VRAAG: Is daar enige verband tussen Christelikheid en die feesviering van Halloween op 31 Oktober?

ANTWOORD: Halloween is alles behalwe ’n Christelike vakansiedag, ten spyte van gereelde pogings om die praktyk hiervan aan te pas en te verander. Na aanleiding van ’n brief wat een of ander tyd deur pous Gregory I na 601 n.C. aan ’n biskop in Engeland geskryf is, is pogings aangewend om heidense feeste soos die Keltiese Samhain te “verchristelik”. Dit was ’n fees wat deurtrek was met vrees vir dwalende geeste, demone en feetjies (Evans-Wentz, WY. The Fairy Faith in Celtic Countries, bll. 288-290). Gedurende die Middeleeue was hierdie fees, wat op of rondom die begin van November gehou is, beskou as ’n tyd waartydens bonatuurlike waarsêery en die deel van gedagtes en gevoelens met dooies en selfs die duiwel, moontlik en aanvaarbaar was (Encyclopedia Britannica, vol. 5,Halloween”. (bl. 646).

Die Bybel verdra egter nie die aanvaarding of “verchristeliking” van praktyke wat duidelik as gruwels beskou is nie. God het afkeurend na Sy volk gekyk toe hulle die gebruike en oortuigings van heidense volke as hulle eie aanvaar het. (Deuteronómium 12:30-31). Inteendeel, Sy waarskuwings teen heksery en waarsêery is heeltemal op die man af (Deuteronómium 18:10; 1 Samuel 15:23; 2 Konings 17:17, 21:6; Galásiërs 5:20; Openbaring 18:23).

Die Bybel toon ook duidelik aan dat aanbidding en verering van dooies of om andersins die hulp van dooies te versoek, teen die opdragte van die Almagtige God is (Deuteronómium 14:1; Jesaja 8:19) en bygelowe wat uit vrees vir dwalende geeste of afgestorwe siele gebore is, is onlogiese aannames wat deur die leerstellings van Christus en die Apostels verwerp word. Christus het die mense van ’n naderende opstanding geleer (Matthéüs 22:31-33) en die Apostels het die toestand van die dooies met slaap vergelyk, vanwaar mense nie voor hulle opstanding gekontak kan word nie (1 Korinthiërs 15:6, 12-20; 1 Thessalonicense 4:13-18).

Enige bevel of brief wat heidense plekke en heilige dae “heilig verklaar”, was ’n taktiek wat bedink was om bekeerlinge en mag te versamel vir ’n ander godsdiens as die een wat Jesus verkondig het – nie ’n geïnspireerde of goedgekeurde praktyk volgens die God van die Bybel nie. Dit was die mening van sommige belydende Christene regdeur die geskiedenis dat daar nie van bekeerlinge verwag sou word om al hulle nie-Christelike vieringe gelyktydig op te gee nie en daarom moes ’n manier bedink word om hulle “geleidelik” te oortuig om hulle gebruike te laat vaar (Bede. Ecclesiastical History of the English Nation, Book I. “A Copy of the Letter Which Pope Gregory Sent to the Abbot Mellitus, Then Going Into Britain”. Hoofstuk 30). Hierdie “taktiek” was en is egter nog steeds ’n totale mislukking: “Die ou oortuigings wat met Samhain verband hou, het nooit heeltemal uitgesterf nie. Die kragtige simboliek van die rondreisende dooies was te sterk ... die praktyk om tradisionele gebruike te behou, terwyl hulle probeer om dit te herdefinieer, het steeds ’n uitwerking tot vandag toe. Die tradisionele oortuigings en gebruike het voortgeleef in vermommings”. (Santino, Jack. “Halloween: The Fantasy and Folklore of All Hallows”. The American Folklife Center). As ’n voorbeeld van die “blindes wat die blindes lei”, was dit te wagte (Lukas 6:39).

Wat as u sê dat u nie glo in die ware geestelike ondertoon wat reeds lank met Halloween verband hou nie en dit net as ’n verskoning wil gebruik as ’n tema vir ’n partytjie of ’n aandjie van pret? Dink daaraan dat Christene behoort te leef “van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matthéüs 4:4) en dat hulle die Skrif as riglyn sal gebruik vir wat vir hulle Verlosser aanvaarbaar is.

Die Skrif wys ons daarop dat Christus en Sy dissipels bekeerdes vermaan het om hulle ou gewoontes te “verwerp” en “in ’n nuwe lewe te wandel” (Matthéüs 9:16-17; Lukas 9:62; Romeine 6:4, 13:11-13; 2 Korinthiërs 6:16-17). Alhoewel die grootste deel van die Europese wêreld die weg gebaan het om voorchristelike tradisies met afgewaterde weergawes van die Bybel se leerstellings te vermeng, sou geen getroue lid van Christus se “klein kuddetjie” praktyke wat van heidense bronne af oorgeneem is, aanvaar het nie. Dieselfde behoort vandag nog te geld.