Is Groot-Brittanje besig om die Europese Unie (EU) te verlaat? Die meeste kenners sal sê dat dit onwaarskynlik is. In die lig van onlangse gebeure, kan dit egter gebeur – metof sonder Brittanje se eie toedoen.

Waarom?
Omdat daar fundamentele verskille is in die manier waarop baie Britte hul plek in Europa sien, in vergelyking met hulle kontinentale bure. Dit wil voorkom of daardie verskille meer duidelik gedefinieer word, namate die Frans- en Duits-geleide EU meer en meer besluite neem wat die Britte voel teen hul belange is.

“Euro-skeptici” (soos diegene genoem word wat skrikkerig is vir Britse lidmaatskap van die EU) is nog steeds nie goed verteenwoordig in die regerende koalisie van die Konserwatiewe en Liberale Demokrate nie. Toe die Parlement in Oktober 2011 gestem het oor die toestaan van ’n referendum wat die Britte sou kon toelaat om aan te dring op hul land se onttrekking uit die EU, was die uitslag 483 daarteen gekant en 111 was ten gunste van die voorstel. Dit is duidelik dat die meerderheid Britse politici binne die Europese Unie wil bly. Die “Eurofiele” sê dikwels: “Ons lot lê by Europa”.

Wat dink die Britse bevolking egter?
Volgens ’n meningspeiling wat deur die koerant, Guardian op 24 Oktober 2011 uitgevoer is – dieselfde dag waarop die Parlement gestem het – is hul sienswyse heeltemal anders. Sewentig persent van diegene wat ondervra is, wou ’n referendum hê vir die hele Verenigde Koninkryk, om te besluit of die unie verlaat moet word of nie. Slegs 23 persent het gesê hulle wil nie ’n volkstemming hê nie. Van diegene wat gevra is, het 49 persent gesê hulle sou stem dat Brittanje die EU moet verlaat, terwyl 40 persent sou stem om te bly.

Ten spyte van hierdie verskil van mening tussen politici en die publiek, indien die persentasie Britte wat onttrekking uit die EU voorstaan sou styg tot meer as 50 persent, sal dit moeilik wees vir enige noemenswaardige party om die feit te ignoreer. Is daar dus bepalings in die Verdrag van Lissabon vir ’n lidland om te onttrek? Ja, daar is. Die verdrag, wat in 2008 deur die lidlande van die EU aanvaar is, stel ’n paar interessante bepalings vir enige land wat graag wil onttrek uit die Unie.

Onder “Finale bepalings” van die Verdrag oor die Europese Unie (Titel VI, Artikel 50, paragraaf 1 van die Verdrag), lees ons: “Enige Lidland van die Unie mag besluit om te onttrek, ooreenkomstig sy eie grondwetlike vereistes”.

Paragraaf 2 voeg egter by: “In die lig van die riglyne wat deur die Europese Raad voorsien is, sal die Unie egter met daardie staat onderhandel en ’n verdrag sluit wat die reëlings vir sy onttrekking uiteen sal sit, met inagneming van die raamwerk vir die land se toekomstige verhouding met die Unie”. Met die oog op hierdie bepaling, het sommige kommentators daarop gewys dat die Raad die uittrede so oordrewe en duur kan maak vir enige lidstaat wat wil uittree, dat dit beter sal wees om binne die Unie te bly. Dit mag vir Brittanje net te duur wees om uit te tree.

In 1975 het die Britse publiek tot ’n soortgelyke stemming oorgegaan en 67 persent het verkies om binne die Europese Ekonomiese Gemeenskap (EEG), die voorloper van die Europese Unie, te bly. Nou, byna 40 jaar later, is die Britse publiek nie so seker soos destyds, oor die voordele daarvan om verbind te wees aan die Europese Unie nie.


Brittanje sê: “Non!”

Op ’n onlangse vergadering van die leiers van die EU in Brussel, het David Cameron ’n plan geveto om ’n transaksie-belasting teen EU finansiële instellings in te stel. Die Britte sien die belasting as ’n poging van die Duits- en Frans-geleide EU om Londen as ’n wêreld-finansiële sentrum te kniehalter en ’n gedeelte van die opbrengs op te raap. Hulle vrees dat so ’n stap sal lei tot groot Britse werk- en belastingverliese, terwyl dit hierdie globale sake tot heeltemal buite die EU sal dryf na iewers meer mededingend.

