Vraag: In Matthéüs 12:32 sê Jesus Christus: “En elkeen wat ’n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie.” Waarom sou godslastering vergewe word wanneer dit Christus raak, maar nie wanneer dit die Heilige Gees raak nie?
Antwoord: God neem godslastering baie ernstig op en dit is een van die menslike verdorwenhede wat ons beveel word om uit te roei. In Kolossense 3:5-8 sê Paulus vir ons: “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is ... naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond.”
In die Ou Testament word die woord “godslastering” vertaal van die Hebreeuse woord n’atsah, wat letterlik beteken om te minag. Die woord naqab word ook met “lastering” vertaal. Alhoewel dit letterlik beteken om deur te prik of te deurboor, kan dit ook in ’n figuurlike sin gebruik word. In die Nuwe Testament beteken die Griekse woord blasphémeó dieselfde. In ’n moderne sin sluit godslastering veragting, verontagsaming, disrespek of selfs vyandigheid teenoor God in.
In antieke Israel is godslastering swaar gestraf. God het vir Moses gesê: “As iemand sy God vloek, sal hy sy sonde dra. En wie die Naam van die HERE laster, moet sekerlik gedood word” (Levítikus 24:15-16).
Hoe hou godslastering dus verband met ons vandag? Dit is duidelik dat dit godslasterlik is om God te vloek, te belaster of te beswadder en behoort nóóit gedoen te word nie. Die gebruik van vervangingswoorde soos “jislaaik” of “jissie” of “jo” is ook ’n vorm van godslastering. Hierdie woorde mag dalk onskadelik lyk, maar dit toon disrespek teenoor God se Naam en oortree die derde Gebod (Exodus 20:7).
Christus verduidelik dat godslastering, soos al ons sondes, vergewe kan word. Hy sê: “Voorwaar Ek sê vir julle, al die sondes sal die mensekinders vergewe word en al die lasteringe wat hulle mag uitgespreek het” (Markus 3:28).
Trouens, dit is moontlik vir mense om God te belaster sonder dat hulle dit eers besef.
Dit is deel van wat Christus beskryf het toe Hy gesê het: “En elkeen wat ’n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word” (Matthéüs 12:32). Wanneer die mense in Christus se tyd Hom gesien het, het hulle ’n mens gesien; hulle het Hom nie in al Sy vorige heerlikheid en glorie gesien nie. In Sy nederigheid het Hy dit verstaan en hulle laster, naamskending en selfs vyandigheid vergewe.
Matthéüs 12:32 en Markus 3:29 verwys na die bewuste laster wat dreig om ’n mens buite die bereik van vergifnis te plaas. Waarheen is mense op pad wanneer hulle weet wat goed is en dit sleg noem, soos die Fariseërs gedoen het toe hulle doelbewus en opsetlik die regverdige werk van die Heilige Gees as die werk van Satan die duiwel bestempel het (Matthéüs 12:24)? Ons vind die antwoord in Hebreërs 10:26-29:
“Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ’n verskriklike verwagting van oordeel en ’n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?”
God bied genadiglik vergifnis aan diegene wat dit begeer en hulle bekeer, nie aan diegene wat Hom bewustelik en opsetlik teëstaan nie. ’n Opsetlike, bewustelike minagting teenoor God se Heilige Gees is potensieel ’n rampspoedige houding om te hê. Indien u meer wil weet oor wat die onvergeeflike sonde werklik is, besoek ons aanlyn by wêreldvanmôre.org en lees daar “Are You Unforgivable?” Kyk ook na “This One Sin Cannot Be Forgiven”.