Ons het die wêreldwye herlewing van militante Islam aanskou gedurende die onlangse dekades. Hierdie moderne uitbarsting is verbasend vir geleerdes, veral diegene wat glo dat namate samelewings moderniseer en sekulêr word, godsdiens geleidelik sal verdwyn. Islam is egter nou die vinnigste groeiende godsdiens ter wêreld en binne daardie geloof word ’n Islamitiese herlewing deur ywerige gelowiges voortgedryf wat vasbeslote is om die verloop van die geskiedenis om te keer. Hulle doelwit is om terug te keer na die “ware geloof” om vorige gebiede te herower en Mohammed se belofte te vervul dat Islam uiteindelik sal oorheers en alle ander godsdienste sal uitskakel. Hulle glo dit sal gebeur wanneer die Sharia-wet op die wêreld afgedwing word en Amerika, Brittanje, Europa en Israel is in hulle visier!

Sal die verloop van die geskiedenis egter werklik weer ten gunste van Islam draai? Antieke Bybelprofesieë openbaar ’n verbasende antwoord.

Onbespreekte aspekte van Islam

Moderne politici, akademici en teoloë probeer om Islam as ’n godsdiens van vrede uit te beeld en dit word deur baie Moslems as sulks beskou. Hulle beweer dat djihad bloot ’n interne geestelike stryd is en dat vriendskaplike vreedsame naasbestaan moontlik is wanneer mense van verskillende gelowe mekaar verstaan. Die feite van die geskiedenis en die fundamentele leerstellings van Islam vertel egter ’n heel ander storie. Radikale Islamiete wil terugkeer na daardie oorspronklike, fundamentele leerstellings.

Die godsdiens van Islam was vanaf die ontstaan daarvan in Arabië in die 600’s n.C. ’n onverbiddelike vyand van diegene wat “ongelowiges” genoem word – met inbegrip van Christene, Jode en die Westerse beskawing. Soos in die Koran gesê word, beveel die leerstellings van Mohammed ware volgelinge van Islam “om diegene onder die mense van die Boek [Jode en Christene] wat nie in Allah glo nie ... en ook nie die ware geloof [Islam] aanneem nie, te beveg totdat hulle die jizya betaal [’n afpersingsbelasting op ongelowiges] deur gewillige onderwerping en om hulleself as onderdanig te beskou” (Koran 9:5, 20; lees ook Sword and Scimitar deur Raymond Ibrahim, bl. 11). Die ontnugterende alternatiewe: Skakel oor na Islam, wees slawe of sterf!

Die konsep van djihad of “heilige oorlog” teen infidels – ongelowiges – is deur Mohammed as ’n godsdienstige plig gepropageer. Hy het sy volgelinge ruimskootse belonings (oorlogsbuit) in hierdie lewe beloof indien hulle sou oorleef, maar as hulle omgekom het in die geveg, was die beloning onmiddellike toegang tot die Paradys, met riviere van wyn en pragtige jong meisies – ’n opwindende wen-wen-situasie vir djihadiste. Namate hierdie vurig begeesterde krygers uit Arabië gestroom het, het hulle Jerusalem, die Midde-Ooste en Noord-Afrika vinnig oorwin en beide Oostelike sowel as Westelike Europa bedreig. Hulle het ’n spoor van dood en verwoesting agtergelaat namate hulle “infidels” [ongelowiges] doodgesteek, onthoof en doodgemartel het en talle Afrikane en Europeërs tot slawe gemaak het. Mans en seuns is gekastreer en verkoop, terwyl vroue en meisies na Moslem-harems gestuur is. Hierdie deel van die vergete geskiedenis van Islam het vir 1,400 jaar voortgeduur. Moderne radikale Islamiete het nie juis Islam “gekaap”, soos sommige mense beweer nie. Hulle laat bloot tradisionele Islam herleef (Ibrahim, bll. xiv-xv).

Die botsing tussen Islam en die Christendom word ook gekenmerk deur duidelike teenstrydige godsdienstige oortuigings en die Weste se teensin om Allah te aanbid of om Mohammed as sy boodskapper te aanvaar. Islam erken talle Bybelse persoonlikhede, met inbegrip van Jesus. Moslems glo egter dat Jode en Christene die Heilige Skrif verdraai het en dat Allah se finale openbarings aan Mohammed die probleme reggestel het. Hulle glo dus dat die Ou en Nuwe Testamente onbetroubaar is. Islam leer dat Jesus slegs een van baie profete was, nie die Seun van God nie, dat Hy nie deur kruisiging gesterf het nie en dus nie opgestaan het nie, maar in plaas daarvan opgevaar het na die hemel en dat Hy sal terugkeer in die laaste dae om die Mahdi te help om die wêreld tot Islam te bekeer. Die Koran verskil in baie opsigte grootliks van die Bybel, soos om toe te laat dat hulle vrouens geslaan word (Koran 4:34) en amputasie aan te beveel as straf vir diewe (5:38). Die Bybel leer Christene: “Julle moet jul vyande liefhê” (Lukas 6:27), maar die Koran sê: “... ongelowiges is vir jul vyande” en “... vermoor hulle waar jy hulle ook al vang” (4:101 en 2:191-193; lees ook: Differences: The Bible and the Koran, deur Ben J. Smith). Westerse wette wat strydig is met instruksies in die Koran gee aanstoot aan sommige Moslems en die seksuele losbandigheid en sedelike verval van die toenemend goddelose Weste word deur sommige van hulle as ’n belediging vir Allah beskou en moet uit die weg geruim word.

