Op ’n koel en betrokke dag in Washington, DC, het die verkose President na vore getree na die spreker se tafel en hom gereed gemaak om die skare van nagenoeg 30,000 voor hom, toe te spreek. Dit was 4 Maart 1861 en Abraham Lincoln was ingesweer as die sestiende President van die Verenigde State van Amerika.

Die byt in die lug het die gemoed van ’n diep-verdeelde nasie weerspieël. “Geen inhuldigingstoespraak was al ooit gelewer in soortgelyke onrustige tye nie. Gerugte oor dreigbriewe aan Lincoln en aanvalle op Washington het deur die hoofstad versprei” (A Lincoln, Ronald C. White, Jr., bl. 388). Terwyl die verkose President hom voorberei het om sy amp op te neem, het die vooruitsig om ’n skietoorlog af te weer, vervaag. Slegs twee weke tevore was Jefferson Davis ingesweer as die President van ’n nuut-gestigte Konfederasie van State van Amerika. Sewe state het alreeds die Unie verlaat en ’n verdere vier sou spoedig volg. Binne slegs 39 dae nadat Lincoln die ampseed van getrouheid afgelê het, het die eerste skote geklap by Fort Sumter, naby Charleston, Suid-Karolina. ’n Oorlog wat vier pynlike jare sou duur het begin en het byna 3 miljoen vegtende mans betrek en 620,000 lewens geëis.

In Lincoln se toespraak aan die saamgetrekte skare, het hy dit duidelik gemaak dat hy bereid was om te veg om die Unie bymekaar te hou. Hy het nogtans gearbei om ’n versoeningsklimaat te skep om indien moontlik, ’n skietoorlog te vermy. Teen die einde van sy toespraak het hy ’n kragtige oproep gedoen op die broederskap van die nasie:“Ek is ongeneë om af te sluit. Ons is nie vyande nie, maar vriende. Ons moet nie vyande wees nie ...”.

Salig is die vredemakers

Reg deur die volgende vier jaar het gemoedere hooggeloop in ’n gepolariseerde oorlog wat selfs gesinne uitmekaar geskeur het. Vir elke huishouding wat Lincoln se kragtige poging om die Unie staande te hou lof toegeswaai het, was daar ’n ander wat hom uitgekryt het as ’n tiran wie se aksies ’n bespotting maak van die Grondwet van die Verenigde State. Verdeeldheid in Amerika was diep gesetel en President Lincoln het persoonlik die pyn van ’n verdeelde huis ervaar: Vyf van sy vrou se bloedverwante het hulle by die Unie geskaar en agt by die Konfederasie (House of Abraham: Lincoln & the Todds, A Family Divided by War, Stephen Barry, bl. ix).

Terwyl hy deur sommiges gehaat en deur andere verafgod was, het Lincoln en sy hantering van die oorlog sterk gevoelens opgewek by voorstanders van beide die Unie en die Konfederasie. Nogtans is Lincoln as ’n man algemeen gerespekteer deur vriende sowel as vyande, vir een eienskap wat baie mense verrassend sou vind in enige man in sy posisie. In sy omgang met individue, soos bevestig deur sy tydgenote en later deur geskiedskrywers, het President Lincoln hom daarop toegelê om almal met regverdigheid en menswaardigheid te behandel, sover dit vir hom moontlik was. Hy het telkens in ’n moeilike situasie “teruggeval na die grondslag van sy persoonlikheid: Eerlikheid, integriteit, medelye en genade. Dit het gelyk of hy geen gevoelens van haat, wraaksug of kwaadwilligheid koester nie” (Lincoln on Leadership, Donald T. Phillips, bl. 59). Hierdie eienskap was so opvallend dat baie van sy tydgenote hom beskou het as ’n swakkeling en besluitloos as gevolg van sy toegewendheid. Hy het meer kwytskeldings verleen as enige ander president voor hom of daarna.

