Terwyl die 100ste herdenking van die ramp van die Titanic nader kom, wat hou die toekoms in vir die Engelssprekende nasies? Lê daar ’n kalm vaart voor, of ’n dreigende ramp? U behoort te weet!


Die bou van die RMS Titanic was ’n ingenieurswonder. Die groot romp was tydens konstruksie, volgens berigte, die grootste beweegbare mensgemaakte struktuur in die wêreld. As gevolg van sy ontwerp volgens die heel nuutste metodes, het die tydskrif, Shipbuilder, dit besing as “bykans onmoontlik om te sink”. Nogtans, op 15 April 1912, het die magtige Titanic ’n ysberg getref en twee myl na die bodem van die Atlantiese Oseaan gesink, slegs vyf dae na aanvang van haar nooiensvaart, wat meer as 1,500 van haar passasiers dood gelaat het. In plaas daarvan om vir altyd geprys te word vir die bemeestering van die golwe, het die naam Titanic sinoniem geword met volslae en algehele rampspoed.

’n Honderd jaar later is Amerika, Groot-Brittanje en ander Westerse lande op ’n gevaarlike kruispad in hul gesamentlike vaart. Sommige waarnemers het ons ekonomiese en maatskaplike euwels wat al groter word vergelyk met die skeur wat die Titanic opgedoen het daardie verskriklike nag in 1912. Is hierdie vergelyking geregverdig? Sal Amerika weer sy voorspoed en sy internasionale grootsheid herwin? Sal miljoene werklose Amerikaners en Britte nuwe werk vind ten spyte van gebrekkige ekonomieë? Of sal die ontsaglike swaar las van ons nasionale sondes ons nasies uiteindelik oorweldig en kelder?

Wat van u? Hoe berei u u gesin voor vir die moeilike tye wat voorlê? Die Titanic was ’n eeu gelede vanaf Southampton, Engeland, op pad na New York. Dit was beskou as die grootste en luuksste skip in die wêreld. Dit het veilig en geborge voorgekom. Alhoewel dit ten volle voldoen het aan die maritieme regulasies van die dag, was daar ernstige probleme. Die Titanic het byvoorbeeld nie genoeg reddingsbote aan boord gehad om al die passasiers op een slag te akkommodeer nie. Die 16 bote en vier “voubote” kon slegs 1,178 mense akkommodeer – terwyl die skip meer as 3,300 kon dra. Die bemanningslede was nie opgelei om die nuwe Marconi draadlose radio aan boord ernstig op te neem nie. Hoewel die bemanning van die Titanic in die donkerte van daardie nag in April waarskuwings van ander skepe ontvang het, het hulle nagelaat om dit wat hulle hoor, ernstig op te neem. Teen die tyd wat die bemanning uiteindelik die ysberg gesien en probeer vermy het, was dit te laat.

Neem ons die waarskuwings wat ons hoor, ernstig op? Op wie se waarskuwings moet ons ag slaan? Tot watter mate is u bereid om u toekoms te waag, gebaseer op die woorde van hedendaagse sogenaamde ekonomiese en finansiële “kundiges”? Hoeveel kan u op u werk of werkgewer staatmaak om daar te wees wanneer tye moeilik raak? Wat van u land se regering – kan u daarop staatmaak as ’n veiligheidsnet om aan u behoeftes te voorsien, terwyl baie nasies self bankrot speel? Waarheen kan u u wend in die moeilike tye wat kom?


Water sypel in

Die probleme wat ons nasies in die gesig staar, is legio en dit vermeerder by die dag. Ons politieke stelsels werk nie en is vol geveinsdheid. Amerika voer regoor die wêreld veragtelike vermaak uit, wat skande bring oor diegene wat voorgee dat hulle in God glo. Die tradisionele huwelik en gesin is besig om tot niet te gaan. Miljoene mense het verlammende sedelike probleme. Pornografie is epidemies. Ons stede is gevaarlik. Baie kinders word groot met geen rigting of leiding nie, en voel hopeloos en hulpeloos. Praktyke wat eens as perversie verbied was, word nou deur die wet beskerm en selfs aangemoedig. Ons samelewing aanvaar en prys selfs ongebreidelde hebsug en fokus op die self. Wêreldwye militêre verpligtings dreineer nasionale krag. Wanneer gaan dit alles eindig? Waarheen is ons skip op pad?

