Van die antieke Babilon tot die moderne Europa, het 6,000 jaar se beskawing die eb en vloed van eens groot en nuwe groot wêreldmoondhede gesien – met een waaroor geprofeteer is wat nog moet kom.

Nie so lank gelede nie was die Verenigde State van Amerika die onbetwiste wêreld-supermoondheid. Sal die VSA daardie posisie behou of sal dit tot ’n val kom soos so baie ander voor hom, terwyl ander nasies opgang sal maak? Het ons die lesse van die geskiedenis geleer?

Kan enige nasie of koninkryk vir ’n lang ruk staande bly? Vir meer as 200 jaar was die Verenigde State ’n groot moondheid op die wêreldtoneel. In die jare sedert die val van die Sowjet-Unie en in die nadraai van die wêreldwye oorlog teen terreur, het ons die VS gesien agteruit gaan, terwyl ander magtige nasies of alliansies – soos China en die Europese Unie – al hoe meer politieke, ekonomiese en militêre mag uitoefen. Kan die VS vir baie langer ’n leidende nasie bly?

Die wêreldregerende ryke van die verlede bestaan nie meer nie, soos die groot Babiloniese Ryk byvoorbeeld, wat baie nasies oorwin het, met inbegrip van die koninkryk van Juda in die Midde-Ooste. Die geskiedkundige Herodotus het geskryf: “Aanvullend tot sy enorme grootte, het Babilon enige stad in die bekende wêreld in prag oortref” (The Histories, Boek Een, artikel 178).

Wat het met daardie magtige ryk gebeur? Babilon se verdorwenheid het gelei tot God se oordeel. Sal God binnekort die Verenigde State oordeel?

Ryke van die verlede en die hede

In die Bybel voorspel die profeet Daniël die opkoms en val van ander groot ryke. Hy het die opkoms en val van die Romeinse Ryk voorspel. Wat het met die ou Romeinse Ryk gebeur? Daardie magtige ryk het vir meer as 500 jaar op die hakke van die Romeinse Republiek voortbestaan, maar het uiteindelik in 476 n.C. tot ’n val gekom. Die geskiedkundige Edward Gibbon som die oorsake van die val van die ryk só op: “Na ’n noukeurige ondersoek kon ek die vier hoofoorsake onderskei wat verantwoordelik was vir die ondergang van Rome, ’n ryk wat voortbestaan het vir ’n tydperk van meer as ’n duisend jaar. I. Die letsels van die tyd en die natuur. II. Die vyandige aanvalle van die barbare en die Christene. III. Die gebruik en misbruik van middels. IV. Die binnegevegte van die Romeine” (The Decline and Fall of the Roman Empire, Hoofstuk 71).

Moderne ryke het ook gekom en gegaan. In die 20ste eeu het die Duitse “Derde Reich” aanvalle met militêre “blitzkrieg” geloods en sy heerskappy oor groot dele van Europa en Noord-Afrika uitgebrei. Adolf Hitler se ambisies het die verowering van die Sowjet-Unie ingesluit, maar hy het daarin gefaal. Geallieerde magte het die Derde Ryk verslaan. Die Sowjet-Unie, of die Unie van Sowjet Sosialistiese Republieke, het uit 15 republieke bestaan en van oos na wes oor 17,600 kilometers gestrek. Hierdie groot supermoondheid het hom in sy kommunistiese ideologie verlustig. Hulle het vir die harte van nasies en volke oor die hele wêreld geveg – en uiteindelik het dit misluk.

Nou het daardie eens magtige moondheid in 15 sukkelende nasie-state verbrokkel, met twaalf state wat aan die Gemenebes van Onafhanklike State verbind is. Wie kon die ondergang van so ’n groot supermoondheid voorspel het? U mag dalk verbaas wees om te verneem dat ’n klein groepie Bybelgebaseerde Christene nog altyd verstaan het dat Oos-Europa uiteindelik uit die ystergreep van die Sowjet-Unie sou ontsnap.

