Die wêreld se ekonomiese toestande is op die rand van ineenstorting. Is u en u geliefdes gereed daarvoor?

Is die wêreld-ekonomie verby die punt waar geen terugkeer meer moontlik is nie?


Vorm ’n denkbeeldige prentjie in u gedagte van ’n man wat op ’n houtstoel met vier pote sit. Stel uself dan voor wat sal gebeur as hy die stoel stadig agteroor begin kantel sodat die voorste pote van die vloer af oplig. Die stoel sal stabiel bly tot op ’n sekere punt waar dit beswaarlik gebalanseerd sal bly op sy twee agterpote. Op daardie punt sal die kleinste stampie die man en die stoel agteroor laat tuimel. Daardie punt is “die kantelpunt van ewewig”.

Nasionale ekonomieë kan net soos daardie stoel wees. Dink daaraan dat wanneer regerings meer bestee as wat hulle ontvang, finansier hulle gewoonlik die verskil deur lenings aan te gaan. Die rentekoers wat hulle moet betaal, word hoofsaaklik bepaal deur die beleggers se vertroue ten opsigte van die terugbetaling en monetêre inflasie in die land wat leen.

Wanneer regerings groot bedrae skuld in verhouding met die grootte van hulle ekonomieë ophoop, raak beleggers bekommerd. Die kredietgradering van die regering kan dan verlaag word, wat gevolglik hulle uitleenkoste sal verhoog. Die verhoogde uitleenkoste beperk weer die regering se vermoë om die skuld te delg, wat ’n verdere verlaging in hulle kredietwaardigheid tot gevolg kan hê – wat op sy beurt die uitleenkoste weer verhoog. Namate hulle krediet opdroog moet die regering dan belastings verhoog en uitgawes verminder – die sogenaamde “besparingsmaatreël” – wat die ekonomie inperk en die probleem vererger. ’n Verwoestende afwaartse ekonomiese- en kredietspiraal kan gevolglik begin.

Huil oor Argentinië?

Argentinië is ’n pragtige land met 40 miljoen mense wat geseën is met groot natuurlike hulpbronne, vrugbare vlaktes wat pampas genoem word en ’n wêreldbekende wyn-produserende streek naby die majestueuse Andesgebergtes. In 2002 het die nasie egter versuim om sy soewereine skuld te betaal. “Argentinië het 11 jaar gelede versuim om sowat $100 miljard ($100 Amerikaanse biljoen) in effekte te vereffen waarna sy skuld 166% van die bruto binnelandse produk (BBP) verteenwoordig het. Bankdeposito’s is gevries en het in waarde verminder. Die ekonomie het in een jaar met 11% gekrimp en miljoene mense het hulle werk verloor” (Reuters, 13 Mei 2013, Hilary Burke). Argentinië het hiperinflasie, onluste en die val van die regering beleef. Na daardie ineenstorting het die Argentynse ekonomie vir ’n rukkie herstel, maar die nasie het sy toegang tot baie van die wêreld se kapitaalmarkte verloor. Ongelukkig ervaar hierdie pragtige land weereens hoë inflasie, ’n swak ekonomie en maatskaplike onrus. Die wanbetaling van ten minste ’n deel van die skuld is weereens ’n bron van kommer. Sal Amerika homself binnekort in ’n soortgelyke situasie bevind?

Die Amerikaanse skuldbom: Volgens die getalle

In 2004 was Amerika se soewereine skuld se totaal $7.3 biljoen ($7.3 Amerikaanse triljoen) of ongeveer $70,000 per belastingbetaler. Na die finansiële krisis van 2008 het die regering begin om biljoene dollar tekorte op te hoop in ’n poging om die ekonomie te stimuleer. Volgens die Kongres se begrotingskantoor, word daar beraam dat die verbysterende tempo van skuldophoping vir die huidige fiskale jaar, effens sal daal tot sowat $759 miljard ($759 Amerikaanse biljoen) – sowat 4% van die BBP. Dit is heelwat minder as die $1.4 biljoen ($1.4 Amerikaanse triljoen) tekort – 10,1% van die BBP – wat die regering in 2009 gehad het, maar dit gaan steeds teen ’n onvolhoubare tempo voort.

