“Dieselfde-geslag huwelike” is deesdae toenemend in die nuus. Dit kom voor asof bykans elkeen gevra word om hulle opinies te lug. Hoe word daardie opinies egter gevorm? Van wat die meerderheid sê? Van wat politici of aktiviste hulle wysmaak? Of, vanuit die geïnspireerde Woord van God – die Bybel?

Die meeste Amerikaners, Kanadese en Britte is deesdae so Bybels-ongeletterd dat hulle oortuig kan word om byna enigiets te glo oor wat die Bybel sê – of nie sê nie – selfs of die Bybel ’n betroubare bron vir waardes is of nie.

Ons hedendaagse gemeenskap toon toenemend ooreenkomste met die antieke stad van Sodom. Wat was die “meerderheid se opinie” in daardie losbandige stad? Lees dit self in Genesis 19. Lot, God se dienaar, het twee engele onthaal – hulle het hulself as mense voorgedoen – sy huis was spoedig omring: “... die manne van die stad, die manne van Sodom,[het] die huis omsingel: jonk en oud, die hele bevolking, almal saam” (vers 4). Die menigte het daarop aangedring dat Lot sy manlike gaste na buite moes bring sodat hulle hul kon verkrag (vers 5)! Hulle was ooglopend die “meerderheid” in hierdie spesifieke stad, maar het dit hulle optrede “geregverdig”? Nee!

Die Verenigde State van Amerika, my vriende, is een van verskeie lande wat al meer en meer optree asof die God van die Bybel nie bestaan nie! Miljoene jong paartjies “bly eenvoudig saam” – sonder die voordeel van die huwelik. Miljoene ander dring aan op die reg om te trou met mense van dieselfde geslag! Selfs die President van Amerika – ’n nasie wat voorheen beskou was as “die grootste Christelike land in die wêreld” – het in die openbaar verklaar dat hy huwelike tussen twee homoseksuele mans of twee homoseksuele vroue ondersteun. Dit lyk ook asof duisende super-liberale media-mense ook op die reklamewa gespring het en voor in die koor is om hulle goedkeuring te gee.

Sommige liberale predikante probeer om God se woord weg te redeneer en dring aan dat “die Bybel nie duidelik is” oor die moraliteit van homoseksuele verbintenisse nie. Ander weer, stem saam met Billy Graham se seun Franklin, wat sê dat Barack Obama “sy vuis vir God wys” deur dieselfde-geslag huwelike te ondersteun! Wie se opinie tel?

Die hele probleem kan teruggevoer word na mense se afskuwelike onkunde oor die Bybel – hulle onwilligheid om hul te bekeer en te doen wat God duidelik in Sy geïnspireerde woord sê! Jesus Christus stel dit duidelik: “Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? WatGod dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie” (Mattheüs 19:4-6).

Christus stel dit duidelik dat die huwelik berus op die feit dat God hulle “man en vrou” gemaak het, dit is God – nie die mens en sy wette nie – wat man en vrou saambind as “een vlees” in die huwelik.

God het die apostel Paulus geïnspireer om te skryf: “Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie” (1 Korinthiërs 6:9-10 NV). Hy het Paulus ook geïnspireer om te waarsku teen die dwase filosowe van sy tyd: “Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie” (Romeine 1:26-28).

Hoe duidelik! God se geïnspireerde woord beskryf homoseksuele hartstogte as “skandelik”! Inderdaad, die Bybel toon konsekwent dat die Skepper nooit bedoel het dat mans of vrouens hulle moes oorgee aan homoseksuele gedrag nie. Dink! Indien almal hul ten volle oorgee aan hierdie tipe gedrag, sal dit nie lank duur voordat die menslike rasophou om voort te bestaan nie! Wie sou dit wil sien gebeur? Die Skrif verduidelik dat Satan die duiwel die “god van hierdie wêreld” is wat die oorgrote meerderheid mense se “sinne verblind het” vir begrip van die ware God of Sy plan (2 Korinthiërs 4:3-4). Die Bybel openbaar ook Satan is “die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efesiërs 2:1-2).

