Ons plaaslike koerant, die CharlotteObserver, het onlangs ’n artikel gepubliseer wat “deurry”-gebede beskryf (6 Mei 2011). Die predikante en kerkleiers wat betrokke was, het gesê dat hulle “kitskos-restaurante en deurry-banke nageboots het”.

Interessant.
In ons vinnig-bewegende, self-gesentreerde, genotsugtige samelewing, voel baie mense dat hulle net vir God ’n paar minute van hulle “besige” dag kan “afstaan”. Hoebedagsaam! Ek is seker dat die Groot Skepper van die hemel en aarde beïndruk is. Maar hoe beïndruk dit Hom?

In ’n begeerte om uit te reik na die groot, sekulêre gemeenskap rondom hulle, het baie “nuwerwetse” kerke allerhande tipe idees of foefies van die korporatiewe wêreld, die vermaaklikheidsbedryf en ander bronne ingelyf in hulle bediening. Somtyds veroorsaak hierdie pogings wel dat meer mense – meer siele – hul dienste bywoon. Behaag dit God egter werklik? Leer hierdie mense werklik om die ware God te “ken” en te aanbiden om Hom te dien? Wat leer hulle deur hierdie soort “kitskos”-godsdiens?

Dit is lewensbelangrik dat u die ware God ken. U sal nie die ware God ken as u Hom nie aanbid – en tot Hom bid – op die wyse wat Hy ons geleer het om dit te doen nie.

Die geïnspireerde woord van God is baie duidelik met betrekking tot hierdie sake. Jesus Christus het aan ’n Samaritaanse vrou gesê – ’n vrou van ’n “ander” godsdiens: “Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode. Maar daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:22-24).

Terwyl Jesus van die Bybel gepraat het, sê Hy: “... u woord is die Waarheid” (Johannes 17:17). Die “sleutel” tot al hierdie vrae van hoe en waar om te bid, is in die duidelike leerstellings en voorbeelde van die Bybel te vinde. Byvoorbeeld, Jesus verduidelik: “Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde” (Mattheüs 6:6). Hoewel dit nie verkeerd is om saam met ander mense te bid nie – of om ’n “kits”-gebed te uiter in ’n noodgeval nie – word dit beslis nie aanbeveel as die normale, primêre manier van bid vir ’n ware Christen wat God opreg eerste in sy of haar lewe wil stel nie.

Onthou ook dat die bekende “Onse Vader” – Jesus se “model-gebed” in Mattheüs 6 – net ’n kort raamwerk, of voorbeeld van die korrekte benadering tot God en van die belangrikste dinge om oor te bid, is. Toe Jesus Self spesiale hulp of verlossing nodig gehad het, het Hy “met oorgawe gebid”. Jesus het die hele nag gebid voordat Hy die twaalf Apostels gekies het (Lukas 6:12-13). Hy het ook die grootste deel van die nag gebid voordat Hy op die water geloop het (Markus 6:46-48). Net voordat Hy die smartlike lyding van die kruisiging moes verduur, het Jesus so vurig gebid dat Sy bloedvate blykbaar gebars en saam met Sy sweetkliere verenig het, soos Hy angstig en innig voor God gebid het (Lukas 22:44).

Die apostel Jakobus is geïnspireer om aan ons te sê: “Die vurige gebed van ’n regverdige het groot krag” (Jakobus 5:16). En Jesus sê: “Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?” (Lukas 18:7).

Op hierdie stadium mag sommige mense wonder waarom mense in nie-Christelike godsdienste uitroep en soms vir ure lank oor en oor bid – nogtans word hul gebede steedsnie beantwoord nie. Hoekom nie? Weereens is die Bybel baie duidelik hieroor. Die apostel Johannes was geïnspireer om aan ons te sê: “... en wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom”(1 Johannes 3:22).

Dit is so moeilik vir mense om dit reg te verstaan. God wil hê dat Sy kinders aan Hom gehoorsaam moet wees – nie om net “sentimenteel” oor Jesus te voel nie. Dus word aan ons gesê: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar” (Openbaring 14:12). Indien ons egter die geloof “van” Jesus het, sal ons weet dat God daar is en ons sal gewillig wees om te gehoorsaam wat Hy ons beveel.

