Daar is sigbare wonderwerke wat ons omring in God se geskape wêreld – wonders wat ons te maklik as vanselfsprekend aanvaar. In die lewensiklusse van selfs die laagste van wesens, het die Een wat hulle Skepper en ons s’n is, lesse en voorbeelde geplaas waaroor ons kan nadink.

Dit is maklik om te dink aan die bekende transformasie van ruspe na vlinder en nalaat om te dink aan die alledaagse wonderwerk wat dit verteenwoordig. Dit is werklik een van die groot wonderwerke in die lewende wêreld.

Kom ons neem ’n oomblik om oor die ruspe en die vlinder, die natuur se meesters van metamorfose na te dink en laat ons kyk na net een belangrike les wat dit vir ons inhou.

’n Opwindende metamorfose

Daar is werklik niks aan ’n ruspe wat mens sou laat dink dat dit ’n skoenlapper in vermomming is nie. Trouens, sommige mense kyk na ruspes en sien niks anders nie as plae wat hulle plante en gewasse bedreig en inderdaad, ruspes het ’n onversadigde eetlus! Dit lyk dikwels soos ’n vet wurmpie met stomp pootjies, wat hulle dae deurbring om blaar na blaar te eet. Hulle groei voortdurend en word al hoe groter en vervel ’n paar keer terwyl hulle groter word.

Tog word hulle nie deur gulsigheid of gierigheid aangedryf nie. Hulle is op ’n toegewyde missie en berei voor vir een van die verstommendste transformasies in God se hele skepping!

Uiteindelik vind die ruspe sy pad na ’n veilige plek en skep een of ander soort syanker wat hy gebruik om homself aan die onderkant van ’n lootjie of takkie vas te heg. Dan, binne sy eie liggaam, net onder sy vel, begin daar ’n papie vorm – ’n harde buitekant wat die ruspe sal omhul wanneer dit begin om te verander. Soos wat die papie vervolmaking nader, sal die ruspe die tak heeltemal laat los, aan sy anker hang en die buitenste laag van sy lyf afgooi. Uiteindelik sal al wat oorbly om te hang, die papie wees met die ruspe daar binne weggesteek.

Dit sou maklik wees om tot die gevolgtrekking te kom dat die ruspe net eenvoudig gesterf het nadat hy sy eie hangende graffie geskep het, maar net die teenoorgestelde is waar. Terwyl die papie daar hang, stil en onbeweeglik soos ’n doodskissie, is dít wat binne die kissie aangaan, ’n warrelwind van aktiwiteite! Baie van die ou strukture van die ruspe se liggaam word vernietig – weefsels word deur ensieme in hulle proteïen-komponente opgebreek en spiere word afgebreek tot klein bousteen selletjies om alles te herorganiseer in nuwe strukture met andersoortige funksies. Party van die ruspe se organe word herrangskik, soos die asemhalingsbuis wat nou gebruik word om die spiere van die vlerke aan te dryf.

Na ’n tyd van bedrieglike stille onaktiwiteit aan die buitekant, bars die papie skielik oop om ’n heeltemal ander lewensvorm aan die wêreld te openbaar! Die ruspe wat uit die gesig verdwyn het binne in wat gelyk het na ’n klein doodskissie, maak sy verskyning weer ’n keer na lewe, maar nou in die vorm van ’n pragtige skoenlapper. Die stel van 16 stomperige pootjies en “voorbene” is nou ses dun, splinternuwe vlinderpootjies, wat dit toelaat om op die blomblare van die heel delikaatste blomme rond te loop. Die groot bolvormige lyf is vervang deur die kleiner, grasieuse borskas en buik van die skoenlapper. Net so spog die kreatuurtjie se koppie – wat eenmaal ses klein, eenvoudige ogies en blaarvretende monddele bevat het – nou met twee groot, komplekse oë wat in staat is om ons eie visie ver te oortref en ’n sagte, geboë slurpie – ’n strooiagtige struktuurtjie wat die vlindertjie sal gebruik om soet nektar van blomme en vrugte op te suig.

