Verlede jaar het die Hertog van Edinburgh-toekennings (DofE) vir jong mense, sy 60ste jaar bereik. In al dié tyd het dit buitengewone sukses behaal en die wêreld se voorste jeugprestasie-toekenning geword. Intussen het die Hertog van Edinburgh, wat die stigter en beskermheer van die program is, op 96-jarige ouderdom sy uittrede uit openbare betrokkenheid aangekondig. Hy het 70 jaar van sy lewe aan openbare diens as die koningin se eggenoot en metgesel gewy. Hy verdien dit ryklik om ’n stiller lewe te lei. Daar word wyd erken dat die DofE-toekennings een van sy beste prestasies en ’n besonderse nalatenskap is.

Kom ons kyk dus na die beginsels en meriete van hierdie voortreflike toekennings. Soos ons met baie van die onderwerpe doen wat ons hier by die Wêreld van Môre bespreek, probeer ons om dit in ’n veel hoër geestelike perspektief te plaas, wat deur die Bybel – wat die primêre handboek van die lewe is – onderrig word.

 

’n Model waarvolgens ons behoort te leef

Die DofE-toekennings is gebaseer op die beginsels van die uiters invloedryke Duitse opvoedkundige, Kurt Hahn, wat dit in die kurrikulum van Gordonstoun-skool in Skotland opgeneem het – waar Prins Philip as ’n tiener skoolgegaan het. Hahn was bekommerd oor wat hy beskou het as sosiale verval en die agteruitgang van tieners en jong volwassenes op gebiede soos fisiese fiksheid, selfdissipline en volharding, medelye en diens, inisiatief en die gees van avontuur, nuuskierigheid en verbeelding.

Dus fokus die DofE-program op vyf elemente wat mekaar aanvul en ontwerp is om hierdie gebiede van agteruitgang om te keer. Dit is 1) vrywilligerswerk; 2) fisiese ontwikkeling; 3) vaardigheidsontwikkeling; 4) onderneming van ’n ekspedisie; en 5) laastens, deelname aan ’n vyfdaagse kursus wat bygewoon behoort te word.

Die toekenningsprogram neem tussen een en vier jaar om te voltooi en word op drie deurlopende vlakke aangebied: Brons, silwer en goud, met ongeveer 300,000 deelnemers per jaar. Die toekennings het sedert hulle ontstaan meer as agt miljoen deelnemers wêreldwyd gelok. Die doel van die V.K. is om teen 2021 een miljoen meer jongmense (14 tot 24 jaar oud) deur die program te lei – ’n doelwit wat goed op dreef is om bereik te word.

Die oorkoepelende doelwit van die toekennings is om tieners en jong volwassenes aan te moedig en te inspireer om hulle volle potensiaal te bereik deur ’n positiewe gevoel van verantwoordelikheid teenoor hulleself en hul gemeenskappe te ontwikkel, deur persoonlike grense uit te brei, nuwe vaardighede aan te leer, selfvertroue te ontwikkel en gesonde karakterontwikkeling aan te moedig.

Die Hertog van Edinburgh beskryf die toekennings as “’n model om te ontdek hoe die lewe is”. Prins Philip het een keer, met die opregtheid en openhartigheid waarvoor hy bekend is, gesê: “Kinders kom heeltemal onkundig die wêreld in en dít gee hulle ’n idee waaroor die lewe gaan”. Sy jongste seun, Prins Edward, die Graaf van Wessex, wat die ondervoorsitter van die DofE is, beskryf dit as ’n “doen-dit-self-toerusting vir grootword”.

In die V.K. help 1,800 organisasies om die 13,200 DofE-sentrums te bestuur. Die positiewe effek is nie net tot die jong deelnemers beperk nie. Soos Prins Edward oor sy pa tydens die 2016 DofE gedenkdiens van die 60ste herdenking opgemerk het: “U eie besorgdheid oor die welsyn van jongmense en begeerte om hulle ontwikkeling aan te moedig ... het gehelp om miljoene deelnemers, ouers, onderwysers, vrywillige organisasies, leiers, werkgewers, DofE leiers en mentors te bemagtig”.

