Sal die wêreld in 2012 eindig? Het die “New Age” voorspellers iets beet? Kan die waarheid gevind word in antieke Maja-kalenders, of in die bladsye van u Bybel?

Wat sê God se Woord aan ons aangaande “die einde van die wêreld” en die tye wat binnekort voorlê?


Oral om ons lyk dit of die wêreld vasgevang is in probleme. Kan daardie probleme opgelos word voordat die mensdom vernietig word?

Aardbewings hou aan om lyding en verlies te veroorsaak. Ons onthou die 9.1 grootte Tohoku aardbewing wat Japan op 11 April 2011 getref het. Tussen die aardbewing self en die tsunami wat daardeur veroorsaak is, het hierdie ramp gelei tot meer as 15,000 sterftes en ten minste 25,000 ernstige beserings. Volgens syfers van die Wêreldbank, wat die koste van die skade op $235 miljard bereken het, is die Tohoku ramp tans die duurste natuurramp in die aangetekende geskiedenis. Baie waarnemers bly bekommerd oor die voortslepende gevolge van vrylating van bestraling uit die Fukushima kernkragsentrale, wat onherstelbaar beskadig is deur die aardbewing en die tsunami.

Gedurende 2011 het die Verenigde State van Amerika op 22 Mei ook die dodelikste tornado sedert 1947 ervaar, wat $3 miljard aan versekerde skade rondom die dorp van Joplin, Missouri veroorsaak het. Vanaf 25-28 April van daardie jaar het ’n “super uitbarsting” van 343 tornado’s in die VSA se Midweste, ’n geskatte $10 miljard se skade aangerig.

Asof natuurrampe nie genoeg was nie, dreig finansiële krisisse in baie lande. Die VSA word steeds lamgelê deur die gevolge van die 2008 globale finansiële ineenstorting en Europa wankel op die rand van chaos namate die stabiliteit van die euro betwyfel word en die Europese Unie die gevaar staan om lidlande te verloor of om heeltemal te ontbind.

Baie onlangse afgestudeerde kollege-studente sukkel om werk te kry, terwyl ouer werkers hulself sonder vooruitsigte van werk bevind na afleggings. Immigrasie is besig om verandering aan te bring in die demografie van nasies wat vir dekades – selfs eeue – gedeelde erfenis en waardes as vanselfsprekend aanvaar het. Lankbestaande sedelike en godsdienstige norme word betwis. Vir baie mense lyk dit asof ons wêreld op die randjie van totale ineenstorting is.

Dus, wat gaan gebeur? ’n Peiling in April 2012 deur Ipsos Global Public Affairs het bevind: “Byna 15% van mense wêreldwyd glo die wêreld sal gedurende hul leeftyd eindig en 10% dink die Maja-kalender kan aandui dat dit in 2012 sal gebeur” (“Nearly one in seven thinks end of world is coming”, Reuters, 1 Mei 2012).

Sal die wêreld eindig gedurende u leeftyd? Sal dit eindig in 2012? Vir ’n paar jaar het “New Age”-entoesiaste verwys na die antieke Maja-beskawing se kalender, wat een van sy belangrike siklusse op 21 Desember 2012 beëindig. Kon dit die Majas se idee wees van die einde van die wêreld? Die onlangse ontdekking van ’n negende eeu n.C. se Maja inskripsie in Guatemala se Xultun kompleks stel dit anders voor, aangesien dit datums insluit wat 7,000 jaar in ons toekoms in strek (“Ancient Mayan calender unearthed”,Irish Times, 11 Mei 2012).

Vroeër vanjaar het wetenskaplikes wat die bedreiging van kernoorlog monitor, hul simboliese “Oordeelsdag horlosie” ’n minuut nader aan middernag geskuif. Op 10 Januarie 2012 het die Bulletin of the Atomic Scientists hierdie aankondiging gemaak: “Dit is vyf minute voor middernag. Twee jaar gelede het dit gelyk asof wêreldleiers die werklike wêreldwye bedreigings wat ons in die gesig staar, mag aanspreek. In baie opsigte is daar nie met die tendens voortgegaan nie, of was dit omgekeer. Om dié rede het dieBulletin of the Atomic Scientists die horlosie se minuutwyser na een minuut nader aan middernag verskuif, terug na waar dit was in 2007”.

