Het u werklik die visie verstaan wat Jesus Christus na hierdie aarde gebring het en wat Sy dissipels verkondig het aan hierdie wêreld? Begryp u werklik die omvang van die visie wat God aan Sy profete van ouds geopenbaar het? Watter impak het hierdie visie van die toekoms op u verstand gehad? Het die realiteit van daardie visie u lewe enigsins verander? 

Elke jaar tydens die Loofhuttefees word ons gekonfronteer met dieselfde vraag: “Waarom is ons hier?” Ons het dit waarskynlik al so baie gehoor dat dit ons nie meer tot stilstand dwing vir selfondersoek na ons redes vir ons bywoning van die Fees nie! Dit is maklik om aan te neem dat ons die antwoord ken – ons is daar om die Fees te hou en ’n voorsmakie te geniet van die Wêreld van Môre waar Jesus Christus en die heiliges sal regeer tydens die Millenium. Om die regte antwoord te ken, beteken egter nie dat ons die visie verstaan nie!

Om die visie te verstaan, behels die vermoë om die werklikheid van die komende Koninkryk van God te kan sien – dat dit wérklik gaan gebeur – en dat u reeds nou kan begin voorberei vir belangrike rolle in die komende Koninkryk van God. Om die visie te verstaan, beteken dat u sal begin om enige aspek van u lewe te verander – die manier wat u dink of optree – om God se opdragte meer volmaak uit te voer, omdat u besef dat ons besig is met opleiding vir toekomstige geleenthede in God se Koninkryk. Een van ons groot verantwoordelikhede in God se Koninkryk sal wees om andere te onderrig in die weë van God (Jes. 30:20-21). Ons sal nie in staat wees om andere te leer dit wat ons self nie werklik glo en nie nou ten volle volg nie! Wanneer u werklik die visie verstaan van die komende Koninkryk van God – wanneer dit vir u werklik is – sal die versoekings, plesiere en prioriteite van hierdie wêreld nie die aantrekking hê wat dit eens gehad het nie. U primêre fokus sal wees op die voorbereiding vir die toekoms en daardie fokus sal u riglyn wees vir u besluite oor hoe om u tyd en energie aan te wend.

Hoe verstaan ons werklik die visie? Hoe bring ons werklik daardie visie in fokus? Wat doen ons as ons die visie verstaan? Hoe maak ons seker dat daardie visie nie vaag raak en opsy gestoot word deur meer onmiddellike aangeleenthede nie? Hoe kan ons voorkom dat ons hierdie ongelooflike en opwindende visie uit die oog verloor?

Visie gedefinieer

Om enigiets te begryp, moet jy eerstens ’n duidelike visie hê van wat jy probeer begryp. As ons vandag die woord visie hoor, mag dit dalk ’n vreemde, bonatuurlike of surrealistiese ondervinding wat nie met realiteit verbind kan word nie, in ons gedagtes laat opkom – ’n droom wat maklik afgewys kan word. Mense wat drome ernstig opneem, word dikwels beskou as effens van lotjie getik. ’n Werklike visie is egter ’n praktiese droom – iets wat ’n mens in die gedagte kan visualiseer – ’n droom met ’n spertyd. Dit is iets wat ’n mens wil doen of bereik; iets wat ’n mens planne en ’n strategie voor beraam om dit te bereik. Dit is iets wat ’n mens jou kan voorstel dat dit werklik kan gebeur of om deel daarvan te wees – ’n doelwit wat ’n mens in jou gedagtes kan sien en in jou hart kan voel waarvoor jy sal opoffer ten einde dit te bereik. ’n Persoon met ’n visie verstaan wat kom – net buite sig, oor die horison – wat ander mense op hierdie tydstip nie verstaan nie. Wanneer mense ’n visie verstaan, begin hulle om hulle lewe te herstruktureer en hulle energie te kanaliseer om daardie visie te verwesenlik – hulle fokus op ’n toekoms wat werklik en haalbaar is.