Dit lyk of Lincoln selfs sommige van sy generaals geinspireer het met sy gesindheid van versoening. Met die oorgawe van die Konfederasie se Generaal Robert E. Lee by Appomattox, het die Unie se Generaal Ulysses S. Grant aan die Konfederasie-troepe ’n milde gebaar van goedgesindheid betoon. Offisiere was toegelaat om hul handwapens te behou en alle Konfederasie-soldate was huistoe gestuur met hul perde en muile, sodat hulle vir die seisoen kon plant. Generaal Lee het dankbaar op hierdie aanbod reageer: “Dit sal die bes moontlike uitwerking op ons manne hê. Dit sal baie bemoedigend wees en baie doen om ons mense te verenig” (White, bl. 670).

Gedurende die formele seremonie van oorgawe wat gevolg het toe die Konfederasie se Generaal John B. Gordon en sy manne voor die Unie se soldate verbybeweeg het, was geen beledigings of gespot uit die Unie se geledere toegelaat nie. In die plek daarvan het die Unie se Generaal Joshua Chamberlain die opdrag vir die “verbymarsjeer saluut” gegee. Onmiddellik nadat hy hierdie eer wat deur mede-soldate betoon is besef het, het die Konfederasie se Generaal Gordon sy perd omgeswaai en die teken aan sy eie brigade gegee om op hul beurt te salueer. Dit het ’n diepgaande uitwerking gehad, want in stede daarvan dat die Konfederasie-soldate verneder is, het die Unie se soldate hulle met respek behandel (The Passing of the Armies, Joshua Lawrence Chamberlain, bll. 260-261).

Nadat die Burgeroorlog verby was, het sommige skoorsoekende stemme aangedring op teenbeskuldigings teen die Konfederasie se soldate en offisiere. President Lincoln het egter geen twyfel gelaat dat hy hulle nie as misdadigers wil behandel nie, maar hul liewer terug wil verwelkom in die kudde (Phillips, bll. 60-61). Tydens ’n na-oorlogse saamtrek by die Withuis het mnr. Lincoln die orkes gelei om “Dixie” te speel as ’n huldeblyk aan die Suidelike State.

In sy gedenkwaardige tweede inhuldigingstoespraak het mnr. Lincoln hom nie toegespits op triomf en oorwinning nie, maar op heling en versoening. Hy het daardie beroemde woorde geuiter: “Met kwaadwilligheid teenoor niemand nie, met welwillendheid teenoor almal, met beslistheid in die reg soos God aan ons gee om die reg te sien, laat ons daarna streef om die werk te voltooi waarin ons is, om die nasie se wonde te verbind, om vir diegene te sorg wat die geveg moes dra en vir sy weduwee en sy wees, en om alles te doen om blywende vrede tussen onsself en met alle nasies te verkry en te waardeer” (White, bl 666). Dit was President Lincoln se hoop dat die wonde van oorlog-verskeurde Amerika vinnig sou heel.

Ongelukkig het nie almal President Lincoln se visie gedeel na die tragiese sluipmoord op hom nie. Terwyl die volgende dekade heelwat vordering gesien het in “die vestiging van ’n openbare skoolstelsel, die toekenning van gelyke burgerskap aan swart mense en die poging om die verwoeste ekonomie van die Suide aan te blaas” (A Short History of Reconstruction, Eric Foner, bl. xiii), was daar ook baie korrupsie en misbruik en letsels wat tot vandag toe bly.