Ja, dit is simbolies net vyf minute voor middernag! Sal ons dus die “middernagtelike” oordeelsdag in 2012 beleef? Sal 2012 ’n tyd van oorgang of van moeilikheid wees? Sal gebeure wat lank gelede in u Bybel geprofeteer is, plaasvind? U Bybel voorspel ’n klimaktiese, katastrofiese ontbranding wat – as dit nie vir die wederkoms van Jesus Christus Self was om die mensdom van hulself te red nie – alle lewe op die aangesig van die aarde sou vernietig. Sal 2012 egter die datum wees?

Die boek van Openbaring – die laaste boek in die Bybel – word soms die Apokalips genoem. Die Griekse woord apokalypsis beteken om “bloot te lê” of “die waarheid bekend te maak” – ’n openbaring dus. In moderne Engels verwys “apokalypse” tans na ’n groot ramp as gevolg van die gebeure wat beskryf word in die apokalipsis wat deur die apostel Johannes in die boek van Openbaring openbaar word.

Die vier perderuiters

Diegene wat die simboliek van hierdie geheimsinnige boek verstaan, kan die rit van die geprofeteerde “vier perderuiters” wat in die bladsye voorspel word, erken. Die apostel Johannes beskryf vier perderuiters wat groot misleiding en verwoesting aan die mensdom en lewe op aarde simboliseer. “En ek het gesien, en kyk, daar was ’n wit perd. En hy wat daarop sit, het ’n boog; en aan hom is ’n kroon gegee, en hy het uitgegaan as ’n oorwinnaar en om te oorwin. En toe Hy die tweede seël oopgemaak het, hoor ek die tweede lewende wese sê: Kom kyk! En ’n ander perd, ’n vuurrooie, het uitgekom, en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en ’n groot swaard is aan hom gegee. En toe Hy die derde seël oopgemaak het, hoor ek die derde lewende wese sê: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ’n swart perd; en hy wat daarop sit, het ’n skaal in sy hand. En ek het ’n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: ’n Rantsoen koring vir ’n penning en drie rantsoene gars vir ’n penning; en moenie die olie en die wyn beskadig nie. En toe Hy die vierde seël oopgemaak het, hoor ek die stem van die vierde lewende wese sê: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ’n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg” (Openbaring 6:2-8).

Een van die basiese beginsels vir begrip van Bybelprofesie is dat die Bybel homself interpreteer. In hierdie geval het Jesus self vir ons die betekenis van hierdie vier perderuiters gegee, soos ons later sal sien. Jesus, die Openbaarmaker, wil hê dat ons hierdie boek moet verstaan. Let op die doel van die boek. “Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het” (Openbaring 1:1).

Aangesien Jesus die Openbaarmaker is, het Hy hul simboliese betekenis bekend gemaak? Ja, Hy het! Hy gee ’n uiteensetting van eindtydse profetiese gebeure in Mattheüs 24, Markus 13 en Lukas 21. Hierdie profetiese gebeure verduidelik die vier perderuiters in die boek van Openbaring. Deur die weergawes van die Evangelie en Openbaring saam te voeg, sien ons dat die bekende vier perderuiters van die Apokalips simboliseer:

• Wit Perd: Vals christusse en valse godsdiens
• Rooi Perd: Oorlog en die vernietigende gevolge daarvan
• Swart Perd: Hongersnood en skaarste wat dikwels op oorlog volg
• Vaal Perd: Siektes en peste wat dikwels op hongersnood volg
Hierdie vier perderuiters sal verwoesting oor die hele aarde veroorsaak. Ons lees: “En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde” (Openbaring 6:8).

Die groot verdrukking

Jesus se dissipels het Hom gevra: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” (Mattheüs 24:3). Jesus verduidelik dat Christene vervolg sal word (vers 9). Die Evangelie van die Koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld as ’n getuie (vers 14). U is besig om daardie Evangelie te lees wat in hierdie tydskrif verkondig word!