Alhoewel God soms selfs die gebed van ’n sondaar beantwoord, reageer Hy gewoonlik op diegene wat werklik aan Hom gehoorsaam is en wat probeer om volgens Sy geïnspireerde woord te leef. Soos die profeet Jesaja geïnspireer was om aan ons te sê: “KYK, die hand van die Here is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie, maar julle ongeregtighede het ’n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verbergsodatHy nie hoor nie” (Jesaja 59:1-2).

Soos ek verduidelik in my artikel elders in hierdie uitgawe (“Hervestig oorspronklike Christelikheid”), moet ware Christene die voorbeeld en leerstellings van Christus en dieoorspronklike Kerk van God en die geïnspireerde aartsvaders en profete van die Ou Testament volg. Jesus het duidelik gesê: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheüs 19:17). Onderhou u die Tien Gebooie? Of maak u verskonings? Nuwe-Testamentiese skrifture wys duidelik aan ons dat ons antwoorde ontvang op ons gebede wanneer ons God se gebooie gehoorsaam!

Wees asseblief eerlik met uself. Dit is maklik om te rasionaliseer of om “rondom” hierdie baie duidelik skriftuurlike leerstellings oor gehoorsaamheid aan God se wet “te redeneer”. Indien u werklik antwoorde op u gebede verlang, moet u uself bekeer van die verbreking van die Tien Gebooie. Die verbreking daarvan word gedefinieer as sonde (1 Johannes 3:4). U moet ook Jesus Christus aanvaar as u persoonlike Verlosser (Handelinge 2:38). Dan – deur die hulp van die beloofde Heilige Gees – sal u in staat wees om u elke dag meer en meer te onderwerp aan Jesus Christus sodat Hy Sy gehoorsame lewe in u kan leef! Hou in gedagte wat die apostel Paulus verklaar het: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20).

Dus, om voortdurend antwoorde op u gebede te verkry, moet u tot die ware God bid – die God van die Bybel – met ’n berouvolle gesindheid. Dit is nodig om u hart in ugebede uit te stort en tot Hom uit te roep – verkieslik alleen en in ’n privaat plek, soos Jesus ons beveel het. U moet ook gewillig wees om u Skepper te gehoorsaam sodat u in die regte verhouding met Hom staan, Hy sal dan graag die gebede van Sy gehoorsame seun of dogter beantwoord.   

“Deurry”-gebede en gewilde musikale vermaak – om net “te maak asof” u God aanbid – is nie genoeg nie. Aangesien ons Skepper wil hê dat ons Hom “in Waarheid” moet aanbid – wat beteken dat dit nodig is om ons lewens te lei enons gebede te rig volgens Sy geïnspireerde Woord. Ons moet leer om voortdurend tot God te bid – met Hom geestelike gemeenskap te hê en met Hom te wandel.

Dan, namate ons die einde van hierdie tydvak nader en die geweldige beproewings en toetse van die Christelike lewe oor ons kom – soos dit verseker sal kom – sal u presies weet wat om te doen en hoé om dit te doen. Trouens, u sal in staat wees om in Christus se eie voetspore te volg. Sedert Hy tot God uitgeroep het vir krag en moed, was Hy nie bevrees toe Sy tyd gekom het om te sterf nie. Trouens, toe Judas en ’n hele afdeling gekom het om Hom gevange te neem, het Jesus kalm “uit die tuin gegaan” en hulle gevra: “Wie soek julle?” (Johannes 18:4). Dus het Jesus gedoen wat Hy altyd gedoen het. Vroeër, in die Tuin van Getsémané, het Hy op Sy aangesig geval en vurig gebid en uitgeroep: “My Vader ...” (Mattheüs 26:39).

Indien u die werklike besonderhede wil leer ken oor hoe om al hierdie dinge te doen, bel of skryf dan aan die Streekskantoor naaste aan u (gelys op bl. 2 van hierdie tydskrif) en vra vir die uiters nuttige en insiggewende boekie getiteld, TwaalfSleutels tot Verhoorde Gebed. Dit sal absoluut gratis op u versoek, aan u gestuur word. U kan dit ook aanlyn lees of ’n gratis gedrukte kopie bestel op ons webwerf: www.wvm.co.za. Moenie tevrede wees met die wêreld se oppervlakkige en vals benaderings tot gebed nie!