’n Eienaardige ding het gebeur by ons Wêreld van Môre-kantore hier in Charlotte, Noord-Carolina en in ons plaaslike Living Church of God-gemeente. Dit het alles begin omdat ons ’n groter aantal jong volwassenes gehad het wat besig was om troues te beplan vir die vroeë lente en somer.

Elke lid van hierdie paartjies is baie soos ander paartjies wat hulle lewens met mekaar wil deel. Baie bruide snuffel in die winkels rond vir daardie “net die regte” rok. Hulle beplan wat die strooimeisies sal aantrek en kies blomme om die lokaal mee te versier. Etes is dikwels deel van die onthaal en soms word ’n orkes gehuur vir ’n dans. Namate die bedrae toeneem kan die vader van die bruid hom in sommige gevalle vereenselwig met die karakter wat Steve Martin in die film Father of the Bride gespeel het. In die geval van moderne huwelike, dra die bruid en bruidegom soms ook finansieel by vir die geleentheid. Troues is deesdae duur geleenthede.

Onverwags gebeur daar toe iets: ’n Pandemie met beperkings en inperkings. Die paartjies word gedwing om te besluit tussen ’n duur, “droom”-troue wat uitgestel moet word tot wie-weet-wanneer of ’n eenvoudiger seremonie met die leraar en ’n handjievol gaste – nie ’n duur rok of ’n groot onthaal, ’n duur ete en orkeste nie en die minimum blomme. Selfs die wittebrood was binne ry-afstand, indien reis enigsins moontlik was.

Hierdie was nie die troue wat hulle beplan het nie! Dit was egter beslis gedenkwaardig en sommige van hierdie paartjies het moontlik genoeg geld gespaar vir ’n deposito op ’n huis. Daar sal ongetwyfeld op ’n latere stadium ’n onthaal wees, hoewel dit waarskynlik nie so deftig of duur sal wees soos wat die troue sou wees nie.

Realiteit is weer in die mode

My oom George het eenkeer aan my gesê: “Daar is níks soos ’n goeie depressie om mense weer na die werklikheid terug te bring nie”. Dit het my verbaas toe ek jonger was en ek het gewonder wat my ateïstiese oom as ”realiteit” beskou. Waaraan het hy waarde geheg? Dit was duidelik dat sy waardes en myne nie dieselfde was nie. Nietemin, ek dink nou ek weet wat hy met sy opmerking bedoel het en ek is daarvan oortuig dat hy reg was. Hy het die Groot Depressie en die Tweede Wêreldoorlog oorleef en het net soos koning Salomo verstaan (Prediker 7:2) dat daar gebeure is wat die oppervlakkige sake van die lewe afstroop en ons help om te sien wat werklik belangrik is. COVID-19 is presies so ’n gebeurtenis. Om kortliks op te som wat my oom bedoel het: “Daar is níks soos ’n goeie pandemie om ons weer na die werklikheid terug te bring nie”.

Moontlik is dit die rede waarom verkope van Bybels toegeneem het toe hierdie krisis begin het. Mense het hulleself in die stilligheid afgevra: “Sal ek siek word? Sal ek oorleef? Sal dít wees hoe ek sterf?” Ja, mense begin wonder oor die groot vrae. “Wat is die doel van die lewe? Wanneer ek sterf, sal ek weer leef?” Hierdie vrae kom by baie mense op. (Indien u in die afgelope maande oor u eie sterflikheid nagedink het, wil u nie hierdie onderwerp in ons boekie Wat gebeur wanneer u sterf, ondersoek nie? Die antwoord is ontnugterend maar ook bemoedigend.)

Ek beweer nie dat troues nie belangrike geleenthede is nie – ons lees in die Bybel van feesvierings tydens ’n huwelik wat ’n paar dae lank geduur het. Die troue is egter deesdae selde wat dit bedoel was om te wees. Te veel paartjies doen alles in die verkeerde volgorde: Hulle woon saam, het dalk selfs kinders en trou dán moontlik eers. Troues is vervreemd van die huwelik en het geleenthede vir ’n enkele dag vir paartjies geword om “in die kollig” te wees. Namate daar al hoe minder waarde geheg word aan die huwelik as ’n instelling, word baie huwelike nie meer in verband gebring met die heiligheid van die huwelik en huweliksvoorregte nie.

Min mense dink deesdae goed na oor die ware betekenis van die huwelik. Baie beskou dit as slegs ’n kulturele tradisie waar die bruid sê, “Ja dís die rok!” Hoeveel keer het u al gehoor dat iemand snedig opmerk dat die huwelik niks meer as ’n stukkie papier is nie? Met soveel minagting vir die instelling van die huwelik self, is dit geen verrassing dat soveel mense hulle willekeurig aan mekaar verbind en uitmekaar gaan nie en dat baie huwelike nie hou nie.

