Vraag: Volgens Genesis 4 het Kain die eerste aangetekende moord in die geskiedenis gepleeg. Wat het daartoe aanleiding gegee dat Kain sy broer Abel vermoor het?

Antwoord: Alhoewel Kain bekend is as die eerste moordenaar omdat hy sy broer Abel vermoor het, was sy geskil in werklikheid met God. Die broers se ouers, Adam en Eva, – die eerste mense – was uit die tuin van Eden gedryf omdat hulle van die vrugte van die verbode boom van die kennis van goed en kwaad geëet het en sodoende ongehoorsaam was aan God se opdrag. “Toe sê die Here God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie! Toe stuur die Here God hom weg uit die tuin van Eden om die grond te bewerk waaruit hy geneem is” (Genesis 3:22-23).

Toe God Adam en Eva uit Eden verban het, het Hy ’n vloek oor hulle uitgespreek: “Vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” (verse 17-19). Anders as Adam en Eva wat voor hulle sondeval nie nodig gehad het om te werk vir hul lewensmiddele nie, moes Kain en Abel van die begin af hard werk om hul eie kos te produseer. Abel het gewerk as ’n veewagter, terwyl sy ouer broer, Kain, landbou bedryf het en sy oes uit die grond verkry het (Genesis 4:2).

Wat het die twee broers gedoen toe God om ’n offer gevra het? Abel het van die “eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet” (vers 4). Deur sy eersgeborene te offer, het Abel se offer as voorbeeld op Jesus Christus se offer vir die hele mensdom gedui. Kain, in teenstelling daarmee, het slegs “van die vrugte van die land” (vers 3) aan God geoffer.

Hoe het God reageer? “En die Here het Abel en sy offer genadig aangesien, maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang” (verse 4-5). God het nie Kain se offer aanvaar nie. God het Kain egter nie verwerp nie. Hy het aan Kain gesê dat Hy ’n gepaste offer sou aanvaar (vers 7).

God het Kain gewaarsku om sy sondige neigings te oorheers, maar hy het nogtans kwaad gebly en in sy woede besluit om sy broer Abel, wat God behaag het, te vermoor (vers 8).

Watter les behoort ons hieruit te leer? Het God aangedui dat Hy ontevrede was met vrugte en groente? Natuurlik nie! Kain se gesindheid het sy offer onaanvaarbaar gemaak. Sy werklike probleem was in sy hart. Selfs indien Kain Abel se voorbeeld sou volg en van die eerstelinge van sy oes geoffer het, sou God nogtans ’n rebelse en onboetvaardige gesindheid kon bespeur en steeds die offer verwerp het. God sê immers duidelik: “Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie” (Hosea 6:6, Mattheüs 9:13). Kain, met sy moorddadige hart – kwaad omdat sy regverdige broer se offer aangeneem is – het die barmhartigheid wat God verlang, kortgekom.

Die apostel Johannes veroordeel Kain se gesindheid wanneer hy skryf: “Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons mekaar moet liefhê; nie soos Kain wat uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het nie. En waarom het hy hom doodgeslaan? Omdat sy werke boos was en dié van sy broer regverdig” (1 Johannes 3:11-12). In teenstelling daarmee, bly Abel se regverdige werke selfs tot vandag toe, as ’n gedagtenis aan hom. “Deur die geloof het Abel ’n beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis ontvang het dat hy regverdig was, omdat God oor sy gawes getuienis gegee het; en deur dieselfde geloof spreek hy nog nadat hy dood is” (Hebreërs 11:4).

Christene is geroep om gehoorsaam en regverdig te wees soos Abel, nie rebels en boos soos Kain nie. Ongelukkig is daar van Kain se gesindheid in elke gemoed wat nog nie volkome aan God oorgegee is nie. God het genadiglik Sy Seun vir ons geoffer. Indien ons Christus se offer aanvaar en ons bekeer van ons sondes, kan ons God behaag soos Abel en met die hulp van Sy Heilige Gees, kan ons die regverdige lewens leef wat God van ons verlang.