Niemand hou daarvan om te misluk nie. Die wyse waarop ons op mislukking reageer spreek egter boekdele oor ons karakter. U Bybel dui aan hoe Christene wat beproewings en probleme beleef kan oorleef en voorspoedig kan wees!

Terwyl ek op die basketbalbaan afgehardloop het, het ek gevoel hoe my voete verstrengel raak en ek begin val. Dit het gelyk of die beton wat met los stukkies gruis en grond besaai was, oplig om my tegemoet te kom. Vir ’n oomblik het dit gelyk asof die tyd stadiger raak terwyl ander spelers eenkant toe geswenk het.

Ek het my gereed gemaak vir die onvermydelike buiklanding en toe skielik, binne ’n oomblik, onthou ek die afrigter se waarskuwende woorde in so ’n geval: “Trek inmekaar en rol!” Hy het ons geleer om nie ’n val te probeer vermy nie, maar net die elmboog en skouer in te “trek” en daardeur te rol.

Ek het die afrigter se raad gevolg en deur die val gerol. Ek was verras deur hoe vinnig ek regop en terug op my voete was. Ek het myself van ’n lelike skaafplek gered en het lelike snye aan my arms en elmboë vermy as gevolg van die gruis. Ek het dalk ’n gebreekte polsgewrig verhoed. Dit was ’n baie goeie les; daar is ’n “regte” manier om te val en ’n “verkeerde” manier. Die regte manier red ’n mens van onnodige snye, kneusplekke en selfs ernstige beserings.

Volgens Merriam-Webster.com, kom die woord “mislukking” van ’n oorspronklike Franse stamwoord wat beteken “om te val”. Dit verwys na ’n weglating van ’n gebeurtenis of prestasie, ’n gebrek aan sukses of om tekort te skiet. Van tyd tot tyd misluk ons almal; elkeen wat ’n menslike lewe leef, kom te staan voor terugslae en teleurstellings. Diegene wat dit nog nie beleef het nie, kan seker wees dat hulle uiteindelik sal misluk of val of iets!

Hoe reageer ons dan wanneer mislukking plaasvind? Raak ons moedeloos of staan ons op en probeer weer? Wanneer ons vind dat ons keer op keer struikel, kan dit te maklik wees om toe te laat dat die lewe se terugslae ons gees vermorsel. Gelukkig openbaar u Bybel hoe Christene eerder die mislukking gebruik as ’n wegspringplank na sukses!

Leer uit foute

Enigiemand wat enigiets probeer, sál foute maak. Dit is deel van die leerproses. Die bekende Amerikaanse basketbalspeler Michael Jordan het na bewering gesê: “Ek het meer as 9,000 doelskoppe in my loopbaan gemis. Ek het amper 300 wedstryde verloor. Daar was 26 keer op my staatgemaak om die wedstryd se wendoel aan te teken en het ek dit gemis. Ek het keer op keer in my lewe gefaal. Dit is waarom ek sukses behaal het” (Nike Culture: The Sign of the Swoosh, 1998, bl. 49).

Politieke en militêre leiers het ook die belangrikheid daarvan ingesien om mislukking met ’n positiewe gesindheid te benader. Die Britse premier Winston Churchill, het eenkeer gesê: “Sukses bestaan daaruit om van een mislukking na die ander mislukking te gaan sonder om entoesiasme te verloor”. Die Amerikaanse Generaal George S. Patton, was bekend daarvoor dat hy gesê het dat sukses nie gemeet word aan wat jy op die hoogtepunt doen nie; dit is “hoe hoog jy terugspring wanneer jy die laagtepunt tref!”

God wil hê dat ons dieselfde gesindheid sal hê. Hy stel ons nie altyd vry van die gevolge van ons foute nie – maar Hy leer ons wel om probleme positief te hanteer. Hoe kan ons seker maak dat beproewings ons nie vernietig nie? Hoe kan ons mislukking ’n wegspringplek na sukses maak?

Kies ’n wyse besluit

Elke keer wanneer ons val en ’n fout maak, moet ons ’n besluit neem. Ons word gedwing om te kies hoe ons sal reageer. Ongeag of terugslae klein of groot, onbeduidend of lewensveranderend is, ons het ’n keuse watter pad ons wil volg.