Baie mense is geskok om te hoor kenners voorspel die val van die eens magtige Amerika. Die ekonoom Mortimer Zuckerman het teen die gevaar van ’n dubbele duikslag resessie gewaarsku toe hy geskryf het: “Die prognose vir Amerika is veral ontmoedigend. Ons het te swaar gesteun op surplus besparings uit die buiteland, en boonop lopende massiewe huidige rekening-tekorte opgehoop. Tot onlangs het ons tekorte van hierdie aard slegs opgehoop wanneer ons gewikkel was in ’n titaniese stryd ... maar nou hoop ons jaarlikse tekorte op van $1.4 biljoen, sowat 10 persent van die totale ekonomie ... Amerikaanse uitsonderlikheid duur voort. Ons moet egter ons disfunksionele en verkwistende regering aanspreek. Amerika is gebou op die beginsel om ’n beter lewe vir ons kinders en kleinkinders te skep. Ons kan dit doen. Ons doen dit nie” (“The Danger of a Global Double-Dip Recession Is Real”, USNews.com, 29 November 2010). Die waarskuwings is ernstig en die gevaar is werklik. Luister iemand tog? Stuur iemand ons weg van die ysberg af?

Niall Ferguson, professor in geskiedenis aan Harvard, het onlangs gewaarsku dat ’n finansiële afswaai katastrofies kan word wanneer dit geloof in die finansiële stelsel ondergrawe. “Die getalle ... kan op sigself nie Amerikaanse krag ondergrawe nie, maar hulle kan meewerk om ’n lank-aanvaarde geloof in Amerika se vermoë om enige krisis te trotseer, verswak. Tans verwag die wêreld nog steeds dat Amerika sal deursukkel ... maar een dag sal ’n skynbaar toevallige stukkie slegte nuus – dalk ’n negatiewe verslag deur ’n graderingsagentskap – die hoofopskrifte haal ... Skielik sal dit nie net ’n paar boekwurms wees wat bekommerd is oor die volhoubaarheid van die Amerikaanse fiskale beleid nie, maar ook die wye publiek, om nie eens te praat van beleggers in die buiteland nie. Dit is hierdie skuif wat beslissend is: ’n Komplekse plooibare stelsel is in groot moeilikheid wanneer die komponente waaruit dit bestaan, geloof in sy lewensvatbaarheid verloor” (“Complexity and Collapse: Empires on the Edge of Chaos”, Foreign Affairs, Maart-April 2010).

Wat hierdie kenners sê, is dat, terwyl Amerika die goeie luukse passasierskip regop en seewaardig voorkom is, dit eintlik besig om te sink. Die omkanteling kan skielik kom, skynbaar sonder waarskuwing. Die profeet Jesaja waarsku die nasie van Israel: “... daarom sal hierdie skuld vir julle wees soos ’n los stuk wat wil val, wat oorhang in ’n hoë muur, waarvan die instorting heeltemal onverwags kom” (Jesaja 30:13). Relatiewe kalmte kan ons mislei van die werklike gevaar – wat skielik kan voorkom. Dit is nie nou tyd om laks te wees agter die stuur nie.

In 2000 het Igor Panarin, ’n voormalige KGB-ontleder en dekaan van die Russiese Ministerie van Buitelandse Sake se Akademie vir diplomate, voorspel dat Amerika binne tien jaar ineen sal stort. Vir die grootste deel van die afgelope dekade, is hy gespot en verontagsaam. Toe die finansiële chaos van 2008 egter plaasvind, het mense begin kennis neem. Panarin het gereken dat grootskaalse immigrasie, ekonomiese agteruitgang en morele verval teen Junie 2010 ’n burgeroorlog en die ineenstorting van die dollar sal veroorsaak. Hy het voorspel dat Amerika in ses afsonderlike stukke sal verbrokkel.
Die Verenigde State van Amerika is natuurlik nog verenig. Panarin was ten minste verkeerd met sy tydsberekening. Beteken dit dat sy voorspelling oor die verval verkeerd is? Of is dit sy tydsberekening wat verkeerd is, maar dat die toestande nog steeds ryp is vir ’n ineenstorting soos die een wat hy voorspel het?

Die wyse koning Salomo skryf: “’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf” (Spreuke 22:3). God wil hê dat ons gewaarsku moet word oor die ysberge wat voorlê en onsself voorberei teen rampe! Jesus Christus bevestig hierdie beginsel toe Hy sê: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie” (Lukas 21:34). Ons Verlosser raai ons aan om nie verstrengel te raak in sonde, vernietigende gewoontes, en waardelose strewes nie. Hy daag ons uit om gereed te wees vir groot dinge wat binnekort sal gebeur. Hy verduidelik namate ons verder lees: “Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:35-36).


Besig om te sink?

