Regdeur ’n geskiedenis van byna 2,000 jaar, het die Christendom verskeie groot skeurings ervaar en duisende versplinterende sektes opgelewer. Ernstige pogings is nogtans nou aan die gang om die verdeeldheid te herstel en die versplinterde stukke weer saam te voeg. Terwyl dit lyk of dit ’n edele en selfs Goddelike doelwit mag wees, besef min mense vandag dat ons kyk na antieke Bybelprofesieë wat besig is om gestalte aan te neem en wat ’n misleide wêreld sal skok en verras!

Agenda vir eenheid

Die moderne strewe om die afdelings onder die versplinterde denominasies van belydende Christenskap te herstel, word aktief deur die Rooms-Katolieke kerk bevorder. In 1964 het die Tweede Vatikaanse Raad (Vatikaan II) die “herstel van eenheid onder alle Christene” en die terugbring van die Protestantse denominasies na die Katolieke kuddes ’n langtermyn-doelwit vir die Roomse kerk gemaak. Die Raad het ’n eeue-oue praktyk verander deur te verwys na gedoopte lede van ander kerke as “afgeskeide broers” in plaas van “ketters”. In 1964 kanselleer die Rooms-Katolieke kerk en die Oosters-Ortodokse kerk ook “hulle onderlinge ban of ekskommunikasie van mekaar” wat in 1054 n.C. begin het. (Foreign Affairs, Mei-Junie 2013). Sedertdien het verskeie pouse en patriarge ontmoet en saam gebid in hulle pogings om eenheid te bevorder. Die Ortodokse patriarg verteenwoordig 250 miljoen gelowiges.

In die 1990’s het die leiers van die Lutherse kerk ’n gesamentlike verklaring met die Rooms-Katolieke kerk onderteken oor die onderwerp van “regverdiging”, ’n omstrede onderwerp wat een van die vernaamste redes was vir die Protestantse Hervorming. Metodiste-leiers het sedertdien die gesamentlike verklaring onderteken. Omstreeks dieselfde tyd het ’n aantal prominente Evangeliese en Katolieke leiers ’n ooreenkoms, met die naam “Evangeliegesindes en Katolieke saam” (ECT vir Evangelicals andCatholics Together) onderteken om samewerking tussen die twee groepe te bevorder. Die Wêreldraad van Kerke en prominente leiers soos dr. Billy Graham het die skuif in die rigting van eenheid onder die talle denominasies wat hulleself Christene noem bevorder. In Januarie 2013 het die VSA Konferensie van Katolieke Biskoppe en vier Gereformeerde Christelike gemeentes ’n ooreenkoms onderteken waarin hulle mekaar se doop erken. Rooms-Katolieke pouse Johannes Paulus II en Benedictus XVI het saam met verskeie aartsbiskoppe van Kantelberg gebid vir die eenheid van hulle kerke.

Gedurende sy 25-jarige opperpriesterskap het Pous Johannes Paulus II na meer as 100 lande gereis om kerk-eenheid te bevorder. Hy het ook voormalige Anglikaanse priesters en gemeentes toegelaat om terug te keer na die Katolieke kerk, met behoud van hulle tradisionele vorms van aanbidding. Pous Benedictus het onvermoeid gewerk “aan die hersamestelling van die volle en sigbare eenheid van al Christus se volgelinge” met sy boodskap van “Eenheid in verskeidenheid en verskeidenheid in eenheid” (Foreign Affairs, Mei-Junie 2013). Pous Francis het Protestantse reaksie op die pousdom versag tydens sy eerste toespraak aan die wêreld vanaf Rome, deur na homself te verwys as bloot die “biskop van Rome”. Tydens sy uitreiking na die charismatiërs (wat volgens skatting 500,000 kan wees), het Francis gesê: “Ons is almal broers” en dat ou verdelings wat skeiding veroorsaak het, ter syde gestel behoort te word. Sy boodskap is aan ’n charismatiese byeenkoms in die Verenigde State gelewer deur die Anglikaanse Biskop Tony Palmer, en hy het aan die byeengekome groep gesê: “Die protes is verby” en “daar is geen nodigheid meer vir ’n Protestantse kerk nie ... ons is almal Katoliek”.