Om die regte visie te kies, is een van die belangrikste besluite wat u ooit sal neem. Om ’n sin vir visie te ontwikkel, sal ook ’n kragtige impak op u lewe hê, want dit sal u onderskei van die gemiddelde mens – u sal nie meer inpas by baie van u vriende nie – selfs ook familielede. Die skrywer Jonathan Smith het eenmaal geskryf: “Visie is die kuns om aangeleenthede te sien wat onsigbaar is vir ander”. Die Amerikaanse humoris Will Rogers het gesê: “Die kêrel wat ’n week vooruit sien, is gewild, want hy kyk saam met almal, maar die een wat jare vooruit sien, het ’n teleskoop en mense vind dit moeilik om hom te glo”. Ten einde gefokus te bly op ’n visie moet dit vir jou werklik wees – en jy moet die voordele vir jouself en andere kan sien, om die visie te verwesenlik. Die voordele daarvan om die visie ’n realiteit te maak, moet swaarder weeg as enige korttermyn belonings wat ’n mens dalk mag moet prysgee. Die Huttefees en ander Feeste van God is ontwerp om ons te help fokus op die visie – om ’n beter begrip te kry van die plan van God, wat dit vir die wêreld beteken en hoe ons kan voorberei om deel te neem en by te dra in die komende Koninkryk van God. Hierdie is van die ware redes waarom ons God se Feeste bywoon.

Visie van Jesus

Wat was die visie wat Jesus Christus na hierdie wêreld gebring en as die evangelie verkondig het? Dit is tragies dat die enigste evangelie – enigste visie wat baie belydende Christene gehoor en aanvaar het, aangaande die persoon van Jesus is: dat Hy hulle liefhet, Sy lewe vir hulle gegee het en hulle sal seën as hulle Hom en hulle naaste liefhet. Alte dikwels kom dit neer op ’n evangelie van gevoelens en emosies wat die ongelooflike boodskap wat Christus gepreek het, ignoreer en verdoesel asook die fantastiese implikasies van daardie boodskap. Die Bybel is egter baie duidelik oor die visie wat Jesus aan Sy dissipels oorgedra het. 

Markus skryf dat “Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig [het] en gesê: ... bekeer julle en glo die evangelie” (Mark. 1:14-15). Jesus se prediking het behels dat hy “in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees” het (Matt. 4:23; 9:35). Toe Jesus Sy twaalf dissipels geroep het, het Hy “hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak” (Luk. 9:1-2). Jesus het later opdrag aan Sy dissipels gegee “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom” (Mark. 16:15). Alhoewel Jesus verstaan het dat daardie deel van Sy missie was om te sterf vir die sondes van die mensdom, (Joh. 3:16) sodat ons vergewe kon word by bekering (Handelinge 2:38), was Sy groot fokus om die evangelie te verkondig van die komende Koninkryk van God – soos die Bybel onthul. Jesus het gesê dat Sy boodskap direk van Sy Vader kom (Joh. 6:38; 8:26) en dat Hy totaal toegewy is aan die werk en wat dit sou behels (Joh. 4:34). Jesus was ’n man met ’n missie wat gefokus was op ’n visie van die Koninkryk van God. As ons Sy leringe glo en Sy voorbeeld volg, sal ons gefokus bly op dieselfde visie.

Apostoliese Christenskap

Wat was dit wat mense aangetrek het tot die boodskap van Jesus Christus? Waarom was baie bereid om te sterf vir hulle geloof? Wat was die visie wat die Apostels aan die wêreld oorgedra het? Jesus se dissipels het geredelik verstaan dat posisies van groot verantwoordelikheid vir hulle wag in die Koninkryk van God. Jesus het vir die Apostels gesê dat hulle beloning sou wees om die ewige lewe te beërwe en “op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel” (Matt. 19:23-30). Die moeder van Jakobus en Johannes het vir Jesus gevra dat haar seuns topposisies in die Koninkryk moes beklee (Matt. 20:21) wat Jesus laat verduidelik het dat die houding wat noodsaaklik was vir die Koninkryk, is om te leer hoe om andere te dien (Matt. 20:26-28). Individue wat God sal gebruik in verantwoordelike posisies in die Koninkryk sal hulle talente nou ontwikkel om te funksioneer as dienende leiers in die Wêreld van Môre. 

Dit het tyd geneem vir die dissipels om die belangrikheid te verstaan van ontwikkeling van die regte gesindheid en motivering om God se Koninkryk binne te gaan. Hulle het egter die groot prentjie gesien en was opgewonde oor hierdie ongelooflike toekoms! Lukas noem dat die hoofonderwerp van Jesus se gesprekke met Sy dissipels na Sy opstanding gehandel het “oor die dinge van die koninkryk van God” (Hand. 1:3). Die groot vraag in die gedagtes van die dissipels het gegaan oor hulle beloning: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” (Hand. 1:6). Hulle het nie vol emosie gebabbel oor “hoe lief hulle die Heer het nie”! Hulle het die visie verstaan en wou weet wanneer dit ’n realiteit sou word. Dáárop het hulle gefokus. Dit is hoekom hulle opgewonde was!