Die DofE-toekennings is ook internasionaal en opereer as die Duke of Edinburgh International Award Association in meer as 140 lande en gebiede, hoofsaaklik in die voormalige Britse Gemenebes. Die Kongres-toekennings [Congressional Awards] is die onverbonde Amerikaanse ekwivalent van die DofE-toekennings en dateer uit 1979.

 

Lewenslange voordele

Wat is die voordele daarvan om jongmense op hierdie manier uit te daag? Die DofE-webwerf som dit goed op: “Deur ’n reeks persoonlike uitdagings te stel en dit te bereik, verkry jongmense selfvertroue, demonstreer hulle betrokkenheid, spanwerk en leierskap en leer hulle onbeskryflike vaardighede soos aanpasbaarheid en dryfkrag wat noodsaaklik vir werk en lewe is. Nie net bied ’n toekenning oop deure vir universiteit en werkgeleentheid nie, maar die ervaring beïnvloed jongmense se geestelike en fisiese welsyn positief, ’n welkome ondersteuning vir die hantering van die druk van die dag”.

Een deelnemer se opmerking word op die DofE-webwerf aangehaal: “Dit het my geleer dat die uitdagings en pyn waarmee mens te kampe het net tydelik is, die sukses en prestasie bly ’n leeftyd! My DofE-program het gehelp om die persoon te vorm wat ek vandag is. Ek kan nie eens dink wat ek vandag sou doen indien ek nie deelgeneem het nie. Ek sou nie die vriendskappe gehad het wat ek nou het nie, ek sou nie soveel sukses in my beroep behaal het nie en ek sou beslis nie so selfversekerd gewees het as wat ek vandag is nie”.

Hierdie getuienis is maar een van vele wat die positiewe karakterontwikkeling en lewenslange voordele erken wat tieners in staat stel om suksesvol na volwassenheid oor te skakel tydens toenemend uitdagende jare in die hedendaagse samelewing. Die Hertog sê self: “Die DofE het talle jongmense op hulle soms moeilike pad na volwassenheid gehelp”.

 

Ewige Voordele

Die DofE-toekennings wat nou 60-jaar oud is, blyk baie goed te wees, aangesien hulle suksesvol is in hulle doelwitte om jongmense tot ’n beter volwasse lewe aan te moedig. Daar is egter ’n veel betekenisvoller en verreikender beloningsprogram beskikbaar aan diegene wat volwassenheid bereik het. Mens kan sê God het Sy eie “toekenningsprogram” vir almal wie Hy nooi om Hom te eer en te gehoorsaam. Hy is die program se koninklike beskermheer! Hierdie toekennings word deur Jesus Christus bestuur, aan wie God alle uitvoerende magte oorgedra het (Matthéüs 28:18). Dit is ’n wêreldwye omvattende geestelike opleidingsprogram in goddelike karakter, waarvan die eienskappe dié van God Self is – veral goddelike liefde en diens aan ander (Matthéüs 20:25-28).

Net soos dit visie, moed en vertroue van jongmense verg om deel te neem aan die DofE-toekennings, verg dit dieselfde eienskappe en meer, om deel van God se “toekenningsprogram” te word. Dit is moeilik en veeleisend, maar die beloning is ’n goddelike karakter wat gebou word en hoe God dan daardie karakter kan gebruik in ’n glorieryke toekoms. Suksesvolle betrokkenheid in God se program lei verseker nou tot ’n beter lewe, maar dit strek ook veel verder. Dit lei tot die ewige lewe in die Koninkryk van God en bystand aan Jesus Christus wanneer Hy koning word oor die hele aarde. U “het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:10). Indien u meer wil leer oor die ongelooflike beloning wat God aan u bied en waarheen dit alles lei, skryf gerus vir ons boeiende boekie, U uiteindelike Lotsbestemming.