Vir baie mense is dit die wonderlikste tyd van die jaar. Hoeveel mense vier nogtans

Kersfees sonder om regtig te verstaan waarom hulle dit doen? Dit is tyd om uit te vind.

Moderne Amerika is ernstig verdeeld en dit lyk of daardie verdeeldheid by die dag groter word. U mag egter verbaas wees oor wát Amerikaners wel verenig. Ten spyte van ’n wye verskeidenheid menings oor byna alles, vier ten minste 90% van alle mense in die Verenigde State Kersfees volgens ’n studie in 2013 van die Pew Research Center. Nogtans, wanneer dit kom by die onderliggende redes vir die viering van Kersfees, is Amerikaners weereens verdeeld en vier net meer as die helfte van hulle dit vir godsdienstige redes en ongeveer een-derde vir kulturele redes, met min of geen “godsdienstige verband” nie.

Wat van u? Indien u Kersfees vier, hoekom?

Kersfees is waarlik uiters gewild en mense van baie nasies en kulture vier hierdie jaarlikse fees. Soos History.com sê, “Waarskynlik die gewildste vakansie in die wêreld, is ons moderne Kersfees ’n produk van honderde jare van beide sekulêre en godsdienstige tradisies van regoor die wêreld” (“Christmas Traditions Worldwide”).

Noorweë het die gebruik van die “yule-log” [kersstomp] gewild gemaak, terwyl Duitsland die tradisie van die versiering van ’n immergroen boom bygevoeg het. Die gebruik van Kerssang, wat bestaan uit groepies deelnemers wat van huis tot huis gaan, het in Engeland ontstaan. Sentraal en Suid-Amerikaanse kulture plaas sterk klem op die geboorte van Christus en die sogenaamde geboorte-toneel. In Australië, waar Kersfees in die hitte van die somer plaasvind, vier mense gewoonlik die dag buite met stranduitstappies en braaie. In die Filippyne is sneeuvlokkies ’n seldsame gesig, maar versierings met Kersvader en sy rendiere verskyn landswyd in winkelsentrums.

Die bekoring van Kersfees is oor die wêreld versprei. Vir baie mense het dit een van die belangrikste gebeurtenisse van die jaar geword. Indien u Kersfees vier, wat beteken dit vir u? Die skrywer Desmond Morris beskryf dit soos volg:

Hoekom koop daardie vrou dáár genoeg kos om ’n militêre beleg die hoof te bied? Wat doen daardie man wat so stoei om ’n klein denneboompie agter in sy motor te kry? Waarom gaan daardie paartjie al struikelend die straat af, al klouende aan ’n klomp pakkies? Wat op aarde is aan die gang? Die antwoord is natuurlik dat Kersfees aan die kom is ... Die mensdom is besig om voor te berei om sy groot midwinter fees te vier. Daar is baie ander spesiale dae in die jaar ... maar daar is niks wat vergelyk kan word met die groot impak wat Kersdag het (Christmas Watching, bl. 2, beklemtoning bygevoeg).

Baie inkopies word gedoen, lekkernye word gebak, versierings word gemaak en ornamente word opgehang – dit is egter net die begin! Hierdie jaarlikse viering raak feitlik almal en vul reeds lank voor die tyd talle harte met afwagting. Mnr. Morris wys daarop dat tydens Kerstyd ...

… alles verander. Werk word gestaak, groot besighede kom tot stilstand. Verkeersknope verdwyn. Mense eet anders, trek anders aan en versier hulle huise anders ... Daar word gesmul aan spesiale kosse terwyl spesiale drankies gedrink word. Geskenke word oopgemaak en speletjies word gespeel. Bowenal is daar ’n hele reeks spesiale rituele wat uitgevoer word – enigiets van soen onder die mistel en die hang van tierlantyntjies aan die Kersboom tot die aansteek van die Kerspoeding en die trek van Kersfeesklappers (bl. 1).

Mense volg jaar vir jaar getrou dieselfde ritueel. Waarom dan? Wat is die doel van alles? Mnr. Morris sluit af:

Waarom gee ons onsself oor aan al hierdie snaakse gebruike? Wat beteken dit alles en wat is die oorsprong van die vele, oënskynlik irrasionele gedrag wat ons elke jaar op 25 Desember en ook die dae daarvoor en daarna toon? Alhoewel Kersfees amptelik die viering van die geboorte van Christus is, het bykans niks wat ons tydens die Kerstyd doen die geringste verband met die Christendom nie, wat nog te sê met die koms van die baba Jesus ... Omdat dit veel meer as ’n eenvoudige godsdienstige fees is, bekoor Kersfees bykans almal. Dit word ’n nasionale gebeurtenis. Mense wat nog nooit in hulle hele volwasse lewe ’n kerk besoek het nie, neem nog steeds aan die Kersfees-seremonies deel sonder om dit te bevraagteken. Gewoonlik het hulle geen idee waarom hulle dit doen nie (bll. 1-2, beklemtoning bygevoeg).

