te veroorsaak. Sewe duisend mense sal sterf. Dan sal die sewende basuin die goeie nuus van die Messias se Wederkoms na die aarde aankondig. “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van Sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (vers 15).

Vrede kom!

Ons leef vandag in ’n wêreld van oorlog en terrorisme. Die nasies streef na vrede, maar die apostel Paulus vermaan ons: “Soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie” (Romeine 3:10-11). Hy gaan voort: “Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede ken hulle nie.  Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie” (verse 15-18).

Die enigste een wat vir ons wêreldvrede sal bring, is die Messias, Jesus Christus. Hy kom terug as Koning van die konings en Here van die heersers soos dit vir ons vertel word in Openbaring 19:16. Die Bybel sê ook aan ons die presiese plek waarheen Hy sal terugkeer: “En die HERE sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van Sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal Sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ’n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide” (Sagaria 14:3-4). Die Olyfberg is net oos van die Tempelberg in Jerusalem, aan die oorkant van die Kidronvallei.

Jerusalem sal welvarend wees en floreer wanneer die Messias die wêreld vanuit Jerusalem regeer. Lees hierdie beskrywing: “En in dié dag sal daar lewende waters uit Jerusalem uitvloei, die een helfte daarvan na die Oostelike en die ander helfte daarvan na die Westelike See; somer en winter sal dit so wees. En die HERE sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die HERE een wees, en sy Naam een” (Sagaria 14:8-9).

Ek hoop dat u uitsien na daardie dag wat die profeet Jesaja voorspel het. “o Sion, verkondiger van goeie boodskap, klim op ’n hoë berg! o Jerusalem, verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op met mag; hef dit op, wees nie bevrees nie! Sê aan die stede van Juda: Hier is julle God!” (Jesaja 40:9).

Ja, soos ons gesien het, sal die Messias na Jerusalem kom! Die hele wêreld sal binnekort verstaan dat die God van Abraham, Isak en Jakob die Messias is. Onthou u die Rots van Israel? Die apostel Paulus skryf van antieke Israel, “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ’n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus” (1 Korinthiërs 10:1-4). Ja, daardie Rots was die Messias – en Hy gaan binnekort terugkeer!

Soos Jesaja skryf: “Kyk, die Here HERE sal kom as ’n Sterke, en Sy arm sal heers; kyk, Sy loon is by Hom, en Sy beloning is voor Sy aangesig. Hy sal Sy kudde laat wei soos ’n herder; Hy sal die lammers in Sy arm vergader en aan Sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei” (Jesaja 40:10-11).

Ja, die Here sal Sy mense red en Hy sal al die nasies onderrig en met wysheid oor hulle regeer. Kyk na hierdie profesie aangaande Jerusalem: “Die woord wat Jesaja, die seun van Amos, gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem. En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom” (Jesaja 2:1-2).

’n Vreedsame wêreldregering lê voor

Berge is ’n Bybelse simbool vir ’n koninkryk of regering. Jesaja stel dit duidelik dat die Here se koninkryk in Jerusalem gevestig sal word. Alle volke sal hulle aan hierdie nuwe wêreldregering onderwerp. Dit sal nie ’n regering in die hande van selfsugtige mense wees nie. Hierdie nuwe regering sal ’n wêreldregerende goddelike Koninkryk wees – die Koninkryk van God. Hierdie wêreldregerende koninkryk sal regeer word deur die Messias, die Koning van die konings, Jesus Christus! Dit is die goeie nuus waarna ons almal uitsien. Ek hoop u sien uit na daardie tyd van wêreldvrede! Ek hoop dat u verlangend uitsien na die Koninkryk om te kom! Ek hoop dat u bid vir die Koninkryk om te kom, soos ons geleer word om te bid in Mattheüs 6:10!

Let op na hierdie pragtige beskrywing van die toekomstige lewe in Jerusalem: “So sê die HERE: Ek keer terug na Sion en sal midde-in Jerusalem woon; en Jerusalem sal genoem word: Die stad van trou, en die berg van die HERE van die leërskare: Die heilige berg. So sê die HERE van die leërskare: Daar sal weer ou manne en ou vroue op die pleine van Jerusalem sit – elkeen met sy stok in sy hand vanweë die veelheid van hulle dae. En die pleine van die stad sal vol wees van seuntjies en dogtertjies wat op die pleine daarvan speel” (Sagaria 8:3-5).

Die stad Jerusalem sal uiteindelik aan sy naam reg laat geskied, “Stad van vrede”, omdat die Messias, Jesus Christus, regtig daar sal woon. Slegs dan sal die hele wêreld werklike vrede begin ervaar.

Jerusalem sal die hoofstad wees van die planeet aarde en u kan ’n aandeel hê in die glorieryke Koninkryk wat vanuit daardie hoofstad regeer sal word. Die wêreld van môre gaan gouer hier wees as wat u besef. Soos wat gebeure plaasvind en nader beweeg aan hierdie wonderlike  hoogtepunt, maak seker dat u wêreldgebeure dophou in die lig van Bybelprofesie!