Is die huwelik outyds? Kan die familie herdefinieer word sonder gevolge? Maak dit saak of ons “alternatiewe lewenswyses” saam met die tradisionele huwelik en familie aanvaar?


Ons lewe werklik in ’n betekenisvolle tyd. Die historiese pilare van die Westerse beskawing - Bybelse godsdiensbeoefening, die huwelik en die familie - is onder beleg en is besig om te verkrummel. In die laaste helfte van die 20ste eeu is die basiese boustene van die menslike samelewing blootgestel, besmet en teen ’n ontstellende tempo verwerp - en die neiging is besig om te versnel.

Glen Stanton, ’n maatskaplike navorser, maak die skokkende opmerking dat “die familie in die Westerse wêreld radikaal verander het - sommige beweer amper vernietig is - deur die gebeure van die afgelope drie dekades” (Why Marriage Matters, Stanton, bl. 17). Hy sê verder dat “die skaal van gebroke huwelike in die Weste sedert 1960 histories sonder weerga is ... daar was niks soortgelyk die afgelope 2,000 jaar nie, en moontlik vir nog langer” (ibid., bl. 20). Hy haal demograaf Kingsley Davis se betreuring aan dat “gedurende geen tyd in die geskiedenis, met die moontlike uitsondering van Keiserlike Rome, was die huweliksinstelling meer problematies as vandag nie” (ibid., bl. 25). Stanton kom tot die gevolgtrekking dat “van al die maatskaplike probleme wat die Amerikaanse beskawing in die gesig staar, die verval van die huwelik en die verbrokkeling van die familie ongetwyfeld ons dringendste probleem is ... dit is die gemene deler wat ander maatskaplike euwels dryf” (ibid., bl.18).

Presies hoe ernstig is hierdie groeiende neiging? Wat het hierdie opvallende maatskaplike verandering teweeg gebring? Waar lei dit heen? Is daar oplossings wat hierdie instellings, wat stabiele menslike gemeenskappe ondersteun, kan red en herstel? Soos ons sal sien bevat die Bybel uiters belangrike sleutels!

Waardes en gevolge

Baie ontleders erken dat die maatskaplike en seksuele omwenteling wat in die sestiger jare plaasgevind het, gewigtige gevolge gehad het. Die slagspreuk van die teen-oorlog beswaarmakers - “maak liefde, nie oorlog nie” - en die pogings van intellektuele om die samelewing te bevry van “onderdrukkende, puriteinse, Victoriaanse” moraliteit het seks geskei van huwelik en moraal en ’n vloedgolf van vrye seksuele verkeer rondom die aardbol ontketen. Die feministiese kruistog het die huwelik ge-etiketteer as ’n vorm van slawerny en vrouens aangespoor om ongeoorloofde liefdesverhoudings te begin wanneer hulle so voel. Egskeidingswette is verslap en egskeidings het toegeneem, enkelouer huishoudings het vermenigvuldig, en die getal mans en vrouens wat saamleef het die hoogte in geskiet. Maatskaplike ingenieurs verkondig dat ons “volgroeid” geraak het en ’n nuwe tydperk van vryheid en verdraagsaamheid betree het. Die geskiedenis openbaar egter dat daar ’n donkerder kant is aan hierdie moderne vlaag van naïewe maatskaplike verandering.

Die Britse antropoloog, Joseph Unwin, het in die 1930’s ’n studie gemaak van hoe seksuele waardes die verloop van die geskiedenis beïnvloed het in meer as 80 verskillende kulture, insluitend antieke Babilon, Griekeland en Rome. Hy het waargeneem dat wanneer seksualiteit tot die huwelik beperk was, die gemeenskap ’n hoër vlak van beskawing bereik - hulle bou groter stede, wend groter pogings aan om hulle omgewing te hanteer en hulle lewenstandaard te verhoog en vra meer indringende vrae oor die doel van die lewe. Hy het ook waargeneem dat gemeenskappe wat seksuele vryhede toelaat ooreenstemmend van ’n laer orde was, asook dat wanneer groot beskawings hulle ontsag vir die waarde van die huwelik en moraliteit verloor en “maklike” seksuele verhoudings en alternatiewe lewenswyses nastreef, daardie groot beskawings verval en verkrummel het. So standhoudend was die bewys dat Unwin tot die volgende gevolgtrekking gekom het: “As ons weet wat die seksuele voorskrifte is wat ’n gemeenskap aanneem, dan kan ons die patroon van die kultuur profeteer” (sien Stanton, bll. 47-51).