Mnr. Morris gee ’n merkwaardig eerlike opsomming van die sogenaamde “belangrikste gebeurtenis van die jaar” en lê die Kerstradisies as leeg en betekenisloos bloot. Is u gewillig om hierdie tradisies te ondersoek? Indien u die moed aan die dag lê om dit te doen, mag u moontlik geskok wees om te ontdek dat dit bevredigender is om die Spesiale Dae wat God eintlik vir ons beplan het, te vier.

Kersfees: ’n Eerbetoning aan Christus?

Baie mense vier Kersfees in ’n poging om eer en lojaliteit aan Christus te betoon. Hulle antwoord op die vraag, “Waarom Kersfees?” sou wees, “Wel, om Christus te aanbid”. Ja, ons behoort Christus te aanbid! Hy is ons Verlosser, die Kaptein van ons verlossing, die Een wat sal terugkeer om oor die wêreld te regeer as Koning van die konings en Here van die here. Ons behoort Hom te eer! Die vraag is hoe?

Jesus het toe hy by die Olyfberg gepraat het vir diegene in die skare gevra:

“En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie? Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en dit doen – Ek sal julle wys soos wie hy is. Hy is soos ’n man wat ’n huis bou, wat gegrawe en diep ingegaan en die fondament op die rots gelê het; en toe die vloedwater kom en die stroom teen daardie huis losbreek, kon hy dit nie beweeg nie, omdat sy fondament op die rots was” (Lukas 6:46-48).

Ons wil almal meer gemoedsrus hê. Almal hunker na bestendigheid, eerder as om te voel asof alles buite beheer is. Dink aan wat Jesus gesê het in verband met u lewe. Wanneer u probleme ondervind, wil u God se ondersteuning hê? Wil u vol vertroue wees dat, ongeag wat gebeur, God u sal help?

Ons leef in onseker tye. Ons wêreld raak gevaarliker en meer onvoorspelbaar terwyl baie mense met reg oor die toekoms bekommerd is. Profesie waarsku ons aangaande moeilike tye wat voorlê, maar soos Christus gesê het, kan diegene wat op die ware Rots bou, vertroue hê te midde van die storms van die lewe.

In teenstelling hiermee, let op wat gebeur wanneer ons nie op die rots van Christus bou nie: “Maar wie dit hoor en dit nie doen nie, is soos ’n man wat ’n huis sonder fondament op die grond bou, en die stroom het daarteen losgebreek en dit het dadelik geval, en die instorting van daardie huis was groot” (Lukas 6:49).

Waarop bou u u lewe se fondament; wat van u kinders? Help u hulle om hul lewe op ’n fondament te bou wat die komende storms sal kan weerstaan?

Menige moderne Kerstradisies draai om ’n denkbeeldige figuur wat kinders liefhet, wie teen bonatuurlike spoed op ’n mitiese slee vlieg, weet wie was “stout of soet” en wonderlike geskenke vir diegene wat gehoorsaam was bring. Dit is natuurlik Kersvader of Santa Claus soos die Engelse mense hom noem. Natuurlik weet almal dat Santa nie eg is nie ... of hoe?

Dink egter net vir ’n oomblik daaraan dat daar werklikwaar ’n Wese is wat kinders liefhet, teen bonatuurlike spoed kan reis en elke aksie en gedagte van ons ken! Hy weet regtig of ons soet of stout was en Hy beloon ons op grond van ons werke. Hierdie Wese is natuurlik Christus van die Bybel en ons kan maklik Skriftgedeeltes vind wat Sy natuur openbaar:

“Toe bring hulle kindertjies na Hom, dat Hy hulle die hande sou oplê en bid; en die dissipels het hulle bestraf. Maar Jesus sê: Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My te kom nie; want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele. En Hy het hulle die hande opgelê en daarvandaan vertrek” (Matthéüs 19:13-15).

