Hoe is God werklik? Selfs om so ’n vraag te vra mag vir baie mense as verwaand voorkom. Hoe kan ons enigsins seker wees van sulke antwoorde, vra hulle. Is God deur Sy einste karakter vir die mensdom onkenbaar en onpeilbaar? Baie mense wat wel in God glo beskou Hom as ’n afgesonderde figuur of as effens meer as die “eerste oorsaak” van die heelal. Vir baie mense is God nie iemand wat aktief betrokke is in ons lewens of in ons hedendaagse wêreld nie.

Elke menslike kultuur het idees gehad oor die bonatuurlike. Jode en Moslems beklemtoon dat God een is. Boeddhiste en Hindoes het oortuigings wat strek van onpersoonlike monisme tot panteïstiese veelgodery met baie variasies tussenin. Baie in die Westerse wêreld het óf vae idees oor God as “die Man daarbo” óf hulle het andersins die “Nuwe Era” oortuigings aangeneem (waarvan die meeste hul oorsprong het in Hindoeïsme en Boeddhisme). Sommige mense kleef aan tradisionele Katolieke en Protestante leerstellings omtrent ’n drie-enige God – tradisioneel verduidelik as “een God in drie persone”. Dit is tog duidelik dat al hierdie verskillende idees en opinies nie almal reg kan wees nie.

Wat dink u hoe is God? Wat is die bron van u sienings? Kom dit van God af of deur menslike redenasie? Stop en dink na: sou dit sin maak vir ’n allerwyse Skepper, wat menslike lewe geskep het wat in staat is om te dink aan die ewige en die goddelike, om nie ’n register te los waardeur Hy Homself openbaar nie?

Deur na die fisiese wêreld te kyk kan ons baie aflei van God se groot krag en vernuf. Sulke gevolgtrekkings vertel ons egter steeds niks van Sy uiteindelike plan en doel vir Sy skepping nie, maar ons Skepper het ons nie in die duister gelaat nie. Bo en behalwe die feit dat Hy Homself deur Sy skepping openbaar, het Hy ook vir ons die Bybel gegee. In Sy Woord vertel God ons van Sy aard, Sy karakter, Sy wil, Sy geaardheid en Sy plan en doel vir die wêreld en die mensdom. God is kenbaar omdat Hy verkies het om Homself kenbaar te maak! Toe die filosowe van Athene die apostel Paulus uitgenooi het om die gehoor toe te spreek op Aerópagus, het hy die “Onbekende God” as onderwerp gekies (Handelinge 17:23). Paulus het aan sy luisteraars verduidelik dat die God wat hulle as onbekend bestempel het, in der waarheid die oppermagtig Skepper was en gaan toe voort deur hulle van God se groot plan te vertel.

Dit is waarom dit so belangrik is om te verstaan – uit die Bybel – wat God oor Homself openbaar. Deur dit te doen, sal ons insig in God se plan vir die mens bekom. Die volle waarheid sal u verstom en is duidelik bewysbaar uit u eie Bybel.

’n Blik na God se eienskappe en aard

Die Bybel onthul baie oor God. Paulus verduidelik dat God ewig, onsterflik en onsigbaar is (1 Timotheus 1:17). Psalm 147:4-5 beklemtoon Sy groot krag en Sy oneindige insig. God kan alle dinge doen en geen voorneme kan van Hom terug gehou word nie (Job 42:2). Hy ken selfs elke gedagte van die mens (Psalm 94:11; 1 Korintiërs 3:20). Die apostel Johannes beskryf dat God in prag, lig en heerlikheid wandel, omring deur ’n skare van hemelse wesens en miljoene engele (Openbaring 4:1-6; 5:11).

God is nie afgesonder en onbelangstellend nie en ook nie ’n “wagtende regter” wat Homself verheug daarin om mense na ’n ewigbrandende hel te stuur nie. Liefde is eerder die mees fundamentele kenmerk van Sy aard (1 Johannes 4:8). Die grootste wyse waarop Hy daardie liefde bewys het was deur Sy Seun Jesus Christus te offer om versoening van die sondige mensdom met Homself moontlik te maak (Johannes 3:16). Hy is ook ’n God van geregtigheid, genade (Psalm 103:8) en getrouheid (Psalm 119:89-90). Hy is aktief betrokke by Sy skepping en het die toekoms vooruit verkondig (Jesaja 46:9-11).

Die heel grootste wyse waardeur God gekies het om Homself te openbaar was deur Jesus Christus van Nasaret. Moenie ’n fout maak nie; Jesus was geen gewone man nie. Hy was nie bloot net ’n “goeie man” of selfs net ’n profeet nie. Hy was niks anders nie as Immanuël – God met ons!