Dit is jammer dat die geprojekteerde afname vir 2013 moontlik tydelik is, aangesien dit hoofsaaklik as gevolg van die tydelike, eenmalige winste van die verbandreuse, FNMA en FMCC is. Foxnews.com berig dat Rep. Chris Van Hollen, (D-MD), hoof Demokraat van die Huis se Begrotingskomitee gesê het: “Die goeie nuus is dat die korttermyn se tekort aan die afneem is, maar dit lyk asof die afname hoofsaaklik die gevolg is van addisionele, eenmalige inkomstes, eerder as ’n opswaai in ekonomiese groei” (foxnews.com, 15 Mei 2013). Maya MacGuineas, president van die Komitee vir ’n Verantwoordelike Federale Begroting het bygevoeg: “Die rooskleuriger-as-verwagte korttermyn vooruitskattings verander nie die feit dat die stygende koste van gesondheidsorg, ’n ouerwordende bevolking, die dreigende bankrotskap van die Maatskaplike Sekerheid en die steeds-toenemende renteterugbetalings, die nasionale skuld aansienlik sal vermeerder nie” (ibid.).

Vanjaar se tekort sal op 4% van die ekonomie te staan kom, heelwat minder as die 10,1% wat in 2009 ervaar is, toe die regering ’n rekord tekort van $1.4 biljoen ($1.4 Amerikaanse triljoen) gehad het. Mense dink dikwels dat China al hierdie Amerikaanse soewereine skuld geabsorbeer het, maar dit is nie korrek nie. Sedert Julie 2013 hou China inderdaad meer as $1.2 biljoen ($1.2 Amerikaanse triljoen) aan Amerikaanse skatkiswissels, koop nuwe staatseffekte, selfs terwyl ander buitelandse beleggers meer geneig is om netto verkopers te wees. Gedurende die afgelope paar jaar het China nuwe Amerikaanse skuld teen ongeveer dieselfde koers gekoop as waarteen die bestaande verbande verskuldig betaal is. Die Amerikaanse Federale Reserwe is verreweg die grootste aankoper van Amerikaanse soewereine skuld en koop die meeste van die nuwe uitgifte op. Amerika is besig om sy eie skuld te koop.

Sedert vroeg 2013 het die totale Amerikaanse soewereine skuld gestyg na $16.8 biljoen ($16.8 Amerikaanse triljoen) – $148,000 per belastingbetaler, waarvan $12 biljoen ($12 Amerikaanse triljoen) – 75% van die BBP – gehou word deur die publiek en die res is skuld van binne-regeringsorganisasies, soos geld wat verskuldig is aan die Maatskaplike Sekerheid Trustfonds en Medicare Trustfonds. Al hierdie geld wat van betaalstaat belastings vir hierdie trustfondse ingevorder is, word vinnig deur die regering uitgegee en word vervang met onbemarkbare Amerikaanse Tesourie obligasies. Hierdie verpligtinge aan binne-regeringsorganisasies sal in die toekoms terugbetaal moet word indien daar met Medicare en Maatskaplike Sekerheidsvoordele voortgegaan wil word soos wat aan die publiek beloof is. In wese is die skuld dus verskuldig aan die publiek. Die totale Amerikaanse soewereine skuld beloop nou sowat 105% van die BBP en die skuldeisers sal hulle geld met rente terug wil hê.