In die bittere ure nadat hy Christus verloën het, het die apostel Petrus diep nagedink. Dit het ’n kritieke tydstip in sy lewe geword. Terwyl hy van aangesig tot aangesig voor sy eie menslike swakheid te staan gekom het, was hy geskok om te ontdek hoe kwesbaar en bang hy kon wees. Hierdie sterk dosis werklikheid het hom tot in sy wese geskok. Petrus het egter die regte keuse gemaak en ons lees vandag daarvan in die Bybel. Generasies is geïnspireer deur te lees hoe Petrus herstel het van ’n onuitspreeklike terugslag om ’n kragtige instrument in die Kerk van God te wees. In die woorde van die apostel Paulus, was hy “bedroef volgens die wil van God ... Want die droefheid volgens die wil van God werk ’n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood” (2 Korinthiërs 7:9-10).

Petrus se keuse het hom gelei tot diepe bekering, kragtige ywer en ’n sterk begeerte om sy menslike swakhede te oorkom (vers 11). Dit het God in staat gestel om hom as ’n dinamiese leier in die jong Kerk te gebruik en sy lewe vir altyd te verander. Wat kan ons van Petrus se voorbeeld leer terwyl ons beproewings en probleme in die lewe ondervind? Hoe kan ons leer om met groter sukses terug te spring?

Probleme is normaal en hanteerbaar

Voor Sy dood het Jesus Christus ’n paar kragtige en bemoedigende instruksies gegee wat die Apostels deur hulle hele lewe sou inspireer. Nadat Hy voorspel het dat hulle almal Hom sou verlaat, het Hy ook gesê: “Kyk, die uur kom en het nou gekom dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie toe, en My alleen sal laat; tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader met My is. Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê” (Johannes 16:32-33).

Die Bybel toon dat probleme deel van die lewe is – selfs vir diegene wat daarna streef om God te gehoorsaam. Sommige probleme bring ons oor onsself. Sommige daarvan word veroorsaak deur ons eie swakheid of trots of selfs ons eie dwaasheid – maar soms behels probleme wel omstandighede buite ons beheer. Ons sal altyd probleme in hierdie lewe hê.

Dieselfde Petrus wat Christus verloën het, het ook jare later geskryf: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel” (1 Petrus 4:12-13). Hoeveel keer raak ons egter verward omdat slegte dinge gebeur? Hoe dikwels dink ons: Dit is nie veronderstel om met my te gebeur nie?

Jesus het vir ons gesê om nie moedeloos te wees wanneer ons terugslae ondervind nie. “HIERDIE dinge het Ek vir julle gesê, sodat julle nie mag struikel nie ... maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin” (Johannes 16:1, 33). Om te erken dat ons probleme het, neem dit nie weg nie. Dit help ons egter om dit te hanteer in plaas daarvan om dit te ontken of daarvan af weg te hardloop. Indien ons nie ons probleme vierkantig en moedig in die oë kyk nie, kan dit nuwe, onverwante probleme veroorsaak. Frustrasie vreet ons geloof stadig weg. Om van ons probleme af weg te hardloop, laat hulle nie verdwyn nie, maar om dit te erken en ons foute te bely (1 Johannes 1:9) is die eerste stap om suksesvol terug te spring.

Tydens Sy laaste gesprek met Sy dissipels het Jesus verduidelik waarom Christene probleme ondervind: “ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer. Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra” (Johannes 15:1-2). God is in die proses om Sy mense te help om te groei en groei beteken soms om beskadigde of onproduktiewe takke in ons lewe weg te sny. Daarom ondervind ons soms pyn en probleme.

Moet egter nie “snoei” met verwerping verwar nie. Enigiemand wat vrugtebome aanplant, ken die vreugde daarvan om dit elke jaar te plant en daarmee te werk. Dit is opwindend om dit gesond en sterk te sien terwyl dit goeie vrugte oplewer. Moenie aanneem, net omdat God toelaat dat u emosionele, geestelike of fisiese pyn ly, Hy u in die steek gelaat het nie! In werklikheid sal God niemand verwerp wat werklik deur Hom oorwin is en aan Hom onderworpe is nie. Hy laat ons toe om te ly as deel van ons groeiproses en Hy beloof ons die hulp wat ons nodig het.

Ons het hulp

Gedurende die laaste nag van Sy menslike lewe het Jesus Christus Sy dissipels bemoedig deur vir hulle te sê dat hulle nooit alleen sou wees nie. Selfs nadat Hy hulle verlaat het, sou Hy Sy Gees stuur om hulle te lei en te help. Hy het gesê: “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ’n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid” (Johannes 14:16).

Die Heilige Gees, die ware krag van God, sou die werktuig wees waardeur God en Christus in die dissipels sou leef. Jesus het verder beskryf: “... die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe” (Johannes 14:17-18).