Soos ek dit in die hoofartikel elders in hierdie uitgawe beskryf (“Hoe Satan u mislei!”). Satan het miljoene mense oortuig om hul te verlustig in onbybelse praktyke wat die Bybel verdoem. Deur gebruik te maak van “Madison Avenue” tegnieke, het hy daarin geslaag om baie mense daarvan te oortuig dat homoseksuele aktiwiteite “normaal” is. Die leuen word voorgehou dat mense “so gebore word” en dat dit aan hulle die vryheid gee – selfs die reg – om gedragspatrone te beoefen wat die Skrif duidelik as “skandelik” bestempel.

Wat sê u Bybel? “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ’n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Korinthiërs 10:13). Ja, diegene wat voel dat hulle geneig is tot homoseksualiteit kandaardie geneigdheid oorkom! Met die hulp van God se Gees, is alle dinge moontlik (Mattheüs 19:26). Paulus herinner die Korinthiërs daaraan dat wanneer ’n persoon wegdraai van die wêreld se weë, dan word hy rein in God se oë (1 Korinthiërs 6:9-11)!

Dink! Selfs indien iemand voel dat hy of sy “homoseksuele neigings” het, maak daardie neigings dit nie “reg” om te doen wat verkeerd is nie! Wat van “neigings” tot alkoholisme, oorgewig, woede – en so baie ander ongesonde karaktertrekke? God verseker ons dat daardie neigings oorkom kan word! Toenemende getalle mense wil egter nie daardie eenvoudige waarheid aanhoor nie. Waarom nie? Jesus Christus sê: “... mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos” (Johannes 3:19).

Diegene wat die duisternis liewer het as die lig – dié wat die ware God van die Bybel verwerp – kom die geestelike fondament kort wat hulle moet beskerm teen die leefstyl dat “alles aanvaarbaar is”, wat Satan probeer om op die mensdom af te dwing. Hoerery, dronkenskap, dwelm-misbruik en dies meer, alles is aantreklik vir die vleeslike denke wat verkies om God te verwerp!

Die apostel Paulus was geïnspireer om aan ons te sê: “Want wat die vlees [menslike natuur] bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie” (Romeine 8:6-7). Die woord “vlees” in die Bybel beteken eenvoudig “menslik” – die normale manier en gesindheid van die mensdom sonder God, die menslike gesindhede geïnspireer deur die vlees – dikwels onder die invloed van Satan die duiwel.

Nee, die gemiddelde, onbekeerde “vleeslike” denke van die mens “onderwerp hom nie” aan die Tien Gebooie – die wet van God nie. Die onbekeerde menslike denke is normaalweg “vyandig” teenoor God – soos bogenoemde gedeelte aantoon. Mense hou nie van die konsep van ’n wesenlike God wat hulle beveel wat om te doen en hoe om hulle lewens te lei nie. Die meeste mense wil aan God dink as iets “vêr weg” – ’n “goddelike krag” of “eerste oorsaak” – ’n mag wat geen gesag het om aan hulle te sê wat om te doen nie. Die sondige natuur het ’n diep weersin in die ware God van die Bybel, wat ’n groot geestelike wet het wat aan mense sê hoe om Hom lief te hê – enhoe om die mensdom lief te hê!

Elkeen van u wat hier lees moet dit deeglik oordink en eerlik aan uself die bestaan van ’n werklike God van die Bybel en van Sy geïnspireerde Woord bewys. Ek moedig u ten sterkste aan om ons te skakel of aan ons te skryf en ’n gratis kopie van ons boekie met die titel, Die Bybel: Feit of Fiksie?, aan te vra. Maak ook seker u vra ons boekie aan met die titel, Die Tien Gebooie, dit gee ’n deeglike uiteensetting van die lewenswyse wat die Skepper aan ons voorhou. Mag God u help om sekerheid te verkryaangaande hierdie uiters belangrike dinge. U toekomstige geluk in hierdie lewe en u ewige lewe hang af van u gewilligheid om gehoorsaam te wees aan die God wat aan u lewe en asem gee. Mag God u die moed gee om Hom te vrees – om Hom diep te eerbiedig, veel meer as wat mense dink. Dit is tog Sy opinie wat werklik tel.