Ander skrywers kom tot dieselfde gevolgtrekking. ’n Harvard sosioloog skryf dat “die bewind wat kroniese oordadige, ongeoorloofde en wanordelike seksuele aktiwiteite toelaat bydra tot die agteruitgang van kulturele skeppingskrag” (The American Sex Revolution, Sorokin, bll. 106-107). Historikus Jim Nelson Black het gesê: “Die hele rekord van menslike geskiedenis bevestig dat wanhoop en rampe die natuurlike gevolge is van onverantwoordelike selfbevrediging. ’n Aantal Amerikaners [en ander] wil hierdie donker werklikheid ignoreer” (When Nations Die, Black, bl. 216). Die teoloog Carl Henry neem sy toevlug tot Bybelse terme wanneer hy waarsku dat die “toenemende verwerping van die enkelvoudige huwelik, die maklike verkryging van egskeidings ... die wettiging van homoseksualiteit en lesbiese liefde as alternatiewe lewenswyses” sal lei tot ’n “kulturele Armageddon” (The Twilight of a Great Civilization, Henry, bll. 26, 174). Die ondergang van die huwelik en die familie, en die opkoms van ongehinderde egskeiding, die saamwoon van ongetroude mans en vrouens en onbeteuelde seksuele begeertes sal gevolge hê wat bydra tot die ondergang van ons eie beskawing. Dit is hoekom dit belangrik is om te verstaan wat die betekenis is van hierdie moderne maatskaplike verandering.

Oorsake en Oplossings

Maar wat was die oorsaak van hierdie snelle ondergang van huwelik en familie? Vir enigeen wat gewillig is om te soek is die bydraende faktore nie moeilik om te vind nie. Die skrywer Black sê dat die opkoms van relativistiese denke in die 1960’s baie Amerikaners daarvan oortuig het dat “hulle verantwoordelikheid en ware betrokkenheid kan verruil vir sensuele selfbevrediging en selfvoldoening. Kerk en staat, huwelik en familie, en baie van ons mees heilige tradisionele waardes is aangeval. Die sedelike ondersteuningstelsels van ons samelewing is verwerp in die naam van persoonlike vryheid en selfverwesenliking” (Black, bl. 216). Gesprekomroeper Jim Bohannon sê dat nadat mense “hulle eie ding” begin doen het in die 1960’s, die families begin disintegreer het. Hy merk op dat “jou eie ding doen vir ouers beteken dat hulle omtrent oor enige provokasie kan uiteen gaan. Dit kom voor dat dit makliker is om eg te breek as om deesdae getroud te bly. Egskeiding het maklik volgbare stappe en ’n legioen van prokureurs om jou te lei. Die huwelik kom met geen eienaarshandboek nie, en is ... somtyds harde werk” (America in Crisis, Bohannon, bl. 71). Navorser Stanton skryf dat baie vandag “nie in staat is of nie gewillig is om die tipe van verbintenis aan te gaan wat benodig word vir ’n huwelik nie” (Stanton, bll. 27-28).

’n Vorige Amerikaanse minister van onderwys, William Bennett, blameer liberale teoloë daarvan dat hulle die belangrikheid van die huwelik bevraagteken, sedelike absolute weg rasionaliseer, alternatiewe homoseksuele lewenswyses aanvaar en “nuwe” familiestrukture onderskryf wat selfde-seks pare insluit wat kinders aanneem (sien The De-Valuing of America, Bennett, bl. 222). In die laaste 30 jaar het die liberalisering van die egskeidingswette, wat toelaat dat huwelike na willekeur beëindig word, ’n rampspoedige impak op die familie in Amerika en ander Westerse lande gehad (sien The Marriage Problem, Wilson, bll. 99-101). Familielewe-deskundige Dennis Rainey sê ouers fouteer deurdat hulle nie hulle kinders duidelik deur woord en voorbeeld leer dat saamleef en voorhuwelikse seks sondig en verkeerd is nie (Building Strong Families, Rainey, bl. 16). ’n Groot deel van die Westerse samelewing het die vals lering aanvaar dat egskeiding dikwels ’n goeie oplossing is vir huweliksprobleme en dat dit min permanente gevolge het op die volwassenes of die kinders, dat saamwoon ’n goeie voorbereiding vir die huwelik is en dat die definisie van ’n huwelik sonder gevolge verander kan word.