Die Heilige Gees sou kom en daardeur sal Christus letterlik Sy lewe in Sy ware volgelinge leef (Galásiërs 2:20). Jesus het beloof dat Sy Heilige Gees gestuur sal word – soos dit op Pinksterdag gebeur het – om Sy teenwoordigheid in hulle te wees. Hy het beloof dat hierdie Gees hulle “alles sal leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Johannes 14:26). Die dissipels sou alles wat Jesus hulle tydens Sy bediening geleer het, met begrip kon onthou. Die Heilige Gees sou hulle “in die hele waarheid” lei (Johannes 16:13).

Indien ons waarlik na God soek en tot Hom roep vir Sy begrip, sal Hy dit ook vir ons gee. Let op wat Christus ook vroeër in Sy bediening gesê het: “As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” (Lukas 11:13).

Petrus het die belofte van die Gees onthou en dit het hom bemoedig gedurende die moeilikste dae van sy lewe. Nadat die Heilige Gees gestuur is, het God vir Petrus kragtig gebruik as leier onder die dissipels op Pinksterdag (Handelinge 2). Wanneer ons struikel en probleme ondervind, is dit nodig dat ons onthou dat God ons kan help. Wanneer ons na ons Vader uitroep in nederige gehoorsaamheid aan Hom en gewillig is om ons eie wil te laat vaar vir Sy wil, sál Hy ons lei. Indien ons waarlik berouvol en gehoorsaam is, sal Hy Sy Gees in ons plaas (Handelinge 2:38; 5:32).

Fokus op u toekoms

Wanneer ons struikel, foute maak of ly as gevolg van probleme, wil God dan hê dat ons ons skaam en soos mislukkings voel? Wil Hy hê ons moet wegsluip in selfbejammering? Nee – Hy wil hê dat ons op die toekoms fokus. Hy begeer dat ons die grootse potensiaal sal erken wat Hy aan diegene gee wat gewillig is om hulle aan Sy wil en Gees te onderwerp.

Wat is daardie potensiaal? Kort voor Sy dood het Jesus vir Sy dissipels van Sy toekomstige Koninkryk vertel. Deur dit te doen, verwys Hy nie na iets abstrak “in ons harte” nie en ook nie ’n organisasie van vleeslike mense wat om wêreldse mag meeding nie. Hy voorspel eerder die vestiging van ’n letterlike Koninkryk op aarde.

Hy het verder gesê: “laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.

In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei” (Johannes 14:1-2).

Sommige mense glo verkeerdelik dat Christus se verwysing na “wonings” iets te doen het met hemel toe gaan. Trouens, Jesus het beskryf dat elkeen ’n plek in die “huishouding” of Koninkryk van God sou hê wanneer Hy terugkeer. Dit kom voor asof daardie “wonings” na die heiliges verwys wat verantwoordelike posisies in Sy Regering sal vervul (Lukas 19:17).

Dit is wat in Jesus se gedagtes was gedurende die laaste nag voor Sy kruisiging. Dink daaroor – in feitlik dieselfde asem waarmee Hy vir Petrus gesê het dat hy Hom sou verloën, het Hy omgedraai om die dissipels van hulle inspirerende bestemming te vertel, terwyl hy oor die positiewe toekoms praat. Hy het nie net gefokus op die lyding wat Hy sou verduur of op die wanhoop wat hulle sou ervaar met Sy vertrek nie. In plaas daarvan fokus Hy op die bemoedigende toekomsblik van wat sal kom. Hy het hulle oë gevestig op Sy Koninkryk en die rol wat Hy wil hê hulle moet speel wanneer dit op die planeet Aarde gevestig sou word.

Jesus het aan Sy dissipels gesê: “Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies” (Johannes 15:16). Hy het daardie roeping uitgebrei na diegene wat nog nie gebore is nie, wat deur die Vader geroep sou word deur die Apostels se getuienis (Johannes 17:20). ’n Roeping van God in Sy waarheid en Sy Kerk is werklik ’n ontsagwekkende geleentheid. God het groot planne vir ons en dit sal tot vervulling kom indien ons bereid is om ons aan Sy heerskappy in ons lewens te onderwerp wanneer ons die doel van probleme verstaan en groei deur God se eie teregwysing en snoeiproses en Hom vra om ons te bemagtig deur Sy Heilige Gees.

Ons sal foute maak. Ons sal struikel en ly in die lewe. Ons sal probleme hê solank ons in die vlees is. God sê egter vir ons om ons beproewings en moeilikhede positief te benader. Op die ou einde is dit nie die terugslae waaroor Hy die meeste besorg is nie; dit is hoe goed ons terugspring!