Hoe het hulle geweet? Bybelse profesie het die opkoms van ’n ander groot supermoondheid voorspel, wat die Dier in die boek Openbaring genoem word. Meer as 50 jaar gelede het mnr. Herbert W. Armstrong geskryf dat Oos-Duitsland met Wes-Duitsland sou herenig en dat Rusland “gedwing sal word om beheer oor Hongarye, Tsjeggo-Slowakye en dele van Oostenryk prys te gee” (Plain Truth, April 1952, bl. 16).

Kort nadat Rusland in 1956 Hongarye binnegeval het, toe baie “kenners” geglo het dat die “Ystergordyn” vir ewig oor die nasies van Oos-Europa toegesak het, het die Plain Truth-tydskrif hierdie ongelooflike stelling gemaak: “Die weg word voorberei vir ’n kolossale derde mag in die wêreldpolitiek – ’n Europese Federasie van Nasies wat sterker sal wees as Rusland of die Verenigde State van Amerika! ... Ons het jare vooruit aangedui wat met Rusland se noodlottige Ryk in Oos-Europa” sal gebeur (Plain Truth, Desember 1956, bl. 3).

Sal vandag se Westerse nasies dieselfde patroon van agteruitgang en verval volg as die nasies voor hulle? Sal Brittanje, Kanada, Australië en Nieu-Seeland ondergaan en tot ’n val kom? Sal die Verenigde State steeds meer orkane soos Katrina, aardbewings en ander natuurrampe beleef? Sal ons voortgaan om terroriste-aanvalle te ervaar? Die geskiedenis en die Bybel het herhaaldelik bewys dat wanneer nasies die God van die skepping verwerp, hulle geoordeel sal word. Sal die Westerse wêreld voortgaan met sy verwerping van Bybelse waarheid? Die filosoof Georg Hegel het opgemerk: “Wat ervaring en geskiedenis leer, is dít – dat mense en regerings nog nooit enigiets uit die geskiedenis geleer het, of gehandel het volgens die beginsels wat daaruit afgelei is nie” (The Philosophy of History).

Die geskiedenis van die wêreld is die verhaal van nasies en ryke wat voorspoedig was en later tot stof verander het. Sal ons die lesse uit die geskiedenis leer? Sommige ryke het stadig agteruitgegaan voor hulle ondergang. Ander is vernietig of is skielik gevange geneem. Die groot ryke van die verlede is nou weinig meer as kunswerke in museums, of afgebreekte monumente waar hulle eens floreer het. Brittanje het eens op ’n tyd die wêreld se grootste ryk beheer. Teen 1921 het dit ongeveer 40 miljoen vierkante kilometer beslaan – een-derde van die wêreld se totale oppervlakte – dit het ’n kwart van die wêreld se bevolking bevat. Daar is gesê dat “die son nooit ondergaan oor die Britse Ryk nie”. Na ’n finale oplewing en uitbreiding direk na die Tweede Wêreldoorlog, het ’n proses van “dekolonisasie” begin en teen 1960 het die Britte reeds die lande prysgegee wat vandag bekend staan as Indië, Pakistan, Burma, Sri Lanka, Irak, Ghana, Nigerië, Somalië en groot dele van sub-Sahara Afrika, sowel as die Palestynse Mandaat en dele van Egipte en Soedan. Oor die afgelope 40 jaar het Brittanje die meeste van sy oorsese besittings prysgegee, meer onlangs in 1997, is Hong Kong aan Chinese soewereiniteit teruggegee. Die son het lankal reeds vir die Britse Ryk ondergegaan. Sal die supermoondheid, die Verenigde State, dus ’n soortgelyke agteruitgang in die gesig staar? Elke nasie en elke ryk van die verlede het geval, net soos Griekeland en Rome. Dit is vir u moontlik om te weet watter nasies of ryke in die 21ste eeu sal opgang maak of val. Bybelse profesie maak die toekoms van die Westerse nasies bekend, indien u weet wat die sleutel is om die moderne afstammelinge van die antieke Bybelse nasies te vind.