Natuurlik is daar die pragtige vlerke. Strukture met ingewikkelde ontwerp en dikwels kunstig met pragtige kleure, die vlerke van die skoenlapper is dalk die sterkste aanduiding van die volledige en uiterste metamorfose wat die wesentjie ondergaan het. Die mollige, blaar-etende ruspe is weg, maar ook nie regtig weg nie. Inteendeel, dit is omskep in die pragtige, delikate skoenlapper – ’n skepseltjie wat skynbaar so ver van die ruspe af verwyder is as wat mens jou maar kan indink.

Vanaf die eerste oomblik dat die ruspe as ’n klein eiertjie ontstaan het, het sy Ontwerper – die Groot Skepper van alle dinge – die bloudruk van hierdie pragtige vlinder daar in sy genetiese kode geplaas, afwagtend op die regte tyd en geleentheid om homself tot uiting te bring en hierdie nederige “wurmpie” te verander in ’n wonderlike wesentjie van vlug en fantasie. Wat ’n eerbetoon aan God se intelligensie en vindingrykheid!

Bestem vir transformasie

Die verstommende transformasie van die nederige, wurmagtige ruspe in ’n radikaal andersoortige wese wat ons die skoenlapper noem, bied ’n pragtige analogie vir ’n baie meer verbasende transformasie wat God besig is om in die mensdom te bewerkstellig.

Die mens wat ons sien wanneer ons in die spieël kyk, mag ons dalk teleurstel. Te vet. Te skraal. Te kort. Te lank. Miskien vol goeie bedoelings, maar soos Jesus self gesê het: “Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak” (Matthéüs 26:41).

Tog beplan God ’n toekomstige transformasie vir mense van so ’n groot, selfs kosmiese betekenis, dat die merkwaardige metamorfose van ’n eenvoudige ruspe na ’n pragtige vlinder vervaag in vergelyking!

Die Bybel openbaar dat alle ware Christene – diegene wat leef en diegene wat reeds gesterf het – heeltemal verander sal word met die opstanding wat sal kom met die Wederkoms van Jesus Christus, “wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp” (Filippense 3:21). Ja, ’n toekomstige liggaam en verheerlikte bestaan wag op die mensdom, as kinders van God, vir alle ewigheid – ’n bestaan wat radikaal anders is as wat ons tans ervaar!

Net soos die ruspe wat in ’n sekere sin in sy papie “sterf”, net om weer voort te kom as ’n verheerlikte nuwe wese, heeltemal anders as wat dit voorheen was, beplan God ook ’n transformasie vir ons: “... daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid; daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag” (1 Korinthiërs 15:42-43). Hierdie verheerliking van God se kinders is ’n gebeurtenis van so ’n pragtige majesteit dat God se Woord sê dat die hele skepping daardie oomblik met verwagting afwag, in die wete dat die transformasie van die mensdom en die geboorte van God se kinders die bevryding verteenwoordig van die heelal uit die slawerny van sy huidige verganklikheid (Romeine 8:20-22).

Indien u nie voorheen van hierdie metamorfose van die mensdom in u Bybel gelees het nie, dink asseblief daaraan om ons gratis boekie, U uiteindelike Lotsbestemming, aan te vra. Dit is wonderlik om te dink aan God se doel met u lewe! Vir diegene van ons wat bereid is om ons werklik van ons sondes te bekeer, is daar nie net ’n nuwe lewe wat vandag ervaar kan word nie, maar daar is ook die belofte van ’n radikaal nuwe bestaan in die toekoms as ’n kind van God!

Ons verandering kom ook

Soos die aartsvader Job eenkeer tydens sy tyd van beproewing en toetsing gesê het: “As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe? Dan sou ek hoop al die dae van my stryd totdat my aflossing kom” (Job 14:14). Dit is maklik om te dink dat sulke woorde van die ruspe self kom! Soos ons blaar-etende vriende, het ons ook ’n transformasie voor ons, maar een van veel groter betekenis en verwondering.

Laat ons ons Skepper prys, wat ons met ’n doel geskep het en wat nou aan ons verandering werk. Ons mag nou die lewe van die ruspe leef, maar die skoenlapper is ons bestemming! Ons kan in die hoop saam met Job tot die Skepper bid, met die oog op ons metamorfose wat nog gaan kom: “U sou roep, en ek sou U antwoord, na die maaksel van u hande sou U verlang” (vers 15).