Tydens die afgelope 20 jaar, het dramatiese veranderinge in Europa plaasgevind. Die Berlynse muur wat Oos- en Wes-Duitsland geskei het, is afgebreek. Die Sowjet-Unie het verbrokkel, wat 'n einde aan die Koue Oorlog gebring het. Dit het Duitsland in staat gestel om te verenig, wat sodoende 'n kragtige nasie van 80 miljoen mense in die hart van Europa tot stand gebring het.

Hierdie snel-opeenvolgende gebeure het die hele aangesig van die vasteland verander wat sombere gevolge vir die toekoms inhou. Baie mense verstaan dat daar groot geo-politiese veranderinge in Europa plaasvind. Slegs 'n paar mense besef egter dat hierdie gebeure reeds duisende jare gelede deur Bybelprofesie voorspel is!

Bybelprofesie dui daarop dat Duitsland, wat die wêreld twee keer in die 20ste eeu in oorlog gedompel het, sal voortgaan op sy pad om die magtigste nasie in Europa te word. U Bybel wys dat hierdie nasie nog een poging gaan aanwend om die vasteland – en die wêreld – te oorheers. Dit sal plaasvind net voor Jesus Christus se Wederkoms na die aarde om die Koninkryk van God hier te kom vestig. Die toneel is nou besig om gereed gemaak te word vir die klimaks van hierdie eindtydse gebeure!

Agter die skerms

Die Europeërs, wat steier onder die gevolge van twee wêreldoorloë die afgelope eeu, probeer om vrede en eenheid vir die toekoms te verseker deur hul nasionale onafhanklikheid af te staan aan 'n sentrale gesag in Brussel. Die hedendaagse idee van 'n Europese Unie is bedink deur 'n paar Rooms-Katolieke denkers, insluitend die Franse (Jean Monnet en Robert Schuman), 'n Belg (Paul-Henri Spaak) en 'n Italianer (Alcide de Gasperi). Britse en Amerikaanse leiers het die idee van 'n verenigde Europa ondersteun, onder die indruk dat, indien Duitsland stewig gebonde is aan 'n Europese konfederasie, dit nie weer as 'n gevaarlike mag kon herrys nie (The United States of Europe, Reid, bl. 36-37). Franse amptenare het verkies om aan 'n verenigde Europa te dink in terme van die beeldspraak “die bekwame Franse ruiter wat die kragtige Duitse perd beheer en stuur” (The Question of Europe, Gowan & Anderson, bl. 77).

Die gebeure van die afgelope twee dekades het egter nie uitgewerk soos baie mense verwag het nie. Die Duitse perd het sy krag herwin, sy Franse ruiter afgegooi en koers gekry Berlyn toe! Die beplanners van 'n verenigde Europa het dit nie sien kom nie en hulle het skaars 'n idee van wat voorlê.

Die grondslag vir 'n hedendaagse Europese Unie is gelê pas na die Tweede Wêreldoorlog met die Europese Steenkool- en Staalgemeenskap. Dit was 'n Duits geïnspireerde plan om die steenkool- en staalbronne van Frankryk, België en Wes-Duitsland as 'n eenheid te bedryf. Dit was nie 'n nuwe plan nie; Duitsland het reeds twee keer vantevore so 'n eenheidsadministrasie tot eie voordeel in werking gestel – danksy verowerings in twee wêreldoorloë (sien Gowan & Anderson, bl. 86). Die moderne idee van 'n federale Europa wat 'n gemeenskapsmark beheer, weerspieël ook die idees van Albert Speer, 'n hoof Nazi-ekonomiese beplanner wat die Europeërs gewys het “hoe straffend Duitse ekonomiese voorrang kan wees” (ibid., bl. 88).

Die verskyning van Duitsland as Europa se leidende nasie was vir 'n geruime tyd in die pyplyn. Die eenwording het Duitsland die nasie met die grootste bevolking in Europa gemaak. Europa se geldeenheid, die euro, is wesenlik die deutschemark met 'n ander naam. Die Europese Sentrale Bank is in Frankfurt geleë. Met die derde grootste ekonomie in die wêreld, is Duitsland die ekonomiese kragbron van Europa, wat 'n kragtige ekonomiese skadu oor Oos-Europa werp. Die EU se ooswaartse uitbreiding is hoofsaaklik 'n Duitse projek. Duitsland het baie belê in die Galileo satelliet navigasiestelsel, wat 'n einde sal bring aan Europa se afhanklikheid van navigasiesatelliete wat deur die Verenigde State beheer word. Duitsland se weermag word algemeen beskou as “die beste, bes opgeleide en magtigste in Wes-Europa” (The Europeans, Barzini, bl. 99). 'n Belangrike keerpunt het in 2001 gekom toe Duitsland se gewapende magte vir die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog buite hul grense (met magte van die Verenigde Nasies in Serwië) geveg het. Teen die einde van 2002 het Duitsland wêreldwyd meer ‘vredesmagte’ in die veld gehad as enige ander Europese mag” (Superstate, Haseler, bl. 178-179).