Is dit ’n verrassing? Onthou, daar is ’n God in die hemel wat besig is om ’n groot plan hier op aarde uit te werk. Hy gee aan rebelse mense duisende jare om met hulle eie mensgemaakte godsdiens, wetenskap, regering, besigheid, onderwys, en sosiale instellings te eksperimenteer. God laat mense toe om met hulle eie wêreldse gang van selfsug, oorlog en geweld aan te gaan, maar Hy het ’n plan en, soos ons uit die geskiedenis en die Skrif sien, gryp Hy wel in wêreldsake in om die mensdom te help om blywende lesse van lewe en dood te leer.

Lesse geleer?

Het ons die lesse van die geskiedenis geleer? Die bekende filosoof George Santayana skryf in sy beroemde verhandeling Reason in Common Sense: “Diegene wat nie die verlede kan onthou nie, is gedoem om dit te herhaal”. Sal ons in die Westerse wêreld die lesse van die geskiedenis leer? Of sal ons die voorbeeld van al die groot koninkryke en ryke volg wat voor ons gekom en gegaan het, wat tot by die toppunt van mag en heerskappy geklim het en toe na agteruitgang en vergetelheid gedaal het?

Die Babiloniese koning Bélsasar was een groot leier wat die lesse van die geskiedenis moes leer. Hy het egter op sy eie goddelose leefwyse aangedring en ander mense in losbandigheid ingelei. Sy ryk het die boete daarvoor betaal. Daardie diepgaande les is op die bladsye van die geskiedenis aangeteken, asook in die bladsye van u Bybel. Die profeet Daniël was in die stad Babilon die nag toe die Persiese leër dit verower het. God het deur Daniël vir koning Bélsasar ingelig wat met hom en sy ryk gaan gebeur. Hierdie verstommende volgorde van gebeure is in hoofstuk 5 van die boek Daniël aangeteken in die bekende verhaal van die “handskrif teen die muur”. Koning Bélsasar het ’n fees, ’n groot partytjie, vir sy edeles voorberei. Hulle het wyn gedrink uit goue voorwerpe wat uit God se tempel in Jerusalem geplunder is. “Op dieselfde oomblik het daar vingers van ’n mens se hand te voorskyn gekom en teenoor die kandelaar op die kalk van die muur van die koninklike paleis geskrywe, en die koning het die deel van die hand gesien wat geskrywe het. Toe het die gelaatskleur van die koning verander, en sy gedagtes het hom verskrik, en die gewrigte van sy heupe het losgeraak, en sy knieë het teen mekaar geslaan” (Daniël 5:5-6).

Die koning het Daniël geroep om hierdie woorde te verklaar. Wat het die geheimsinnige hand geskryf? “En dit is die skrif wat geskrywe is: Mené, mené, tekél ufarsín. Dit is die uitleg van die woord: Mené—God het u koningskap getel en daar ’n einde aan gemaak; tekél—u is op die weegskaal geweeg en te lig bevind; perés—u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee” (Daniël 5:25-28). Dan: “In dieselfde nag is Bélsasar, die koning van die Chaldeërs, gedood. En Darius, die Meder, was twee-en-sestig jaar oud toe hy die koningskap ontvang het” (Daniël 5:30; 6:1)

Vandag is die skrif teen die muur vir die Verenigde State en Groot-Brittanje. Die waarskuwingstekens is oral rondom ons, namate ons nasies meer vervalle en immoreel raak. Daar is egter nog tyd vir ons om ons te bekeer, nasionaal en individueel. Sal ons na God se waarskuwings luister?

