Miljoene mense, regdeur die Westerse wêreld, het The Da Vinci Code gelees. Miljoene mense het onlangs die fliek gesien wat op die novelle gebaseer is. Dit rig 'n uitdaging aan die geloof van baie kerkgangers, en dit verwar miljoene mense oor wat die Bybel werklik sê!

Soos die Charlotte Observer skryf: “Die debat oor 'The Da Vinci Code'-boek en rolprent, het talle nuuskierige Amerikaners laat besef hoe onkundig hulle aangaande Bybelgeskiedenis is. In plaas van om hierdie onkundigheid te betreur en die boek se verdraaiings aan te val, sien baie kerke dit as 'n geleentheid om te leer. Uitgewers gryp ook die geleentheid aan. Ten minste 45 boeke betwis of verduidelik die baie punte in Dan Brown se godsdienstige moordraaisel... Vir 'n kerk wat sukkel met onkunde aangaande die Skrif en die publiek se selftevredenheid kom die geleentheid voor as byna wel, uit die hemel” (5 Junie 2006).

Hierdie wêreld en sy “algemene-Christendom” verkeer duidelik in groot verwarring – en honderde predikante en godsdiensskrywers erken dit openlik. Hulle is bewus daarvan dat die meeste kerkgangers nie die vaagste benul van die Bybel het nie en dus “vatbaar” is vir allerlei godsdienstige idees. Selfs die “kerk” is nie een verenigde liggaam nie. In plaas daarvan, is dit 'n verwarrende mengelmoes van honderde verskillende denominasies wat hulself “Christen” noem, wat almal teen mekaar meeding. Elkeen van hulle het ietwat verskillende leringe en gebruike. Die wêreld is verward. Wat van u?

Die meeste mense bestudeer byna nooit werklik die Bybel soos mens 'n wetenskap-, wiskunde- of geskiedenishandboek sal bestudeer nie. Hulle lees gewoonlik net 'n paar uitgesoekte “bemoedigende” teksverse wat hulle ken. Die res van die Bybel laat hulle as 'n soort lugleegte uit en is totaal onkundig daaroor.

Soos die U.S. News & World Report 'n paar jaar gelede uitgewys het: “Meer as driekwart van Amerikaners verwys na die nasie se godsdienstige diversiteit as 'n bron van krag; minder as een-derde dink dit maak dit moeiliker om die nasie te verenig ... Intussen glo meer as 3 uit 4 Amerikaners dat alle godsdienste ten minste 'n gedeelte van die waarheid bevat – hoewel min mense sê dat hulle veel van ander godsdienste behalwe hul eie weet. Bykans 70 persent van mense dink dat geestelike ondervindings die belangrikste deel van godsdiens is. 'As iemand se godsdiens meer oor indiwiduele identiteit as oor leerstelling of geloof gaan, is dit baie makliker om verdraagsaam te wees,' sê Egon Mayer, 'n sosioloog by die Nagraadse Sentrum van die Stadsuniversiteit van New York. Gallup sê die hoë mate van godsdienstige verdraagsaamheid weerspieël gedeeltelik, 'nie net 'n gebrek aan kennis van ander godsdienste nie, maar ook 'n onkunde van 'n mens se eie geloof.' In party meningsopnames sê hy, 'het jy Christene wat sê, 'Ja, Jesus is die enigste weg' en ook, 'Ja, daar is baie weë na God toe.' Dit is nie dat Amerikaners niks glo nie; hulle glo alles” (6 Mei 2002).

Geen wonder mense is verward nie! Geen wonder mense is onseker oor wat die Bybel sê nie. Dit is omdat hulle nie werklik die einste openbaring van hul Skepper bestudeer nie! Daarom kan hulle maklik besluit om byna enigiets te “glo”. Hulle kan verkeerdelik aanvaar dat “alle godsdienste naastenby dieselfde is”. Intussen het miljoene mense beroemde evangeliste hoor verkondig, “Die Bybel sê,” terwyl die Bybel in der waarheid duidelik presies die teenoorgestelde ver-kondig!

Ons by die Wêreld van Môre wil u dus uitdaag om te leer om u Bybel regtig te bestudeer! Lees noukeurig en mediteer asseblief terwyl u die evangelies van Mattheus, Markus, Lukas en Johannes bestudeer. Merk belangrike gedeeltes wat u lees. Bestudeer Handelinge dan op soortgelyke wyse noukeurig – neem kennis daarvan dat die oorspronklike Christene dieselfde dinge geglo en toegepas het wat Jesus onderrig en toegepas het.

Let daarop dat Jesus na Sy opstanding aan Sy dissipels verskyn en voortgegaan het om “die Koninkryk van God” te onderrig – die volle boodskap oor Sy Wederkoms en die wêreldregering wat Hy gaan vestig wanneer Hy terugkeer as “Koning van konings”. Toe Jesus se dissipels Hom reguit vra, “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?”, het Hy geantwoord: “Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie” (Handelinge 1:6-7). Christus het duidelik aangedui dat die dissipels se afwagting van 'n letterlike regering vervul sal word, maar op 'n latere stadium wat nog nie aan hulle geopenbaar is nie. Spoedig het twee engele verskyn en verkondig, “Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het” (vers 11).