Duitsland se toekoms

Waarop stuur Duitsland dan af? Ontleders erken dat 'n herrese Duitsland “nie gewillig is om vir altyd 'n ekonomiese reus maar 'n militêre wurm te bly nie” (Reid, bl.178). Toe die Verenigde State besig was om voor te berei vir sy inval van Irak in 2003, het Duitsland 'n ander gewigtige keerpunt bereik. Kanselier Gerhard Schroeder het die VSA se beleid afgekeur en kant gekies saam met Frankryk om die VSA se invalsplanne te verydel – hulle het die VSA teengestaan na bykans 50 jaar van noue samewerking (ibid., bl. 7). Duitsland het toe die leiding geneem om by ander Europese nasies aan te dring dat hulle planne moet aanvaar vir 'n Europese weermag wat onafhanklik van die Amerikaans-geleide NAVO is. Duitsland se geneigdheid om skielik koers te verander, is reeds vantevore waargeneem (sien The Europeans, Barzini, hoofstuk 3).

Hierdie na-oorlogse bondgenoot van Amerika word nou beskou as 'n potensiële mededinger. Soos Zbigniew Brzezinski, eertydse Nasionale Veiligheidsraadgewer in die Carter Administrasie opgemerk het, sal 'n “toenemend kragtige Duitsland die moeilikste wees om te hanteer” (The Grand Chessboard, Brzezinski, bl. 63). Selfs Frankryk, wat ook eens beskou is as deel van Europa se binnekring, het begin om bondgenote te soek om Duitsland se groeiende invloed in Europa teen te werk. Europa ondervind nou 'n opwelling in nasionalisme, wat teweeggebring word deur die intog van immigrante uit die Suide en Ooste, en regeringselite se pogings om meer onafhanklikheid af te staan aan die EU burokrasie. As hierdie kragte die “slapende reus” van Duitse nasionalisme wakker maak, sal die gevolge ernstig wees (sien Gowan & Anderson, bl. 83-84).

Bybelprofesie wys dat Duitsland 'n prominente rol op die wêreldtoneel gaan speel net voor Jesus Christus se Wederkoms na hierdie aarde. Die Bybel gebruik hierdie nasie se antieke naam – Assirië (vir meer inligting oor Duitsland se plek in Bybelprofesie, skryf asb. vir ons gratis herdruk artikel, 'n Vierde Ryk?). Die Skrif wys dat tien nasies in Europa hul onafhanklikheid sal afstaan aan 'n herleefde weergawe van die Romeinse Ryk (Openbaring 17:12-18). Hierdie “diermag” sal bygestaan word deur 'n vooraanstaande geestelike leier en organisasie wat bande met Rome het (Daniël 7:24-25; Openbaring 13:11-18). Die leiers van hierdie “herleefde” diermag (wat ook genoem word “die koning van die Noorde”) sal ware Christene vervolg. Hierdie mag sal Israelitiese nasies straf wat God se weë verlaat het (Amerika, Brittanje en ander nasies van noordwes Europese afkoms). Dit sal ook militêre operasies in die Midde-Ooste en teenmagte noord en oos op die Eurasiese vasteland loods (sien Daniël 11:40-45; Hosea 11:1-11). Die Bybel identifiseer Assirië – moderne Duitsland – duidelik as die leidende nasie van hierdie eindtydse diermag. Hedendaagse Duitsland is inderdaad besig om 'n plek op die wêreldtoneel in te neem wat in ooreenstemming is met wat die Bybel lank reeds voorspel het.

Hierdie Duits-geleide konfederasie sal egter net vir 'n kort tydperk mag hê. Bybelprofesieë wys dat die terugkerende Jesus Christus hierdie finale fase van 'n herleefde Romeinse Ryk na 3½ jaar sal verpletter (Daniël 2:44-45; Jesaja 10:12-17; 14:24-27). Nadat die Messias die Koninkryk van God op hierdie aarde gevestig het, sal die nasies begin om die weg na vrede te leer. Die Duitse nasie sal hul baie gawes en talente aanwend tot diens van die mensdom en sal 'n leiernasie in die Wêreld van Môre word – namate meer profesieë gestalte aanneem (Jesaja 19:23-25).