Die laaste djihad

Vandag se brandende vraagstuk is: Waarheen lei hierdie herlewing van Islamitiese woede en aggressie? Die geskiedenis boekstaaf dat die Moslemse soeke na wêreldoorheersing deur heilige oorloë (of djihade), gekenmerk word deur periodes van verowering en nederlaag (sien Destiny Disrupted deur Tamin Ansary). ’n Lang tydperk van aanslae wat onder Mohammed self begin is, is uiteindelik gefnuik deur oorwinnings tydens die Slag van Tours en by die beleg van Wene. Die Ottomaanse Turke en Krim-Tartare het die verowering van “Christelike” Konstantinopel gesien, maar die poging het geëindig met die nederlaag van die Ottomaanse Ryk tydens die Eerste Wêreldoorlog.

Die huidige herlewing van Islam word deur sommige mense beskou as deel van ’n “Derde djihad” – een wat gekenmerk word deur bomontploffings en gewapende aanvalle in Europa, Amerika en elders. Hierdie jongste herlewing is egter nie beperk tot geweld en terreur nie. Daar is ook ’n demografiese aspek verbonde aan hierdie djihad, wat hoër geboortesyfers onder Moslems insluit en hulle massiewe migrasie na Europa en Noord-Amerika. Dit het ’n kulturele djihad geword, aangesien sommige Moslems howe vir Sharia-wet en wetswysigings eis om Moslemgewoontes en -gebruike te akkommodeer – intussen word plaaslike tradisies beperk om Moslems nie te na te kom nie. In dele van Swede word Islamitiese oproepe om gebed toegelaat, maar kerkklokke mag nie lui nie. As deel van hierdie kulturele djihad, oefen Moslemgroepe druk uit op skole om Islam in ’n goeie lig te stel en het spesiale dae wanneer studente Moslemdrag dra, Moslemname aanneem en Moslemgebede opsê, terwyl die geskiedenis en gebruike van gasheerlande verminder of geïgnoreer word. Verskeie waarnemers beskou dit as deel van ’n georganiseerde strategie om die geleidelike Islamisering en verowering van die Weste te bewerkstellig (sien The Third Jihad: Radical Islam’s Vision for America deur Wayne Kopping en Erik Werth). Indien dit nie ’n georganiseerde strategie is nie, is dit beslis ’n ontwikkelende tendens. Natuurlik het ISIS en sy werkers openlik beloof om Israel uit te wis en om Europa, Londen, Rome en Washington, D.C. te verower.

Die Arabiese wêreld, Europa en profesie

Sal Islam uiteindelik die Westerse beskawing oorheers of sal die geskiedenis weer in ’n ander rigting draai? Die profeet Daniël skryf: “Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom (die koning van die Noorde) in botsing kom” (Daniël 11:40). Daniël se profesie verklaar egter ook dat “die koning van die Noorde sal op hom [die koning van die Suide] afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe” – met ander woorde, die koning van die Noorde sal reageer en die gebied van die koning van die Suide inval en beset (Daniël 11:40).

Die koning van die Noorde sal verbind wees met die antieke Romeinse Ryk (soos die Europese Unie) en sal na vore kom as ’n “dier”-moondheid wat in Europa gesetel is (Daniël 2:40-45; 7:7, 23-27). Dit sal verbind wees aan ’n prominente kerk en ’n belangrike godsdienstige leier wat ook in Europa gesetel sal wees en sal bestaan uit tien konings of leiers wat hulle soewereiniteit aan ’n sentrale gesag oorgee (sien Openbaring 13 en 17). Intussen dui Daniël se profesieë daarop dat die koning van die Suide verband hou met lande wat deel is van die Arabiese wêreld en wat deur die godsdiens van Islam beheer word. Islamitiese terreur, die meedoënlose demografiese druk van Moslem-migrasie na Europa en die kulturele pogings om Islam te bevorder, is alles deel van wat baie mense beskou as ’n Islamitiese bedreiging vir Europese identiteite, waardes en tuislande. Sou sodanige druk ’n rol kan speel om die vervulling van hierdie eindtydse profesieë te laat ontbrand? Wat vir die Midde-Ooste voorlê, kan nóg ’n kritieke keerpunt in die geskiedenis wees – ’n gewelddadige herhaling van die Kruistogte van die Middeleeue – met ’n vernietigende maar bekende einde vir hierdie laaste djihad.