Wat die wêreld nou nodig het

Vandag, een-honderd-en-vyftig jaar later is President Lincoln se persoonlike sin van eer, genade en begeerte tot versoening nog steeds nodig – nou nog meer as ooit. Terwyl ’n kultuuroorlog Amerika en ander Westerse nasies van mekaar skei, bereik politieke teenstanders steeds nuwe vlakke van woede en wraak. Ordentlikheid in politiek is vandag eenvoudig nie ’n werklikheid nie, volgens veteraan politieke verslaggewers en sindikaat-rubriekskrywers Cokie en Steve Roberts. “Nie wanneer ’n Republikeinse wetgewer tydens die Staatstoespraak aan die President skree: “Jy lieg!” nie. Nie wanneer ’n Demokratiese fondsinsameling se beroep op mense verwys na ‘vuurvretende teepartytjie domkoppe’ nie ... Politici aan beide kante staan vir poste in die einste instellings wat hulle afkraak ... die ander kant is nie net verkeerd nie, maar boos” (“We Need Civility,” The Pottstown Mercury, 19 November 2010).

Persoonlike nydigheid in Amerika is egter nie net beperk tot die politieke verhoog nie. Baie mense in ons geslag het eenvoudig net nie geleer “maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe” (Mattheüs 5:39) nie en hoe om konflik konstruktief te hanteer nie. Ons sien eerder dat jong mense met probleme hul klasmaats en onderwysers vermoor om hul te wreek op afknouers. Ons sien motoriste wat op mekaar skiet omdat die een nie vir die ander wil toegee op die deurpaaie nie. Ons sien verontregte werknemers wat wapens saamneem na die werk om probleme op te los. Namate rolprente, televisieprogramme en videospeletjies dade van wraak ophemel, brei ’n kwade en onvergeeflike kanker van die gees uit.

Ekonomiese probleme verdiep ook persoonlike spanning, namate gesinne verplig word om binne steeds-krimpende begrotings te leef. Langdurige werkloosheid dra by tot druk op miljoene mense en armoede in Amerika het tot sy hoogste vlak in 50 jaar gestyg (“About 44 million in U.S. live below poverty line in 2009, census data show,” Washington Post, 16 September 2010). Vir diegene wat nog werk het kan vrese om ’n werk te verloor tot groter spanning en druk lei. Stres as gevolg van vrees vir opseggings van huisverbande en stygende persoonlike skuld kan geweldige druk op huwelike en gesinne plaas. Namate Amerika sy grootste finansiële krisis sedert die Groot Depressie in die gesig staar, word mense getoets op maniere wat hul nie voorheen ondervind het nie. Sal hierdie uitdagings Amerikaners sterker maak, of veroorsaak dat hulle teen mekaar draai?

Ongelukkig verwag gerespekteerde waarnemers burgerlike onrus – met opstande oor voedsel en ander bronne – in ons toekoms. Gerald Celente, Hoof Uitvoerende Beampte van Trends Research Institute, voorspel ’n chaotiese disintegrasie van die Verenigde State van Amerika. In sy artikel “Four Scenarios for the Comming Collapse of the American Empire”, waarsku skrywer Alfred W. McCoy dat verskeie scenario’s saam kan val “in algehele onverwagte maniere, [en] ’n krisis kan veroorsaak waarop Amerikaners duidelik onvoorbereid is. Dit sal dreig om die ekonomie in ’n skielike afwaartse spiraal te draai wat hierdie land vir ’n geslag of meer aan ekonomiese ellende sal onderwerp”.

Opstande in Europa het alreeds gewelddadig geword, namate besnoeiingsmaatreëls die alreeds uitgerafelde senuwees laat knak het. Die sogenaamde PIIGS (Portugal, Ierland, Italië, Griekeland en Spanje) hang nou aan ’n finansiële garedraadjie. Vakbondleiers in Frankryk het geprotesteer teen die Franse regering se plan om die aftree-ouderdom te verhoog. Besware in Engeland teen die verhoogde klasgelde het ontstoke Britse amokmakers selfs teen die Koninklike gesin laat draai.  ’n Bende het selfs in Desember 2010 die motor waarin Prins Charles en sy vrou Camilla gery het, aangeval. Spanning oor ekonomiese krisisse is inderdaad wêreldwyd.

’n Nasie van vyande?