Brittanje se verhouding met Europa is lank reeds op dun ys. Baie mense onthou nog hoe die Franse President, Charles de Gaulle, die Britte afgejak het in ’n toespraak op 16 Mei 1967. Hy het gesê: “Ons verstaan om watter rede Brittanje – wat nie deel van ’n vasteland is nie, as gevolg van die Statebond en omdat sy ’n eiland is, verbind bly aan verpligtings ver anderkant die see, wat ook gekoppel is aan Amerika deur allerhande soorte spesiale ooreenkomste – nie ingeskakel by ’n Gemeenskap met vaste dimensies en streng reëls nie”. Sy hele toespraak het bekend geword as “Le Grand ‘Non’” (vertaal as “Die Groot ‘Nee’”).

Wedywering tussen Brittanje en Frankryk is niks nuuts nie. Dit is belangrik om te onthou dat Groot-Brittanje beheer verkry het oor waardevolle Franse gebiede tydens sleutel-gebeure in die wêreldgeskiedenis. Met die Verdrag van Parys in 1763, wat gevolg het op die Sewejaar-oorlog, moes Frankryk feitlik al sy Noord-Amerikaanse grondgebiede oos van die Mississippi-rivier, aan Brittanje afstaan. Die Franse ontdekkingsreisiger, Jean-François Laperouse, het in 1788 in Botany Bay, Australië, aangekom, net 5 dae nadat die Britse koloniale Eerste Vloot daar geland het. Die verowering van Kaapstad gedurende die Napoleontiese oorloë het Frankryk ’n vastrapplek in Suider-Afrika ontneem.

Waarom het hierdie dinge gebeur? Brittanje se opkoms word in Bybelprofesie voorspel! Indien u dit nog nie gedoen het nie, vra asseblief u gratis eksemplaar van ons boekie,Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? aan. U kan dit op Internet bestel by wvm.co.za of van die streekskantoor die naaste aan u (gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif).

Sal Groot-Brittanje dus die Europese Unie verlaat? Vir baie dekades het die Wêreld van Môre-tydskrif en sy voorgangers in hierdie Werk, verkondig dat Brittanje nie onder die laaste “tien nasies” sal wees wat “hulle krag en mag [sal] oorgee aan die dier” nie. Openbaring 17:12-13 sê aan ons: “En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier”. Die “dier” is die Bybelse naam vir die leier van ’n kragtige eindtydse politieke eenheid wat Europa en uiteindelik die hele wêreld sal oorheers.

Tot en met vandag het hierdie “tien konings nog geen koningskap ontvang” nie. Dit dui daarop dat, vir die finale eindtydse profesieë om waar te word, daar dalk ’n heeltemal ander kaart van Europa sal wees as die een waarmee ons nou vertroud is. Sal party nasionale grense dalk skuif? Kan daar dalk ’n herinstelling van die ou koninklike huise van Europa wees? Ons kan nog nie hierdie besonderhede duidelik sien nie. Ons kan egter met sekerheid sê uit Bybelse profesie: Brittanje sal nie een van die tien koninkryke wees nie.

Hoekom nie?
Een antwoord is dat die tien konings “een gesindheid” sal hê (vers 13). Oor die algemeen is Europa tradisioneel Rooms-Katoliek in sy denke. Brittanje, aan die ander kant, is gevorm deur sy Protestantse agtergrond. Brittanje was ’n voorstander van vrye denke, parlementêre demokrasie en liberale ekonomiese beginsels. In teenstelling hiermee was groot dele van Europa regeer deur totalitêre regerings waar arbeid en handel onder die beheer is van ’n kragtige leier. Profesie dui aan dat – soos in die dae van die Heilige Romeinse Ryk – die Kerk en Staat weer oor die vasteland sal regeer, ondersteun deur tien magtige “konings” wat hulle mag en krag aan die dier sal gee.

Sal Brittanje die Europese Unie verlaat? Hul mag bes moontlik geen ander keuse hê nie. Engeland mag hulself uitgesluit vind deur ’n nuwe Europese mag wat nog gevestig moet word.

Regdeur 2012 en daarna, moet studente van Bybelprofesie ontwikkelings in Europa dophou. Besluite wat deur die Europese leiers geneem word sal u beïnvloed, waar u ook al mag woon. Kyk aandagtig wat met Groot-Brittanje gebeur namate dit meer en meer aangeval en selfs geïgnoreer word deur hul Europese “bondgenote”. Brittanje mag dalk nie dadelik die Europese Unie verlaat nie, maar dit sal nie onder die finale tien konings wees wat hul mag sal oorgee aan die dier nie.