In die 1933 vertaling van die Bybel lees die subhoof na vers 14: “Die groot verdrukking”. In 70 n.C. het die Romeinse leërs Jerusalem beleër en die tweede tempel vernietig. Die Joodse historikus Josephus skryf dat meer as een miljoen mense gesterf het. Dit was “’n” groot verdrukking vir die Joodse volk. Die eindtydse groot verdrukking sal net drie-en-’n-half jaar voor die wederkoms van Christus begin. Jesus gee aan ons en die wêreld hierdie waarskuwing: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mattheüs 24:21-22).

Die groot verdrukking sal ’n unieke tyd in die mens se geskiedenis wees. Daar was nog nooit so ’n tyd in die menseheugenis nie. Die profeet Jeremia noem dit die “tyd van benoudheid vir Jakob” – moeilikhede vir die eindtydse afstammelinge van Jakob (wie se naam verander is na “Israel”). Hierdie verdrukking is geprofeteer om die Westerse lande, veral die Amerikaanse en die volke van Britse afkoms, te verwoes. Jeremia skryf: “Wee, want die dag is groot, sonder weerga” (Jeremia 30:7). Die profeet Daniël beskryf die groot verdrukking: “... dit sal ’n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ’n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan” (Daniël 12:1). Daniel is meegedeel dat die vervulling van die finale eindtydse gebeure sal plaasvind oor “’n Tyd, tye en ’n halwe tyd” – of te wel drie-en-’n-half jaar (vers 7).

Hemelse tekens

Let op wat in volgorde plaasvind ná die groot verdrukking: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word” (Mattheüs 24:29).

Hierdie kosmiese versteurings – die hemelse tekens – kondig God se ingryping en Sy oordeel oor die nasies aan. Die hemelse tekens lui die Dag van die Here in, wat sal lei tot Christus se wederkoms. Die hemelse tekens simboliseer ook die sesde seël van Openbaring. Jesus Christus, die Openbaarmaker, maak die sesde seël oop. “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ’n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ’n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit” Openbaring 6:12-14).

Dag van die Here

Die Dag van die Here – God se grimmige oordeel oor rebelse nasies – sal direk na die hemelse tekens begin (Openbaring 6:17)! Meer as 30 profesieë verwys na die Dag van die Here. Jesaja 34:8 en Jesaja 63:4 toon dat die Dag van die Here in eindtydse profesie, die tyd wat die Wederkoms voorafgaan, ’n tydperk van een jaar sal wees!

Die drie groot gebeurtenisse wat ons voorheen genoem het, die groot verdrukking, die hemelse tekens en die jaarlange Dag van die Here dek ’n tydperk van ongeveer drie-en-'n-half jaar. Die Dag van die Here is die jaar net voor die wederkoms van Christus!

Die apostel Johannes, die skrywer van Openbaring, beskryf die Messias – Jesus Christus – se oopmaking van sewe seëls, sodat ons die volgorde van profetiese gebeure kan verstaan. U kan daaroor lees in hoofstukke 5 en 6 van Openbaring. Die eerste vyf seëls, soos ons gesien het, lei tot die hemelse tekens, of die sesde seël. Die sewende seël is die jaarlange Dag van die Here. Die sewende seël bestaan ​​uit sewe basuine. “En toe Hy [Christus] die sewende seël oopgemaak het, kom daar stilte in die hemel omtrent ’n halfuur lank. En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en sewe basuine is aan hulle gegee” (Openbaring 8:1-2). Hoofstukke 8 en 9 beskryf die eerste ses basuine. Die sewende basuin bestaan uit die sewe laaste plae of oordele wat lei tot die wederkoms van die Messias, Jesus Christus.

Die Koninkryk van God

Die opskrif bokant Openbaring 11:15 in die Ou Afrikaanse vertaling lees slegs: “Die sewende basuin”, maar in die NKJV lees dit: “Seventh Trumpet: The Kingdom Proclaimed”. Hierdie belangrike aankondiging vind plaas wanneer die sewende basuin geblaas word. Dit is die goeie nuus waarna alle Christene uitsien. “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Dit is wonderlike nuus vir ware Christene, maar hoe sal die nasies daarop reageer? Hoe sal reageer? Let wel: “Die nasies was vertoornd, en u toorn het gekom” (vers 18). Die nasies van die planeet Aarde sal probeer om te veg teen God se koninkryk op aarde. Hulle sal woedend wees omdat Christus gekom het om oor die aarde te heers as Koning van die konings en die Here van die here, bygestaan deur Sy heiliges.

