VRAAG: Gee die Bybel enige riglyne oor hoe Christene Kersfees behoort na te kom?

ANTWOORD: Baie mense is verbaas om te verneem dat daar geen Bybelse bevel of Bybelse voorbeeld is wat die herdenking van Jesus Christus se geboorte steun nie.

In die Skrif is daar nie een keer ’n verwysing na ’n verjaarsdagviering vir of deur Jesus Christus nie. Sommige mense aanvaar verkeerdelik dat Matthéüs 2:11-12 die eerste geleentheid was waar Kersgeskenke gegee is. Die “wyse manne” het in werklikheid hulde gebring aan die “Koning van die Jode” – toe reeds ’n jong kind – nie verjaarsdaggeskenke vir ’n pasgebore baba nie.

Dit is insiggewend om daarop te let dat die enigste melding wat gemaak word van “verjaarsdagpartytjies” wat ons in die Skrif vind, geassosieer word met onaangename gebeurtenisse. In Matthéüs 14 byvoorbeeld was koning Herodes se “verjaarsdaggeskenk” die onthoofde kop van Johannes die Doper. Selfs so laat soos 245 n.C. het die welbekende geleerde Origen “die blote idee om die verjaarsdag van Christus te vier, as sondig verwerp” (Encyclopaedia Britannica, 11de uitgawe).

Die Skrif gee egter aan ons ’n paar wenke aangaande die datum van Christus se geboorte en vertel dat Hy gebore is toe daar “herders [was] ... wat in die oop veld gebly en in die nag oor hul skape wag gehou het” (Lukas 2:8). Herders het tydens die koue winters in Judea binnenshuis geslaap. Ons lees ook dat terwyl Sagaria besig was om tempeldiens in die afdeling van Abia te doen, ’n engel aan hom verskyn en aangekondig het dat hy ’n seun, Johannes die Doper, sou hê (Lukas 1:5-25, 57-58). Abia se afdeling het elke jaar die agtste diensbeurt in die tempel gedoen en deur die datums vooruit te bereken, vind ons dat Johannes die Doper in die lente na aan die Pasga gebore is en Jesus ses maande later (Lukas 1:24-26). Dus sou Sy geboorte in September of Oktober plaasgevind het – nie op 25 Desember nie!

Aangesien die Skrif nie ’n viering van Jesus Christus se geboortedag aandui nie en dit duidelik maak dat Hy nie op 25 Desember gebore kon gewees het nie, hoe het die datum vir “Kersfees” ontstaan? In Rome was Desember die tyd van die viering van die heidense Saturnalia asook die “heilige dae” van aanbidders van Mithra en Sol Invictus. Heidense “bekeerlinge” het die oorspronklike leerstellings van Christelikheid verander om bloot by hulle ou gewoontes aan te pas en voortgegaan om hulle feeste aan die einde van Desember te hou. Hulle het slegs die voorwerp van aanbidding verander.

Is daar egter enigsins fout met die “verchristeliking” van die wêreldse gebruik van verjaardag vierings en om dit van toepassing te maak op ons Verlosser? Die Skrif verduidelik dat ons nie die ware God kan aanbid deur Sy weë te verwerp ten gunste van gewoontes wat gebruik word in die aanbidding van valse gode nie (Deuteronómium 12:30-32). Let op: “So sê die Here: Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie, en skrik nie vir die tekens van die hemel, omdat die heidene daarvoor skrik nie. Want die insettinge van die volke is nietigheid; want ’n boom uit die bos kap hulle om, die handewerk van ’n ambagsman met die byl. Hulle versier dit met silwer en goud, hulle maak dit vas met spykers en hamers, dat dit nie waggel nie” (Jeremia 10:2-4). God se mense behoort nie heidense gebruike aan te neem nie – soos die gebruik wat in hierdie verse beskryf word – deur ’n boom as deel van ’n viering te versier nie. Hoeveel mense versier egter elke jaar – teenstrydig met hierdie verse – hulle Kersbome? Jesus Christus het Sy volgelinge gevra: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). In ’n wêreld wat behep raak met “Kersfees”-feestelikhede, mag dit aanloklik wees om deel te neem aan wat mag voorkom as ’n “onskuldige” viering, terwyl dit sosiaal ongemaklik kan wees om te weier. As Christene moet ons egter weier. Ons behoort eerder Jesus se voorbeeld te volg en die ware Heilige Dae te onderhou wat God aan Sy mense gegee het en wat Sy plan van verlossing vir die mensdom uitbeeld. Om meer oor hierdie Heilige Dae te wete te kom, skryf of bel gerus en bestel ’n gratis kopie van ons boekie, Die Heilige Dae – God se meesterplan.