Elke jaar tydens Kerstyd vermom mans hulle soos Kersvader [Santa] en neem op die voorgrond plekke in by baie van ons winkel- en inkopiesentrums. Opgewonde kinders wag in groot spanning vir hulle beurt om op Kersvader se skoot te sit en versoeke in sy oor te fluister. In God se geïnspireerde Woord word daar egter van iemand melding gemaak wat werklik en lewend is wat, toe Hy op aarde was, bewys het hoe baie Hy kindertjies liefhet en van hulle lewens en bekommernisse wil hoor. Selfs toe sy dissipels gedink het dat Hy te besig was, het hy vir kindertjies tyd gemaak. Hy het hulle opgetel, omhels, Sy hande op hulle koppies gelê om hulle te seën en vir hulle gebid. Dít is die Jesus Christus van die Bybel. Wie is ’n groter werklikheid vir u kinders? Kersvader of Jesus Christus?

Net nadat Hy opgewek is, het Christus ’n vlugtige blik op Sy mag openbaar:

“En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle! En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy sy. En die dissipels was bly toe hulle die Here sien” (Johannes 20:19-20).

Ons kultuur verheerlik egter stories van ’n magiese figuur wat op Kersaand geskenke bring voordat hy in die nag verdwyn. Jesus Christus het na Sy opstanding werklik die mag besit om oral in ’n oogwink na enige plek te reis. Hy het selfs binne ’n oomblik in ’n kamer met geslote deure verskyn – iets wat duidelik bonatuurlik is!

Wanneer Jesus Christus weer kom, wys die Bybel ons dat Hy mense sal beloon volgens hulle werke: “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees. Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste” (Openbaring 22:12-13).

Jesus Christus weet wie “soet of stout was” en Hy sal elkeen volgens hulle werke beloon. Verlossing is ’n gratis geskenk van God aan diegene wat Hom in geloof en gehoorsaamheid soek, terwyl Christus wel ons doen en late sien. Hy sal ons diens aan Hom beloon, sowel as die liefdevolle, sorgsame welwillendheid waarmee ons na diegene rondom ons uitreik.

In die lig hiervan, wie behoort ons te eer en te aanbid? Dit is duidelik dat ons toewyding aan die Een behoort wat waarlik deur mure kan loop en met onbegryplike spoed dwarsoor die wêreld kan reis. Ons behoort inderdaad die Een wat elke gedagte en daad van ons ken, te vereer en te aanbid – die Een wat ons en ons kinders werklik liefhet en dit bewys het deur Sy lewe vir ons op te offer!

Nogtans word ’n ander figuur, ’n fiktiewe held, deur die algemene kultuur verheerlik wat die aandag aftrek van die Een wat dit werklik verdien. In sy boek maak Desmond Morris later hierdie presiese punt:

Kersvader [Santa Claus] het sy ontstaan as Nicholas, ’n heilige biskop van die antieke kusstad van Myra, in wat nou Suidwes-Turkye is. Vanweë sy vrygewigheid en omdat hy geskenke uitdeel en klein kindertjies beskerm, het [Nicholas] ’n uiters gewilde heilige dwarsoor Europa geword (bl. 12).

Mnr Morris verduidelik dan hoe hierdie figuur deur die eeue heen verander en ontwikkel het om Kersvader – of te wel Santa Claus – van vandag te word:

Die naam Kersvader [is gekombineer] met die persoonlikheid van Santa Claus, om ons eie, uiters gewilde, Kersfiguur te skep. Kersvader het tot die ergernis van die vromer geestelikes, uiteindelik gewilder as Jesus geraak by moderne kinders. Dit het sekere elemente in die kerk woedend gemaak, maar hulle was magteloos om sy opgang tot die hoogtepunt van Kerstyd te keer. Kersvader, alias Santa Claus, was hier om te bly (bl. 13, beklemtoning bygevoeg).

Is Kersvader [Santa Claus] vir kinders ’n groter realiteit as Jesus Christus? Indien wel, is dit nie duidelik dat iets verskrikliks verkeerd is nie?

Almal van ons behoort die ware God beter te leer ken. Dit vereis dat ons die denkbeeldige bedrieërs wat Sy plek wil inneem, identifiseer en verwerp.

Kersfees: Heilsame gesinstyd?

Tot dusver het hierdie artikel op diegene gefokus wat Kersfees vir godsdienstige redes vier, maar heelwat mense vier dit vir sekulêre, nie-godsdienstige doeleindes. Hulle sien dit as ’n geleentheid om tyd saam met familie en vriende deur te bring om sodoende welwillendheid en positiewe gevoelens te bewerkstellig. Dit is goed om tyd saam met diegene wat ons liefhet deur te bring. God het ons in gesinne geskep en die begeerte gegee om nouer gesinsbande met ander te ontwikkel. Selfs die eenvoudige geleentheid soos om saam ’n maaltyd te nuttig versterk bande tussen mense.