Die kragtige verkondiging van hierdie boodskap deur die Apostels – dat Christus sal terugkeer om Sy Koninkryk te kom vestig – het die beskuldiging teweeg gebring dat hulle “die wêreld in opstand bring” (Handelinge 17:6), en dat hulle verkondig het dat “daar 'n ander koning is, naamlik Jesus” (vers 7).

Die apostel Paulus is geïnspireer om te skryf: “Kyk, ek deel julle 'n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in 'n oomblik, in 'n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word” (1 Korinthiërs 15:51-52). Die apostel Johannes het ook oor die laaste basuin geskryf: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Namate u die Bybel – die Ou- en Nuwe Testament – bestudeer, sal God se doel vir u meer werklik word. Namate u deur die Evangelies, Handelinge, die Sendbriewe en die boek Openbaring gaan, sal u vind – in skrifdeel na skrifdeel – dat melding gemaak word van Christus se Wederkoms en God se ingryping in mensesake. U sal ook sien dat die oorspronklike Christene, lank na Jesus Christus se dood en opstanding, voortgegaan het om Christus se eie toepassing van die onderrig en onderhouding van die weeklikse Sabbat te volg, soos God beveel het (Handelinge 16:13; 17:2). Hulle het altyd die jaarlikse feeste soos die Pasga en Pinkster onderhou, soos God beveel het (Handelinge 2:1; 12:2-3; 20:16; 1 Korinthiërs 5:7-8; 16:8). Dit is betekenisvol dat die eerste Christene nooit die heidense feeste soos die Paasfees of Kersfees onderhou het nie. Dit is eers heelwat later in die belydende kerk ingebring namate dit geleidelik ware Christelikheid versaak het ten gunste van menslike tradisies.

Ons het reeds in hierdie tydskrif verduidelik dat die Bybelse feeste soos die Pasga, die Dae van Ongesuurde Brode, Pinkster en die Fees van Basuine God se groot Plan uitbeeld wat Hy besig is om vir die mensdom teweeg te bring. Die Pasga stel Christus se dood vir ons sondes voor. Die Dae van Ongesuurde Brood stel die behoefte voor om sonde uit ons lewens te sit en om te groei in “genade en kennis.” Pinkster stel ons behoefte aan die Heilige Gees voor ten einde verlos te word. Die Fees van Basuine stel Christus se Wederkoms “met die laaste basuin” voor. Hierdie en ander godsdienstige feeste van die Bybel beeld God se groot Plan uit. Die Bybel se weergawe van Christus se geboorte, dood en opstanding wys ook duidelik dat Jesus Christus lewe. Dit wys dat Hy weer gaan kom om Sy Koninkryk op hierdie aarde te kom vestig en dat ware Christene nou in opleiding is om konings en priesters te word in daardie komende Koninkryk wat die wêreld gaan regeer (1 Korinthiërs 6:2-3; Openbaring 2:26-27; 5:9-10; 20:6).

Hoe kragtig en betekenisvol is die Bybel se werklike boodskap! Hoe uiters toepaslik is dit nou op ons lewens terwyl ons in die voorspelde “laaste dae” leef (2 Petrus 3:3) net voor Christus se Wederkoms as Koning van konings. Die meeste kerkgangers is egter totaal mislei oor die Bybel se ware bedoeling (Openbaring 12:9).

Waarom?
Omdat die meeste mense nie werklik tot God roep vir insig nie en omdat hulle nie regtig Sy geïnspireerde Woord bestudeer nie! Indien u persoonlik hierdie Bybel-onkunde, wat op die meeste belydende Christene van toepassing is, wil oorkom, begin dan asseblief nou om u Bybel ernstig te bestudeer soos nog nooit tevore nie. Indien God u lei om deur ons by die Wêreld van Môre die Waarheid te leer ken, stel ek graag voor dat u ons skakel of aan ons skryf en 'n gratis kopie van die deurslaggewende boekie, Hervestig die Christenskap van die Apostels, aanvra. Hierdie insiggewende boekie onthul in detail wat waarlik met die oorspronklike Christenskap van Christus en die Apostels gebeur het, en hoe u vandag ware Christenskap kan vind en uitleef. Hierdie boekie verduidelik moontlik ons doel en waaroor die hele werk by Die Wêreld van Môre gaan, duideliker as enige van ons ander publikasies.

Die kontakbesonderhede van ons streekkantoor word op bladsy 2 van die tydskrif verskaf. Skakel ons nou of skryf aan ons, of besoek ons webtuiste www.wvm.co.za en vra hierdie boekie aan. Dit sal heeltemal gratis en sonder enige verpligting aan u gestuur word. Hierdie boekie sal u help in u studie van die Bybel en God se Waarheid. Namate Bybelprofesieë met toenemende tempo vervul word – en met Christus se Wederkoms voorhande – moet u nie onkundig bly oor wat die Bybel werklik sê nie! U lewe hang werklik daarvan af.