Agter die skerms van die belangrikste wêreldgebeure – wat egter alle wêreldgebeure en maatskaplike bewegings totaal deurdrenk – is die feit dat daar ’n werklike oorlog deur geeste gevoer word om beheer te verkry oor die mensdom se harte en verstande. Selfs die meeste belydende Christene kan nie eens begin om te besef hoe werklik hierdie oorlog is nie! Onthou dat Jesus aan die einde van Sy lewe aan Sy dissipels gesê het: “Ek sal nie veel meer met julle spreek nie; want die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie” (Johannes 14:30). Want, die owerste – of, soos die King James Vertaling dit stel, “prins” – van hierdie wêreld was inderdaad besig om in die persoon van Judas Iskáriot Christus te probeer vernietig.

Jesus konstateer: “Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word” (Johannes 12:31). Satan word ook genoem “dieowerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efesiërs 2:2). Ja, Satan en sy demone “werk”. Hulle word nooit moeg nie. Hulle hou nooit op nie.
 
Ek bid dat almal van u, geagte lesers, sal begin verstaan dat Satan die duiwel daarop uit is om elke laaste oorblyfseltjie van ware Christelikheid te vernietig, veral in die hedendaagse nasies wat van antieke Israel afstam! Soos lesers wat ons tydskrif lankal reeds lees verstaan, voel ons in hierdie Werk dat die “hoofstroom Christendom” nie werklik die grootste deel van die Bybel verstaan nie. Dit is duidelik vir diegene wat die Bybel werklik met ’n oop gemoed en verstand bestudeer. Die bose Satan wil egter selfs daardie laaste deeltjie van ware Christelike lering en menslike ordentlikheid vernietig wat nog in die “hoofstroom Christendom” bestaan – of in enige soort belydende Christelikheid!

Ons is egter aan die vooraand van ’n werklike “Geestesoorlog” – en die voorlopers van daardie oorlog is alreeds in aantog. Die apostel Johannes was geïnspireer om ons te vertel van ’n tyd wat voorlê – na aan die einde van hierdie tydvak – toe daar “oorlog in die hemel gekom [het]”. Hy beskryf hoe Satan die duiwel terug gegooi moes word na die aarde – “die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei [mislei], hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp”. Toe was “die aanklaer van ons broeders ... neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag”. Die mense van hierdie wêreld word gewaarsku, “wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:7-12).

Dink! 
Satan weet dat die Verenigde State – in een opsig – die “laaste bastion” is vir mense om algehele godsdiensvryheid te hê, asook die vermoë om dit oor die radio, televisie en deur ander media te verkondig. Hy haat die nasie se agting vir enige soort Christelikheid, en hy lei ’n hele “koninkryk” – insluitend tallose demone – ten einde sy vernietigende doel te bereik!

In die boek van Daniël beskryf God “geestesoorloë” wat dikwels agter die skerms gevoer word – maar wat nogtans die sake van baie nasies kragtig beïnvloed. Terwyl Daniël God met sy hele hart gesoek het, het God ’n engel gestuur om hom te bemoedig en in te lig. Satan het nie hiervan gehou nie – dus het hy demone gebruik om God se boodskapper te probeer verhinder. Daniël beskryf hierdie geveg in Daniël 10:12-14. Wanneer God se engel opdaag, het hy aan Daniël gesê: “Die engel van die Persiese ryk het my een en twintig dae lank teruggehou, maar toe het Migael, een van die vernaamste engele, my te hulp gekom en ek was nie meer nodig teen die Persiese konings nie” (vers 13 NV). ’n Bietjie later het God se engel aan Daniël openbaar: “Weet jy waarom ek na jou gekom het? Ek moet dan nou teruggaan om te veg met die vors van die Perse; en as ek heengegaan het, kyk, dan kom die vors van Griekeland. Nogtans sal ek jou te kenne gee wat geskrywe is in die boek van die waarheid; en daar is nie een wat hom saam met my dapper gedra teen hulle nie, behalwe julle vors Mígael” (verse 20-21).

Ja, God se getroue engel moes “veg” met die “vors van die Perse” – duidelik een van die geestelike demone wat God toegelaat het om verskeie koninkryke gedurende daardie tyd te beïnvloed.

Kan ons dit betwyfel dat verskeie soortgelyke gebeure vandag agter die skerms plaasvind? Die mense van hierdie nasie – en die meeste van ons Westerse nasies – is besig om sterk beïnvloed te word deur geestelike wesens! Miljoene word so heftig teen God se weë gedraai dat hulle woedend is – op ’n heeltemal ongekende manier – teenoor selfs diegene wat sou opstaan vir tradisionele sienings van die huwelik, die gesin en ander histories goedgekeurde instellings.