’n Wenk van stygende koerse

Kan die stygende rentekoerse die skaal finaal laat kantel? Baie ontleders dink dat daar ’n “punt is waar geen terugkeer meer moontlik is nie”, dit is wanneer die ekonomie ’n afwaartse spiraal volg waarvandaan dit nie kan herstel nie. Onlangs was rentekoerse op Amerikaanse skuld op ’n historiese laagtepunt, maar opbrengste uit langtermyn Amerikaanse skatkisnote het dramaties toegeneem gedurende die afgelope twaalf maande. ’n Terugkeer na ’n omgewing met normale koerse sal ’n geweldige verhoging in dienskoste van skuld beteken. Indien koerse die hoogte sou inskiet, kan die tekort dramaties toeneem en die land se skuldlas sal verder vergroot. Koerse is nou besig om te styg.

Ekonoom en kommentator Bill Mauldin noem die kantelpunt van ewewig “The Bang! moment” of “die Kantel!-oomblik” en adviseer “... skuld is nie ’n probleem totdat ’n mens dit het nie. Dan bereik dit ’n kritieke massa en jy het wat hulle die Kantel!-oomblik noem ... Al wat ons nou van die skuld-tot-BBP-verhoudings weet is dat dieKantel!-oomblik wel bestaan, maar die presiese tydstip vir enige gegewe land is iets wat ons nie kan bereken nie. Waar daardie lyn egter ookal mag wees, wanneer dit gekruis word, Pardoems! Alles verander” (22 Februarie 2013).

Ander ekonome dink egter dat ons wel kan weet wat die kantelpunt is. In ’n studiestuk wat vroeër hierdie jaar aan die Amerikaanse Monetêre Forum in New York aangebied is, het ’n groep van die voorste ekonome die volgende te sê gehad: “Lande met hoë skuldlaste is baie kwesbaar vir ongunstige terugvoer wat twyfel by uitleners laat ontstaan en gevolglik lei tot hoër soewereine rentekoerse, wat op sy beurt die skuldprobleme vererger. Ons analiseer die onlangse ervaring van gevorderde ekonomieë met behulp van beide ekonometriese metodes sowel as gevallestudies en kom tot die gevolgtrekking dat lande met skuld van meer as 80% van die BBP en volgehoue tekorte op hulle lopende rekening, vatbaar is vir ’n vinnige fiskale agteruitgang as gevolg van hierdie punt van ewewig dinamika. Hierdie soort terugvoer is uitgelaat uit die huidige langtermyn Amerikaanse begrotingsprojeksies en kan dit baie moeilik maak vir Amerika om ’n volhoubare begrotingsrigting te handhaaf. ’n Potensiële fiskale krisis plaas ook fundamentele beperkingsop watter monetêre beleid dit in staat is om te bereik” (Crunch Time: Fiscal Crises and the Role of Monetary Policy, 22 Februarie 2013).

Skiet die Amerikaanse Federale Reserweraad met loskruit?

Een van die primêre rolle van die Amerikaanse Federale Reserweraad (Fed) is om die land se monetêre voorraad te beheer, die sogenaamde “M2”, wat al die kontant en aanvraag-deposito’s (soos byvoorbeeld tjek- en spaarrekenings) in die ekonomie is. Trouens, die Fed het groot hoeveelhede effekte in die laaste paar jaar aangekoop in die sogenaamde “Kwantitatiewe Verligting”. Dit dryf rentekoerse afwaarts en beteken ook dat die aankoop van obligasies deur die Fed groot bedrae geld in die Amerikaanse ekonomie inspuit – ’n poging om dit te stimuleer. Die ekonome wat hierbo aangehaal is sê by die kantelpunt van ewewig raak die monetêre beleid oneffektief om beheer uit te oefen oor die geldvoorraad en die ekonomie. Is daar enige bewyse dat dit wel die geval is?