In die afgelope paar jaar het die Verenigde State skokkende rampe beleef. Op 11 September 2001 het terroriste met gekaapte vliegtuie teen die Wêreld Handelsentrum in New York en die Pentagon in Washington, DC vasgevlieg. Duisende mense het in hierdie aanvalle gesterf. In September 2005 verwoes Orkaan Katrina die suidelike kus van die Verenigde State van Amerika. Die stad New Orleans is oorstroom. Katrina staan bekend as die ergste natuurramp in die VS se geskiedenis.

Hierdie rampe het getoon hoe kwesbaar en hoe onvoorbereid ons is. Kan enige nasie bekostig om honderde miljarde dollars aan finansiële verlies te ly? Watter lesse behoort ons uit hierdie rampe te leer? Is hulle slegs ’n deel van die siklus van die geskiedenis en die natuur wat ons kan verwag? Of, is God besig om kragtig in te gryp om ons uit ons morele en geestelike verval wakker te skud? Indien ons eerlik met onsself wil wees, moet ons erken dat ons nasies ver van die God van die Bybel en Sy Seun Jesus Christus afgedwaal het! Wanneer ons in die Westerse wêreld voortgaan om die Tien Gebooie en die Woord van God, die Bybel, te ignoreer, te verag en te verwerp sal ons meer rampe ervaar, totdat ons besef en volgens die besef handel, dat dit nodig is om God met ons hele hart te soek! Die profeet Jesaja gee ons hierdie vermaning, bemoediging en belofte: “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik” (Jesaja 55:6-7).

Ons moet nou tot geestelike aksie oorgaan! Sommige hardekoppe sal natuurlik skepties bly. Diegene wat egter deur Sy Woord na God soek, kan verstaan en gemoedsrus hê.

’n Antieke les

Ons het gesien dat groot ryke nie vir ewig duur nie. Hulle maak opgang, gaan agteruit en kom tot ’n val. Sal die Westerse nasies die lesse van die geskiedenis leer? Koning Bélsasar het die lesse wat hy kon geleer het van sy voorvader, koning Nebukadnésar, wat oor die Babiloniese ryk regeer het, geïgnoreer. Daniël herinner Bélsasar aan die lesse wat hy van hierdie vorige koning moes leer: “Wat u betref, o koning, die allerhoogste God het aan u vader Nebukadnésar die koningskap en grootheid en heerlikheid en majesteit gegee. En vanweë die grootheid wat Hy hom gegee het, het al die volke, nasies en tale gebewe en vir hom gesidder; wie hy wou, het hy gedood, en wie hy wou, het hy laat lewe, en wie hy wou, het hy verhoog, en wie hy wou, het hy verneder. Maar net toe sy hart hom verhef het en sy gees verhard is om oormoedig te wees, is hy van die troon van sy koningskap afgestoot, en die heerlikheid is hom ontneem. En hy is uit die mense verstoot, en sy hart het soos dié van die diere geword, en hy het saam met die wilde-esels gewoon; hulle het hom plante laat eet soos die beeste, en deur die dou van die hemel is sy liggaam natgemaak totdat hy erken het dat die allerhoogste God mag het oor die koningskap van die mens en daaroor kan aanstel wie Hy wil” (Daniël 5:18-21).

Nebukadnésar het ’n belangrike les geleer. Hy het probeer regeer sonder om God te erken en hy het baie erg as gevolg daarvan gely! Moet ons ook lesse op die harde manier leer, of sal ons aandag gee aan God en Sy Woord, die Bybel?

Nadat Nebukadnésar ’n droom gehad het wat nie een van sy raadgewers aan hom kon openbaar nie, het die profeet Daniël nie slegs aan die koning vertel wat hy gedroom het nie, maar hy het ook die uitleg gegee: “U, o koning, het ’n gesig gehad – kyk, daar was ’n groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik. Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei” (Daniël 2:31-33).

Die profeet Daniël het aan die koning die droom se uitleg gegee. “U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het, en in wie se hand Hy in die hele bewoonde wêreld die mensekinders, die diere van die veld en die voëls van die hemel gegee het, sodat Hy u as heerser oor hulle almal aangestel het – ú is die hoof van goud” (verse 37-38).

