’n Persoonlike boodskap van Gerald E. Weston, Hoofredakteur

Die Stone of Destiny

Om koningin Elizabeth II en prins Philip op ’n afstand van net ’n paar meter weg by Sandringham te sien, is ’n herinnering wat ek steeds koester sedert ek in Engeland gewoon het. Om egter ou, muwwe kerke te besoek was definitief nie ’n goeie herinnering nie. As tiener was ek meer geïnteresseerd in sport, visvang en om die platteland te verken. Dit is dalk waarom ek min onthou van my besoek aan Westminster Abdy, waar ek beslis die troon van die kroning en die bekende Stone of Destiny moes gesien het.

Vyf dekades later het ek weer die Abdy besoek. Hoewel ek die antieke hout kroningstroon raakgesien het, was die klip nie daar nie aangesien dit in November 1996 na Skotland vervoer is. Waarom noem ek hierdie herinnerings in Die Wêreld van Môre-tydskrif? Wat is die betekenis van ’n onaantreklike 336-pond (152 kg) sandsteen blok?

Volgens een Keltiese legende was die klip eens die kussing waarop die patriarg Jakob by Bet-el gerus het toe hy ’n visioen gehad het: “En hy het gedroom – daar is ’n leer op die aarde opgerig waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het” (Génesis 28:12). Vanaf die Heilige Land is dit na bewering na Egipte, Sicilië en Spanje vervoer en het Ierland ongeveer 700 v.C. bereik waar dit op die heuwel Tara geplaas is waar die antieke konings van Ierland gekroon is. Vandaar is dit deur die Keltiese Skotte geneem wat Skotland binnegeval en beset het. Ongeveer 840 n.C. is dit deur Kenneth MacAlpin na die dorpie Scone geneem (“Stone of Scone,Britannica.com, toegang verkry op 21 September 2022).

Die klip het in Skotland gebly tot in 1296, toe Engeland se koning Edward I daarmee na Westminster gevlug het en hy ’n spesiaal ontwerpte troon laat bou het met ’n platform en holte om die waardevolle rots in te plaas. Na Edward II se opvolging in 1307, met enkele uitsonderings, is Engelse konings gekroon terwyl die klip onder die troon was.


“En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het”

Daar word gedebatteer oor of die huidige steen van die kroning presies dieselfde een is wat deur Jakob gesalf is, maar die verslag in Génesis laat tog interessante vrae ontstaan. Nadat hy sy gesin verlaat het om van sy broer Esau af weg te kom, het Jakob een nag gaan lê en ’n bonatuurlike droom gehad. Hy het “gedroom – daar is ’n leer op die aarde opgerig waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het” (Génesis 28:12) en hy het beloftes van grootheid ontvang. “... en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word ... Toe staan Jakob die môre vroeg op en neem die klip wat hy onder sy hoof gesit het, en rig dit as ’n gedenksteen op; en hy het olie daaroor uitgegiet.” Hy het toe verklaar: “En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal ’n huis van God wees, en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan” (Génesis 28:14, 18, 22).

Waarom het Jakob ’n rots as ’n pilaar opgerig? Hoekom het hy dit gesalf? Waarom het hy gesê dit verteenwoordig die “huis van God”? Ongeag of vandag se klip die oorspronklike of ’n namaaksel is, is die geskiedkundige betekenis daarvan onbetwisbaar vir die Iere, Skotte en Britte. Dit is die toppunt van Skotland se skatte en word as sodanig beskerm.

Koningin Elizabeth II is op 2 Junie 1953 gekroon terwyl sy oor hierdie Stone of Destiny, wat onder die troon was, gesit het. Daarna, “in 1996 is die klip amptelik aan Skotland terugbesorg. Vandag is dit een van die kosbare skatte wat in die kroonkamer [van Edinburgh-kasteel] uitgestal word, wat elke jaar deur miljoene mense besoek word. Die klip sal Skotland eers weer verlaat vir ’n kroning in Westminster Abdy” (“The Stone of Destiny,” Edinburgh.scot, verkry op 21 September 2022). Dit is merkwaardig hoeveel waarde aan hierdie rots geheg word, maar wat is die werklike betekenis daarvan? Is daar meer as net ’n legende agter die verhaal?