Johannes 1:1-3 gee ons die mees fundamentele verduideliking van Jesus se identiteit. “In die begin” skryf Johannes, “was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie”. Johannes verduidelik die “Woord het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid” (vers 14). Hoewel Christus ongelooflike krag en heerlikheid met die Vader gedeel het van alle ewigheid af, het Hy Homself vrywilliglik daarvan geledig om ons Saligmaker te word (Hebreërs 2:7).

Die Newsweek tydskrif het ’n klompie jare gelede ’n berig geplaas wat verskeie godsdienstiges se sienings van Jesus Christus ondersoek het. Die Rabbi waarmee ’n onderhoud gevoer is het Jesus as bloot ’n ander rabbi beskou – ’n goeie Jood. Moslems het daarop gewys dat die Koran Jesus as ’n profeet bestempel, hoewel nie so belangrik soos Mohammed nie. Baie Boeddhiste glo dat Jesus ’n “verligte een” was terwyl party Hindoes Hom beskou as ’n inkarnasie of ghoeroe.

Die Newsweek berig maak ’n baie belangrike opmerking: “Dit is duidelik dat die kruis die Christus van die Christendom van elke ander Jesus onderskei. In Judaïsme is daar geen vorige geval van ’n Messias wat sterf nie, wat nog te sê van iemand wat soos ’n misdadiger gesterf het soos Jesus. In Islam word die storie van Jesus se dood verwerp as ’n belediging van Allah self .... In ander gelowe is daar eenvoudig geen plek vir ’n Christus wat die volle las van sterflike bestaan ervaar het nie en gevolglik is daar geen rede om in hom te glo as die goddelike Seun wat die Vader uit die dode opgewek het nie (“The Other Jesus”, 27 Maart 2000, bl. 60). In 2,000 jaar het min verander. Paulus noem die boodskap van Christus se kruisiging ’n “struikelblok” en “dwaasheid” vir die wêreld van sy tyd. Tog onthul God van Genesis tot Openbaring dat die mensdom as gevolg van sonde afgesny is van Hom en dat hulle verlossing en versoening nodig het.

Die rol van die Heilige Gees

In Johannes 14:16-20 beklemtoon Jesus dat ná Sy heengaan om met die Vader te wees, Hy sy dissipels nie bloot sou verlaat nie (die Griekse term wat in vers 18 gebruik word, is orphanous, wat beteken “weeskinders”). Jesus en die Vader sal eerder deur die krag van die Heilige Gees (1 Johannes 3:24) binne ware Christene woon (Johannes 14:20,23). Die Heilige Gees verleen beide insig en krag. Dit vloei vanuit God (Johannes 15:26) en verbind ons verstand aan Syne. God is Gees (Johannes 4:24); die Heilige Gees is nie een of ander aparte en onderskeide persoonlikheid van die Godheid nie. Die Heilige Gees is eerder die middel waardeur Christus en die Vader hul teenwoordigheid in die harte en gedagtes van gelowiges openbaar maak.

Die Heilige Gees is God se uitvloeiende krag (Lukas 1:35). Dit verleen God se liefde soos dit “uitgestort” word in die harte van gelowiges (Romeine 5:5). Dit is die middele waardeur Hy geskep het en die ganse heelal tot stand gebring het (Psalm 104:30). Dit is die krag waardeur Hy in die gedagtes van mensewesens werk wat volgens Sy beeld geskape is (Genesis 6:3). Dit is ook die krag waardeur die verlamdes wonderbaarlik kon loop, die blindes kon sien, die dowes kon hoor en die dooies opgewek is uit hul grafte tydens Jesus Christus se aardse bediening (Lukas 5:15-17).

Die Bybel beskryf die Heilige Gees op verskeie maniere. Die Gees word hoofsaaklik vergelyk met wind. Na alles beteken pneuma – die Griekse woord vir “gees” – tog “wind” of “asem”. In die Ou Testament is die Hebreeuse woord wat as “gees” vertaal word ruach en het dieselfde betekenis as die Griekse woord pneuma.

Nog ’n algemene vergelyking is dié van vloeiende water (sien Johannes 7:38-39). Net soos lug en water noodsaaklike lewegewende kragte is, is die Heilige Gees vir Christene die bron van ewige lewe (Romeine 8:11). Net soos lug en water albei vloei en krag het om dít waarmee hulle in aanraking kom te beïnvloed en te verander, is die Heilige Gees ook.

God bied Sy Heilige Gees met ’n doel aan ons! Daardeur kan ons God se krag, Sy gesindheid, Sy liefde en Sy gedagtes deel. God se Gees is bedoel om ons lewens te verander deur ons gedagtes te hernu (Titus 3:5; Romeine 12:2). Ons word ’n nuwe skepsel omdat God ons verander en Sy Wette in ons harte en gedagtes skryf (Hebreërs 8:10).