Ignorering van die Skrif

Leiers in die ekumeniese beweging beweer die beweging na eenheid is God se wil deur te verwys na Jesus se gebed vir Sy dissipels “sodat hulle een kan wees net soos Ons” (Johannes 17:11), maar hulle ignoreer wat anders duidelik gestel word in die Skrif. In werklikheid sê Jesus: “Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het” (Johannes 17:9). Hy het ook gesê: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie” (Johannes 6:44), wat aandui dat mense nie net self kan besluit of hulle in God se Kerk wil inkom nie; hulle moet geroep word!

Wanneer pous Johannes Paulus II die godsdienstige leiers van regoor die wêreld (met inbegrip van Moslems, Hindoes en animistiese priesters) in Assisi, Italië ontmoet het en saam met hulle gebid het, het hy hulle verseker: “Ons bid almal tot dieselfde God”. Jesus het egter aan ’n Samaritaanse vrou gesê dat sy nie die ware God aanbid nie (Johannes 4:21-22) en Jesus beskryf die godsdienstige leiers van sy dag as “blinde leiers van blindes” (Mattheüs 15:14). Pous Benedictus het ’n gehoor in Rome verseker: “Elkeen wat vrede najaag ... sal gered word, selfs al kom hy Bybelse geloof kort” (Pope Benedictus XVI’s general audience, 30 November 2005). Tog sê die Bybel die enigste pad na verlossing is deur Jesus Christus (Handelinge 4:10-12). Pous Francis het gesê “die kern van die evangelie gaan oor die armes” maar Jesus het gekom om “die evangelie van die koninkryk van God” (Markus 1:14-15) en die toekomstige regering van God wat op hierdie aarde gevestig sal word, te verkondig (Jesaja 2:2-4, 9:6-7). In die lig van die verskille tussen die Skrif en die verklarings van ekumeniese leiers, behoort ons Jesaja se waarskuwing te onthou: “Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ’n volk wat geen dageraad het nie” (Jesaja 8:20)! 

Profetiese betekenis

Bybelprofesieë het lank reeds voorspel dat net voor die Wederkoms van Jesus Christus, daar ’n poging sal wees om een wêreldgodsdiens te vorm wat sal begin met ’n “moederkerk” se pogings om met haar dogters te verenig. Openbaring 17:1-5 noem ’n vrou (’n kerk) en beskryf haar as ’n “groot hoer” en “die moeder van die hoere”, wat ’n dier sal ry en wie se godsdienstige oortuigings en handelinge teruggevoer kan word na antieke Babilon. Hierdie vrou sit op sewe berge (Openbaring 17: 9) – Rome sit op sewe heuwels. Sy beweer sy is “gebiedster vir altyd” (Jesaja 47:7) – Rome is die “ewige” stad. Sy sê: “Dit is ek en niemand anders nie” (Jesaja 47:8) – die Roomse kerk maak aanspraak daarop om die een ware kerk te wees en beweer: “Ek sal nie ... kinderloosheid ken nie” (Jesaja 47:8), wat dui op ’n ekumeniese poging om met haar dogters wat haar verlaat het (“protesterende dogters”) te verenig. Ons sien dit vandag gebeur!

Openbaring 13 sê die opkoms van hierdie diermoondheid sal die wêreld verras (vers 3). Die dier sal ondersteun word deur ’n prominente, godsdienstige figuur wat wonderwerke doen en aan die hoof staan van ’n groot valse kerk. Die Skrif dui aan dat die dier en die valse profeet albei deur Satan bemagtig sal word en saam sal hulle die wêreld mislei om die valse godsdiens van die dier te aanbid. Daniël hoofstukke 2 en 7 dui aan dat hierdie eindtydse dier en die valse profeet in Europa sal opstaan en historiese bande sal hê met die antieke Romeinse en Middeleeuse “Heilige Romeinse” ryke. Dit behoort geen verrassing te wees om te weet dat talle Rooms-Katolieke pouse die opkoms van die Europese Unie, wat hulle probeer deurdrenk het met Katolieke maatskaplike waardes, aktief bevorder het nie. Die ekumeniese beweging waarvan ons vandag getuie is, sal die hoogtepunt bereik met die verskyning van hierdie twee prominente figure, wat die wêreld sal mislei om hulle sataniese leerstellings te volg en dit sal plaasvind net voor die Wederkoms van Jesus Christus. U behoort op u hoede te wees noudat hierdie antieke profesieë besig is om gestalte aan te neem, terwyl hulle die wêreld verras en mislei!