As gevolg van hierdie misleide invloede het baie mense vandag geen duidelike idee waaroor die huwelik werklik gaan nie, geen idee hoekom families bestaan of hoe normale familieverhoudings daaruit moet sien nie. Talle geleerdes besef die nodigheid daarvan om bewese en getoetste standaarde te versprei wat mense kan gebruik om hulle eie huwelike en families te verbeter. Professor James Wilson beweer dat ons huidige probleme met die huwelik nie sal verander “tensy daar ’n kragtige kulturele herhandhawing van die waarde van die huwelik is nie” (Wilson, bl. 216). Ons “ryp” - maar liggelowige - kulture sal moet verstaan dat die voordele van ongerepte, eenmalige huwelike baie meer gewig dra dan enige ander alternatief, en dat saamwoon, voorhuwelikse seks en “nuwe” definisies van families swak plaasvervangers van die ware Jakob is.

Oorsprong en Doel

Hoekom bestaan die huwelik en die familie? Hoe het hul ontstaan? Intellektuele het dwaaslik gespekuleer dat mense geleer het om te trou en families te hê omdat dit ons ’n ontwikkelingsvoorsprong oor ons veronderstelde dier voorgeslagte gegee het. Dit het ons spesie gehelp om te oorleef omdat dit ons gehelp het om beter te jag en voedsel te kweek. Die familie het ook beter beskerming verskaf teen gevare van buite die familie. Sulke oorvereenvoudige en materialistiese denke aanvaar dat daar geen hoër doel vir die menslike bestaan is nie, en ignoreer eenvoudig wat God in die Bybel openbaar het. Aangesien hierdie tipe van denke vandag egter so wydverspreid is, is dit nie verbasend dat baie geen idee het van die werklike oorsprong en doel van die huwelik en familie nie - selfs al maak die Bybel dit duidelik!

Uit die Bybel leer ons dat mense nie diere is nie; inteendeel, hulle was geskape na die beeld van God, hulle skepper (Gen. 1:26-28). Hulle moes “vrugbaar” wees “en vermeerder” - kinders hê - en leer om te heers op die aarde. God se bedoeling is dat seksuele verhoudings tot die huwelik beperk word, en definieer die huwelik as tussen man en vrou wat eggenoot en eggenote word (Gen. 2:21-25). ’n Ideale familie bestaan uit ’n biologiese vader en moeder en hulle kinders. Om te probeer om waardigheid te verleen aan die verhouding tussen twee mans of twee vroue as ’n “huwelik”, of om die familie te herdefinieer as enigiets anders as man, vrou en kinders is eenvoudig om God se bedoeling te verdraai - en is ’n gruwel in Sy oë (sien Lev. 18:22; Rom. 1:22-32). God speel nie met woorde of gebruik “politiek korrekte” terminologie nie.