Ek geniet dit om met mense oor my vrou se ouers en hulle troue te gesels – om bloot te sê dat dit “eenvoudig” was, sou onvoldoende wees. Hulle het een aand met etenstyd onverwags by die predikant se huis opgedaag en gewag terwyl die man en sy vrou klaar geëet het. Net die vier van hulle was teenwoordig toe die twee “die knoop deurgehaak het”. Daar was net twee troufoto’s: Sy het by ’n boom gestaan en hy het ’n foto van haar met ’n boks-kamera geneem en toe het hulle plekke geruil terwyl sy ’n foto van hom geneem het. Dit was lank voor selfies, waar hulle saam onder die boom sou kon gestaan het!

Ondanks hierdie nederige begin, was hulle 72 jaar getroud en het twee pragtige dogters grootgemaak. Het hulle hul struwelinge gehad? Ja, net soos die meeste ander paartjies ook het. Hulle het egter verstaan wat toewyding en verantwoordelikheid beteken. Hoe anders as die deftige en duur geleenthede wat ons vandag sien, waarná die man en vrou “getrou” aan mekaar bly, solank as wat hulle sonder veel moeite met mekaar kan klaarkom of totdat een van hulle saam met iemand anders in die bed spring.

Vir baie van die troues wat ons onlangs in ons kantoor en gemeente gehad het, het die paartjies die keuse gehad om vroeër te trou of te wag om ’n deftige seremonie te hê en hulle het eersgenoemde verkies.

Dit beteken natuurlik nie dat ’n paartjie verkeerd sou wees om te wag sodat meer familie en vriende teenwoordig kon wees nie. Glad nie. Een ding hiervan is egter duidelik: Hoe eenvoudig of spoggerig die troue en onthaal ookal mag wees, het dit niks te doen met hoe lank die huwelik sal hou nie. Dit is verreweg die belangrikste om God se doel met die huwelik te verstaan en om bereid te wees om hulle aan mekaar toe te wy en om saam deur moeilike tye te werk, is baie belangriker. Die grootte van ’n troue is nie ’n baie betroubare aanduiding van hoe diep ’n mens se toewyding is nie.

Die huwelik maak regtig saak!

Al verstaan min mense die Godgegewe doel agter die huwelik, toon een studie na die ander dat die huwelik wel saak maak. Alhoewel baie huwelike, volgens statistiek, misluk, is die huwelik in elke geval meer geslaagd as om saam te woon. Die neiging bestaan nie meer deesdae om ’n mens vir die huwelik rein te hou nie.

In ’n studie van 6 November 2019 van die Pew Research Center, word gemeld dat die getal volwassenes wat in die VSA saamwoon, aan die toeneem is en dat dit nou meer algemeen raak dat mense tussen die ouderdomme van 18 tot 44 jaar een of ander tyd in hulle lewens saamgewoon het in plaas daarvan dat hulle getrou het. Dit is nie verbasend nie, aangesien 69% van Amerikaners glo dat om voor die huwelik saam te woon, aanvaarbaar is en nog 16% sê dat dit aanvaarbaar is solank as wat die paartjie beplan om te trou. Slegs 14% van hulle beskou dit as onaanvaarbaar om voor die huwelik saam te slaap. Met ander woorde, slegs 14% van die paartjies onderskryf die Bybelse waardes (bv. 1 Korinthiërs 6:9-10; Galásiërs 5:19-21; Efésiërs 5:3). Dit is moeilik om te glo dat die situasie in ander Westerse lande enigsins beter is.

Nietemin, die huwelik bevoordeel die egpaar, die gesin en die samelewing. Dit is buite die omvang van my boodskap om hierdie oorvloedige voordele in besonderhede te bespreek, hoewel ek net een voorbeeld sal noem: Pew Research het ook berig dat dieselfde studie getoon het dat “getroude volwassenes te kenne gegee het dat hulle hoër vlakke van tevredenheid en vertroue in hulle lewensmaat ervaar as diegene wat saamwoon” (“Key findings on marriage and cohabitation in the U.S.,” PewResearch.org). Vir diegene wat die doel van die huwelik verstaan, is dit glad nie ’n verrassing nie.

Ja, daar is níks so goed soos ’n depressie of pandemie om mense weer na die werklikheid terug te bring nie, maar het die samelewing so verval dat mense nie meer ’n idee het van wat eg is en wat vals is nie? Wanneer dit by die huwelik kom, neem die meeste mense nooit in oorweging wat die Godgegewe doel daarvan is nie. Trouens, hulle neem nie eers in ag dat God enigiets met die huwelik te doen het nie buiten om ’n pragtige “kerk”-troue te hê. Indien u meer oor hierdie onderwerp wil leer, kontak ons streekkantoor die naaste aan u en vra ’n eksemplaar aan van ons boekie, Bou ’n vreugdevolle huwelik. Soos met al ons leesstof, is die boekie gratis.