Min mense besef vandag die Bybel verduidelik die skitterende opgang van Amerika en Engeland gedurende die afgelope 200 jaar – en voorspel ’n rampspoedige val tensy daar nasionale bekering is. Die sleutel tot hierdie begrip is dat Amerika en Engeland – sowel as die ander nasies van Britse afkoms – die hedendaagse afstammelinge is van die antieke stam van Josef, die seun van Jakob/Israel.

Wat voorspel God, sal met Josef se nakomelinge gebeur in die laaste dae? “Josef is ’n jong vrugteboom, ’n jong vrugteboom by ’n fontein; sy takke klim oor die muur” (Génesis 49:22). Groot Brittanje en Amerika sou geseënd wees met enorme ekonomiese welvaart, so oorvloedig dat sy vrugbare seëninge na ander lande regoor die wêreld sal oorspoel.

Dit is presies wat gebeur het, met God as die bron van daardie seëninge: “... van die God van jou vader, wat jou help, en met die hulp van die Almagtige wat jou seën met seëninge van die hemel daarbo, met seëninge van die watervloed wat daaronder lê, met seëninge van borste en moederskoot. Die seëninge wat jou vader ontvang het, oortref die seëninge van die ewige berge, die kostelike gawes van die ewige heuwels. Dit sal wees op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die uitverkorene onder sy broers” (verse 25-26). Hierdie nasies sou verder ook die militêre oorhand hê (Génesis 49:23-24) en die poorte van hul vyande besit (Génesis 24:60).

Is hierdie seëninge dus voorspel om vir ewig te duur? Nee! Ons groot “luukse passasierskip” van rykdom en welvaart stuur af op ’n ramp. As gevolg van nasionale sondes, sal die moderne afstammelinge van Josef die meeste ly ten tye van die geprofeteerde tyd van verdrukking. “Maar as jy nie luister na die stem van die Here jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal. Vervloek sal jy wees in die stad, en vervloek sal jy wees in die veld. Vervloek sal wees jou mandjie en jou bakskottel” (Deuteronomium 28:15-17).

God profeteer dat die moderne afstammelinge van antieke Israel onoorkomelike probleme sal ervaar om elke hoek en draai – in die stad, op die platteland, oral! Oeste sal misluk. Reën sal wisselvallig wees. Siektes sal meer en meer toeneem. Droogte en brande sal gevolg word deur te veel reën en oorstromings (vers 22).

Klimatoloë in Amerika berig dat 2011 die ergste jaar op rekord was, wat uiterste weerstoestande betref, met ’n dosyn weerverwante “gebeure” wat minstens $1 miljard elk in Amerika alleen gekos het. (“Will 2012 top 2011 for record weather disasters?”, Reuters, 27 Desember 2011). Hoe lank sal dit duur voordat die Amerikaners en Britte erken dat God besig is om ons aandag te probeer trek? Selfs nou, met uiterste weerstoestande, is ons die mees ryklik geseënde mense op aarde. Vandag meet ons ons rampe in dollars en skade aan eiendom – nog nie in die tien duisende mense wat dood is, soos in ander lande wat deur rampe getref is nie. Hoe lank sal dit duur voor God ons sal laat sink as ’n gevolg van toenemende nasionale en persoonlike sondes?

 

Die orkes bly speel ...

Wat doen baie mense terwyl water in ons skip begin “insypel”? Miljoene Amerikaners, Britte, Australiërs, Kanadese, Nieu-Seelanders en Suid-Afrikaners is vasgevang in deurlopende self-gefokusde verslawing, soos aan pornografie. Amerika lewer by verre die grootste deel van die wêreld se Internet pornografie beskikbaar – na raming tot so hoog as 89 persent. Wat ’n skandelike statistiek vir ’n sogenaamde “Christelike” land! Hoe lank voor die Almagtige God die verrotting beëindig deur die skip te laat omkantel?

Hoeveel moderne Israeliete is, ten spyte van ernstige ekonomiese probleme, verlore in ’n dolle gejaag na verbruikerskultuur? Terwyl water figuurlik in ons oorhellende vaartuig instroom, is ons besig om ons tyd en lewe te vermors met ’n obsessie na goedere en die verkryging daarvan? Vermors ons selfs nog meer tyd deur verdiep te raak in ’n eindelose reeks elektroniese media? Christus waarsku ons teen hierdie denkwyse: “Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie” (Lukas 12:15). Die rykste passasier op die Titanic – te midde van baie ryk en invloedryke figure – was John Jacob Astor IV. Hy en ander welgesteldes en invloedryke persone, het vergaan aan boord van die gedoemde skip. Hulle rykdom het hulle nie gered nie. Ons besittings sal ons ook nie red nie!