Dit voer alles terug na die goddelike wet van die Almagtige God – die Tien Gebooie. Mense het hul nou die bevoegdheid aangematig om self te besluit wat “reg” en wat“verkeerd” is. Die Ewige God wat baie werklik is – en wat alreeds begin het om soos nog nooit tevore in menslike sake in te gryp – het nie aan hulle enige sodanige reg gegee nie! Van die begin tot die einde van u Bybel veroordeel God baie kragtig homoseksuele gedrag. Hy veroordeel ook owerspel en hoerery – en baie ander vieslike gebruike wat vandag meer en meer goedgekeur word. In die Nuwe Testament was die apostel Paulus geïnspireer om aan ons te vertel: “Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie” (1 Korinthiërs 6:9-10).

Hoekom probeer mense so hard om weg te doen met die begrip van ’n werklike God, ’n God met gesag wat die wêreld regeer en wat in menslike sake ingryp? Terwyl ek groot geword het, het een van die welbekende filosowe en “intellektueles” die volgende bekentenis gemaak: “Vir myself, soos ongetwyfeld vir die meeste van my tydgenote, is die filosofie van sinloosheid hoofsaaklik ’n middel tot bevryding. Die bevryding wat ons verlang het was ’n gelyktydige bevryding van ’n sekere politieke en ekonomiese stelsel en bevryding van ’n sekere stelsel van sedelike gedrag. Ons het beswaar gemaak teen die moraliteit omdat dit inmeng met ons seksuele vryheid ... Daar was een uitstekende en eenvoudige manier om hierdie mense te verwar en ons terselfdertyd te regverdig in ons politieke en erotiese opstand: Ons kon ontken dat die wêreld hoegenaamd enige doel het” (Aldous Huxley, Ends and Means, bl. 270).

Sien u? 
Hierdie sogenaamde “intellektueles” – nou toenemend in beheer van ons hele lewenswyse – selfs in ons besighede en banke – het die basiese begrip hierbo vertolk! Hulle glonie in die God van die Bybel nie! Dit is so eenvoudig soos dit. Enige sodanige geloof en agting vir die geïnspireerde Bybel word verwerp omdat “dit inmeng met ons seksuele vryheid” – om Huxley se opmerking te omskryf. Natuurlik dra ander ydelhede en die hebsug na geld en mag ook tot die vergelyking by.

Indien u egter persoonlik, die spesifieke profesieë wat aandui dat daar ’n “Groot Verdrukking” oor ons mense sal kom indien ons ons nie bekeer nie, wil ontduik, dan moet u persoonlik aan uself bewys dat daar ’n baie “werklike” God is en begin om daardie God te gehoorsaam, aangesien Satan se plan vinnig momentum kry in Amerika en die ander Engelssprekende nasies! Slegs ’n paar maande gelede was daar net een staat in Amerika wat sogenaamde “dieselfde-geslag huwelike” toegelaat het. Nou, met Maine [’n staat in Amerika] se wetgewing wat onlangs hierdie praktyk goedgekeur het, lyk dit asof vyf state wil begin om hierdie gruwel toe te laat. Met die media wat nou koorsagtig ’n storm van protes en selfs smerigheid aanwakker teen enige persoon wat hierdie golf van sedeloosheid teenstaan, verwag ek dat dit nie meer lank sal duur voordat die meestevan ons Amerikaanse state gaan toelaat dat mans met mans en vrouens met vrouens trou nie!

Indien u werklik die motiewe en metodes van hierdie mense verstaan – wat in hulle eie geskrifte openbaar word – dan sal u verstaan dat hulle binnekort ook “groepseks” en “drietal” huwelike tussen een man en twee vroue of twee mans en een vrou; of “groephuwelike” gaan inbring. Hulle gaan ook toelaat dat sogenaamde “man-seun liefdesverhoudings” voortgaan, uiteindelik ook bestialiteit goedkeur en byna elke skandelike praktyk wat deur mense uitgedink kan word onder die invloed van die verdraaide verstand van Satan die duiwel.

Dit is werklik.
My vriende, dit is waarheen ons op pad is, indien ons ons nie bekeer en terugkeer na die wette van die Almagtige God as ons standaard van gedrag nie. Mag God u help om te verstaan, en te handel, voordat dit te laat is. Die donkerte oorval ons vinniger as wat baie van u besef. Soos die apostel Paulus dit stel: “Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord” (Romeine 13:12).

Indien u verdere hulp benodig om die bestaan van ’n ware God en die inspirasie van Sy woord te bewysskryf assseblief aan ons of skakel ons vandag en vra vir u gratis kopie van ons werklik bewusmakende boekie, Die Bybel: Feit of Fiksie? Maak ook seker dat u ons baie insiggewende en besielende boekie, Die Tien Gebooie, aanvra.