Een van die wonders van ons pragtige skepping is oral rondom ons en word as vanselfsprekend aanvaar en dikwels nie eers raakgesien nie. Trouens, soms kyk ons reg daardeur! Hoewel baie algemeen op ons planeet, verteenwoordig dit een van die heel merkwaardigste substansies in die heelal. Wat is dit?

Hierdie wonder is water en die buitengewone eienskappe daarvan maak dit ’n fassinerende aanduiding van die intelligensie en insig van ons liefdevolle Skepper.

Die noue verband tussen lewe en water is prominent in wetenskaplikes se soektog na lewe anders as op die aarde. Ons stuur landingstuie na Mars om water te soek. Ons soek die spektrum van lig in wêrelde ver die ruimte in, ons soek na enige tekens van water in buite-ruimtelike atmosfere. Met die onlangse ontdekking van skynbare water-geisers op Jupiter se maan Europa, is die National Aeronautics and Space Administration (NASA) besig om ondersoek in te stel na verskillende maniere om ’n ruimtesending te onderneem deur ’n landingstuig of selfs ’n robotruimtetuig na daardie verafgeleë wêreld te stuur om te ondersoek, te eksperimenteer en te verken.

Waarom?

Omdat wetenskaplikes oor die algemeen saamstem dat die grootste hoop om lewe in ’n ander wêreld te vind, die ontdekking van water is, wat deur die meeste mense beskou word as ’n feitlik onmisbare bestanddeel van lewe.

Wat maak water so spesiaal? Watter eienskappe besit water wat dit so ’n vername, noodsaaklike bestanddeel van lewe op aarde, sowel as vir ons lewens, maak?

Eenvoudig maar tog nie eenvoudig nie

As ’n substansie op sy eie, is water nie besonder ingewikkeld nie. ’n Watermolekule is baie eenvoudig en is saamgestel uit ’n paar van die oorvloedigste elemente op aarde. Ons sien dit in sy chemiese formule, H2O, twee waterstofatome en een suurstofatoom.

Dis wonderbaarlik, want waterstof en suurstof self is onder normale aardse temperatuur-toestande gasse en is hoogs vlambaar, selfs plofbaar. Tog, as hulle eers verbind het, vorm dit vloeibare water, iets waarna mens reik om ’n vuur mee te blus!

Terwyl water eenvoudig en algemeen mag wees, is die versameling eienskappe ver van algemeen. Trouens, die substansie is op baie maniere absoluut uniek en kan beskou word as een van die heel merkwaardigste stowwe in die hele skepping.

Dink aan ’n paar van die termodinamiese eienskappe van water. Die meeste stowwe sit uit wanneer dit verhit word en krimp in wanneer dit verkoel word, behalwe water! Wanneer die temperatuur van water daal om te vries, krimp dit in soos die meeste stowwe, totdat dit 4° Celsius bereik – by dié punt begin dit weer uitsit! Dit beteken dat, wanneer water heeltemal gevries is by 0° Celsius, dit ligter is as die water rondom en dit dus dryf, in teenstelling met ander stowwe wat eenvoudig verdig en sink!

Wat beteken hierdie wonderlike eienskap vir lewe op ons planeet? As gevolg van hierdie buitengewone eienskap, vries ons planeet se damme, strome en mere nooit tot op die bodem nie! In die plek van ’n vloeistof wat net eenvoudig verys, soos met baie vloeistowwe gebeur wanneer dit vries, vorm ys bo-op die vloeibare water daaronder! Die vloeibare water bly bo vriespunt-temperatuur, sodat alle vorme van seelewe die koue kan oorleef en bewaar so ons voedselketting en daarmee saam, lewe op aarde.

Water se merkwaardige vermoë om hitte-energie te stoor speel ook ’n belangrike rol in die behoud van lewe op ons planeet. Gedurende die somermaande absorbeer die aarde se oseane en mere ’n groot hoeveelheid van die son se hitte-energie, stoor dit en beheer so die hele wêreld se temperature. Dan, in die winter word hierdie hitte-energie terug in die omgewing vrygestel met die teenoorgestelde uitwerking en dit stel hitte vry op so ’n manier dat dit verhinder dat die winter te koud word om te oorleef.