Die dissipels het verduidelik dat God sonde sou vergewe en Sy Gees sou gee aan diegene wat hulle bekeer het en dat Hy hulle kon red van die lot van ’n wêreld oppad na vernietiging (Hand. 2:36-41). Hulle het egter voortgegaan om dieselfde evangelie en dieselfde visie te verkondig wat hulle harte en verstand aangegryp het. Toe Fillippus na Samaria gegaan het, het hy “die evangelie aangaande die Koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus verkondig” (Hand. 8:12). Toe Paulus gepraat het met die ouderlinge in Efese, het hy hulle daaraan herinner dat hy gekom het om “die koninkryk van God [te] verkondig” (Hand. 20:25). Later in Rome was Paulus steeds besig om “’n kragtige getuienis ... vir hulle die koninkryk van God uit [te] lê ... uit die wet van Moses en uit die profete [het hy] hulle probeer oortuig aangaande Jesus” (Hand. 28:23, 31). Dekades later het Johannes steeds die wonderlike toekoms beskryf vir individue wat bereid was om hierdie visie te deel soos hy verduidelik het dat God “ons konings en priesters vir onse God [sal] ... maak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:10, sien ook 1:6) en dat diegene wat kwalifiseer vir die Koninkryk van God “priesters van God en van Christus [sal] wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Op. 20:6). Die Apostels het nooit daardie visie uit die oog verloor nie! Vir hulle was die Koninkryk van God die magnetiese Noord – dit het hulle op die regte koers gehou – oppad na die regte doel. 

Hierdie ongelooflike visie van die Koninkryk van God was die dryfkrag in die uitbreiding van ware Christendom gedurende die vroeë eeue van die Kerk – voordat misleide leraars visie begin verloor en hulle tot ’n ander evangelie gewend het. Historikus Edward Gibbon verskaf ’n verstommende weergawe van hoe dit gebeur het. Hy skryf: “Die ou en gewilde leerstelling van die Millenium was nou verbind met die wederkoms van Christus ... dat Christus met die triomfantelike gevolg van heiliges en die uitverkorenes wat die dood vrygespring het ... op aarde sou regeer voor die laaste en algemene opstanding ... Die versekering van so ’n Millenium was versigtig ingebring deur ’n opeenvolging van Vaders van Justin Martyr en Irenaeus wat met die onmiddellike dissipels van die Apostels gesprek gevoer het ... Hoewel dit nie universeel aanvaar mag gewees het nie, blyk dit die heersende sentiment van die ortodokse gelowiges te gewees het; en dit blyk so goed aangepas te gewees het tot die begeertes en vrese van die mensdom dat dit tot ’n groot mate moes bydra tot die vooruitgang van die Christelike geloof ... maar toe die bouwerk van die kerk byna voltooi was, is die tydelike steun opsy gestoot. Die leerstelling van Christus se regering op aarde wat aanvanklik hanteer is as ’n grondige sinnebeeld, is beskou as twyfelagtige en nuttelose opinies en is na ’n tydperk verwerp as die absurde versinsel van dwaalleer en fanatisme (The Decline and Fall of the Roman Empire, vol. 1, hfst. 15). Dit is ’n merkwaardige stelling oor wat gebeur het met die sentrale en mees kragtige aspek van die evangelie wat Jesus en Sy dissipels aan die wêreld verkondig het. Die feite van die geskiedenis het aangetoon dat die hoofstroom van Christendom (Katoliek en Protestant) eenvoudig die visie verloor het en nou ’n ander evangelie verkondig – oor om hemel toe te gaan!