Oor die afgelope vyf jaar van gepoogde monetêre uitbreiding, was ’n skeiding aan die broei. In die eerste kwartaal van 2013 het die Fed $277.5 miljard ($277.5 Amerikaanse billion) se obligasies aangekoop en daardie bedrag in die ekonomie ingespuit, maar die geldvoorraad, M2, het gedurende daardie tydperk eintlik met $55 miljard ($55 Amerikaanse billion) gekrimp. Dit het hoofsaaklik gebeur omdat hoe meer geld die Fed inspuit, hoe stadiger raak die sirkulasie van geld – dit word dieomloopsnelheid van geld (“V”) genoem. Die omloopsnelheid van geld is op sy laagste vlak in meer as ’n halwe eeu. Omdat die ekonomie dit nie gebruik nie en die prysvlakke nie veel styg nie, hoop al daardie ekstra geld in banke op wat dit dan as oortollige reserwes in ... die Federale Reserwe deponeer! Oor die afgelope 5 jaar het die Fed se balansstaat opgeskiet van ongeveer $890 miljard ($890 Amerikaanse billion) in die vroeë 2008 tot $3.75 biljoen ($3.75 Amerikaanse trillion) in die middel van Oktober 2013! Dit wil voorkom asof die reguleerders nie net hulle monetêre teikens mis nie, hulle skiet moontlik met “loskruit”!

Inflasie of deflasie?

Groot fiskale tekorte en toename in die monetêre voorraad van ’n ekonomiese stelsel gaan dikwels ’n inflasionêre spiraal vooraf. Namate pryse oortollige monetêre voorraad absorbeer, kan inflasionistiese verwagtings toeneem en meer prysverhogings aanvuur. Inflasie kan buite beheer raak, soos dit in die 1920’s in Duitsland gebeur het. Gedurende 1923 tot 1924, toe dit op sy ergste was, het die Duitse hiperinflasie een biljoen mark vir een Amerikaanse dollar bereik en pryse het elke tweede dag verdubbel. Die geldeenheid het waardeloos geword.

Meer onlangs het Argentinië hiperinflasie ondervind tydens die krisis van 1989 tot 1992. Dit is moeilik om prysvlakke tydens hiperinflasie te meet, maar ekonome sê dat die Argentynse prysvlakke teen ’n jaarlikse koers van meer as 10 000% per jaar verhoog het. In 1992 was een peso gelykstaande aan 100,000,000,000 peso van ’n dekade vroeër. ’n Swaar resessie het gevolg en die ineenstorting van die regering het daaruit voortgevloei.

Gedurende die Carter-administrasie het inflasie in Amerika byna buite beheer geraak en gestyg van 5,2% in 1979 toe hy ingehuldig is, tot meer as 14% in 1980. Die Fed se voorsitter, Paul Volcker, het die monetêre remme aangeslaan deur die Federale Fondse se rentekoers te verhoog na 20% en die prima uitleenkoers van banke het in 1981 gestyg tot 21,5%! Inflasie het egter gedaal en Amerika se ekonomie het weer in die 1980’s begin groei. Amerika se ekonomie was op ’n punt van ewewig met inflasie. Die Fed se voorsitter, Volcker, het die ekonomie op die laaste nippertjie daarvan teruggetrek.

Veroorsaak groot regeringstekorte dus altyd inflasie? Waar is bewyse van dreigende inflasie in vandag se ekonomie? Dit mag moontlik in die toekoms verskyn, maar dit is nog nie duidelik nie, ten minste nie so dramaties nie. Selfs met al die tekorte en Kwantitatiewe Verligtings, was die maandelikse inflasiekoers vir die eerste agt maande van 2013 gemiddeld net 1,6%. Deflasie wat voorkom wanneer prysvlakke verlaag, kan vir die sentrale bankiers baie moeilik wees om te beheer en die meeste sal liewer inflasie as deflasie verkies. Regerings kan rentekoerse verhoog om inflasie teen te werk – soos Paul Volcker gedoen het – maar hulle kan nie rentekoerse verlaag tot minder as nul nie. Die opbrengs van Amerika se 13-week skatkiswissels was vir die afgelope vyf jaar beswaarlik meer as nul.