 

’n Moeilik verstaanbare profesie

Hoeveel Bybelgeleerdes verstaan God se belofte aan koning Dawid van ’n ewige menslike vorstehuis? “As jou dae vol is en jy met jou vaders ontslaap het, sal Ek jou nakomeling wat uit jou liggaam sal voortkom, laat optree en sy koningskap bevestig. Hý sal vir my Naam ’n huis bou, en Ek sal sy koninklike troon bevestig tot in ewigheid. Ek sal vir hom ’n vader wees, en hy sal vir My ’n seun wees” (2 Samuel 7:12-14). Sommige mense neem aan dat dit net na die Messías verwys, maar let op die volgende: “... as hy verkeerd handel, Ek hom sal straf met ’n menslike roede en met slae van mensekinders. Maar my goedertierenheid sal van hom nie wyk nie, soos Ek dit onttrek het aan Saul wat Ek voor jou aangesig verwyder het. En jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid” (verse 14-16).

Dawid se heerskappy het vir 400 jaar lank ononderbroke voortgeduur – vanaf sy seun Salomo tot by die huis van Juda wat in 586 v.C. geval het. Baie mense neem ook aan dat dit met Sedekía geëindig het (2 Konings 25:7), maar God het hierdie merkwaardige belofte ’n jaar tevore deur Sy profeet Jeremia gemaak:

“Want so sê die Here: Daar sal vir Dawid nie ’n man ontbreek wat sit op die troon van die huis van Israel nie ... So spreek die Here: As julle my verbond met die dag en my verbond met die nag kan verbreek, dat daar geen dag of nag op hulle tyd is nie, dan sal ook my verbond met Dawid, my kneg, verbreek kan word, dat daar vir hom geen seun sal wees wat regeer op sy troon nie ... Soos die leër van die hemel nie getel en die sand van die see nie gemeet kan word nie, so sal Ek vermenigvuldig die nageslag van my kneg Dawid, en die Leviete wat My dien” (Jeremia 33:17, 20-22).

Die meeste teoloë glo dat Dawid se koninkryk 600 jaar voor Christus se koms tot ’n einde gekom het, maar het Jesus die troon van Dawid oorgeneem tydens Sy eerste koms? Dit is duidelik dat Hy dit nie gedoen het nie, maar Hy is bestem om dit te doen (Lukas 1:32-33). Is God ontrou? Het Hy vir Dawid en vir die mense van Jeremia se tyd ’n leuen vertel?

Beslis nie. Soos verduidelik word in my artikel elders in hierdie uitgawe, het die nasie van Israel, in twee koninkryke verdeel – die suidelike huis van Juda (die Joodse volk) en die noordelike tien stamme van die huis van Israel. Let op hierdie belangrike besonderhede in die verse hierbo: “Daar sal vir Dawid nie ’n man ontbreek wat sit op die troon van die huis van Israel nie” (Jeremia 33:17). Die koninklike lyn in die huis van Juda het by koning Sedekía in 586 v.C. geëindig. Die Bybel bevestig dat sy seuns vermoor is, maar nie sy dogters nie! Hulle is in Juda agtergelaat en daarna na Egipte geneem (Jeremia 41:10; 43:5-7).

Die Ierse geskiedenis teken die res van hierdie verhaal aan. Dit maak melding van die profeet Jeremia en sy skrifgeleerde Barug wat ná die val van Juda na Ierland gekom het vergesel van ’n jong prinses en die kroningsteen, wat in Gaelies lia fail genoem word. In antieke Ierse optekeninge was die prinses Tea Tephi genoem. Sy het met die seun van die Opper-koning van Ierland getrou. Hulle nageslag het vir baie eeue vanuit Tara in Ierland regeer. Later, gedurende die dae van Kenneth McAlpine, het hulle hul heerskappy verskuif na Scone in Skotland. Hierdie selfde koningshuis se heerskappy duur tot vandag toe voort in die persoon van koning Charles III, ’n direkte afstammeling van Tea Tephi en haar man. God het sy beloftes aan koning Dawid nagekom net soos Hy gesê het! (John Ogwyn, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? bl. 45).

Waarheid is dikwels vreemder as fiksie. Koningin Elizabeth II se dood het ’n antieke seremonie en klip na vore gebring. Soos gerapporteer deur die BBC, “Historic Environment Scotland (HES), wat Edinburgh-kasteel bestuur, het aangekondig dat die klip in koning Charles III se kroning gebruik sou word voordat dit na die kasteel se kroonkamer terugbesorg word” (“Stone of Destiny to return to Westminster Abbey for corronation,” BBC.com, 12 September 2022). Baie van u sal dit dalk onder die Koning se troon sien tydens sy komende kroning.

Deesdae weet die nasies van Britse afkoms en Amerikaanse volke glad nie wat hulle identiteit is nie, maar die Stone of Destiny en die blywende Engelse troon is leidrade tot daardie lewensbelangrike feite. Om meer oor die hele verhaal te leer, kontak gerus ons kantoor die naaste aan u en bestel ’n gratis eksemplaar van Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? of lees dit aanlyn by www.wvm.co.za.