In die openingshoofstuk van 1 Johannes, beskryf die “geliefde Apostel” die belangrikheid van ons gemeenskap met God en met mekaar. Let op wat Johannes skryf – dat “ons gemeenskap ... met die Vader [is] en met sy Seun, Jesus Christus” (vers 3). Die Bybel praat nêrens daarvan dat ons gemeenskap met die Heilige Gees het op dieselfde wyse as wat ons met die Vader en met Christus het nie. Die Heilige Gees vloei eerder uit van die Vader en Christus (Johannes 15:26), en is die basis van ons verbinding tot God en tot mekaar. Dit is die middele waardeur Christus Sy lewe in ons leef (Galasiërs 2:20).

Het u geweet dat die woord “drie-eenheid” nêrens in die Bybel voorkom nie? Daar is egter ’n paar gedeeltes van die Skrif wat soms aangehaal word om vertroue in die Drie-eenheid lering in te boesem.

Let eerstens op 1 Johannes 5:7: “Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een”. Op die oog af blyk dit dat hierdie vers die Drie-eenheid nogal duidelik leer. Daar is egter een probleem: Hierdie vers was nooit in enige van die geïnspireerde Griekse manuskripte nie. Byna alle Bybelkenners erken dat hierdie vers sy ontstaan te danke het aan ’n monnikagtige invoegsel in die Latynse teks! “The Interpreter’s One Volume Commentary on the Bible” verduidelik dat toe twispunte gedurende die vierde eeu oor die leerstelling van die Drie-eenheid ontstaan het, die teks uitgebrei is – eerstens in Spanje rondom 380 n.C., en toe in die Vulgaat – die amptelike Rooms-Katolieke weergawe in Latyns – opgeneem is (bl. 939). Bullinger se Companion Bible verduidelik in die voetnota van die teks van 1 Johannes 5:7: “Hierdie woorde word nie in enige Griekse manuskripte voor die sestiende eeu aangetref nie. Die eerste keer dat dit wel aangetref word, is in die kantlyn van party Latynse kopieë. Sedertdien het dit in die teks ingekruip”. Dit is duidelik dat die vroeë Trinitariese leermeesters van die Rooms-Katolieke Kerk so radeloos was om Bybelstawing vir hul leerstelling te vind dat hulle hulself daarna gewend het om woorde tot die teks toe te voeg!

Voorstanders van die Drie-eenheid blaai dikwels na Johannes 14 en 15 om hul idee te staaf dat die Heilige Gees ’n persoon net soos die Vader en Jesus Christus is. Op die aand van Sy laaste Pasga het Jesus aan Sy dissipels gesê dat Hy na die Vader sou terugkeer maar dat Hy vir hulle ’n ander Helper sou stuur. Die Griekse woord wat as “Helper” vertaal is, is paracletos, wat gewoonlik verwys na iemand wat hulp of bystand verleen. In die konteks van Johannes 14 verwys dit duidelik na die Heilige Gees, wat Jesus belowe het om aan Sy dissipels te stuur na Sy Hemelvaart terug na die Vader (Handelinge 1:4-5; sien ook Johannes 15:26).

Omdat hierdie verse die voornaamwoord “hy” gebruik, neem baie mense aan dat die Heilige Gees as ’n “persoon” van die Godheid beskou moet word. Dit is egter ’n misverstand wat voortspruit uit ’n vertaling van die oorspronklike Grieks. In Grieks het naamwoorde gewoonlik ’n vasgestelde “geslag”, wat niks te doen het met fisiese geslag of persoonheid nie. Die Griekse naamwoord vir “klein dogtertjie” is byvoorbeeld geslagloos terwyl die woord vir “hand” vroulik is – hetsy dit deel van ’n vrou se liggaam is al dan nie. Grieks vereis dat die voornaamwoord wat gebruik word – hy, sy of dit – altyd ooreenstem met die naamwoord waarna dit verwys (sien The Language of the New Testament, deur Eugene van Ness Goetchius, 1965 uitgawe, bll. 33-34). In Grieks is die naamwoord pneuma – as “gees” vertaal – geslagloos en neem altyd die geslaglose naamwoord soos “dit” aan, terwyl paracletos manlik is en ’n manlike naamwoord vereis. Die naamwoord wat gebruik word het hoegenaamd niks met die verskaffing van persoonheid te doen nie!

Die oorsprong van die drie-eenheid leerstelling

Trinitariërs wat te staan kom teen wêreldse humaniste en “Nuwe Era” gesindtes wat toenemend die Westerse kultuur oorheers, beskou hulself dikwels as “die verdedigers van die geloof”. Hulle glo dat hulle die Bybel beskerm teen dié wat sy openbaring as die bron van kennis van God ondermyn. Maar ís hulle, werklik? Waar het hierdie sogenaamde “Christen ortodoksheid” aangaande God se aard ontstaan?