Hier openbaar God die mag en gesag wat Hy, die Skepper van die heelal, aan die “hoof van goud”, Nebukadnésar en sy koninkryk gee. Die droom voorspel egter die einde van Nebukadnésar se koninkryk en die vestiging van ander na hom: “En ná u sal daar ’n ander koninkryk opstaan, geringer as dié van u; daarna ’n ander, ’n derde koninkryk, van koper, wat oor die hele aarde sal heers; en die vierde koninkryk sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles fynstamp en verpletter; en soos die yster wat vergruis, sal hy dit alles fynstamp en vergruis” (verse 39-40).

Watter ryke is in hierdie droom beskryf? Betroubare Bybelgeleerdes stem vandag saam oor hulle identiteite en die vervulling daarvan. Die hoof van goud verteenwoordig die Babiloniese Ryk van 625 v.C. tot 539 v.C. Hierdie ryk is vervang deur die Medo-Persiese Ryk van 558 v.C. tot 330 v.C., wat die bors en arms van silwer verteenwoordig. Die maag en dye van koper dui die Grieks-Macedoniese Ryk van Alexander die Grote van 333 v.C. tot 31 v.C. aan. Die twee bene van yster dui op die Romeinse Ryk van 31v.C. tot 476 n.C. Ten slotte, die tien tone aan die twee voete, van yster wat met kleigrond gemeng is, verteenwoordig ’n toekomstige herlewing van die Romeinse Ryk.

Die droom openbaar een laaste belangrike detail. Die vier wêreldse koninkryke wat in Nebukadnésar se droom verteenwoordig is sal almal tot ’n val kom. Hulle sal deur ’n vyfde Koninkryk vervang word, die toekomstige Koninkryk van God.

“U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ’n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het ’n groot rots geword wat die hele aarde gevul het” (verse 34-35).

Wat is die rots wat die beeld getref het? Daniël het die betekenis as volg beskryf: “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (vers 44).

Ja, die Koninkryk van God sal binnekort op hierdie aarde gevestig word! Alleenlik God kan aan ons blywende vrede bring.

Sal ons ons bekeer?

Dwarsdeur die geskiedenis van die wêreld was dit uiters seldsaam om enige samelewing te vind wat sou afwyk van hulle bose weë. Ninevé, die hoofstad van antieke Assirië, langs die Tigrisrivier, was een van die min samelewings en het werklik God se oordeel vertraag. Die profeet Jona het met God se waarskuwing na die inwoners van Ninevé gegaan: “En Jona het begin met een dagreis ver die stad in te gaan en het gepreek en gesê: Nog veertig dae, dan word Ninevé verwoes” (Jona 3:4). Hoe het die Nineviete gereageer? Het hulle God se profeet Jona geignoreer? Nee! “En die manne van Ninevé het God geglo en ’n vasdag uitgeroep, en groot en klein het hulle met rougewaad beklee. En toe die berig die koning van Ninevé bereik, het hy opgestaan van sy troon en sy mantel afgehaal en in rougewaad gehuld in die as gaan sit” (verse 5-6). Kan u uself indink dat enige wêreldleier vandag homself op hierdie manier voor God sal verootmoedig?

Die Assiriërs het op Jona se waarskuwing gereageer. Hulle het hulle van hulle bose weë bekeer en God het hulle gespaar. Dit het in die agtste eeu v.C. gebeur. God het Ninevé vir baie jare lank gespaar en die nasie selfs gebruik om antieke Israel te straf en sy mense in ballingskap weg te neem. Nadat Assirië die “Noordelike koninkryk”, Israel, gevange geneem het, het daardie koninkryk verlore geraak in die geskiedenis en sy mense staan bekend as die “verlore tien stamme”.