Die Bybel openbaar dat een sleuteldoel van die huwelik is om goddelike afstammelinge te verwek (Mal. 2:15). Dit is hoekom owerspel en seksuele ontug verkeerd is (Ex. 20:14; 1 Kor. 6:18-20), en God egskeiding haat (Mal. 2:16). Egskeiding vernietig die noodsaaklike stabiliteit van die familie en laat permanente letsels aan volwassenes en kinders (sien Stanton, hoofstuk 5). Die huwelik en familie is ook ’n oefenterrein vir groter verantwoordelikhede (1 Tim. 3:1-5, 12). Die geopenbaarde doel van menslike lewe is dat ons uiteindelik lede van die Goddelike familie kan word (Rom. 8:14-17; 1 Joh. 3:1-3; vra ook ons gratis boekie, U uiteindelike lotsbestemming, aan). Die Bybel verduidelik dat verhoudings in die huwelik ontwerp is om verhoudings in God se geestelike familie te weerspieël (Ef. 5:30-33), en spel besondere Godsgeordende rolle binne die huwelik uit vir die man en die vrou. Die mans moet die leiding neem maar word beveel om hulle vrouens lief te hê (Ef. 5:23-29) en verstandig saam met hulle te woon - verstaan hoe hulle vrouens verskil, en te leer hoe om aan hulle behoeftes te voldoen (1 Pet. 3:7). ’n Vrou moet ook leer om haar man lief te hê en “onderdanig” te wees aan sy leierskap deur die voorbeelde van groot vroue soos Sarah te volg (1 Pet. 3:1-6). Sarah was nie ’n verstandelose “deurmat” nie; sy was ’n intelligente vrou wat God se opdrag aan vroue gevolg het (Spr. 31:10-31).

Bou Sterk Families

Sterk gesonde families “gebeur nie net sommer” nie! Dit is die resultaat indien bepaalde riglyne gevolg word. Vir enige familie, kultuur of beskawing om te floreer en te groei - en nie te verval en te verkrummel nie - moet goeie waardes oorgedra word aan die volgende geslag. Dit is hoekom die nasie van Israel opdrag gekry het om hulle kinders God se wette en gebooie te leer (Deut. 6:1-9). Abraham was gekies om die vader van die gelowiges te wees (Rom. 4:11). “Want Ek het hom verkies, dat hy aan sy kinders en sy huis na hom bevel sou gee dat hulle die weg van die HERE moet hou om geregtigheid en reg te doen” (Gen. 18:19). Geregtigheid word gedefinieer as om die gebooie van God te onderhou (Ps. 119:172). Die Bybel sê duidelik: “En jy moet sy insettinge en sy gebooie hou wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou en jou kinders ná jou goed mag gaan” (Deut. 4:40). Die Bybel waarsku dat as ons God se gebooie ignoreer of verwerp dit ernstige gevolge gaan hê (sien Lev. 26; Deut. 28).

God bedoel ten volle dat ouers en godsdienstige leiers die Bybelse opdragte aangaande die huwelik en familie verstaan en verduidelik. Dit is hoekom dit belangrik is om die doel van die huwelik te verstaan, en die rol wat die familie speel in die voorbereiding van toekomstige seuns en dogters vir die Koninkryk van God. Enigeen wat ’n sterk huwelik en familie wil hê moet voorberei - fisies, verstandelik en geestelik - om die rolle en verantwoordelikhede te hanteer wat God in die Bybel omskryf. Ongelukkig is daar vandag selfs beleidende Christene wat probeer om die rolle wat vir mans en vroue so duidelik in die Skrif uiteengesit is, as outyds af te maak of daarom te probeer redeneer (sien Ef. 5:22-33; Kol. 3:18-21; 1 Pet. 3:1-7). Enigeen wat trou en ’n familie begin moet die koste bereken en moet gewillig wees om die prys te betaal (in tyd, toewyding en volharding) wat benodig word om sukses te behaal. Wanneer probleme opduik, kies baie vandag egter ’n “maklike” egskeiding (ten spyte van die opgetekende lang termyn gevolge) en begin ’n tweede huwelik (selfs al is die kanse vir ’n tweede en derde huwelik om te slaag nog slegter). Uitstekende oorsigte van navorsing wat gedoen is oor suksesvolle huwelike is beskikbaar vir enigeen wat ’n sterk huwelik en familie wil bou.