Behoort ons maaltye en byeenkomste dwarsdeur die jaar egter net daarop gefokus te wees om bymekaar te wees? Behoort daardie spesiale tye nie ook die Een wat ons in die eerste plek geskape het in te sluit nie? Dit is interessant om daarop te let dat selfs die woord “holiday [vakansie]” dui op ’n godsdienstige verlede en mens kan dit regtig nie van godsdiens skei nie. Die woord “holiday” is ’n kombinasie van twee woorde: “Holi” of “holy [heilig]” en “day [dag]”. Dit verwys na ’n tyd om met ons goddelike Skepper te kommunikeer.

Die vroeë Nuwe Testamentiese Kerk het saam brood gebreek [bymekaar gekom]. Watter Heilige Dae het hulle egter onderhou? Handelinge 2 beskryf een van hulle naamlik Pinkster of die “Fees van Eerstelinge”. Waarom het hulle hierdie Heilige Dag of “Fees” gevier? Dit is één van die dae wat God van Sy volk verlang het om as ’n verpligte samekoms te onderhou, sedert die tyd van Moses en die Exodus. Nog ’n fees, naamlik die Huttefees, is deur Jesus Christus self onderhou soos Johannes 7:10 aantoon.

Die Bybel bevat ’n boeiende beskrywing van die Huttefees. Dit word as ’n wonderlike tyd vir gesinne uitgebeeld, waartydens vaders, moeders, seuns, dogters en ander familielede dit kan geniet om saam te wees:

“En jy moet voor die aangesig van die Here jou God op die plek wat Hy sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, die tiendes eet van jou koring, van jou mos en van jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en van jou kleinvee, dat jy kan leer om die Here jou God altyd te vrees ... dan moet jy die geld gee vir alles wat jou siel begeer, vir beeste en kleinvee en wyn en sterk drank en vir alles wat jou siel van jou begeer, en jy moet daar eet voor die aangesig van die Here jou God en vrolik wees, jy en jou huis” (Deuteronómium 14:23, 26).

Wie sal nie ’n ete met heerlike biefstuk en geroosterde lamsvleis, versier met smaaklike vrugte en groente geniet nie, dalk terwyl ons ’n glasie wyn drink wat afkomstig is van mens se eie wingerd? Stel u voor hoe verskeie geslagte saam om ’n tafel kuier, al laggende terwyl vrolik stories vertel word en ’n goedhartige geskerts en geterg tussen mekaar aan die orde van die dag is en almal elke oomblik daarvan terdeë geniet! Dit is die prentjie, heeltemal binne die konteks van hoe ons leer om die Skepper-God lief te hê en te dien.

Die Huttefees het nie net gesinne bymekaar gebring nie, maar ook die hele gemeenskap betrek. Dit het diegene ingesluit wat andersins uitgesluit of alleen sou wees, “die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in jou poorte is, en hulle moet eet en versadig word, sodat die Here jou God jou kan seën in al die werk van jou hand wat jy doen” (Deuteronómium 14:29)

Wat ’n vreugdevolle gebeurtenis, om herinneringe te skep wat ’n leeftyd sal hou! Wie sal nie daaraan wou deelneem nie? Die Bybel openbaar in Sagaria 14:16 dat die hele mensdom hierdie selfde Huttefees gedurende die duisendjarige Regering van Christus sal vier!

Jesus Christus is ons Verlosser. Hy het vrywillig na die aarde gekom. Hy het vir ons geleef en gesterf om ons van ons sondes te verlos. Hy kom weer as Koning van die konings en Here van die here. Om Hom te vereer is goed, eintlik noodsaaklik. Ons moet egter die Koning op die wyse vereer soos wat die Koning ons vertel om Hom te vereer. Christus het die godsdienstige leiers van Sy tyd wat baie tradisies nagevolg het, maar nie die ware God erken het nie, ernstig berispe: “En Hy sê vir hulle: Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou ... So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorlewering wat julle bewaar het; en dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie” (Markus 7:9, 13).

God vertel ons in Jeremia 10:2-3: “Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie, en skrik nie vir die tekens van die hemel, omdat die heidene daarvoor skrik nie. Want die insettinge van die volke is nietigheid ...” Dit is God se opdrag. Verder sê Deuteronómium 12:30-31 aan ons: “... neem jou dan in ag ... dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die Here jou God nie ...”

Wanneer ons gebruike “godsdienstig is, maar nie Bybels nie”, is ons nie dalk besig om iets mis te kyk nie? Indien dit wat ons vier slegs wêrelds is en nie die God eer wat aan ons lewe en asem gegee het nie, is dit nie per slot van sake leeg en betekenisloos nie?

Nou is dit die tyd om uself af te vra: Waarom Kersfees? U mag verbaas wees wanneer u uitvind wat die waarheid is.