God het ons almal gewaarsku om ons voor te berei vir Armageddon. Selfs Generaal Douglas MacArthur het ’n insiggewende waarskuwing gegee aan die einde van die Tweede wêreldoorlog. In sy toespraak voor die hooggeplaastes wat byeen was op die U.S.S. Missouri vir die seremonie wat die formele oorgawe van Japan bekragtig het, het MacArthur die welbekende woorde geuiter: “Militêre alliansies, mags-ewewigte, volkebonde, elkeen het op sy beurt misluk, die enigste pad wat oorbly is deur die smeltkroes van oorlog. Die uiterste vernietiging van oorlog skakel nou hierdie alternatief uit. Ons het ons laaste kans gehad. As ons nie ’n groter en meer regverdige stelsel kan bedink nie, dan is Armageddon voor ons deur”.

Waar kom die term “Armageddon” vandaan? Har Megiddo is Hebreeus vir “die berg van Megiddo”. Die Skrif openbaar dat Satan en sy demone die nasies sal beïnvloed om by Megiddo, ongeveer 88 kilometer noord van Jerusalem, byeen te kom om teen Christus te veg met Sy wederkoms! “Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God. Kyk, Ek kom soos ’n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie. En hulle [die geeste van demone] het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon” (Openbaring 16:14-16).

Christus en Sy leër sal die opstandige en bose nasies oorwin. Die Prins van Vrede sal hierdie stryd tussen goed en kwaad wen. Die Koning van die konings, saam met die herrese heiliges, sal die Koninkryk van God op die planeet Aarde vestig, en sal al die nasies die weg van vrede, liefde en goddelike welvaart leer (Jesaja 2:2-4). In die “model-gebed” leer Jesus Christene om te bid, “laat U koninkryk kom” (Mattheüs 6:10). Dít is die koninkryk waarvoor ons bid!

Beskerming vir ware Christene

God belowe beskerming vir sy geestelik waaksame mense in die gevaarlike tye wat voorlê! Jesus vermaan ons: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36). Hoe kan ons dit doen? Ons behoort vertroue te hê in die Bybel se “profetiese woord wat baie vas is” (2 Petrus 1:19).

Tydens die groot verdrukking sal Jerusalem vir 42 maande deur die nasies vertrap word en die twee getuies sal vir 1,260 dae profeteer (Openbaring 11:2-3). God se mees getroue mense sal na ’n plek van veiligheid in die woestyn geneem word vir ’n tyd, tye en ’n halwe tyd – drie-en-’n-half jaar – en die Diermoondheid sal voortbestaan deur hierdie 42 maande (Openbaring 12:13-17).

Ja, ons kan weet deur die apostel Johannes se visioene wat opgeteken is in Openbaring, dat die Messias nie sal terugkeer na die planeet Aarde voordat hierdie geprofeteerde gebeure plaasgevind het nie! Ons kan weet dat Christus nie in 2012 – of in 2013 of 2014 – sal terugkeer nie!

Ewenwel, ware Christene moet altyd in ’n toestand van geestelike paraatheid wees. Ons kan nie “wag tot later” om berou te hê en God te gehoorsaam nie. As ons sterf as opstandige sondaars wat willens en wetens die waarheid verwerp het, sal ons volgende bewustelike oomblik wees wanneer ons uit die dood opgewek word tot die oordeel van die Poel van Vuur (Openbaring 20:15). Indien ons egter sterf as ware en getroue Christene, sal ons volgende bewustelike oomblik in die opstanding wees, wanneer die sewende basuin weerklink – die “laaste basuin”, soos beskryf in 1 Korintiërs 15:52 – wanneer vandag se getroue Christene gebore sal word in die Huisgesin van God as Geestelike Wesens.

God belowe dat ons geseënd sal wees as ons die waarhede wat in hierdie kragtige boek openbaar word, sal lees, hoor en bewaar (Openbaring 1:1-3). Bestudeer dus die boek van Openbaring, bly ná aan sy Openbaarmaker, Jesus Christus, en wees voorbereid op wat voorlê!