Deflasie kan baie onversetlik wees. Vir twee dekades lank het Japan die ergste nadelige besteding van enige geïndustrialiseerde nasie gehad – sy totale skuld was meer as 230% van die BBP, vergeleke met Griekeland se skuld van 175% van die BBP. Nogtans het Japan van 1990 tot 2010 wat genoem word “Die Verlore Dekades” beleef, waartydens die ekonomie teen volgehoue deflasie geworstel het. In Japan was rentekoerse vir meer as ’n dekade lank naby aan nul, sonder dat inflasie veroorsaak is. Die Japannese Eerste Minister, Abe, neem tans drastiese stappe in ’n poging om die Japannese ekonomie weer aan te blaas. Die situasie in Amerika is nie presies dieselfde as in Japan nie – daar is verskillende redes vir die Japannese deflasie – maar daar bestaan wel baie ooreenkomste. Amerika sien deflasionistiese druk soos hoë werkloosheid, dalende kommoditeitspryse en ’n stadiger omloopsnelheid van geld onder die oë. Die Amerikaanse ekonomie en prysvlakke reageer al hoe minder op die Federale Reserwe se beleid van kwantitatiewe verligting.

Die kantelpunt van ewewig vir deflasie kom wanneer die aanvraag na goedere en dienste krimp en pryse verlaag, wat op sy beurt die ekonomie vertraag en wat die aanvraag verder verminder. Hoë werkloosheid is geneig om deflasionisties te wees aangesien mededinging vir werksgeleenthede lone verminder – wat dus aanvraag verder verminder. So wentel die spiraal dus afwaarts en as dit eers begin het, is dit baie moeilik vir regerings om dit om te keer. Dit was die situasie vir baie van die wêreld se ekonomieë tydens die Groot Depressie van die 1930’s.

’n Wenk uit die verlede

Amerika is grootliks deur God geseën. Die leiers en volk van die vorige geslagte het oor die algemeen erken dat hulle seëninge van God gekom het. God sê aan ons dat dit Hy is wat dit vir ons moontlik maak om rykdom te verkry, maar Hy waarsku ons ook daarteen.

Neem jou in ag dat jy die Here jou God nie vergeet deur sy gebooie en sy verordeninge en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, nie te hou nie; sodat jy nie miskien eet en versadig word nie en mooi huise bou en bewoon, en jou beeste en jou kleinvee vermeerder en jou silwer en goud vermeerder, ja, alles wat jy het, vermeerder en jou hart hom dan verhef, dat jy die Here jou God vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het; en jy in jou hart dink: My krag en die sterkte van my hand het vir my hierdie rykdom verwerwe. Maar dink aan die Here jou God, dat dit Hy is wat jou krag gee om rykdom te verwerwe ...” (Deuteronomium 8:11-14, 17-18). Dus, op watter manier sal Amerika se ekonomie kantel?

’n Nasie wat deur God geseën is om rykdom te verwerf is dikwels ’n uitlener aan ander nasies. Dit was in die verlede die geval met Amerika. “Die Here sal sy goeie skatkamer, die hemel, vir jou oopmaak om die reën van jou land op die regte tyd te gee en om al die werk van jou hand te seën; en jy sal aan baie nasies uitleen, maar self nie hoef te leen nie. En die Here sal jou die kop en nie die stert maak nie, en jy sal net boontoe en nie ondertoe gaan nie as jy luister na die gebooie van die Here jou God wat ek jou vandag beveel om te hou en te doen” (Deuteronomium 28:12-13).

Wat sê God egter sal gebeur wanneer Hy Sy seën onttrek? Skuld, om mee te begin. “Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër oor jou opklim; en jy sal laer en laer afsak. Hy sal aan jou leen, maar jy sal aan hom nie leen nie; hy sal die kop en jy die stert wees” (Deuteronomium 28:43-44).

Sommige mense sal op die harde manier moet leer “... hy wat leen, is ’n slaaf van die man wat uitleen” (Spreuke 22:7).