Vroeë waarskuwings

Hierdie geleidelike, dog dramatiese afwyking van die waarheid was voorsien en waarskuwings is uitgereik aan elkeen wat wou luister om nie die regte visie uit die oog te verloor nie. Jesus het voorspel: “Baie sal onder my Naam kom en ... sal baie mense mislei” (Matt. 24:5). Paulus was verstom dat individue wat hy persoonlik onderrig het, so gou afvallig geword het “na ’n ander evangelie toe” (Gal. 1:6-9). Ons word gewaarsku dat aan die einde van die dae baie mislei sal word om leuens te glo aangesien “hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het nie” en omdat hulle “die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thess. 2:10-12). Paulus het gewaarsku dat sommiges moeg sou word en die nuwigheid van spekulatiewe idees en fabels sou verkies (2 Tim. 4:3-4). Dit is wat kan gebeur met enigiemand wat nooit regtig die visie verstaan het nie of wat toelaat dat die visie vaag en dof raak of opsy gestoot word deur ander meer onmiddellike korttermyn aangeleenthede of wat eenvoudig die visie laat vaar. Dit is waarom Jesus gewaarsku het “Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk [om sy oë af te wend van die visie], is geskik vir die koninkryk van God nie” (Luk. 9:62). Dit is ook waarom Jesus Sy dissipels aangemoedig het: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matt. 6:33).

Besonderhede van die visie

Waar kry ons die opwindende besonderhede van die visie van die Koninkryk wat Christus se dissipels blykbaar verstaan het maar min oor te sê gehad het in die Nuwe Testament? Paulus dui aan dat sy inligtingsbron die geskrifte van Moses en die profete was (Hand. 28:23). Johannes se aanname dat ons konings en priesters sal wees en op die aarde regeer, kom van Eks. 19:6; Jes. 61:6; Dan. 7:18, 27. God het vir die Ou Testamentiese profete verskeie besonderhede gegee oor die komende Koninkryk van God, wat baie belydende Christene nie gehoor of verstaan het nie. Jesaja onthul dat in die komende Koninkryk van God die wette van God verkondig sal word aan die wêreld vanuit Jerusalem en nasies “sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jes. 2:2-4). Alle nasies sal leer om die Sabbat te onderhou (Jes. 66:23) en die Heilige Dae (Sag. 14:16-19). Jesus Christus sal ’n wêreldregering instel om mense die weg na vrede te leer (Jes. 9:6-7). Die omgewing sal vernuwe word (Jes. 35:1-6) en stede sal herbou word (Jes. 61:4) met voetganger-wandelgange (Sag. 8:5) en groen stroke om kontak tussen die mens en die natuur te behou (Jes. 11:6-9). Mense sal nie langer in geboue woon wat teen mekaar ingedruk is nie (Jes. 5:8); hulle sal in tuinagtige omgewings woon (Gen. 2:15) waar privaat eienaarskap ’n aansporing is om na hulle eiendom om te sien (Miga 4:4). Siektes sal uitgeskakel word soos wat mense leer om die dieetkundige en higiëniese wette soos in die Skrif uiteen gesit, te gehoorsaam (Jes. 35:4-6; 66:15-17; Lev. 11-13). Die hele fokus van die Millennium sal wees op die totale hernuwing van die manier om te lewe gebaseer op God se wette (Hand. 3:19-21). 

Wanneer u begin om die visie te verstaan van waaroor die Wêreld van Môre gaan – wat werklik gaan gebeur op hierdie aarde wanneer die Koninkryk van God gevestig word – gee dit jou ’n duidelike doel om voor voor te berei. Om daardie visie te verstaan, sal motivering verskaf om nie alleen kennis van die Bybel te bekom nie, maar ook om Skriftuurlike beginsels op elke aspek van die lewe toe te pas: landbou, argitektuur, dieresorg, kinderopvoeding, stadsbeplanning, siviele ingenieurswese, bewaring, ekologie, ekonomie, onderwys, vermaak, bosbou, regering, gesondheid, literatuur, huwelik, musiek, voeding, ontspanning en die bestuur van wild om ’n paar te noem – die lys is feitlik eindeloos. 

Min besef dat die Bybel fundamentele riglyne verskaf ten opsigte van die regte benadering tot sovele belangrike dissiplines. Dit is waarom vir ons gesê word dat “die vrees van die Here is die beginsel van die kennis” (Spreuke 1:7). Bybelse beginsels verskaf die ware vertrekpunt vir enige studieveld. Dit is waarom Petrus Christene adviseer: “Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” en om ywerig “by julle geloof [te] voeg” indien ons hoop om die koninkryk te bereik (2 Pet. 3:18; 1:5-11). 

As ons werklik die visie verstaan van waaroor die Koninkryk gaan, sal ons nie slegs tyd insit deur te wag op die Koninkryk nie, maar sal ons aktief daarvoor voorberei. Dit is wat dit beteken om die visie te verstaan!