Dit is nie nou die tyd om verwar te word deur sinnelose wense vir wraak nie. Christus se opdrag om geduld en genade geld nog steeds, nou nog meer as ooit: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Mattheüs 19:19). Die vraag is, het ons ons naaste lief? Of, wanneer ons onder druk verkeer, laat ons toe dat gevoelens van persoonlike vergelding oorneem? Wanneer geld skaars is en tye moeilik, haal ons ons frustrasies uit op hulle om ons en behandel ons hulle soos vyande?

Ja, ’n Christen is geroep tot ’n lewe van geestelike oorlogvoering (2 Timotheüs 2:3). Soms herken ons egter nie die werklike vyand nie! Ons bure, ons medewerkers en ons gesinslede is nie ons vyande nie. Nogtans, wanneer ons onder druk verkeer, maak ons soms keuses wat ons later berou. Ons mag die verkeerde ding aan ’n geliefde sê, of mag “ophou” om met gesinslede en vriende te praat as gevolg van iets wat gesê of gedoen is in tye van stres of frustrasie. Die Bybel sê egter dat ons nie op daardie manier moet leef nie: “... vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense; as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here. As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop. Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie” (Romeine 12:17-21).

Wie is ons werklike vyand? Daar is ’n baie toornige en boosaardige gees wat ons wêreld beïnvloed en haat in die menslike gesin aanhits. Hy is ’n magtige geestelike wese: “... die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efesiërs 2:2). In die tyd net voor Christus se wederkoms, sal hierdie wese – Satan, die duiwel – selfs groter chaos en onrus veroorsaak: “Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:12). Paulus vermaan getroue Christene om ons weg getrou te voltooi, “trek [dus] die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Efesiërs 6:11).

Net voor Jesus Christus se wederkoms en die vestiging van Sy Koninkryk, “... sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat ... En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Mattheüs 24:10,12). Die apostel Paulus waarsku dat mense in ons dag meer selfsugtig en hatig sal word namate toestande verbrokkel: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” (2 Timotheüs 3:1-4). Selfs party gesinslede sal mekaar verraai, soos Christus voorspel het: “Maar wanneer julle hoor van oorloë en gerugte van oorloë, moet julle nie verskrik word nie, want dit moet kom. Maar dit is nog nie die einde nie ... En die een broer sal die ander tot die dood oorlewer, en die vader sy kind, en die kinders sal teen hulle ouers opstaan en hulle doodmaak” (Markus 13:7,12). Die dae wat voorlê sal ’n tyd van groeiende onbeleefdheid wees – en selfs erger!

Christene met broederliefde

Gelukkig is dit nie nodig dat ons moet verval in toenemende siklusse van wrokkigheid en vyandskap nie. Jesus sê dat Sy getrouste volgelinge anders sal wees. Hulle sal geestelike Filadelfiërs genoem word (Openbaring 3:7-13), vanweë hulle goedhartigheid teenoor hul naaste en hul passievolle ywer vir die Waarheid. Hulle sal bekend wees vir hul liefde teenoor mekaar (Johannes 13:35) – selfs omdat hulle hul vyande liefhet (Mattheüs 5:44).

 Hierdie getroue Christene sal die voorbeeld van Jesus Christus volg. Selfs onder die uiterste dwang het Hy geweier om Sy vyande te haat. Hy was gegesel en geslaan terwyl die manne wat hom tereggestel het Hom ongenadiglik getart het. Dit is nogtans aangeteken dat Hy gesê het: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Lukas 23:34). Jesus Christus was ’n Man sonder wraak. Sy voorbeeld het ander inspireer: Die martelaar Stefanus het byna dieselfde woorde geuiter terwyl hy gestenig was: “Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie!” (Handelinge 7:60).