Toe hy drie dekades na die stigting van die Nuwe-Testamentiese Kerk skryf, maan Judas die lidmate om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is (Judas 3). Met ander woorde, die ware Christelike geloof was reeds voor Judas se skrywe ongeskonde oorgelewer. Judas – Jesus se halfbroer as ’n seun van Josef en Maria – verduidelik dat goddelose mense in die geheim in die Kerk ingesypel het en dat hulle reeds begin het om die ware leerstellings wat Jesus Christus aan Sy dissipels oorgelewer het, te verdraai.

Selfs Rooms-Katolieke geleerdes erken dat Tertullianus (ca. 150-225) die eerste skrywer was om die term “drie-eenheid” te gebruik in ’n poging om die Christelike Godheid te beskryf. Waarom dan, indien hierdie “drie-eenheid” leerstelling waar was, is dit nie “geopenbaar” tot meer as 150 jaar na Jesus Christus se kruisiging en opstanding nie? Waarom het Christus se oorspronklike dissipels asook Paulus, nie hierdie leerstelling verduidelik nie? Om die waarheid te sê, hulle het ’n totaal ander verduideliking van die aard van die ware God onderrig!

Eerder as die Bybelse teks, vorm Griekse filosofiese geskrifte die agtergrond vir die derde-eeuse besprekings van die “drie-eenheid”. The Roman Catholic New Theological Dictionary maak ’n aantal openhartige erkennings in hierdie verband. In sy artikel “Trinity” gee dit toe aangaande die Skriftuurlike leerstellings oor die aard van die Heilige Gees: “Die Gees is nooit as sulks die uitdruklike onderwerp van Nuwe-Testamentiese aanbidding nie, ook word die Gees nêrens in die Nuwe-Testamentiese verhandelings uitgebeeld as wisselwerkend op interpersoonlike wyse met die Vader en die Seun nie”.

Wanneer ons kyk na die ontwikkeling van “Christen”-teologie in die laat tweede- en vroeë derde eeu, bly die name Tertullianus en Origenis na vore kom. Katolieke bronne erken dat hulle “baie van die Helleense wêreldbeskouing aangeneem het... [Tertullianus] is sover bekend die eerste mens wat die term “drie-eenheid” gebruik het” (New Theological Dictionary, bl. 1 054).

Dink daaroor! Tertullianus en Origenis was Katolieke teoloë wat gefloreer het tydens die laaste gedeelte van die tweede- en die eerste gedeelte van die derde eeu. Nie een van hulle was eers gebore nie tot ver lank na ’n eeu ná die stigting van die Nuwe-Testamentiese Kerk. Hulle het die grondslag gelê van Katolieke (en later Protestante) leerstellings aangaande die “drie-eenheid” en die aard van God – nie die Nuwe-Testamentiese apostels soos Petrus, Paulus of Johannes nie.

God is ’n Gesin

Die mees diepgaande waarheid oor die aard van God is waarskynlik, hoewel baie min mense dit verstaan, die feit dat God ’n Gesin is! Hierdie waarheid is uiters vertroebel deur die “drie-eenheid” leerstelling. Die uiteindelike lotsbestemming van die mens wat oorspronklik na God se beeld geskape is uit die stof van die aarde, is dat hulle kan bekeer of verander deur ’n innerlike geestelike vernuwing en uiteindelik weer gebore kan word in die einste Gesin van God met die opstanding. God is besig om baie seuns tot heerlikheid te bring (Hebreërs 2:10)! Jesus Christus word beskryf as die eersgeborene van baie broeders (Romeine 8:29).

Let op die Skrif se eenvoudige openbaring van die Godheid. In Genesis 1:1 lees ons dat God die hemel en die aarde in die begin geskape het. Die Hebreeuse woord wat vir God gebruik word, is Elohim – ’n meervoudige woord, hoewel dit dikwels enkelvoudig aangewend word. ’n Bietjie later, in Genesis 1:26, sien ons dat God sê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis”. God se opperste doel is om Homself te reproduseer!

Let op wat Paulus verduidelik in Romeine 8:14: “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God”. Wat is die implikasie hiervan? As ons God se kinders is, is ons Sy erfgename; “erfgename van God en mede-erfgename van Christus” (vers 17). Uiteindelik sal God se kinders “vervul kan word tot al die volheid van God” (Efesiërs 3:19). God is besig om ’n gesin te bou wat sy naam van die Vader – dit is, die Gesin van God – sal ontvang (Efesiërs 3:14-15).

Die volle waarheid oor hoe God daaruit sien en wat Hy doen, strek verder as enigiets wat die meeste mense ooit kon droom. God is kenbaar omdat Hy verkies het om Homself te openbaar. Hy wil hê dat u Hom moet leer ken en ’n verhouding met Hom bou wat daartoe sal lei dat u deel word van Sy einste gesin vir alle ewigheid!