Die profeet Jesaja teken aan waarom God Assirië gebruik het om Israel te straf. Jesaja haal God aan wanneer Hy sê: “Wee Assur! die roede van my toorn en ’n stok is hy – in hulle hand is my grimmigheid! Ek sal hom stuur teen ’n roekelose nasie, en Ek sal hom bevel gee teen die volk van my grimmigheid, om buit te maak en roof in te samel en om hulle tot ’n vertrapping te maak soos modder van die strate. Maar hý bedoel dit nie so nie, en sy hart dink nie so nie; maar om te verdelg, is in sy hart, en om nasies uit te roei, nie min nie” (Jesaja 10:5-7).

God het die koninkryk van Israel gewaarsku om hulle te bekeer, maar sy mense het geweier om te hervorm. Dus het die Assiriërs die tien stamme van die huis van Israel verower en die gevangenes ver na die ooste in Assirië verskuif. Israel se finale ballingskap het in ongeveer 721 v.C. plaasgevind.

Assirië het egter uiteindelik na sy wêreldse weë teruggekeer en in 612 v.C. het God die Meders toegelaat om Ninevé te verwoes.

God het ook Sy waarskuwings aan die koninkryk van Juda gestuur, maar daardie nasie het in hulle sonde volhard. Dus het God die koninkryk van Babel onder koning Nebukadnésar gebruik om die huis van Juda te straf. Die meerderheid Jode is oor ’n tydperk van twee dekades na Babel gedeporteer wat geëindig het met die vernietiging van Jerusalem in 586 v.C. As jong man is Daniël en drie van sy vriende gevange geneem en in die kultuur en literatuur van Babel opgelei. Daardie jong mans het volhard in die goddelike waardes wat hulle in Juda geleer het en God was in staat om Daniël te gebruik om Nebukadnésar se droom uit te lê en om die goeie nuus te gee van ’n groot Koninkryk wat kom en wat vir ewig sal staan!

Ja, die Koninkryk van God sal vir ewig bly staan! U kan daarop reken! Dit is die goeie nuus waarna ons in hierdie tydskrif streef en wat ons met u wil deel! Selfs al sou u nasie nie na God se Woord luister nie, sal u as individu geseën word indien u glo en handel volgens God se geopenbaarde waarheid! Daardie waarheid openbaar die toekoms van die nasies wat van die “verlore” tien stamme afstam, waaronder die VS, Groot-Brittanje en die nasies van Britse afkoms asook baie van die volke van Noordwes-Europa. Indien u dit nie alreeds het nie, skryf asseblief of skakel vir ’n gratis kopie van ons insiggewende boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? Dit verduidelik die Bybelse oorsprong van ons Westerse nasies. Bybelse profesie openbaar wat geskiedskrywers, wêreldleiers en politieke ontleders nie weet nie! U, as ’n getroue student van u Bybel, sal egter kan verstaan.

Soos gereelde lesers van die Wêreld van Môre weet, is baie van die Bybelse profesieë “tweeledig”. Daar is ’n eindtydse vervulling wat parallel loop met ’n antieke vervulling. Profesieë toon inderdaad dat die eindtydse afstammelinge van Assirië weereens die eindtydse afstammelinge van die verlore tien stamme van Israel sal straf. Sal u gereed wees wanneer dit gebeur? Is u seker van die tekens waarvoor u behoort uit te kyk? Hou aan om die Wêreld van Môre te lees en om u Bybel te bestudeer en u sal leer hoe om wêreldgebeure in die lig van Bybelse profesieë te verstaan.

Of die Westerse nasies die lesse van die geskiedenis sal leer of nie en watter nasie ons ookal is, ek en u kan ons individueel bekeer; ons moet ook. Die dag van God se oordeel oor mislukte menslike weë kom vinnig nader. Daardie nasies en individue wat hulle tot God wend sal geseën word. Wat behoort u te doen? Moenie vir u nasie wag om te verander nie. Dit is nou die tyd vir u om God met u hele hart te soek.