God waarsku: “En al hierdie vloeke sal oor jou kom ... en hulle sal by jou ’n teken en ’n wonder wees, en by jou nageslag tot in ewigheid. Omdat jy die Here jou God nie met vreugde en vrolikheid van hart weens die oorvloed van alles gedien het nie” (Deuteronomium 28:45, 46-47). Dit is tyd om wakker te word! Die skip is besig om te sink! Ons skip is besig om te sink omdat, ten spyte van ons seëninge, ons geweier het om God krediet te gee vir ons lewe, ons asem, en ons materiële sukses.

Dinge sal selfs nog slegter word voordat dit beter sal raak. Omdat God se mense onwillig was om Hom met vreugde en blydskap, in oorvloed en seëninge te dien, het Hy by monde van Moses gewaarsku: Daarom “... sal jy jou vyand wat die Here teen jou sal stuur, dien in honger en in dors en in naaktheid en in gebrek aan alles; en hy sal ’n ysterjuk op jou nek sit totdat hy jou verdelg het” (vers 48). Ernstige waarskuwing!

 

Na die reddingsbote!

So skokkend as wat dit mag klink, ’n tyd van nasionale rampspoed, omverwerping en algehele nederlaag sal oor ons moderne Israelitiese nasies kom. God voorspel dit. Hy gee egter ook hoop en vertroosting te midde van die waarskuwings. Hy voorspel dat, nadat moderne Israel in nasionale slawerny gaan: “Dan sal julle daarvandaan die Here jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek. As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die Here jou God terugkeer en na sy stem luister. Want die Here jou God is ’n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie” (Deuteronomium 4:29-31). In die laaste dae sal God diegene hoor wat met opregte berou na Hom uitroep!

Hoekom dan wag? Waarom Hom nie nou soek nie? Ter wille van onsself, en ter wille van ons gesinne, waarom nie nou begin om waaragtig tot God te bid en uit te vind wat ons verkeerd gedoen het nie (Openbaring 21:8)? Hoekom nie onsself nou verootmoedig en ons bekeer van ons sondes nie?

Vir die eindtyd voorspel Jesus oorloë, hongersnood, godsdienstige misleiding en vervolging, asook die verdrukking. Hy beklemtoon egter ook: “Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. En hierdie evangelie [“goeie nuus”] van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:13-14).

Die Skrif gee aan ons die bemoedigende nuus dat daar binnekort wel ’n beter wêreld kom. Ná die donker dae wat binnekort voorlê, sal ’n helderder dag aanbreek wanneer Christus persoonlik sal kom om oor die planeet Aarde te regeer. Hy sal ’n einde maak aan alle opstand en ongehoorsaamheid en regeer in geregtigheid en onpartydigheid (Jesaja 2:4) tot die voordeel van die ganse mensdom.

Baie mense op die Titanic het gespot en geskerts toe die bemanning vir die eerste keer die bevel gegee het dat die reddingsbote ontplooi moet word. Dit het toe nog gelyk of die skip seewaardig is, selfs nadat dit ’n doodskoot toegedien is – ’n 100-meter skeur onder die waterlyn. Om die waarheid te sê, die Titanic het eers ’n paar uur later gesink. Aanvanklik het dit gelyk of om in ’n klein reddingsbootjie te klouter en in die uitgestrekte duisternis van die oseaan neergelaat te word, ’n powere alternatief is vir aanbly op die relatiewe veiligheid van die skip. Op die ou ent was dit tog ’n baie veiliger keuse.

Moenie geflous word deur die bedrieglike kalmte nie – die boodskap dat alles sal voortgaan soos dit altyd was (2 Petrus 3:3-4). Die waarheid is, daar kom ’n dag van afrekening (Mattheüs 24:21-22)! Tensy die moderne afstammelinge van antieke Israel hul met diepe berou na die God wat ons geskape het wend, is ons skip op pad na vergetelheid.

U hoef egter nie onverhoeds betrap te word nie! Gehoorsaam God se bevele. Bou ’n verhouding met Hom, bid tot Hom en wandel daagliks met Hom. Bly naby God en fokus op Sy woorde om u te lei in elke aspek van u lewe. “Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak” (Spreuke 3:5-6). Laat Jesus Christus die “bewerker” van u saligheid wees (Hebreërs 2:10) en die Meester van u lewe. Onthou ook: Geen skip is onsinkbaar nie, geen nasie is te groot om te faal nie.