Merkwaardige waterdamp!

Nog ’n belangrike eienskap van water is een wat ’n mens nooit direk sal waarneem nie, want dit is skynbaar ontwerp om onsigbaar te wees! Die aarde se atmosfeer bevat ’n gasagtige vorm van water wat waterdamp genoem word. Byna alles wat ons “die weer” noem, behels die atmosfeer se waterdamp; gekondenseer as wolke of mis, wat val as reën of hael, of wat rondom ons dwarrel as sneeu. Water in die lug, soos ander stowwe ook, absorbeer lig by sekere golflengtes en dit beteken dat sekere soorte lig nie in staat is om daardeur te dring nie. In die geval van water is die geblokkeerde soorte lig die onsigbare soorte wat ons infrarooi en ultraviolet noem. Trouens, dit is water se vermoë om ultraviolet, of UV-lig te absorbeer, wat help om die menslike vel te beskerm teen die son se potensieel skadelike UV-strale.

Terwyl waterdamp ook die meeste golflengtes kragtig blokkeer, is daar ’n nou band van lig wat die water toelaat om reg deur te gaan; die sigbare deel van lig wat ons nodig het om te sien! Elke kleur van die reënboog kan ongehinderd deur waterdamp dring en die lug kristalhelder laat vir ons oë om die wêreld rondom ons te sien.

Water is ook een van die primêre hulpmiddels wat deur die natuur gebruik word, as ’n vloeiende rivier, aanhoudende reën of gevriesde ys, wat berge laat wegslyt en rotse opbreek, om sodoende ryk grond vol voedingstowwe te voorsien vir plantegroei. Dink hieraan: Hoe bereik daardie voedingstowwe in die grond elke deeltjie, tak en blaar van die plante van die wêreld? Dink aan die magtige Kaliforniese Redwoods, die hoogste bome op die planeet. Sommiges groei meer as 100 meter hoog. Hoe kan die voedingstowwe en minerale wat in die grond is en wat nodig is om sulke reuse te voed en te onderhou, dag in en dag uit die top van die boom bereik? ’n Boom het nie ’n hart om die “bloed” te pomp nie, nog minder is daar ’n hysbak.

Weereens vind ons die krag van water. Water is aangetrokke tot die stowwe in die wortels en die band tussen watermolekules is so buitengewoon sterk dat, wanneer ’n bietjie water deur die wortels “klim”, hou dit aan om meer water daarmee saam te trek! Hierdie trekkrag van water is so sterk dat ’n rooihoutboom met geen spiere of motor, geen pomp of krag, elke dag vier ton water in sy blare kan optrek om te verdamp!

Die lys kan aangaan. Met sy seldsame en enigsoortige eienskappe, dui water op die liefde en sorg van ons goddelik intelligente Skepper! Skynbaar onder die eenvoudigste stowwe, is H2O ver van eenvoudig af. Dit is werklik ’n “wonderstof” wat alle lewe op aarde moontlik maak.

Strome van lewende water!

Dit is insiggewend dat toe Jesus Christus Sy gehoor wou leer oor wat God beskikbaar sal stel aan diegene wat Sy leringe glo en die lewensweg verkies wat Hy bied, het Hy water gebruik om die Heilige Gees uit te beeld: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei” (Johannes 7:37-38). Wanneer ons in ag neem dit wat ons van die belangrike rol van water in ons fisiese lewe weet, is dit dan enigsins vreemd dat Christus wonderlike, lewegewende water gekies het as ’n simbool vir die wonderlike, lewegewende Gees van God?

Ons almal behoort God te dank vir die wysheid waarmee Hy ons wêreld ontwerp het en dit ’n volmaakte tuiste vir ons gemaak het, waar selfs die mees algemene substansie stilweg Sy heerlikheid verklaar!