’n Ander motivering om sterk huwelike en families te bou, is die werklike tasbare voordele van eerste huwelike wat selde in ons politiek-korrekte samelewings genoem word. Baie studies wys dat getroude pare oor die algemeen fisies en verstandelik gesonder is as mense wat net saambly, uit mekaar gaan, skei of weer trou. Hulle leef langer, versorg hulself beter, het ’n laer persentasie alkoholisme en selfmoord, vertoon laer spanningsvlakke en ervaar meer selfverwesenliking in hulle lewens. Aan die anderkant ervaar mense wat die alternatiewe bo eerste huwelike verkies meer probleme (sien Stanton, hoofstuk 5). Diegene wat voor die huwelik saamgebly het skei meer gereeld. Egskeidings laat lewenslange letsels aan beide kinders en volwassenes. Enkelouer huise is “die grootste enkele struikelblok tot akademiese sukses” vir skoolbeginners (Bohannon, bl. 72). Dit is nie welkome nuus vir die wat alternatiewe lewenswyses voorstaan nie. Stanton merk in sy besonder inligtingsvolle boek op dat “’n kultuur wat wys genoeg is om die huwelik bo die menigte ‘alternatiewe’ familiestrukture te verkies, die voordele van gesonde, sterk, gelukkige, goeie, produktiewe en lang lewens sal geniet” (ibid., bl. 95).

Die Bybel leer duidelik “God is liefde” (1 Joh. 4:8) en dat ons moet leer om goddelike lewens te lei deur te leer om God lief te hê en ons medemens lief te hê (Matt. 22:36-40). Die naaste medemense wat ons ooit sal hê word in die huwelik en familie gevind: man, vrou, pa, ma, kinders, tantes, ooms en grootouers. Soos ons leer om lief te hê - om te versorg, besorgdheid, respek, meegevoel en vergewensgesindheid te betoon - ontwikkel ons die karakter van God ons Vader. Dit is hoekom dit gesê is dat “waar karakter geplant en gegroei word, die familie is. Dit is die plek waar beleefdheid en respek vir ander vertroetel en verbou word. As die siel van Amerika (en ander nasies) herstel moet word, dan sal dit gedoen word in een huis, een familie op ’n slag, en in die kerk help ons om God se waarheid vir die familie te verkondig. Ons het ’n familie hervorming nodig” (Rainey, bl. 15).

God se kerk strewe daarna om die ware Bybelse waardes van die huwelik en familie terug te bring deur “die hart van die vaders terug [te] bring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders” (Mal. 4:5-6; Luk. 1:17). Hierdie opdrag van die kerk sal die opdrag van Jesus Christus en die heiliges in die komende koninkryk word, wanneer daar ’n “wederoprigting van alle dinge” gaan wees (Hand. 3:19-21).

Diegene wat bereid is om tyd en moeite daaraan te bestee om te leer hoe om sterk huwelike en families te bou, gebaseer op goeie Bybelse beginsels, sal onderwysers word in die wêreld van môre (Jes. 30:20-21). Hulle sal die verbasende voorreg hê om die hele mensdom die weg tot ware geluk in menslike families te wys, terwyl hulle groei om lede van God se eie familie te word.

 

Kenmerke van Gesonde Families 
 

Watter kwaliteite toon sterk gesonde families? Wat kan u doen om die kwaliteit van u familielewe te verbeter? Rubriekskrywer en navorser Dolores Curran het 500 familie deskundiges ondervra en 15 eienskappe geïdentifiseer waaroor al die sterk families beskik het. Elk van hierdie eienskappe kan aangeleer en ontwikkel word in u eie familie.

’n Gesonde Familie: 

 

· Kommunikeer en luister 
· Spandeer tyd saam aan die etenstafel om te gesels - hulle eet saam. 
· Verseker en ondersteun mekaar 
· Onderrig respek aan andere 
· Ontwikkel ’n gevoel van vertroue tussen lede 
· Kan saam speel en besit ’n humorsin 
· Het ’n balans van interaksie tussen lede 
· Spandeer ontspanningstyd saam - hulle doen dinge saam

 

· Betoon ’n gevoel van gedeelde verantwoordelikheid 
· Onderrig die verskil tussen reg en verkeerd 
· Besit ’n sterk aanvoeling tot familiegebondenheid wat ryk aan rituele en tradisies is 
· Het ’n gemeenskaplike godsdienstige belang 
· Respekteer mekaar se privaatheid 
· Heg waarde aan diens aan ander 
· Erken en soek hulp met probleme