Wanneer ware Christene die Nuwe-Testamentiese Pasga onderhou (lees die artikel, Paasfees [Easter] of Pasga: Watter een is vir Christene? elders in hierdie uitgawe), leer hulle die gesindheid van ware nederigheid teenoor mekaar, net soos Christus ons deur Sy voorbeeld geleer het (Johannes 15:15). Hulle leer om andere te vergewe en nie teen hulle uit te vaar nie (Lukas 6:37). Hulle word mense met ’n sterk persoonlike karakter, “versigtig soos slange en opreg soos duiwe” (Mattheüs 10:16). Dit is die soort mense na wie God deesdae soek, om hulle voor te berei vir Sy Koninkryk. Die vraag is: Wat sien Hy in u en in my gedrag?

Met boosheid teenoor niemand nie

Jesus het ’n belangrike gelykenis oor versoening aangebied. ’n Man het twee seuns gehad, een gehoorsaam en die ander ongehoorsaam. Die ongehoorsame seun het sy hele erfporsie verkwis deur losbandig te lewe, maar eendag het dit hom berou en hy het in uiterste nederigheid na sy vader teruggekeer.

Sy vader was in die wolke van blydskap! Hoewel hy nie sy seun se sonde of lewenswyse goedgepraat het nie, was hy dankbaar dat sy seun die weg na bekering gevind het. Hy het sy seun van ver af sien aankom, hy het hom tegemoet gehardloop, hom omhels en hom met trane terug verwelkom. Later, toe die ouer seun wraaksugtig wou hê dat sy broer verwerp moes word oor sy vroeëre misdade, het sy vader gesê: “Nee”! Hy het eerder aan sy woedende seun gesê: “Kind, jy is altyd by my, en al wat myne is, is joue. Ons moet tog vrolik en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind” (Lukas 15:31-32).

Is ons nie dankbaar dat God ons vergewe wanneer ons met hart en siel bekeer en ons tot Hom wend nie? As die ontvangers van Sy genade, indien ons soos Christus word, hoe kan ons nie gewillig wees om ons genade aan andere te betoon nie – mans of vrouens, ouers of kinders, vriende of medewerkers – selfs nie wanneer hulle dinge wat seermaak aan ons gesê of gedoen het nie (Filippense 2:5)? Ware Christene moet alles in hul vermoë doen om “ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins” te wees (Jakobus 3:17). Selfs onder druk moet Christene nie vergelding soek nie (Romeine 12:19). Vergelding behoort aan God wat altyd met die uiterste regverdigheid en billikheid oordeel.

Tydens Lincoln se administrasie was een van die President se vele onaangename take om militêre ontslagte te hanteer. In een so ’n geval wou die militêre owerheid ’n offisier ontslaan omdat hy “skoor gesoek het met ander offisiere”. In plaas van om sy ontslag goed te keur, het President Lincoln die jong man teruggestuur na sy eenheid, met ’n brief van vaderlike advies: “Jy het te veel van ’n lewe voor jou en het te veel belofte as offisier getoon, om jou toekoms ligtelik prys te gee ... Moet glad nie baklei nie ... Geen mens wat besluit het om die meeste van homself te maak, kan tyd afstaan aan persoonlike twis nie” (White, bl. 653). Die jong offisier, James Madison Cutts, het voortgegaan en die enigste soldaat in die Amerikaanse geskiedenis te word om die Erepenning [Medal of Honor] drie keer te wen.

Ware Christene word aangemoedig om dieselfde advies te volg. Moet nie baklei nie. Vergewe en vergeet. Moet nie vergelding soek nie. Waarom? Omdat ons soos God moet word en ons Vader is altyd “’n God van vergewing, genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid” (Nehemia 9:17).

Een-honderd-en-vyftig jaar nadat die Burgeroorlog begin het, is Amerika slegs een van baie nasies wat ongekende gevare en uitdagings in die gesig staar. Nou is die tyd vir getroue Christene om teenstand te bied teen die aandag-afleidende konflikte wat ons tyd vermors en ons gees verswak. Jesus Christus waarsku: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:34-36).

Selfs in moeilike tye – veral in moeilike tye – moet ons manne en vroue sonder wraak wees!